7 bladsye.

Kerk, wêreld en armes

In die jare negentig van die vorige eeu het die ryk en arm lande op verskillende internasionale konferensies afsprake gemaak oor die ekonomiese en sosiale ontwikkeling van die arm lande vóór 2015 (Ministerie Buitelandse Sake 2001 21-23: Hamelink/Visser 2002, 9-10). Hierdie afsprake is vasgelê in agt internasionale ontwikkelingsdoelstellings (International Development Goals, wat ook ʼn meerjarige doelplan genoem word.)

  • Om die aantal mense wat in uiterste armoede lewe (bereken op ʼn inkomste van minder as 1 dollar per dag) met die helfte te verminder.
  • Basiese onderwys vir alle kinders.
  • Om die gelykheid tussen mans en vroue te stimuleer. Gelyke moontlikhede vir seuns en dogters vir die laer en hoërskool onderwys (nie later as 2005 nie).
  • Om in elke ontwikkelingsland die kindersterftes met twee derde te verminder ten opsigte van die syfers van 1990.
  • Aan (die verspreiding van) HIV/aids, malaria en ander siektes moet ʼn einde kom.
  • Almal moet toegang tot gesondheidsorg hê (dit is alle gesondheidsorg wat te make het met seksualiteit en geboortesorg).
  • Die neiging dat steeds meer natuurlike hulpbronne verlore gaan.

Korrekte ooreenkomste beskryf hierdie doelstellings wat daar in die huidige situasie ontbreek en daarmee laat hulle die sosiaalmaatskaplike nood in die wêreldsamelewing baie duidelik sien. Daar is strukturele armoede, kindersterftes, aantasting van die omgewing…

In die afgelope dekade was daar in verskillende ontwikkelingslande goeie vooruitgang in die stryd teen armoede. Tog is daar nog steeds 1,2 miljard mense wat van minder as 1 dollar per dag moet lewe. “Van watter kant jy dit ook al benader, die groot armoede in die wêreld is in Westerse begrippe feitlik ongelooflik” (ʼn uitspraak van Eveline Herfens, oud-minister vir ontwikkelingsamewerking in 2001).

In hierdie bydrae gaan dit oor die vraag hoe die kerk homself moet opstel teenoor die baie groot en gekompliseerde armoede vraagstuk in die huidige wêreldsamelewing. Hierdie driedelige kerk-wêreld-armes verhouding roep die volgende vraag op: dit gaan om besinning en die diakonale houding en die (diakonale) handel van die kerk in die huidige wêreld wat ontluister word deur armoede.

Ek begin (1) met ʼn kort beskrywing van die armoede as wêreldprobleem, gevolg deur (2) enkele aantekeninge oor armoede/armes in Bybelse-teologiese perspektief. Daarna (3) maak ek enkele samevattende opmerkings oor die diakonale kerk. En ek sluit af met (4) die beskrywing van die spanningsveld waarin die kerk beland deur die konfrontasie met die armes in die wêreld.

Hierdie bydrae handel nie oor wêrelddiakonaat nie, maar het wel sekere ooreenkomste. Vergelyk die bydrae van Govert Buijs in bogenoemde nuwe “Handboek oor wêrelddiaconaat en ontwikkelingssamenwerking” (271-277); verder o.a.: Nap 1989; Tieman/Zunneberg 1990. (123-164); Noordegraaf 1991, (197-232); Turre 1991, (102-136); Boersema 2001: Van der Lee 2001.

1. Armoede en armes

Armoede is ʼn realiteit: dit is nie uitgesluit dat jy vanaand op jou televisie beelde sien van sterwende kinders êrens in Afrika nie. Hierdie kinders sterf omdat hulle geen voedsel en iets te drinke kry nie. En hierdie gebrek aan voedsel en drank is ʼn verskynsel wat pas by hierdie diepe strukturele armoede.

Ek wil eers aan die hand van drie aandagspunte, in die besonder oor armoede as sosiaalmaatskaplike nood, iets sê. (vgl. Lock 2001):

1.1 Armoede is moeilik om te meet

In die afgelope jare het (op wêreldvlak) persentasie gewys armoede weliswaar gedaal, maar die aantal arm mense het toegeneem, en die kloof tussen arm en ryk groei nog steeds. Daarom is die vraag na ʼn strukturele benadering nog steeds aktueel, en dit sal in die jare wat kom nog steeds so bly.

