Bron: Kompas. 2 bladsye.

Kersfees as Christelike Feesdag

Kersfees is een van die belangrike vierings van die jaar. Oor die hele wêreld is dit ‘n spesiale dag, en die meeste mense geniet dit as ‘n vakansiedag. Dit was nie altyd so nie. Daar is geen getuienis dat die Nuwe Testamentiese kerk die Kersfees gevier het nie. Nóg die Handelinge nóg die briewe van Paulus bevat enige aanduiding dat die geboorte van Jesus Christus met ‘n spesiale dag gevier is nie. Trouens, die Nuwe Testament gee nie eers ‘n aanduiding oor die datum van sy geboorte nie. Om Kersfees te vier is nie ‘n Nuwe Testamentiese voorskrif nie.

Dit het verskeie eeue geneem voordat dit ‘n spesiale dag geword het. Die vroegste getuienis dat daar ‘n spesiale fees ter herinnering aan die geboorte van Jesus Christus gehou is, dateer uit die begin van die vierde eeu. Later in dieselfde eeu het die kerk van Rome die viering van hierdie heilsfeit aan die datum van 25 Desember gekoppel. Van toe af het die gewoonte om die geboorte van ons Heiland op 25 Desember te vier, oor die hele Christelike wêreld versprei. Die Kersfees is ‘n menslike uitvinding.

Ons word derhalwe met die vraag gekonfronteer of ons die Kersfees moet vier. Is dit ‘n goeie gewoonte om ‘n spesiale dag opsy te sit vir die viering van Christus se koms in hierdie wêreld? As die Skrif nie eers die datum noem nie, wat nog te sê van die feit dat ons dit moet vier, waarom moet ons dan so ‘n groot saak daarvan maak? Sou dit nie beter wees om hierdie menslike feesdag af te skaf nie?

Die Ou Testament sê vir ons dat God self verskeie feeste ingestel het. Een daarvan was ‘n fees ter herdenking van ‘n belangrike feit in die geskiedenis: die Pasga. Dit moes ‘n herdenking van die uittog uit Egipte wees. Op daardie dag sou die Israeliete terugdink aan die bevryding van die verdrukking wat hulle voorgeslag in Egipte ervaar het. Die volk Israel moes aan hulle kinders verduidelik dat hierdie fees hulle wil herinner aan die strawwe van Egipte en die manier waarop God hulle uitgelei het, sodat hulle nie dieselfde strawwe sou ondergaan nie (sien Eksodus 12). So het Israel die groot wonders herdenk waardeur God hulle verlos het (Psalm 77:11-15).

In hierdie geval was die viering op ‘n direkte gebod van God gebaseer, maar daar was ook ander gevalle. Heelwat later in Israel se geskiedenis het God sy volk gered deurdat koningin Ester tussenbeide getree het. Dit was die aanleiding vir die instelling van ‘n nuwe feesdag: die Purimfees. Daar is geen getuienis in die Skrif dat God die volk opgedra het om dit te vier nie. Dit is deur Ester self en deur haar oom Mordegai ingestel (Ester 9:29-33).

Toe God sy Seun in hierdie wêreld ingestuur het vir ons verlossing, was dit een van die grootste dade wat God ooit gedoen het. Die geweldige betekenis van Christus se geboorte regverdig die viering daarvan. Toe die Christelike kerk in die vierde eeu die Kersfees ingestel het, het hulle verder gegaan in die rigting wat God in sy Woord aangedui het.

Die Reformasietyd🔗

Die Reformasie wat in die sestiende eeu plaasgevind het, het ‘n effek op die viering van die Kersfees gehad. Om die waarheid te sê, daar was ‘n wydverspreide poging om al die Christelike feesdae af te skaf, insluitend die Kersfees.

Die Sinode van Dordrecht in 1574 het ‘n radikale besluit geneem en die Kersfees afgeskaf. Die Sinode wou hê dat die mense tevrede moet wees met die Sondag. Op die Sondag voor 25 Desember moes die evangelie van Jesus Christus se geboorte verkondig word. By dieselfde geleentheid moes dit aan die mense verduidelik word dat Kersfees as ‘n spesiale dag afgeskaf is. Kersfees sou nie langer gevier word nie.

