Bron: Die Kerkblad. 6 bladsye.

Katolisiteit van die Kerk

Die Terugkeer tot die Bybel🔗

Die hervorming sowel in sy Duitse Lutherse vorm as in sy Franse Calvinistiese vorm was 'n terugkeer na die Bybel. Die Woord van God word weer sentraal gestel in die erediens en in die lewe van elke dag.

Wanneer ons met name let op die hervorming soos Calvyn dit gebring het, dan moet ons sê: die reformasie was nie 'n verhuising nie, maar dit was alleen 'n skoonmaak, 'n opruiming. Die stof van die Roomse tradisie is van die Bybel afgevee. 'n Onbybelse sakramentsleer waaronder die leer van die Heilige Gees bedolwe was, is verwyder. Die kerk van Jesus Christus, die Katolieke kerk soos hy in die eerste eeue na Christus was, het weer te voorskyn gekom.

Al het daar 'n verwisseling van geboue plaasgevind, die wesentlike van die Hervorming was 'n skoonmaak.

Die kerk wat uit die Hervorming te voorskyn gekom het, is die Hervormde of Gereformeerde kerk, maar dan moet ons tog altyd onthou dat dit die Katolieke Kerk is wat Gereformeerd of Hervormd geword het.

Gereformeerd Katoliek🔗

Die Gereformeerde kerk is die Katolieke kerk in haar Gereformeerde gestalte. Ons is nie Rooms-Katoliek nie, maar ons is Gereformeerd of Hervormd Katoliek. Maar ons is Katoliek. Dit vergeet ons maar te dikwels. Ons bely mos in ons Apostoliese Geloofsbelydenis: "Ek glo aan 'n heilige, algemene Christelike kerk". Algemeen of katoliek.

Die kerk van Jesus Christus is Katoliek.

Dit was juis die kenmerkende van die Franse Reformasie dat die begrip Katoliek weer in al sy skoonheid en heerlikheid gaan skitter. Calvyn het nooit moeg geword om telkens daarop te wys:

ons is nie 'n nuwe kerk nie, ons het nie verhuis nie, ons is nog altyd, ons is weer die Katolieke kerk.

Hier lê ook die oorsaak dat die Reformasie die oudkerklike dogma aanvaar het en dat dit in die prediking en die teologie weer gefunksioneer het.

Deur die Hervorming, deur die skoonmaak het die Katolieke karakter van die kerk weer gaan blink in al sy luister en in sy stralende skoonheid.

A.A. van Ruler het daarop gewys dat dit ook geld vir die Gereformeerde teologie. Die Gereformeerde teologie is volgens Van Ruler 'n moment in die tradisie van die "catholica", is daarom die mees ekumeniese vorm van Christendom en is daarom die beste in staat om die kerk vir verstarring of rewolusie te bewaar.

Deur terugkeer tot die Woord van God het die kerk van die Hervorming die katolieke karakter weer gaan vertoon.

Die Katolisiteit van die Kerk🔗

Die woord Katoliek is een van die kenmerkende eienskappe van die Gereformeerde of Hervormde kerk. Hierdie uitdrukking is bekend uit die Apostoliese Geloofsbelydenis.

Eintlik is hierdie woord oorgeneem uit die Oosterse, Griekssprekende deel van die kerk. In ongeveer 350 n.C. het biskop Cyrillus van Jerusalem al die betekenis van hierdie woord Katoliek aan sy katkisante verduidelik. Dis waarskynlik dat biskop Cyrillus aansluit by biskop Ignatius van Antiochië wat in sy bekende Brief aan die gemeente van Smyrna die beroemde reël geskryf het:

Oral waar die biskop optree, daar moet die menigte wees, soos oral waar Christus Jesus is, daar is die katolieke kerk.

Ignatius bedoel katoliek hier in geografiese betekenis. Die Katolieke kerk is die kerk oor die gehele bewoonde wêreld.

Naas die geografiese betekenis van die woord Katoliek vind ons in die oudheid al spoedig ook 'n meer kwalitatiewe betekenis. Ons lees dit byvoorbeeld in 'n brief van die kerkvader Augustinus aan Vincentius van Cartenna waarin "Katoliek" nie aangedui word as die geheel van die bewoonde wêreld nie, maar as die geheel van die openbaring.

Cyrillus🔗

Baie sterker en omvattender beskrywe biskop Cyrillus van Jerusalem die begrip "Katoliek". Hy gee aan hierdie woord verskillende betekenisse.

