Bron: Die Kerkblad. 2 bladsye.

Kerk teen die Skuinste

hande gryp aan draad

In Centraal Weekblad van 29 Januarie het dr. K. Runia van die Gereformeerde Kerke in Nederland 'n belangwekkende artikel geskryf waarin hy waarsku teen die gevaar van "kerken op het hellende vlak". Vry vertaal sou 'n mens dit kon weergee as "kerke op die glybaan" of "kerke teen die skuinste". Reeds in 1981 het 'n dr. G. Dekker van die Vrije Universiteit in Amsterdam na "kerken op het hellende vlak" verwys. Hy het gewaarsku dat kerke wat ter wille van vernuwing gevestigde opvattings en gedragspatrone loslaat, teen 'n skuinste begin afgly waarop "stoppen of omdraaien nauwliks meer mogelijk is." Die eindpunt van die glybaan is 'n buitekerklikheid of buite-christelikheid van die individu!

Waar dr. Runia in sy artikel daarop wys dat die GKN inderdaad reeds aan die gly is, kan dit net ten goede wees vir ons in Suid-Afrika — wat volgens algemene gerug gewoonlik 'n dekade of wat agter Europa is — om betyds hand in eie boesem te steek. Loop ons nog op die gelyk paaie van gereformeerde Christelikheid, of hang ons al klaar teen die skuinste?

Die vraag is in watter mate ons reeds die prooi geword het van die siekte van ons tyd: die drang na verandering. Die veranderingsdrang is tipies aan die moderne beskawing wat so gewoond geraak het aan nuwighede, dat die bestaande gou verveel. Daarom is daar 'n onversadigbare aptyt vir verandering. 'n Mens sou kon praat van 'n verslawing aan verandering. Hierdie tydsgees is in lyn met die New Age-leuse: Alles moet verander. Dit beteken dat ook (en veral) tradisies moet verander. Gevestigde opvattings en gedragspatrone wat soos grashalms is waaraan die "kerk teen die skuinste" vashou, word sonder meer uitgepluk.

Natuurlik is gevestigde opvattings en gedragspatrone nie heilig of kanoniek nie. Die kerk mag ook nie daarin verankerd wees nie. Opvattings en gedragspatrone wat in stryd is met die Woord van God of in die pad van die evangelie staan, moet verander word. Dit is tog wesentlik aan die gereformeerde godsdiens: altyd reformeer — terug na die Woord.

Waar opvattings en gebruike in die kerke egter sonder die eis van reformasie bloot maar voor die veranderingsdrang moet swig, word die kerk stelselmatig teen die skuinste afgestoot. Op die ou einde, wanneer al die veranderbare klaar verander is, kom ook die onveranderlikes onder skoot. Vir die kerke van die reformasie is daar verskeie onveranderlikes: God is onveranderlik. By Hom is daar geen skaduwee van omkering nie (Jak. 1:17). Sy Woord is onveranderlik. Dit is baie vas (2 Pet. 1:19) en bly tot in ewigheid (1 Pet. 1:25). God se goedheid (Ps. 100:5), sy trou (Ps. 121:8), sy koninkryk (Ps. 146:10).

Die kerk wat besig is om teen die skuinste af te gly, het in die proses egter so gewoond daaraan geraak om vashouplekke prys te gee, dat dit min verg om ook los te laat as dit by hierdie onveranderlikes kom. Dan hoor 'n mens vanuit die kerke uitsprake soos: "Die Bybel is nie die Woord van God nie, maar 'n boek waarin mense bloot hulle gedagtes oor God neergeskryf het. Die Bybel kan nie met gesag in ons tyd praat nie. Daar bestaan nie soiets soos vasstaande Bybelse waarhede nie, aangesien waarheid van mens tot mens en van situasie tot situasie verander". Dit is die taal van prof. H. Kuitert van die GKN. Met sulke uitsprake word die gelowiges se greep vinger vir vinger losgeruk van hulle laaste en belangrikste vashouplek teen die steilte.

Dr. Runia vertel in sy artikel die tragiese verhaal van 'n Bybelskool in San José, Costa Rica. By sy stigting in 1923 is die Skool gestel op die grondslag van die Bybel as enigste reël en norm van geloof en praktyk. Die Bybel is as Woord van God met piëteit bestudeer. Sedert die sewentigerjare het daar egter 'n verandering in Skrifbeskouing by die Skool ingetree en het dit teen die helling begin afgly. Vandag is die Skool 'n sentrum vir die Bevrydingsteologie en die Feministiese teologie en word ander godsdienste daar as gelykes van die Christelike godsdiens bestudeer.

Wanneer ons hierdie dinge hoor, hoor ons ook die woorde van 1 Kor. 10:12,13 "Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie. Geen versoeking wat meer is as wat 'n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan". In die krag van God sal ons staande bly en nie teen die skuinste begin afgly nie. Daarom is dit die begeerte van ons hart om van Hom die nodige staankrag te ontvang. En op die knieë in die gebed — daar staan ons die sterkste!