Bron: Die Kerkblad, 1990. 2 bladsye.

Kategismuspreke 'n Laagte Vol Dor Bene?

Lees Eségiël 37

dor beendere

Dit is glad nie iets nuuts in die geskiedenis dat die gebruiklike Kategismuspreke in die Gereformeerde Kerke dikwels met minagting bejeën word nie. Dit kan ook nie anders as juis die Belydenisskrifte met minagting bejeën word nie. Hoe kan sulke geskrifte van 400 jaar oud dan nog teen die einde van die 20e eeu ’n boodskap vir die moderne mens hê? word gesê. Dit is nie meer aktueel nie. Wat daar in Suid-Duitsland in die jaar 1663 op die walle van die Neckarrivier in die stad Heidelberg deur ’n dominee en ’n professor neergeskryf is, het nie meer vir ons vandag ’n oplossing vir ons probleme nie. Dit is argaïes, verouderd en uitgedien. Dit spreek nie meer tot die jeug nie. Die Kategismus dring probleme van die 16e eeu en dwalings van die Roomse leer aan ons op terwyl ons met nuwe probleme sit waarop ons ’n antwoord soek. Wat van die ideologieë van vandag soos bv. Kommunisme, Bevrydingsteologie, ‘New Age’ en Oosterse godsdienste? En wat van al die nuwe sedeprobleme soos o.a. dwelmverslawing, ‘saamslaap’ en homofilie?

Lê die Fout by die Kategismus?🔗

In hierdie bogemelde gedagtegang van ’n ou belydenisskrif in ’n nuwe, moderne wêreld, sit daar werklik baie waarhede, maar om dan daaruit te konkludeer dat die Kategismus per sé uitgedien is, roep om ’n minder op­pervlakkige en ’n baie deegliker besinning.

Lê die skuld nie ook by ’n verkeerde hantering van die Kategismus nie? En dadelik dink ons aan die Kategismuspreke en ons katkisasies. Lê die fout by die tweede erediens en sal sake regkom as ons dit afskaf? Of sal liefde vir die Gereformeerde belydenis gekweek word deur die fout by die Drie Formuliere te soek in plaas van by onsself, by ons dominees wat die preek en by ons pro­fessore wat die toekomstige Kategismuspredikers moet oplei? Of wat van ons almal se gesindheid ten opsigte van hierdie troosboek?

‘’n Laagte van Dor Doodsbeendere’🔗

Onsself wat tot die taak geroep word om hierdie ‘geloofsleer’ (vergelyk predikante se beroepsbrief) aan die ge­meente en die verbondsjeug te preek, doen dit soms (en selfs dikwels?) op ’n manier wat die hoorders ’n ‘vlakte met dor doodsbeendere en geraamtes’ laat sien. Dit laat ’n mens dink aan die gesig in Eségiël 37. Daar kom dan Kategismuspreke wat gaan oor die ‘doodsbeendere’ van Pelagiane, Roomse, Remonstrante, Wederdopers van eeue gelede, ens. Die gemeente moet elke keer ’n optog maak na die grafte van die ketters van baie lank gelede. Dit loop uit op ’n ‘post mortem’ (na-doodse ondersoek) in plaas daarvan dat die gemeente duidelik kan raaksien dat dieselfde dwalings vandag nog steeds springlewendig is.

Dieselfde Dwalings in Moderne Kostuums🔗

Die dominee trek nie die lyne deur nie. Die gemeente weet nie dat dieselfde dwalings vandag nog selfs heftig deur die gelowiges aan die lyf gevoel word nie. Die maskers en die kostuums het verander en ons sien nie die moderne toneelspel raak nie. Hulle besef nie meer dat die vervalsing van die sakramente, bygeloof, die afgodery, dronkenskap, ontheiliging van die Sondag, die ver­skriklike sedebederf, die liefdeloosheid onder mense, die wreedheid en barbaarsheid, die skreiende ongehoorsaamheid, die growwe belastering van God se Naam, die verbreking van die huwelik ens., ens., nog steeds elke dag tienduisende Christene se lewe verwoes nie.

anker

En dit is dan juis presies dieselfde dinge waaroor die Kategismus aanhoudend waarsku. Natuurlik het hierdie boek nog nie geweet van goddelose TV-programme met uitbeelding van moord en onsedelike bedtonele en lastering van God se Naam wat elke dag in ons sitkamers inkom nie. Natuurlik het Ursinus en Olivianus nog nie geweet van die dekadente Amerikaanse kultuur wat jaar-in, jaar-uit, aan ons kinders opgedis word nie. Natuurlik leef ons in ’n tyd van asemrowende tegniek wat die mens van sy ankers losruk en daarvan het die Gereformeerdes van die 16e eeu eintlik niks geweet nie.

Maar die Woord? En die waarhede van die lewe? En die leuen? En in kort, God se wet?... Is dit nie nog in 1990 presies dieselfde nie? En is dit dan nou nie juis die dinge waarin die Kategismus ons onderrig nie? En dan dink ons aan die mens se ontsettende sonde-ellende, sy verlorenheid in homself, sy totale magteloosheid om homself te red. Helder en duidelik proklameer die Kate­gismus dan die enigste troos in lewe en sterwe ... die enigste redding deur die kruis ... die enigste versoen­ing met God. Ook die bekering en heiligmaking. Ook die wonder van die kerk en die ewige krag van die Woord. Gaan kyk maar daar staan dit voor ons oë in die Kategismus. Op hierdie dag, vandag, is dit nog steeds net soos in die 16e eeu aktueel.

Steeds die Woord🔗

Laat ons onsself nie mislei nie. Devaluasie van die Heidel­bergse Kategismus en devaluasie van die Kategismuspreke (deur dominees en hoorders) lei tot devaluasie van die ewige waarhede van die Woord. Dit vereelt ons gewetens. Dit lei tot geestelike stompsinnigheid. Die ‘bouprogram’ van die gemeente vervaag. Die amps­draers se werk vervlak.

Beproef die Geeste ook met die Kategismuspreke🔗

Teen die einde van die eerste eeu staan die apostel Johannes ook voor sy gemeente. Hy preek en hy skryf ’n brief aan hulle: ‘Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan’ (1 Johannes 4:1).

Beproef die geeste! Letterlik staan daar in die oor­spronklike Grieks: Beproef die winde. Daar waai slegte, valse winde oor die wêreld en hulle waai deur die kerk se deure en vensters. En nou moet die prediker en die gemeente die rigtings van hierdie winde duidelik onderskei en onderken. Daarin help die Heidelbergse Kategismus ons uitnemend.

Nie met Saul se Harnas Nie🔗

Die geskikte klippies vir Dawid se slingervel word keurig uitgesoek. Ook die Kategismus probeer nie met Saul se mondering die reus Goliat verslaan nie. Hier is geen grootdoenerigheid met die koning se imposante harnas nie. Slegs die eenvoudige verstaan van die Evan­gelie deur die Heilige gees. Slegs die kinderlike geloof in die ewige, almagtige God!