Eers kom hy met die kwantitatiewe betekenis. "Die kerk is Katoliek, omdat sy oor die gehele aarde bestaan." Maar al spoedig voer hy die kwalitatiewe betekenis in met die woorde:

Die kerk is Katoliek, omdat sy alles leer wat nodig is vir die mense om gered te word.

Cyrillus brei dan nog verder op die betekenis van hierdie begrip uit met sy opmerking:

Die kerk is ook Katoliek omdat sy alle soorte van sondes wat deur liggaam en siel bedryf word, geheel (letterlik staan daar: op 'n katolieke wyse) genees.

"Katoliek" het dus, volgens die biskop van Jerusalem die betekenis van: die volle waarheid vir die gehele mens. 'n Katolieke kerk is dus 'n kerk wat die volle raad van God tot verlossing van die mens in allesomvattende verbande verkondig.

In die Middeleeue kry ons 'n meer verengde betekenis van die woord Katoliek. Dan val die nadruk veral op die geografiese betekenis. Die Roomse Kerk is katoliek, want hy is oral in die bewoonde wêreld teenwoordig.

Hervorming🔗

By die Hervorming van die kerk in die 16e eeu kom die woord "Katoliek" weer meer na vore en kry dit ook 'n nuwe konnotasie. Ons weet uit die geskrifte van Luther dat hy nie so baie van hierdie woord gehou het nie. Dit was vir hom te veel 'n besmette term. Luther was van oordeel dat die woord "Katoliek" te veel verbind was aan die Roomse siening van die aardrykskundige betekenis van hierdie woord. Calvyn was egter nie bang om die woord "Katoliek" vir die kerk te gebruik nie. Luther het die woord "Katoliek" uit die Apostoliese Geloofsbelydenis geskrap en dit vervang deur "Christelik". Maar Calvyn gebruik sowel in sy Kategismus van Genève asook in sy Institusie die woord "Katoliek" met die onsigbare kerk as die gemeenskap van die uitverkorenes. Calvyn het wel die geografiese uitgebreidheid van die kerk in gedagte, maar, dan altyd as keersy van die onsigbare kerk, die gemeenskap van die uitverkorenes, waarvan Christus die Hoof is.

Calvyn het met sy Hervorming van die kerk die Katolieke karakter van die kerk op die oog gehad. Katoliek in die betekenis wat Cyrillus van Jerusalem ook al daaraan gegee het. Dit blyk uit verskillende dinge.

  • Ten eerste het Calvyn weer teruggegryp agter die Roomse kerk na die kerk van die eerste eeue. Hy het immers sterk daarvoor gepleit dat die Gereformeerde of Hervormde kerk die ou belydenisse, die katolieke of ekumeniese simbole moes oorneem, erken en aanvaar as die belydenis van die kerk. Dit gaan by Calvyn dus om die gemeenskap met die kerk van alle eeue.

  • Ten tweede het Calvyn - en dit was ook 'n Katolieke daad - die ouderling, die presbiter weer na vore geskuif en in ere herstel.  Iemand het gesê: Calvyn het op die skaakbord van die stryd met Rome die pous skaakmat gesit met die pion van die ouderling.

  • Ten derde het Calvyn weer die gehele Bybel in die middelpunt geplaas in sy preke, sy kommentare en sy korrespondensie.

  • En ten vierde het Calvyn die gehele mens op die oog gehad, die mens na liggaam en siel wat geskape is tot lof van God en wat moet lewe tot eer van sy Skepper. Calvyn het raakgesien wat O. Noordmans so treffend oor die kerk tot uitdrukking bring:

De kerk heeft tweërlei taak: prediking en ordening van het leven met het oog op de eeuwigheid. Uit deze beide bestaat de ware catholiciteit. De Gereformeerden hebben dit beter verstaan dan de Luthersen.

Opruiming🔗

Daarom was die Hervorming nie 'n verhuising nie. Dit was veeleer 'n groot skoonmaak, 'n opruiming. Die stof van baie eeue is deur die Hervormers van die Bybel afgevee. Die Woord van God is in al sy omvattendheid, in sy Katolisiteit weer aan die mens in sy totale verdorwenheid verkondig.

Daarom is die Gereformeerde of Hervormde kerk die Katolieke kerk in sy gereformeerde gestalte.

Die Gereformeerde kerk is Katoliek omdat haar Here en Hoof 'n Katolieke, 'n volledige, 'n volkome Saligmaker is.