ʼn Realistiese en nugter beeld van armoede is dus noodsaaklik. Tog is dit moeilik om vir jouself ʼn goeie beeld te vorm. Alleen al die verskillende maniere om armoede te meet, skep probleme.

Lees daaroor Lock 2001, 256: In die vroeë jare van die ontwikkelingsamewerking (kort na die tweede wêreldoorlog) was die inkomste per kop van die bevolking as maatstaf geneem. Die armoede grens, gemeet met die maatstaf, was 1 dollar per dag. As jy minder as dit verdien het, het dit baie sleg met jou gegaan.

Om net hierdie inkomste maatstaf te gebruik het daar verskillende probleme opgeduik. Eerstens is daar die koopkrag van die dollar. Vergeleke met Nederland is die koopkrag in Indië duidelik gunstiger. Die tweede probleem is die wisselkoers. Omdat van die dollar as maatstaf uitgegaan word, het dit die wisselkoers van die dollar en die plaaslike munt beïnvloed, en daardeur natuurlik ook die aantal armes wat dan onder die armoede grens leef. Dit sal duidelik wees dat die wisselkoers as sodanig nie voelbaar is in die lewensomstandighede van ʼn arm persoon nie. ʼn Gemiddelde inkomste maatstaf sê dus niks oor die verdeling van inkomste nie, ook nie oor die geletterdheid of die gesondheid van die mense met hierdie inkomste nie.

Die diskussies op hierdie punt het onder andere gelei tot die ontwikkeling van die Human Development Index (HDI) waarin naas die inkomste, sake soos onderwys, lewensverwagting, gesondheidsorg en inkomsteverdeling saam die sig gevorm het van hoe daar na armoede gekyk word.

1.2 Armoede gaan oor mense

Agter die syfers oor armoede gaan lewendige mense skuil. Armoede het ʼn gesig, hoewel juis arm mense baie keer min geleentheid gehad het om hulle gesig te laat sien op die plekke waar daar besluite geneem, en wette gemaak word. Waar daar sonder hulle, wel oor hulle gepraat word. Met arm mense word daar meestal nie rekening gehou in die wêreld van die rykes nie.

1.3 Armoede is ʼn relatiewe begrip

Armoede is ʼn realiteit wat definitief met ons is. ʼn Droë stuk brood bly ʼn droë stuk brood. Verontreinigde drinkwater kan jy nie drink nie. Tog staan armoede altyd in verhouding tot rykdom. As almal arm is, is ook almal ryk. Dit gaan juis daarom dat die rykdom van die één die armoede van ander tot gevolg het. Dit is daarom van die uiterste belang om dit te besef.

Bowendien is dit so dat armoede in Nederland heeltemal iets anders is as armoede in byvoorbeeld Brasilië. Wie in Nederland as arm beskou word, sou heelwaarskynlik nie in Brasilië so beskou word nie. Armoede is dus betreklik maar dan moet dit in konteks bepaal word.

Hier volg twee omskrywings van armoedebestryding, wat laat sien waar dit by armoede om gaan:

  • ‘Armoedebestryding is ʼn gemeenskaplike proses waarin met en vir die armes die toegang tot en die seggenskap van bronne vir vervulling van hulle lewensbehoeftes in breë sin behou word, teruggegee word of verbeter word. Hierdie proses omvat agtereenvolgens vervulling van die eerste lewensbehoeftes (voedsel, onderdak en verwarming), welsyn (gesondheid, onderwys, veiligheid) en empowerment (toegang tot, en waar hulle ʼn rol in die politiek kry, toegang tot en ʼn rol in die ekonomie) sonder dat voorafgaande aan of tydens die proses, lande, streke, groepe of mense aan die kant geskuif word. Hierdie proses eindig wanneer die fase van empowerment voltooi is’. (Lock 2001, 262).
  • ‘Armoedebestryding is om aktief te keer om die omstandighede wat mense belemmer om in hulle vernaamste lewensbehoeftes te voorsien, en om ʼn bydrae te lewer aan ʼn regverdige samelewing waarin al die mense op langer termyn in die behoeftes kan voorsien, en kan werk aan beter lewensomstandighede om so tot hulle bestemming te kan kom’ (Hamelink/Visser 2002, 15).