Dit mag ongelooflik klink dat ‘n Sinode van die Gereformeerde kerke ‘n spesiale feesdag ter herinnering aan die geboorte van ons Heiland wou afskaf. Dit word egter verstaanbaar as ‘n mens dit sien in die lig van die situasie in daardie tyd. Gedurende die eeu wat dit voorafgegaan het, het die getal heilige dae drasties toegeneem. Die feit dat die mense op daardie dae nie werk gehad het om te doen nie, het gelei tot dronkenskap en ander uitspattighede. Alreeds voor die Reformasie was daar pogings om die getal heilige dae ingrypend te verminder.

Die Reformatore het hiermee saamgestem. In ‘n stadium wou Luther al die feesdae sonder uitsondering skrap. Later het hy toegelaat dat ‘n aantal spesiale Christelike feesdae gevier word. Calvyn het saamgestem met die pogings om daardie dae af te skaf. In sy tyd is daar elke dag van die week preke gehou vir diegene wat dit kon bywoon. Maar hy het geweier om spesiale aandag aan die dag van Kersfees te gee. Op die Sondag voor 25 Desember het hy gepreek oor die betekenis van Christus se geboorte, en op Kersfees self het hy gepreek oor watter Bybelgedeelte ook al aan die orde was.

In die lig hiervan kan ons verstaan dat die Nederlandse kerke die spesiale viering van die Kersfees wou afskaf. Die hele sisteem van feesdae het tot allerhande euwels gelei. Die poging om die Kersfees af te skaf het nie geslaag nie. Die owerhede in die stede het die feesdae as vakansiedae vir die burgers gehandhaaf. Die kerke het besluit dat dit onder die omstandighede beter was om eredienste op Christelike feesdae te hou, aangesien dit in elk geval vakansiedae was. As daar ‘n dag opsy gesit word vir die viering van die geboorte van Jesus Christus, was dit beter om die gedagtes van die mense daarby te bepaal deur die lesing en prediking van God se Woord. Dit is die agtergrond van die reël in die Kerkorde dat Kersfees gevier moet word.

Kersfees Vandag🔗

In ons samelewing is Kersdag ‘n aanvaarde vakansiedag. Die meeste mense hoef nie te werk nie. Hulle kan die dag af neem. Dit mag dalk na ‘n oorwinning vir die Christendom klink, maar dit is nie die geval nie. Die dag word nog na Jesus Christus genoem, maar prakties het dit nie veel met Hom of met sy geboorte te doen nie.

Elkeen gebruik die dag vir sy eie doeleindes. Die winkels vertel vir ons dat ons allerhande luukse items behoort te koop. Dit het ‘n dag geword om geskenke vir mekaar te gee. Die belangrikheid van Jesus Christus het verminder en sy plek word deur Sinterklaas (Santa Claus) ingeneem, ‘n vriendelike oubaas wat vreugde en warmte in mense se harte bring. Die winkels doen goeie besigheid. Ander entrepreneurs benut weer die gedagte van vryheid tot hulle voordeel. Reisagente bied Kersfeesreise na tropiese plekke aan.

Tussen al hierdie kommersiële aktiwiteite het die betekenis van Kersfees verdwyn. Dit het ‘n dag geword waarop ‘n mens die goeie lewe en gasvryheid geniet. As dit die geval is, kan ons maar die Kersfees heeltemal afskaf. Daar is geen voorskrif in die Bybel dat ons ‘n spesiale dag moet hê vir die viering van Christus se geboorte nie. ‘n Kersfees sonder Christus is soos ‘n vrug wat buitekant mooi lyk maar binnekant vrot is. Dit stink. Ons kan verstaan waarom Gereformeerde mense in die sestiende eeu die dag wou afskaf.

Daar is egter ‘n beter oplossing. Liewer as om dit af te skaf, moet ons die oorspronklike betekenis behou. Dit is die viering van die geboorte van ons Heiland, ‘n gebeurtenis wat baie belangriker is as die bevryding wat gevier is met die Purimfees. Die kerk het die reg om ‘n spesiale dag daar te stel vir die viering van God se groot dade in die geskiedenis. Die geboorte van ons Heiland kwalifiseer sekerlik as ‘n groot wonder wat God gedoen het om ons verlossing moontlik te maak. Die Kersfees is ‘n menslike instelling, maar daar is oorgenoeg rede om dit te vier. Ons kan ons dankbaarheid aan God vir Jesus Christus se geboorte betoon. As Christus in die middelpunt is, sal ons Kersfeesviering nie leë vermaak wees nie, maar opregte vreugde van mense wat besef dat hulle van die ondergang gered is.