Bron: Kompas. 2 bladsye.

Kan die Moderne Demokrasie vir Gerformeerdes Aanvaarbaar wees?

Suid-Afrika het ’n moderne demokratiese regeringstelsel wat volgens kenners die mees gevorderde grondwet in die wêreld het. Demokrasie beteken ‘regering deur die volk’. Ons grondwet is bedoel om die individuele regte van alle mense en kultuurgroepe te beskerm en te bevorder. Gereformeerdes het dikwels beswaar teen die feit dat die Here se Naam uit die aanhef van ons grondwet verwyder is, en dis reg. Die vraag is egter hoekom ons minder moeite met die moderne demokrasie self het? Besef ons nog dat die moderne demokrasie ’n produk van ’n onchristelike kultuur is? Dit is ons Bybelse kultuuropdrag om die moderne demokrasie, soos alle ander kultuurprodukte, aan die Woord van God te toets en te besin of daar ander regeringsvorms moontlik is.

Ons kan die vraagstuk oor demokrasie op twee maniere benader: histories en prinsipieel. Uit die Bybel weet ons min oor die regeringsvorms uit die dae van Adam en sy nageslag. Ou buite-Bybelse bronne vertel ons van heersers of konings, en dit lyk of dit die gevestigde regeringsvorm geword het. Die koning was alleenheerser en kon ’n wrede diktator wees of soos ’n wyse vader lei (Genesis 6:4; 14:18). As hy wys was, het hy ’n groot aantal raadgewers aangestel. Prinsipieel was die koning se gesag op die genade van God of die gode gebaseer en kon dit nie deur die volk bevraagteken word nie. Dikwels het die koning deur godsdienstige leiers sy gode geraadpleeg (Daniël 2). Die Bybel beklemtoon dat die koning inderdaad by God se genade aangestel is. In teenstelling tot die alleenheerserskap van die heidense kulture, het God beveel dat die koning soos ’n broer te midde van sy broers moes regeer, omdat God die eintlike Koning is (Deuteronomium 17). Die belangrikste vereistes was om afhanklik van God met wysheid te regeer en geregtigheid te beoefen. So sou die land God se seën ontvang en die volk rustig die HERE kon dien (1 Konings 3:9). Christus en Paulus het ons beveel om vir die owerheid te bid sodat hulle volgens hierdie reëls sou regeer.

Waar konings baie magtig was, het hulle in elke stad en dorp ’n leier as hul verteenwoordiger aangestel. Ook hierdie onderkonings was alleenheersers, al het hulle dikwels leiers uit die gemeenskap as raadgewers gebruik. In die Bybel vind ons egter dat die plaaslike regering meestal meer broederlik en gelykberegtig was. So was dit ook in baie kultuurgemeenskappe. Alle gesins- of familiehoofde was deel van die dorpsvergadering, en hulle het die mees ervare, wyse of invloedryke mans tot oudstes of rigters verkies (Deuteronomium 16:18-20). Besluite is geneem deur uitgebreide oorleg onder mekaar om konsensus te bereik, en na raadpleging van God of die gode (Spreuke 24:6). In beginsel het hierdie dorpsrade die koning se gesag erken, byvoorbeeld in die betaling van belasting. Opsommend lyk dit of die mensheid op twee maniere hul kultuuropdrag op die regeringsterrein nagekom het: op die hoogste vlak die koningskap en op die plaaslike vlak die broederlike vergadering.