2. Armoede en armes in Bybels-teologiese perspektief

Oor armoede en armes in Bybels-teologiese perspektief gee ek vier kort aantekeninge (vgl. Van de Kamp 1988, 167-172):

2. 1 In die Ou Testament word die gebruiklike woorde vir ‘arm’ en ‘armoede’ vir die eerste keer gebruik in die wetgewing, veral in die sogenaamde ‘Verbondsboek’ (Eksodus 20:22-23:33). Hierdie wetgewing funksioneer binne-in die verbond tussen God en sy volk en bied ʼn opvallende beskerming aan die armes. Op grond van dié verbond het hulle reg op beskerming en hulp. Dit wil sê: om neergedruk te word en om nie meer mee rekening gehou te word nie weens die omstandighede waarin jy verkeer, beteken jy is besig om weg te beweeg van die vryheid wat God jou gegee het.

2. 2 Veral die armoede wat die gevolg was van onderdrukking, uitbuiting en inhaligheid het die protes van die profete uit uitgelok. God se wet is blykbaar op groot skaal oortree. Die rykdom van hulle wat op ʼn skelm manier hulle besitting bymekaar gemaak het, was één van die groot oorsake van armoede. Juis hierdie verhouding tussen rykdom en armoede is ʼn herkenbare, kritiese opmerking in die Bybel wat steeds weer aandag moet geniet.

2. 3 In die genoemde “Verbondsboek” vorm die weduwees en wese ʼn afsonderlike kategorie van ‘maatskaplike swakkes’. Maar hulle word sterk as hulle hulself op God beroep (As jy hulle op enige manier verdruk, waarlik, dan sal Ek, as hulle na My roep, hulle geroep sekerlik hoor). Eksodus 22:23. In die verlengde hiervan het die houding van die arme wat sy leë hand moet ophou ʼn beeld geword van die posisie van gekwelde en geknakte mense wat alles van God verwag (en van die sondaar in sy houding teenoor God). Daarom kan die woord vir ‘arm’ en ‘armoede’ méér beteken as alleen materiële armoede. Ook die maatskaplike swakkes (iemand wat baie swaar kry) word hiermee bedoel.

2.4 Die Nuwe Testament laat ons Christus sien as die Heer wat ‘arm geword het, terwyl Hy ryk was’ (1 Korintiërs 8:9) – die Heer wat Homself ontferm het oor armes en rykes, oor (maatskaplike) swakkes en sterkes. In Hom het God laat sien dat die reg van arm mense op beskerming en hulp, geen leë gebaar was nie, maar daadwerklik gebaseer is op sy genade. Christus se oorwinning oor die dood is die waarborg vir die koms van God se nuwe wêreld waar geen armoede meer sal wees nie. Hierdie perspektief is ʼn blywende aansporing vir die kerk van Christus om die armoede te bestry en om aandag te vra en ook aandag te hê vir die randgebiede en buitewyke van die samelewing.

3. Diakonale kerk

Die diaken amp van die kerk staan in ʼn wyer konteks van die diakonia van die kerk. Die Bybelse woord diakonia (vgl. Noordegraaf 1991, 12-13) het sowel die spesifieke betekenis van ‘hulpbetoon’ in situasies van sosiaalmaatskaplike nood asook die breër, algemene betekenis van ‘diensbetoon’. Al die werksaamhede ten behoewe van die evangelie en van die gemeente (en daarmee ‘ten behoewe van’ God) word daarmee aangedui. So word daar oor die diens van die verkondiging en oor die diens van die versoening gespreek. Maar ook oor die (konkrete) diens van vroue aan Jesus (Lukas 8:3) en oor die diens van Paulus aan die heiliges (Romeine 15:25). Hierdie diens van die kerk kan beskou word as ʼn kernfunksie van die kerk en beteken dat hulle hul metterdaad beskikbaar stel om die evangelie van God met woord en daad aan mense te verkondig. Dan gaan die kerk in die voetspoor van Christus. Soos Hy gestuur was, so is die kerk ook gestuur. Christus maak sy gemeente deelgenoot van sy reddende handelinge teenoor die wêreld. Om beskikbaar te wees laat ons sien dat die kerk nie vir homself lewe nie, maar in die wêreld gestuur is. Deurdat die kerk weet dat hulle gestuur is, word die kerk ook vir introversie behoed, en bly sy gerig op die samelewing rondom haar. Die funksie diens (diakonia) word daarom ook gekenmerk deur beskikbaarheid (vir God en die naaste), navolging (van Christus) en om in die wêreld gestuur te word.

