Bron: Die Kerkblad, 1990. 2 bladsye.

Kerklike Styl van Doen

Die kerk doen nie dinge op ’n wêreldse ma­nier nie. Die kerk mag hom ook nie deur die wêreld laat voorskryf oor hoe dinge gedoen moet word nie. Heel eenvoudig: die kerk het ’n eie styl, volgens God se Woord. In ons Kerk­orde kom dit ook baie duidelik in artikel 30 na vore.

Ook ons as lidmate behoort nie maar som­mer ons eie natuurlike (sondige) styl van doen in die kerklike lewe in te dra nie. God se Woord, die Heilige Skrif, is die norm van die hele lewe en juis ook die kerklike lewe. Dit is die ou bekende gereformeerde waarheid wat ons almal alreeds in die katkisasieklasse geleer het: In belydenis en lewe, in prediking en onderwys, in ons dienste as ampsdraers, in die kerk se vergaderings en geskrifte, moet die Woord altyd die rigsnoer wees.

Die Kerk is Nie ’n Winkel Nie🔗

Die kerk werk nie soos ’n besigheidsorgani­sasie nie. Dit is nie ’n ‘supermark’ vir die wêreld nie. Dit is nie afhanklik van advertensie­metodes om mense vir ’n transaksie te vang nie. Die kerk gebruik ook nie vertoonvensters en parades om die nuutste kerklike ‘modes’ te propageer nie. Die ampsdraers is ook nie die kerk se handelsagente om ‘polisse’ en ‘huurkontrakte’ uit te skryf nie.

En so kan ons verder gaan. Die Belydenis van die kerk is nie ’n teologiese verhandeling nie. Die preek is nie ’n oratoriese (welspre­kende) betoog nie. Die kerkraad is nie die be­stuur van ’n vereniging nie en ’n kerklike brief of rapport geen notariële akte van ’n prokureur nie. Wat is dan die andersheid van die kerk se styl?

Die Tug van die Heilige Skrif🔗

Hoe meer die kerklike lewe deur die Heilige Gees (dit is volgens die Woord) beheers word en onder die tug van die Bybelse norme gestel, word, soveel meer sal die eie styl en karakter van die kerklike lewe na vore tree. Des te duideliker sal die lidmate dit ook aanvoel: hier­die of daardie ding hoort nie in die kerk tuis nie; hierdie of daardie manier en styl het nie ’n plek in die huis van die Here nie.

En juis omdat die pen magtiger as die swaard is, daarom sal in kerklike geskrifte die styl van die kerk gestempel moet word.

Kerklike Polemiek🔗

Polemiek (’n pennestryd of skriftelike debat) hoef nie ’n slegte ding in die kerk te wees nie, mits “die swaard van die Gees” (God se Woord volgens Efésiërs 6) altyd gehanteer word. En dan is daar heelwat metodes wat in die kerk en kerklike tydskrifte net nie tuishoort nie, soos byvoorbeeld wêreldse taktieke, politieke handighede, spitsvondige haarklowery, eiewysheid, menslike vleiery, geniepsige sarkasme, eersoekery, ens.

“Laat julle woord altyd aangenaam wees, met sout besprinkel, sodat julle kan weet hoe julle iedereen moet antwoord” (Kolossense 4 : 6). Daar is ’n kerklike ‘smaak’ en daar is ’n kerklike styl.

As die Woord ons manier van doen beheers, dan gaan dit nie om die aansien van die per­soon nie, maar om die saak. Dit gaan ook nie om die bytende afbreek van die persoon nie, maar steeds om die saak gehoorsaamheid aan die Woord in die styl van die Woord.

Die Evangelie bewaar ons dat ons die waarheid sonder Iiefde soek, of die liefde sonder waar­heid, want:

waarheid, sonder liefde, is brutaliteit = ver­metelheid;
Iiefde, sonder waarheid, is sentimentaliteit = soetsappigheid.

In die kerk geen brutale styl nie. Ook nie ’n sentimentele styl nie. Sulke dinge kom van die wêreld.