Bron: Kerkblad. 2 bladsye.

Kerk, ons Kerk en ons Saligheid

Dikwels is dit die klein jakkalsies wat die wingerd verniel. 'n Leser skakel my die afgelope week oor die taaljakkalse wat ons met ons saamdra. Hy wys daarop dat die klein dingetjies wat ons soms onnadenkend sê, dikwels verklap hoe ons oor sake dink. Hy noem toe 'n paar voorbeelde, wat beslis ons aandag verdien.

"Ons" Kerk of Kerk van die Here?🔗

Wat die leser veral kwel, is dat Gereformeerdes, selfs wanneer hulle skryf, soms na die Gereformeerde Kerke verwys as "ons kerk". Natuurlik is dit so dat 'n mens dikwels in die omgangstaal van "ons kerk" praat en dan bedoel: "die GKSA" óf: "die plaaslike kerk waartoe jy behoort". Maar dié manier van praat staan lynreg teenoor ons gereformeerde beskouing van en belydenis oor die kerk.

Wat is dan ons (gereformeerde) siening van die kerk? In die eerste plek dat die kerk aan Jesus Christus behoort. Dit is ook wat die naam "kerk" beteken: wat aan die Here behoort. In ooreenstemming hiermee bely ons dat Christus "uit die hele menslike geslag vir Hom 'n gemeente... vergader, beskerm en onderhou" (HK So. 21) en dat Hy die Hoof van "sy Christelike kerk" is (HK So. 19).  Die kerk waartoe ons behoort is dus nie "ons kerk" nie, maar "die kerk van die Here" of "Christus se kerk".

Hierdie belydenis het baie belangrike implikasies. Omdat dit die Here se kerk is, is Hy die een wat seggenskap oor sy kerk het. Hy stuur en rig sy kerk. Hy het die eerste en die laaste sê oor sy kerk. Wat Hy oor sy kerk en vir sy kerk sê, het Hy vir ons laat opteken in die Bybel.  As ons dan wil weet hoe dinge in sy kerk gereël moet word, luister ons nie na allerhande slim en vernuftige adviese van mense nie. Ons luister na sy Woord.

In Christus se kerk word sake nie volgens die eise van die samelewing of volgens ons eie smaak of voorkeure gereël nie. Die kerklike inrigting moet pas by wat Christus in sy Woord ons voorsê.  Dit moet ons in gedagte hou ook wanneer die kerk in 'n sinode byeenkom.  Die besluite wat daar geneem word, is besluite van mense, ja, maar besluite wat nie anders mag nie as om te berus op die Woord van die Here.

Daarom pas dit by ons wat deur die Here by sy kerk gevoeg is, om ons te onderwerp aan wat Hy sê. Die kerk praat nie terug nie, weet nie van beter nie, probeer nie gedurig om êrens 'n mou aan te pas by die Here se Woord nie. Want ons weet dit is nie ons kerk waarmee ons kan maak soos ons wil nie, maar dit is die Here se kerk.

Gaan ons "Kerk toe"?🔗

Nog 'n manier van praat wat so diep by ons ingeburger is dat ons kwalik daarvan ontslae kan raak, is dat ons sê: "Ons gaan kerk toe", of: iets het "daar by die kerk" gebeur. Die probleem met hierdie manier van praat is dat dit 'n afstand plaas tussen die lidmaat en die kerk, so asof die kerk iets daar buite die gelowiges is, wat net so nou en dan besoek word of waarvan jy kan weg wees.

Ons praat dikwels ook van ons "kerkbesoek". Binne die regte konteks kan die uitdrukking reg gebruik word, maar ons moet versigtig wees om nie 'n verkeerde kerkbeskouing hiermee te bevorder nie.

In aansluiting hierby verwys ons gewoonlik ook na die kerkgebou as "die kerk". So asof die kerk net binne daardie vier mure bestaan. Meer hoogdrawend word daar soms ook na die kerkgebou verwys as "die huis van die Here". Die bedoeling is miskien goed, maar so 'n manier van praat versterk die verkeerde idee dat die Here net tussen die mure van daardie gebou aangetref word en dat die wêreld daarbuite sonder Hom is. Hierdie hardnekkige beskouing word in Handelinge 7:48 afgewys: "Die Allerhoogste woon nie in tempels wat met hande gemaak is nie."

Hierteenoor bely ons dat die kerk in werklikheid be­staan uit die somtotaal van die gelowiges, of - soos artikel 27 van die NGB dit stel: "'n heilige vergadering van almal wat waarlik in Christus glo." Waar ons as gelowiges ook al gaan, daar is die kerk. Om dit te weet, is vir elke gelowige 'n troos, juis omdat Christus ons die versekering gee dat Hy sy kerk altyd en oral koester en bewaar (Matt. 16:18).

Hierdie wete bring ons egter ook by 'n geweldige verantwoordelikheid uit, naamlik om te weet dat ons nêrens incognito kan beweeg nie. By alles wat ons doen en sê, is die goeie naam van die kerk van die Here betrokke. Ons optrede is immers die kerk se optrede.

Watter Verskil Maak dit?🔗

Maar om so noukeurig ag te gee op hoe ons praat - is dit nie haarklowery nie? Buitendien, watter verskil maak dit alles aan ons saligheid? Is die belangrikste nie maar dat ons Jesus Christus as ons Saligmaker ken nie, maak nie saak watter beskouing ons van die kerk het nie?

Hierdie reaksie wat 'n mens dikwels in ons geselskappe hoor, is nog 'n voorbeeld van 'n onnadenkende manier van praat. Om alles net om ons eie salig­heid te laat draai, is alles behalwe 'n gereformeerde beskouing.

Verskeie mense het al daarop gewys dat ons denke in sekere opsigte nader aan die beskouings van Luther staan as aan dié van Calvyn. In die Lutherse teologie staan die mens se saligheid en verlossing in die middelpunt. In die gereformeerde teologie is ons saligheid ewe sentraal, maar ons sien dit binne 'n ruimer raamwerk: die raamwerk van God se koninkryk. Ons saligheid gaan nie maar net oor onsself nie. Dit gaan ten diepste oor die eer van God, wat ons in sy Seun Jesus Christus salig maak.

Die manier waarop ons praat, en ons beskouing van die kerk, dra natuurlik niks by tot ons saligheid nie. Niks wat ons doen kan immers daartoe bydra nie. Maar alles wat ons doen, ook ons manier van praat en dit wat ons van die kerk dink, behoort deel te wees van die eer wat ons aan God toebring.

En ons bring Hom eer toe as ons ook in hierdie klein dingetjies voor sy Woord buig en daarby hou.