Uiteraard is die meer algemene diakonia as funksie van die kerk, meer spesifiek die diakonaat as aktiwiteit van die kerk, baie nou met mekaar verbind (vgl. Van de Kamp 2003, 288-290). Om net twee aspekte te noem: sowel die navolging van Christus asook om gestuur te wees in die samelewing, as kenmerke van die funksie diens, word sigbaar en konkreet in die diakonale aktiwiteite van die kerk.

Juis in verhouding tot die sosiaalmaatskaplike nood, is vir die diaken amp die begrippe barmhartigheid en geregtigheid baie belangrik: barmhartigheid as liefdevolle hulpbetoon, en geregtigheid as die bevordering van die welsyn van die naaste en die bestryding van onreg vanuit ʼn ‘regte’ verhouding teenoor God. ‘Hierdie woorde spreek van God se reddende hulp in menselewens wat in nood verkeer, deurdat Hy sy Seun na die aarde gestuur het. Barmhartigheid sonder geregtigheid kan lei toe weinig verpligtende filantropie; geregtigheid sonder barmhartigheid sal baie gou fanatiek-wetties lyk. (Noordegraaf 1991, 15)

Daarom is die diaken amp ʼn hoof aktiwiteit van die kerk. Die diakenamp is die helpende daad wat deur die kerk van Christus gevoeg word by die Woord van haar Heer. Die diakenamp is hulpbetoon in die naam van Christus en kan daarom nie uitgesluit bly binne die kerk nie, maar sal daarom ook in die samelewing sigbaar moet word.

Binne die kort bestek van hierdie bydrae, is dit nie moontlik om die diakonale handelinge van die kerk te beklemtoon nie. Ek praat steeds oor die diakonale aktiwiteit van die kerk, die diakonale roeping van die kerk ens. Maar daarby moet nader aangedui word wie die onderwerp van die handeling is. Hierdie onderwerp kan die (hele) kerklike gemeenskap wees, maar ook die diakens (wat namens die kerklike gemeente optree) of die kerkraad, of ʼn groep kerklede of individuele kerklede.

4. Kerk en armoede in die wêreld

Wat beteken beskikbaarheid vir die naaste, as die naaste arm is? Wat beteken dit om gesond te wees in ʼn wêreld, as die wêreld struktureel verdeel is in die ryk noordelike halfrond en die arm suidelike halfrond? Kortom: hoe is die verhouding tussen God, die kerk en die armes?

In verband met die diakonale roeping van die kerk in die (wêreld-) samelewing is dit sinvol om onderskeid te maak tussen aan die een kant besinning op die roeping en bewuswording van die gekompliseerde probleme wat daarby aan die orde is, en aan die ander kant waarneembare aktiwiteite wat gerig is op armoedebestryding en hulpverlening.

Één enkele kerklike gemeente kan nie die verantwoordelikheid vir die hulpverlening aan die armes en maatskaplik swakkes in hierdie wêreld op haar skouers neem nie. En dit is ook nie nodig nie. Dit is ʼn onbegonne taak. Maar dit is vir één kerklike gemeente wel belangrik om saam te werk aan ʼn projek of ʼn aksie in die lig van armoedebestryding. Dit kan via landelike, diakonale kantore en verskillende Christelike hulpverleningsorganisasies (vgl. Van Well 1999, 92-97).

Maar ʼn kerklike gemeente moet wel haar verantwoordelikheid aanvaar vir die besinning op haar diakonale roeping en vir die probleme. Die diakens het daarin ʼn stimulerende taak. Dit is vir ʼn diakonale kerk noodsaaklik om steeds weer te besef dat ons in ʼn gedeelde wêreld lewe, en dat die Bybel ons oproep ‘om armoede te bestry en die armes by te staan in hulle stryd vir ʼn beter lewensbestaan.’ (Noordegraaf 1987, 6).

