Bron: Die Kerkblad, 2008. 2 bladsye.

Kerk en politiek

kerk

Die tema van “kerk en politiek” bly voortdurend ’n boeiende onderwerp – en sal dit ook altyd bly. Hoe meer, hoe groter en hoe onstuimiger die woelinge in die politieke arena word, hoe aktueler word die tema en hoe meer word dit bespreek en daaroor nagedink.

Standpunte🔗

Oor die verhouding “kerk en politiek" bestaan daar natuurlik verskillende en ook uiteenlopende standpunte.

Daar is byvoorbeeld die standpunt dat die kerk haar uit die politiek moet hou en die politiek aan die politici moet oorlaat. Die kerk het sy besondere taak en funksie en die politiek syne, en hierdie twee terreine moet radikaal van mekaar geskei word; daar bestaan geen raakpunte tussen die twee nie en die een het niks vir die ander te sê nie; die kerk dryf soos ’n oliedruppel op die politieke oseaan. (Hierdie benadering word dikwels as piëtisme of kwiëtisme beskryf.)

Hierdie benadering staan egter in spanning met die woorde van Christus dat Christene – die kerk – die sout vir die aarde, die lig vir die wêreld en die suurdeeg vir die samelewing moet wees.

Daar is ook ’n ander benadering, presies teenoorgesteld aan die bogenoemde. Volgens hierdie siening moet die kerk van die môre tot die aand by die politiek betrokke wees, eintlik aan die politici voorskryf wat en hoe hulle dinge moet doen. Die kerk word hiervolgens eintlik ’n politieke agent en ’n (politieke) party in gebed. (Hierdie benadering word as politieke aktivisme beskryf.)

Maar hierdie benadering vereenselwig te veel die koninkryk van God met ’n eie, nasionale koninkryk, dit vereensydig die Evangelie van verlossing tot politieke bevryding, dit vereng die sonde (net) tot politieke onreg, dit maak van Christus ’n politieke aktivis en van die kerk ’n politieke agitator.

Daar is ook ’n derde benadering, wat ons die koninkryksbenadering kan noem. Vanuit die koninkryk van God besien, kry alle aardse koninkryke en samelewings en politiek ’n betreklike waarde; nie een van ons aardse koninkryke is ewig en onverganklik nie, selfs wêreldryke kom en gaan. Ons mag nooit ons eie – wit of swart of bruin – koninkrykies gelykstel aan die koninkryk van God nie.

Maar: ons klein koninkrykies en ons politiek moet diensbaar wees aan die groot koninkryk van God. Die koninkryk van God staan nie los van ons aardse samelewings nie, maar dring dit binne, beïnvloed dit, verander en reformeer en transformeer dit. Die koninkryk van God oefen gedurig kritiek uit op ons aardse koninkryke: dit roep voortdurend om ’n politiek van medemenslikheid, ’n politiek van geregtigheid, ’n politiek van vryheid, ’n politiek van vrede (versoening) en dus ’n politiek van hoop. Die koninkryk van God staan krities teenoor ’n politiek van haat, ’n politiek van onreg, ’n politiek van magsmisbruik en misdaad en geweld, ’n politiek van korrupsie en ’n politiek van groepsbe­voordeling en boetiebegunstiging.

Die kerk van Christus is boodskapper van die evangelie van die koninkryk van God en het dus as sodanig 'n onnalaatbare profetiese roeping in die samelewing.

Bybel

In 1916 het ds. (later prof.) J.A. du Plessis in ’n lesing in Pretoria oor Op die spore van die Calvinisme hierdie benadering soos volg onder woorde gebring (ek vertaal): “Laat niemand daarom ’n Calvinistiese predikant verdink as hy tegelykertyd ook politikus is nie, omdat hy geroepe is om met die Bybel, wat hy bedien, ook die wêreld in te gaan en hom nie mag opsluit in ’n predikantepoppekas nie.”

Profetiese roeping🔗

Alle kerke in Suider-Afrika het ’n duidelike profetiese roeping:

  • ten opsigte van elke vorm van politieke magsmisbruik en despotisme (ek dink hier ook aan Zimbabwe),
  • ten opsigte van die onafhanklikheid van die regbank wat al hoe meer in gedrang kom,
  • ten opsigte van noodleniging en die verligting van armoede,
  • ten opsigte van die vigspandemie wat onverpoos voortwoed,
  • ten opsigte van misdaad wat ons Suid-Afrikaanse samelewing na die afgrond lei,
  • ten opsigte van die vreemdelingekrisis wat oornag in Suider-Afrika ontstaan het,
  • ten opsigte van die enorme ekologiese versteuring en omgewingsbesoedeling,
  • saamgevat: ten opsigte van die vestiging van ’n vreedsame, verantwoordelike, vrye, regverdige en medemenslike samelewing.

Individuele gelowiges kan hulle profetiese roeping uitleef deur onder andere briewe in dagblaaie te skryf, sinodes kan kragtens art. 28 Kerkorde ’n profetiese stem in die samelewing laat uitgaan; dieselfde kan ook deur die Konvent vir Reformatoriese Kerke in Suider-Afrika en die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke gedoen word.

Die kerk van Christus mag natuurlik nooit in ’n politieke party verander nie, selfs nie ’n geestelike politieke party nie, maar moet altyd kerk van Christus bly, maar dan 'n kerk van Christus wat in die volle lewe en in die totale samelewing diensbaar is aan die koms van die koninkryk van God en die beginsels van die koninkryk op alle terreine uitleef en sover moontlik verwerklik.