Bron: Nader Bekeken. 2 bladsye.

Kerkargitektuur

Daar word tereg baie aandag gegee aan vrae rondom die liturgie, want die liturgie, die erediens, verdien dit. Beter gestel: God verdien dit. Die eer van sy Naam is meer as waardig dat ons sal besin oor hoe die erediens ten beste kan plaasvind.

Tog mis ek by al die aandag wat aan die liturgie gegee word één wesenlike punt. Daar word naamlik nouliks aan die gebou waarin die erediens plaasvind, aandag gegee, en dit terwyl die liturgiese ruimte minstens net so belangrik vir die welslae van die erediens is as die liturgie self.

Dit is opvallend dat vroeëre skrywers wel aan die kerkgebou, en vorm daarvan, aandag gegee het. So wy A. Kuyper is sy “Onze Eredienst’ nie minder nie as tien hoofstukke aan die onderwerp. Mens kan vandag glimlag wanneer hy oor die ‘Bankenquaestie’ (Banke-kwessie) praat, maar hy hét aandag gegee aan hoe mense ten beste hulle plek in die erediens kan inneem. Ook T. Hoekstra, die voorganger van Veenhof en Trimp in liturgiek te Kampen, het in sy kollege-diktaat uitvoerig aan die kerkgebou aandag gegee.

Onlangse besinning oor liturgie laat egter die kerkgebou buite rekening. Vandaar dat op die terrein van kerkbou onder ons alles moontlik is. Daar is in die loop van jare (veral na die Tweede Wêreldoorlog) met allerlei soorte kerkgeboue geëksperimenteer. Elke argitek het ʼn nuwe idee; dikwels aantreklik, dikwels baie esteties, dikwels ook onprakties, koud en saaklik. Intussen was daar nog geen werkgroep, na my wete, wat ʼn ondersoek gedoen het na, sê maar ʼn honderd, onlangs geboude kerke om te probeer vasstel watter bouvorm liturgies en esteties die beste en mooiste resultaat gee nie.

Ons kan nie sê dat dit minder belangrik is nie. In die eerste plek gee die Bybel, waar dit oor die bou van die tabernakel en die tempel gaan, ruimskoots aandag, ook aan die tegniese sy daarvan. Nie net aan musiek en sang nie, maar ook aan die argitektuur. Moet ook nie argumenteer dat dit tot die skadu’s van die Ou Testament hoort nie. Volgens artikel 25 van die Nederlandse Geloofsbelydenis moet ook Kerkargitektuur ‘die getuienisse van die wet en die profete gebruik om ons ... lewe in alle eerbaarheid tot eer van God en volgens sy wil in te rig’. Hierbenewens blyk ook uit ervaring hoe belangrik ’n goeie liturgiese ruimte is. Hoe benouend is ʼn kerkgebou met akoestiek wat mense dwing om harder te sing as daar maar net een of twee meer persone die kerk inkom. Die binnekant van ander kerke is weer so kil en saaklik dat dit mens meer aan ’n fabriek of aan ’n skoolkantien as aan ’n kerk laat dink.

Behalwe dat die liturgiese ruimte wat ons bou, dikwels nie baie liturgies is nie, is dit ook opvallend dat binne die ruimte dikwels baie agterweë gelaat word. Waarom moet kinders wat staande gedoop kan word, op die ouer se skoot of op ’n stoel staan? Omdat die doop nie op ’n geskikte hoogte bedien word nie: daar is nie ’n liturgiese podium nie. Waarom gee die nagmaal dikwels soveel probleme? Omdat daar in die kerkgebou onvoldoende ruimte is om ’n behoorlike nagmaaltafel neer te sit. Soortgelyke dinge kan oor die orrel gesê word: dit is verkeerd geplaas, die klank daarvan kan nie wegkom nie, omdat daar letterlik nie ruimte voor is nie. Die presbiterium van ouds het altyd ’n eie liturgiese plek in die kerkgebou gehad. Ouderlinge en diakens het in baie nuwe kerke nie meer ’n eie plek nie; gewis nie ’n plek vanwaar die ouderlinge opsieners van die gemeente kan wees nie.

Ek weet dat liturgie nie van die gebou nie, maar van die Gees afhanklik is. ’n Preek onder ʼn boom kan meer liturgiese inhoud hê as ’n diens in ’n katedraal. Die ou gesegde is waar: Toe die kerke gebou was van hout, was die Christene van goud. Ek pleit nie vir goue kerke nie. Jy kan tevrede wees met hout – as jy daarmee iets moois maak.

’n Smaakvolle ete vereis ‘ambiance’. ’n Juwelier verkoop nie sy sierade in glasvesel en koerantpapier toegedraai nie. Die tafel van die Here vereis ’n ruimte wat die hart verhef. Die skat van die evangelie wil verkondig en besing word in ’n huis wat in die gees van Besáleël en Ohóliab gebou is.

Daar is beslis werk vir ’n werkgroep oor ‘liturgie en argitektuur’.