Ek konsentreer my op die besinning en bewuswording insake die armoedeproblematiek, en ek doen dit via twee punte:

  1. Ek bespreek die vraag of daar van ʼn ‘voorkeuropsie vir die armes’ gepraat kan word.
  2. Ek probeer te beskrywe wat nodig is vir ʼn diakonale houding ten opsigte van armoede en armes.
  1. Voorkeuropsie vir die armes?

Deur verskillende faktore het die konfrontasie van die kerk met armoede en armes in die tweede helfte van die twintigste eeu nogal ʼn sterk karakter gekry. Één van die faktore was dat die verskille tussen die arm en die ryk lande net nog groter geword het (ondanks die vele projekte in die kader van ontwikkelingsamewerking). Ook is die armoedeprobleem deur die groot verbetering van die kommunikasie (televisie) baie nadrukliker as voorheen in die ryk lande aan die orde gestel. Tegelykertyd het daar ʼn ‘emansipasie’ van die Derdewêreldlande voltrek, waardeur baie verset ontstaan het teen die sogenaamde ‘neokolonialistiese’ politiek van die ryk lande. Die arm lande wil nie langer voorgeskryf word nie. Hulle wil self besluit wat nodig is, hulle eie doelstellings kies en nie afhanklik bly van buitelandse hulp en medewerking nie. In die internasionale verhouding tussen kerke word hierdie sake ook aan die orde gestel. Groot bekendheid het die oproep tot ʼn ‘moratorium’ gekry, wat uitgegaan het van die 3de Algemene vergadering van die All African Conference of Churches (AACC), wat in 1974 in Lusaka gehou is. Vir Latyns-Amerika moet in hierdie verband gewys word op die groot invloed van die 2de en 3de konferensies (CELAM) van die Rooms-Katolieke biskoppe, wat in Medellin (1968) en in Puebla (1979) gehou is. Deur hierdie ontwikkeling het die vraagstuk van die armoede in die algemene diskussies steeds meer nadruk gekry.

Maar die belangrikste faktor was dat, ook deur die invloed van die bevrydingsteologie, die siening op armoede wesenlik verander het. Hierdie verandering is waarskynlik die meeste effektief as ek dit as volg verduidelik: dit was in ʼn Christelike gemeenskap nie aanvaarbaar om die woord ‘armoede’ ʼn plek te gee in ʼn opsomming van Christelike of Bybelse kernwoorde (soos ‘sonde, geloof, genade, vrede’) nie. In die jare 60 en 70 van die vorige eeu het dit egter wel gebeur, en het ‘armoede’ selfs ʼn beslissende begrip geword. Met ander woorde: armoede was nie langer alleen ʼn sosiaalekonomiese begrip nie, maar veral ook ʼn teologiese begrip. Die houding van die kerk teenoor armoede het ʼn ‘eksperiment’ geword. Die kerk moet haar nou positief uitspreek teenoor armoede, want God staan aan die kant van die armes. Daarom bied die weg van die armoede perspektief vir die kerk. Soos die kerk van die Reformasie haar oortuiging vasgelê het in die drieslag ‘sola fide, sola gratia, sola scriptura’, so moet die kerk in die tweede helfte van die twintigste eeu as oortuiging uitdra: ‘sola paupertate’ (alleen deur armoede). Hierdie siening word uitgedruk in stellings soos ‘God se voorkeuropsie van die armes’ en ‘kerk van die armes’ (kyk bv. Santa Ana 1983) en ‘evangelie vir die armes’ (vgl. Van de Kamp 2003, 145-147, 148-150).

In die laaste dekade van die vorige eeu het die konsep ‘kerk van die armes’ ʼn bietjie meer op die agtergrond geraak. Tog moet dit ons aandag bly hou, omdat die verhouding tussen God, die kerk en die armes duidelik verwoord word: God staan aan die kant van die armes en die kerk moet vir die (arme) kant kies.

Wat my betref is stellings soos ‘God se voorkeuropsie vir die armes’ en ‘kerk van die armes’ ʼn te eensydige en ʼn te eksklusiewe verwoording van die deur God gegewe en gewaarborgde reg van armes op beskerming en hulp.