Die Gereformeerde of Hervormde kerk is Katoliek omdat die mens 'n Katolieke, 'n volledige sondaar is.

Die Gereformeerde of Hervormde kerk is Katoliek omdat die verlossing die gehele lewe van die mens omspan.

Dit het Calvyn raakgesien. Dit was die magtige greep van Calvyn dat die mens wat totaal verdorwe is, deur die totale verlossingswerk van Christus gered kan word en dat die verloste mens totaal, volledig in die diens van God opgeneem word.

Daarom was Calvyn by uitstek 'n Katolieke hervormer. Ook in hierdie betekenis dat hy die kerk gesien het as die kerk vir alle volke in alle lande. Daarom het hy ook so kragtig die Reformasie in ander lande soos Skotland en Nederland bevorder.

Daarom het hy ook die lig van die Woord van God laat skyn oor die staatkundige en maatskaplike lewe.

Daarom het Calvyn hom uitgespreek oor kapitaal en rente.

Daarom het Calvyn vir 'n skool van wetenskap geywer en kon in 1559 die beroemde Akademie te Genève gestig word. Calvyn was by uitstek 'n Katolieke hervormer toe hy die Katolieke karakter van die kerk beklemtoon het, en die begrip Katoliek verbind het met die kerk as die liggaam van Christus, die liggaam onder die een hoof Christus.

Calvyn het hier 'n Bybelse greep gedoen waarvan ons die gevolgtrekkinge eers nou goed begin te verstaan. Die nuwere eksegese, die hedendaagse Skrifverklaring is daar om dit te bewys.

Die Volheid van Christus🔗

Wat Calvyn bedoel met die woord "Katoliek", word deur die apostel Paulus met name in sy tweeling-briewe aan die Efesiërs en die Kolossense weergegee met die woord pleroma, vol­heid.

In Efesiërs 1:23 noem Paulus die kerk die pleroma, die volheid van Christus wat alles in almal in vervul. Dis moeilike woorde en lank is gesoek na die regte betekenis van hierdie teks.

Die nuwere ondersoek het aan die lig gebring dat met die woord pleroma, volheid eintlik be­doel word: magsgebied, domein of dominium. Herman Ridderbos noem die begrip volheid "een almachtscategorie". Die konteks spreek ook baie duidelik van die mag en die heerskappy van Christus.

Paulus wil eintlik hier sê: die kerk is die domein waar Christus domineer, die magsgebied waarin Christus alle mag uitoefen. Die kerk word deur die magsvolle werking van Christus vervul.

Die Hele Lewe🔗

Eintlik kan ons Efesiërs 1:23 soos volg vertaal: die kerk is die magsgebied van Christus wat oor alles en almal regeer. Dit beteken dan dat daar iewers in die wêreld al 'n ruimte is, 'n gebied, 'n terrein waarbinne die heerskappy van Christus al sigbaar is, naamlik in die kerk. Wat in die wêreld nog onsigbaar is, kom in die kerk al aan die lig: Christus heers, Hy regeer hoofde, harte, hande. Mense is na siel en liggaam heerlik onderworpe aan sy heilige wil. Die hele lewe is Hom in liefde volkome toegewy. Dit is Katoliek!

Wat in die kerk gebeur is 'n voorbeeld vir die wêreld. Die volledige erkenning van die gesag van Christus, die onvoorwaardelike onderworpenheid aan Koning Jesus moet steeds verder uitkring in die wêreld. Christus is mos Hoof van kerk en kosmos. Hy het alle mag ontvang in hemel en op aarde.

Sending🔗

Daarom is daar die sendingarbeid: die roep van die kerk tot die volkere om hulle te stel onder die genadeheerskappy van Christus.

Daarom is daar die evangelisasie-arbeid: die terugroep van die afgedwaaldes na die kerk om hul­le weer te stel onder die heilsame gesag van Christus.

Daarom is daar die kerstening van die lewe. Alles, onderwys, staat en maatskappy moet gebring word onder die heerskappy van Christus.

Dit gaan nie sonder stryd nie. Dit sal nie volledig gerealiseer word sonder die eindgerig wat kom nie. Naas en teenoor die koms van die Koninkryk van God op aarde, is daar ook die koms en die ontwikkeling van die ryk van die Antichris.