’n Mens sou kon dink dat die demokrasie ’n Bybelse oorsprong het, omdat dit die meeste op die Bybelse plaaslike regeringsvorm lyk. Dit geld egter nie van die moderne demokrasie nie. Laasgenoemde is ’n produk van die moderne Westerse kultuur. Vanaf die Verligting in Europa in die 17de eeu het staatsfilosowe die volkswil, in plaas van God se genade, as die basis van alle regeringsvorms gestel. Die individuele mens, vry van God en sy gebooie, was die maatstaf. Hierdie filosofieë het tot die Franse rewolusie, en tot die einde van die koning as heerser by die genade van God, gelei. In die plek van die koning is ’n parlement verkies. Soms is die koningskap behou, maar net vir ’n seremoniële doel. Die parlementslede is deur die volk verkies, eers net deur vrye mans, maar vanaf die begin van die twintigste eeu deur alle meerderjarige vroue en mans. Die parlement het regeer by die genade van die volk, en die guns van die volk is elke paar jaar getoets in die verkiesings. Hierdie demokratiese beginsel is via die Verenigde Nasies se Universele Handves van Menseregte (1948) as die enige geldige regeringsvorm oor die hele wêreld versprei.

Die oorgang van die alleenheerserkoningskap na die demokrasie is nie noodwendig onbybels nie. ’n Christelike demokrasie, wat God as Koning erken, kan tot ’n groot seën wees. Voorbeelde hiervan is Nederland aan die einde van die stryd teen Spanje (1568-1648) en Suid-Afrika onder President Paul Kruger. Dit lyk ook of demokrasieë tot beter verdeling van materiële rykdom gelei het. Die wortel van die moderne demokrasie is egter die rewolusionêre geloof wat geen Goddelike gesag erken nie. Hierdie goddelose ideologie het rampspoedige gevolge, soos ons vandag in Suid-Afrika kan sien. Die onervare jeug kry al hoe meer seggenskap in alle gesagstrukture van die lewe. Politieke partyleiers word dikwels ministers op grond van hul dwingende karakter, nie hul wysheid nie. Om gelyke regte af te dwing, moet 50% van regeringsliggame uit vroue bestaan, en daardie geloof word selfs aan die kerke opgedring. Die vroue word gedruk om die gejaagde ekonomie te betree, of hulle kinders het of nie. Die slegte gevolge vir die huwelike, die hoë egskeidingsyfer en die verwaarlosing van die kinders word geïgnoreer. Die vader as hoof van die gesin, en leier van die samelewing, word slegs tot ’n medespeler in die ekonomiese spel gedegradeer. Gemeenskappe waar die vader en wyse mans nog as leiers funksioneer, word ondermyn, soos in die kerk en in die swart tradisionele samelewings. Demokrasie wat op ’n 50+1% meerderheid van stemme gebaseer is, lei maklik tot onderdrukking van die minderhede.

Vanuit die praktyk redeneer ons dikwels dat die demokrasie vandag die verkieslike regeringsvorm is, solank die kerk maar ongehinderd mag funksioneer. Ons het egter die plig en reg om die demokrasie prinsipieel te toets, vir die volgende redes: as deel van ons Bybelse kultuuropdrag én omdat ons deel is van die volk wat regeer. Waar God se gesag nie erken word nie, kan ons verwag dat die wortel van die regeringsgesag sleg is en dat dit dikwels slegte vrugte voortbring. In so ’n demokrasie is die beslissings van die groot meerderheid dikwels tot onheil van die volk. Daarom moet ons bly besin oor Bybels-gegronde regeringsvorms en daarvolgens leef en profeteer. Laat die vaderlike leiding in ons gesinne en die broederlike gemeenskaplike besluitneming in ons gemeentes weer opbloei. Laat ons studeer en gesels oor politiek en regeringsvorms, en Bybelse oplossings bevorder. Laat ons onsself daarin voortdurend toets of ons die Bybel vir ons eie politieke oortuigings misbruik of dat ons ons oortuigings eerlik aan die Bybel toets. Laastens, laat ons bly bid vir ons regering wat God oor ons gestel het, al erken dit Christus nie as Koning nie. Laat ons God bid dat Hy die regeerders se harte lei soos waterstrome, sodat hulle Hom erken en regeer met Bybelse geregtigheid en wysheid. So kan ons bydra om die besinning oor ons regeringstelsel onder die wet van die Here te laat plaasvind, en self goeie vrugte voortbring.