Kan ons gebede God behaag?
Kan ons gebede God behaag?
Waarom weer oor die gebed praat? Omdat, in die taal van die Kategismus, die gebed die vernaamste deel van die dankbaarheid is wat God van ons eis (Sondag 45). Daarom kan geen Christen biddeloos lewe nie. 'n Mens kan sê dat gebed die asemhaling van ons geloof is. Gevolglik is dit belangrik dat ons aldeur sal besin oor ons gebedslewe: Hoe moet ons bid? Wanneer moet ons bid? Waaroor? Vir wie en tot wie?
Te midde van al hierdie gebedsvrae waarmee ons besig is, is daar een ding wat ons nie uit die oog durf verloor nie. Dit is naamlik dat, soos alle ander dinge in ons lewe, ook ons gebede God moet behaag. Dit is immers die grondslag van ons Gereformeerde godsdiens: Soli Deo gloria - aan God alleen die eer. So hoort dit ook in ons gebede. Daarom begin die Kategismus, waar dit oor die gebed handel, dadelik met die vraag: "Hoe moet 'n gebed wees wat God behaag?" (V/A 117).
In die geloof bid⤒🔗
In hierdie verband is daar 'n hele paar baie duidelike Skrifuitsprake. In die eerste plek is daar die bekende woorde van Jakobus 1:6: "Julle moet in die geloof bid." In watter geloof? In die geloof dat ons gebed sal waar word? Dit kan tog nie wees nie, want dan is ons geloof gerig op ons eie gebed! Nee, ons geloof moet gerig wees op God tot wie ons bid. In Hebreërs 11:6 hoor ons: "Hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en 'n beloner is van die wat Hom soek."
Die woorde "dat Hy is" herinner sterk aan die manier waarop God Homself aan Moses by die brandende doringbos bekend gestel net as "Ek is" (Eks. 3:14). Daaruit sien ons dat ons in ons gebede in God moet glo soos Hy Homself in sy Woord aan ons bekend gemaak het. As iemand bid terwyl hy God anders voorstel, kan so 'n gebed Hom nie behaag nie. Daarom staan daar ook in Hebreërs 11:6: "Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag." Dit is wat ons ook in vraag en antwoord 117 van die Kategismus bely.
As ons egter God reg bely, sal ons ook glo dat Hy alles wat ons van Hom afsmeek as almagtige God kán doen en as getroue Vader ook wil doen. En ter wille van Jesus Christus, ons Middelaar, sál Hy dit ook doen. Dit is die geloof waarin ons God moet aanroep.
In nederigheid bid←⤒🔗
In die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar (Luk. 18:9 – 14) leer Jesus ons nog iets baie belangriks oor die gebed. In die gelykenis bid die Fariseër en die tollenaar albei, die eerste doen dit met hoogmoed, die laaste met ootmoed. Én, so hoor ons dan, God het 'n behae slegs in die gebed van die ootmoedige wat roep: "O God, wees my, sondaar, genadig!" Ons moet dus bid vanuit die nederigheid van ons sondebesef.
Die nederigheid moet egter opreg wees. Geveinsde nederigheid kan God nie behaag nie. Die skrywer Langenhoven het by geleentheid gesê: "Die Fariseër is op sy gevaarlikste as hy die gebed van die tollenaar bid." Ons gebede behoort gedra te word deur 'n egte nederigheid voor God. Dit kan alleen gebeur as ons nie net God reg ken nie, maar ook ons eie sonde ken en bely.
Sonder bymotiewe bid←⤒🔗
Dit bring ons by 'n volgende belangrike saak uit. God het geen behae in gebede wat met bymotiewe gebid word nie. In Matteus 6:5 waarsku die Here Jesus ons teen die soort gebede wat die Fariseërs gebid het. Die hoofdoel van hulle gebede is om deur die mense gesien te word. Voorwaar, sê Hy, hulle het hulle loon weg.
Nog 'n voorbeeld van gebede met bymotiewe kry ons in 1 Korintiërs 11:2-15. In hierdie gedeelte lees ons van vroue in die gemeente wat gebid en geprofeteer het sonder hoof-bedekking. Dit het hulle gedoen tot irritasie van die res van die gemeente, met die doel om vir hulle te wys dat hulle nie aan hulle mans onderdanig is nie. Hulle het die gebed misbruik om hulle eie emansipasie-gedagtes in die erediens te demonstreer.
In ons tyd kry ons baie te doen met demonstrasiegebede. Enigiemand wat in die openbaar bid, moet altyd homself deeglik ondersoek dat hy nie die gebed misbruik om iets voor die mense te demonstreer nie - sy eie welsprekendheid, sy eie vroomheid, of selfs sy eie beskeidenheid. Sekere gebeds-geleenthede, soos bidure of gebedsgroepe, wat in beginsel nie verkeerd is nie, leen hulle egter so maklik tot sulke misbruik van gebede dat Gereformeerdes met goeie reg gewoonlik maar lugtig daarvoor is. Gebede met sulke bymotiewe kan God immers nie behaag nie.
Waarvoor ons veral versigtig moet wees, is gebede wat uit die staanspoor daarop gerig is om iets voor die mense te demonstreer. Dit gebeur soms dat Christene landswyd of wêreldwyd georganiseer word om op dieselfde dag of selfs op dieselfde uur oor 'n bepaalde saak te bid. Ons het onlangs te doen gehad met die wêreldwye biddag vir vroue, en 'n biddag vir die jeug. Soms kry sulke massagebede ook uitvoerige dekking in die media, met die motivering dat hierdie biddae die solidariteit van alle Christene demonstreer. Die vraag is egter of die gebed vir so 'n doel gebruik mag word. Gebede met bymotiewe, hoe goed ook al, kan God immers nie behaag nie. Daarom bly ons Gereformeerdes gewoonlik ver weg van enige vorm van demonstrasiegebed.
Die armoede en rykdom van ons gebede←⤒🔗
Daarmee wil ons egter nie te kenne gee dat ons gebede volmaak is nie. Inteendeel. Ons bid vanuit die swakheid van ons eie gebrokenheid en erken dat ons stamelende en swakke gebede op sigself God nie kan behaag nie. Dit is die armoede van ons gebede.
Maar tog kom God in sy onbeskryflike genade ons armoede te hulp. In Romeine 8:26 lees ons dat ons nie reg weet wat ons moet bid nie, maar dat die Heilige Gees van God ons swakhede te hulp kom. Die Gees tree immers vir ons in met onuitspreeklike sugtinge. Dit wil sê dat die Heilige Gees ons swakke gebede heilig sodat dit as 'n lieflike geur na die troon van God kan opstyg.
En daar, aan die regterhand van God, het ons nóg 'n Voorspraak, wat by die Vader vir ons intree. Hy is Jesus Christus, ons Borg en Middelaar (Rom. 8:34). Op grond van Sy verdienste en die volmaakte soenoffer wat Hy gebring het, verhoor God elkeen wat in sy Naam bid.
Vanuit hierdie vertroue kan ons dus in die rykdom van die gebed deel: 'n gebed wat tot behae van God opklink en deur Hom verhoor word. Maar dan moet ons in die geloof bid, nederig, opreg, sonder bymotiewe.