Sonder om af te doen aan die kern van waarheid in so ʼn eensydige en eksklusiewe verwoording, kan ons wel kritiese kanttekeninge maak. As konkrete voorbeeld van God se voorkeuropsie vir die armes, word baie keer verwys na die optrede van Jesus. Tog identifiseer Jesus Hom nie uitsluitend met ʼn bepaalde maatskaplike groep mense nie (dat Hy Hom in Matteus 25:32-46 identifiseer met sy ‘mindere broeders’ wil nie sê dat Hy Hom nie identifiseer met ander groepe nie). Hy het gekom om die wil van sy Vader te doen. Daarom het Hy mens geword en het Hy die armoede op Hom geneem (2 Korintiërs 8:9; vgl. Hebreërs 2:17). Hy het gekom om sondaars te roep (Lukas 5:32) en dit is nie alleen die armes en die maatskaplik misdeeldes nie.

Daar is ʼn fundamentele verbondenheid binne die mensheid, waar niemand aan die buitekant staan nie. Dit is die verbondenheid in skuld vir God. Daar, waar die gevolge van die skuld ook sigbaar word in armoede en onderdrukking, kan ook geen Christen afsydig bly nie. Maar opregte diakonale verbondenheid met die nood van die mensheid, kry daarom ook juis daarin alleen blywende gestalte vanuit geloofsverbondenheid met Christus.

De Ruijter, 149

In die lig van die diakonale roeping van die kerk vind ek die tema ‘liefde jeens almal’, teologies gesien, meer ewewigtig as die konsep ‘kerk van die armes’. Dit gaan by hierdie woorde (‘liefde jeens almal’) om ʼn myns insiens staande uitdrukking in die onderwys van die apostels (vgl. Galasiërs 6:10; 1 Tessalonisense 3:12, 5:15; 2 Petrus 1:7). In 2 Petrus 1:7 is die liefde jeens almal die laaste van ʼn opsomming van agt eienskappe wat by ʼn herkenbare Christelike lewe behoort. Die opsomming begin met geloof en eindig met liefde.

Liefde (agapé), die sluitstuk van die ketting, oorskry die grense van Christelike broederskap. Liefde ken tog geen beperkings nie? Uiteindelik moet Christene doen wat goed is vir almal (…). Met ʼn houding van respek vir almal, moet Christene die goeie bly doen (1 Petrus 2:17; 4:19). Maatskaplike bewoënheid kenmerk hulle liefde vir die naaste. So is die naasteliefde die hoogtepunt in die opsomming: hulle oortref al die ander Christelike eienskappe (1 Korintiërs 13:13).

Van Houwelingen 1993, 37-38

As die kerk die liefde jeens almal in werking stel, dan kan dit nodig wees om prioriteite te stel en voorkeur te gee aan die nood van die armes. Anders gestel: binne die oorkoepelende tema ‘liefde jeens almal’ kan die kerk in ʼn konkrete situasie die noodsaak ervaar om aan die kant van die armes te gaan staan. Maar daarmee kry die verhouding tussen God, die kerk en die armes ʼn ander invulling as die konsep ‘kerk van die armes’: God gee die kerk die taak om liefde jeens almal te laat sien, en die liefde is ook seker vir die armes.

  1. Diakonale houding

Wat is nodig om armoede te bestry en langs die armes te gaan staan?