Ryk van God🔗

Daar is in hierdie wêreld waarin God sy Konin­kryk bou, ook die mag van die duiwel, die sonde en die kwaad. Daarom staan 'n Christen volgens Calvyn in 'n gekompliseerde houding in hierdie wêreld. Ten opsigte van die Ryk van God staan hy in 'n verhouding van diens, maar ten opsigte van die ryk van die Bose staan hy in 'n houding van stryd.

Die Katolieke Karakter van die Hervorming🔗

Wanneer ons die werke van Calvyn bestudeer dan moet dit ons tref dat die hervormer uit Genève 'n diep insig gehad het in die allesomvattende heerskappy van Jesus Christus. Dit kan ons net verklaar uit die noue gebondenheid van die Woord van God.

Die Hervorming in sy Calvinistiese rigting word besonder gekenmerk deur die eksegese van die Bybel.

Naas die Institusie wat ook 'n monument van nougesette eksegese genoem kan word, is daar die indrukwekkende ry van Calvyn se kommentare. Behalwe die 2e en 3e Brief van Johannes en die Openbaring van Johannes, het Calvyn alle boeke van die Bybel van 'n kommentaar voorsien.

Verstaan van die Skrif🔗

In sy Acta Synodi Tridentini cum antidoto trek Calvyn selfs 'n vergelyking tussen die Reformatoriese en die Roomse Skrifuitlegging en dan sê hy in groot beskeidenheid:

Ons het vir die verstaan van die Skrif meer gedoen as alle doctores wat sedert die ontstaan van die pousdom in die Room­se kerk opgestaan het.

Op baie plekke in sy kommentare wys Calvyn op die allesomvattende betekenis van die Koninkryk van Christus. Volgens Calvyn het die Koninkryk van God hier op aarde reeds begin met die vleeswording van die Woord, die kruis en die opstanding van Christus, maar die volkomenheid het nog nie aangebreek nie. In die tussentyd regeer Christus ons deur die septer van die Evangelie. God regeer, aldus Calvyn, op so 'n wyse dat Hy die mense bestem tot die ewige lewe en hulle ook daar bring en daarom is dit goed om onder God se heerskappy te buig. In die vernedering onder sy septer, dit is dus onder die verkondiging van die Evangelie, sal die verhoging tot hemelse saligheid voltrek word. Calvyn wys voortdurend op die voorlopigheid van die Koninkryk van God in hierdie bedeling. Die volledige realisering van die Koninkryk sal eers gebeur by die wederkoms van Christus.

Koningsheerskappy🔗

Daar moet volle aandag aan gegee word dat Cal­vyn die koningsheerskappy van Christus in hier­die bedeling op die kerk betrek. Die Koninkryk van God het gekom en dit bestaan volgens Calvyn in die geestelike vernuwing van die gemeente. In sy kommentaar op Lukas 17:20 skry­we Calvyn dat die Koninkryk van God niks anders is as die innerlike en geestelike vernu­wing van die siel (interior et spritualis animae revoatio) nie.

Die Koninkryk van God is daar waar die vergewing van sondes en die aanneming tot kinders van God verkondig word. En dan noem Calvyn die kerk die regnum Christi spirituale.

Daar is egter by Calvyn ook sprake van 'n heer­skappy van Christus oor die wêreld, maar dan is dit besonder treffend dat Calvyn die heerskappy van Christus oor die wêreld nie afhanklik stel van die heerskappy van die verhoogde Christus nie, maar dit verbind met die tweede persoon van die Goddelike wese, die Logos. Met name in Cal­vyn se voorlesings en preke oor die boek Daniël, vind ons hierdie gedagte. Dat Christus ook Koning oor die wêreld is, geld, aldus Calvyn nie vanaf die hemelvaart nie, want Hy was dit reeds ten tye van die verwoesting van Ninevé.

Woord en Gees🔗

Wel betrek Calvyn die heerskappy van Christus ook op die wêreld, maar dan is dit sy regering deur Woord en Gees. Onderwerping van die wêreld, aldus Calvyn, gebeur nog nie deur die volledige inset van sy goddelike almag nie, maar deur die uitnodigende roep van die Evangelie tot geloofsgehoorsaamheid en deur die gawe van die Heilige Gees wat tot geloof en gehoorsaamheid bekwaam maak.

Hier sien ons hoe in Calvyn se Skrifverklaring die Katolisiteit beklemtoon word. Die pleroma van Christus, sy heerskappy oor kerk en wêreld word deur die Hervormer uit Genève so treffend geteken.