2 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Kerkorde en Pastoraat

Afgespeel Teen Mekaar?🔗

Hoe dikwels hoor ons nie dat iets nie ingevolge die kerkorde moontlik is nie. Maar nou moet mens tog ook pastoraal optree en dan vereis die pastoraat dat mens in bepaalde gevalle ʼn bietjie skiet gee met die kerkorde. Op dié manier word kerkorde en pastoraat teen mekaar afgespeel. Die pastoraat vereis ander optrede as die toepassing van die regsreëls in die kerke.

Is so ʼn denkwyse korrek? Is dit in ooreenstemming met wat ons in ons kerke onder kerkorde behoort te verstaan?

ʼn Tweede vraag: klop hierdie denkwyse met dit wat die wese van die pastoraat is?

ʼn Derde vraag: word die gemeente, as liggaam van Christus, deur onduidelikheid op hierdie punt gedien?

Kerkorde en Kerkreg🔗

Wat het liefde en reg met mekaar te doen? In die kerk gaan dit oor die liefde. Of eerder: in die kerk gaan dit oor die liefde van Christus. Dit is sedert menseheugenis die mening onder mense dat liefde en reg nie kan saamgaan nie. Die wese van die reg is in stryd met die wese van die liefde. Reg is onpersoonlik, iets wat bo menslike verhoudings uitgaan. Reg is staties. Daar moet natuurlik norme wees. Waardes moet ook erken word. Maar die reg staan bo die gewone orde. Dié manier van dink word dan ook op die kerkreg toegepas. Kerkreg het met liefde min te make. In die gemeente of in die kerk gaan dit veral oor menslike verhoudings wat altoos onderhewig is aan bepaalde situasies. Wie dus ʼn kerkorde gebruik, loop gevaar om die mens vanweë die wet skade te berokken.

ʼn Mens kan oor hierdie uitsprake ure lank uitwei. Hulle bly in die lug en sosioloë en  kultuurfilosowe is maar te bereid om die hele verhaal hieroor netjies uiteen te sit. Dit stem dan ooreen met die tydsgees van hierdie eeu wat hom min steur aan die denke vanuit die toekomstige eeu. Dié denkmetode of manier van dink is selfs haaks met die denke vanuit die toekomstige eeu. Dit behels min eskatologie. Dit is al te veel tydgebonde.

In die kerkreg gaan dit immers oor die reg van Christus, en dit is nie ʼn teoretiese saak nie. Christus is Koning. Hy is die Hoof van die heelal. Dit is Hy wat in sy gemeente regeer en werk en die mag van sy heerskappy uitvoer. Hy oefen sy reg, duur aan die kruis van Gólgota verwerf, in sy gemeente uit deur middel van die bediening van die Woord. Om die bediening te beveilig het Hy Woord, sakramente en tug bestem as genademiddels. En om hierdie bemiddeling van die heil te beskerm het ons vanuit gereformeerde oortuiging die kerkorde in ons kerke. Dit is ʼn teken van beskamende kortsigtigheid wanneer ʼn mens die verband nie meer sien, erken en probeer beleef nie.

Kerkreg en Pastoraat🔗

Mense met beperkte denke sien nie die verband nie. As die kerkorde ter sprake kom dan is dit oor gesange, of vroue, of pastorale werkers wat die preekstoel bestyg en doen wat hulle nie kan of mag doen nie. In die naam van die pastoraat word só die reg van Christus in die gemeente geskend terwyl die herderskap ongesiens in die gemeente kwyn. Christus is Koning. Dít is die agtergrond van die kerkorde. Agter die kerkorde staan sý reg; niks anders nie as die reg van Christus. Wie in die gemeente ʼn teenstelling tussen reg en liefde soek, misken die reg van Christus, welke reg tog nie met sy liefde in stryd is nie.

Daar skort vandag aan die pastoraat. Die, hier en daar ook kunsmatige, grootskaalsheid van kerklike gebeure laat siele verarm weens gebrek aan ʼn werklike pastorale besef in die gemeente. Hierdie verskrompeling van die pastoraat doen in werklikheid te kort aan die reg van Christus op, en in, sy gemeente. Christus het nie die massas opgesoek nie, behalwe in die geval van die behoefte aan brood. Toe kon Hy, by wyse van spreke, aan die klippe sê om brode te word en met ʼn paar vissies duisendtalle voed. Maar pastoraat was vir hom ʼn saak van persoonlike gesprek, wat die mens nie verwag het nie, maar waarvoor Hy gekom het. ʼn Mens hoef maar net die evangelies te lees om van die sorg van Christus vir die enkeling gewaar te word. Wie daarom probeer om die reg van Christus buite sy pastorale liefde vir die enkeling te plaas, doen tekort aan sy hoë drievoudige amp. Die Koning is niemand anders nie as die priester, wat ook met die funksie van profeet beklee word. Vanuit Christus beskou, is die reg in die kerk die uitdrukking van sy barmhartigheid. Priesterlike bewoënheid raak inderdaad die massas, waarvoor ons deesdae so lief is, maar dit raak die persoonlike ontmoeting, waarvoor baie van ons so sku geword het, nie minder nie.

Die Reg van Christus en Ons Onbetrokkenheid en Vaagheid🔗

Ons derde vraag was: word die gemeente, as liggaam van Christus, deur onduidelikheid op hierdie punt gedien? Wie “gemeente” sê, moet daaraan dink dat dit gaan oor ʼn begrip wat nie sosiologies geklassifiseer kan word saam met die demokratiese begrippewêreld waarbinne die media beweeg nie. Onder “die media” verstaan ons die ondefinieerbare en vrywel anonieme mag, wat homself die verpersoonliking van die openbare opinie, of wat daarvoor deurgaan, aanmatig; die gedagte- en leefwêreld waarbinne ons en ons kinders beweeg en wat ons meer beïnvloed as wat ons dink of moontlik ag. Hiérdie eeu, sonder die toekoms van Christus! Dit is die dampkring waarbinne ons asemhaal.

Die reg van Christus moet en sal in die liggaam van Christus, dit is die toekomstige eeu, ook binne die orde van hierdie tyd bevestig word. Daarby kan daar nie vaagheid, of halfhartigheid, of aanpassing, of aanknopingspunte, of hoe mense ook al ʼn brug tussen die wêreld en die Koninkryk van God wil slaan, wees nie.

As dit waar is, moet halwe waarhede en halwe keuses ʼn einde kry. Die reg van Christus sal aan ons in sy gemeente nie net barmhartigheid leer nie, maar daar ook aan ons regtens weerstand verleen teen, en ʼn einde maak aan, al die aanpassings en geplooi wat so graag sonder of ten koste van kerkreg, as pastoraat wil deurgaan.