  • Toelaat. Jy moet allereers die armoede in jou eie lewe toelaat. Jy moet die armoede onder oë durf sien. Dit is veral nodig as jy self nog nooit armoede gely het nie. In ons wêreld is dit meestal so dat mense wat in oorvloed lewe en mense wat in armoede lewe, nie op dieselfde plek woon nie. Tog moet die ‘oorvloediges’ die ‘armoediges’ help Maar hoe kan dit ooit gebeur as hulle die armes nie eers sien nie? Wie oorvloed het, weet nie wat armoede beteken en watter kwellings armoede veroorsaak nie. Wie oorvloed het, wil baie keer niks weet van armoede nie. Jy wil dit nie sien nie. Daarvoor moet jy jou oë goed oophou, om die armoede te sien en toe te laat in jou lewe.
  • Agterlaat. Jy het ook nodig dat jy jou eie vertroude plek agterlaat en te voorskyn kom. Arm mense ontmoet jy alleen as jy hulle opsoek waar hulle is. Armoede het altyd te make met die plek in die maatskappy waarin mense beland het. Om armoede te bestry, beteken dat jy iets moet weet van armoede en van die huis waar die armoede heers. Jy moet jou nader aan die armoede begeef, want om afstandelik te bly bring vervreemding. Bowendien het die armes nie alleen maar geld of ander hulp nodig nie, maar ook om die nabyheid te voel van diegene wat na haar/hom omsien. Want armoede maak mense eensaam. Dis hoekom jy jou eie vertroude plek moet agterlaat.
  • Loslaat. Verder het jy nodig dat jy afstand kan doen van wat jy het, en wat jy ook self sou kon gebruik. Jy moet wat jy besit kan loslaat. Want dit is dan ook so dat dit wat jy vandag weggee, jy môre miskien mag kortkom. Tog gaan dit daarom dat die sorge vir môre ons nie mag verhinder om vandag barmhartigheid te laat sien nie. Ons het die gelowige vertroue nodig dat ons die sorge van môre in die hande van ons hemelse Vader kan lê (Matthéüs 6:25-34).
  1. Nugterheid

Ek het gewys op die perspektief van God se nuwe wêreld waar geen armoede meer sal wees nie. Solank die nuwe wêreld nog nie daar is nie, ‘sal die armes nooit in die land ontbreek nie’ (Deuteronomium 15:11; vgl. Matteus 26:11). Die realistiese konstatering laat sien dat die kerk altyd op haar hoede moet bly vir haar (diakonale) taak in die wêreldsamelewing. Want solank daar armes is, bly die taak bestaan.

Literatuur:

  • PR Boersema, De Verhouding van zending. (wereld) diaconaat en ontwikkelingssamewerking. Een rondblik, in: GJ Buijs (red), Als de olifanten vechten denken over ontwikkelingssamenwerking vanuit christelijk perspectief, Amsterdam 2001, 86-106
  • Maarten Hamelink/Cors Visser, Gedeelde wereld, Armoedebestryding en christelijke politiek. (Christen Unie) Amersfoort 2002
  • PW van de Kamp, Armoede en zending, in: Radix, 14/3 (1988) 159-176
  • PW van de Kamp, Hart voor de stad. Een praktisch-theologische studie naar kansen voor kerk-zijn in een stedelijke samenleving, Kampen 2003
  • Hans van der Lee, Verkondig het koninkryk. Een bijbelse visie voor diaconaat onder armen in de Derde Wereld, Amsterdam 2001
  • J Lock, Structurele armoede-bestrijding. Een blijvende uitdaging in: G.J. Buijs (red), Als de olifanten vechten … Denken over ontwikkelingssamenwerking vanuit christelijk perspectief, Amsterdam 2001, 254-270
  • Ministerie Buitenlanse Zaken, De lelijke eendjes van de wereldgemeenschap, Den Haag 2001
  • TP Nap, Werelddiaconaat – een laatse bod?, in G. van Bruggen e.a., Samen werken aan ontwikkeling. Barneveld 1989. 54-70
  • Noordegraaf, Oriëntatie in het diakonaat, Zoetermeer 1991
  • WAZ Tieman/H. Zunneberg, Bevrijd tot verbondenheid. Actueel diakonaat, ‘s-Gravenhage 1990
  • R Turre, Diakonik, Grundlegung und Gestatung der Diakonie, Neukirchen/Vluyn 1991
  • PHR van Houwelingen, 2 Petrus en Judas. Testament in tweevoud (CNT3), Kampen 1993
  • PW van de Kamp, Hart voor de stad. Een praktischtheologische studie naar kansen voor kerk-zijn in een stedelijke samenleving, Kampen 2003
  • H Noordegraaf, Armen zullen nooit in het land ontbreken. Aansporingen tot verzet tegen armoede, ‘s-Gravenhage 1987
  • CJ de Ruijter, De horizon van het heil. Theorie en praxis by Johann Baptist Metz en Clodovis Boff, mede in verband met de verkondiging en het diaconaat van de kerk, Kampen 1992
  • Julio de Santa Ana, Naar een kerk van de armen, Kampen 1983
  • Herman van Well, Diaken in de praktyk, Kampen 1999