Bron: Kompas, 2003. 3 bladsye.

Kersfees met ‘Atmosfeer’?

kersversiering

Die ongelowige wêreld saam met die sakewêreld gebruik Kersfees vir hul eie doel. Kersbome, kerse, helderkleurige versierings en les bes Kersvader dien alles en almal ʼn doel wat totaal los gaan staan het van die vreugde oor die Verlosser wat gebore is. Kersfees moet bydra tot ʼn romantiese of gesellige atmosfeer tuis, en tot gevoelens en gebare van welwillendheid teenoor medemense wat andersins geen tyd en ruimte vir mekaar het nie. Liedere oor Christus moet ʼn atmosfeer in winkels skep wat klante aanmoedig tot buitensporige inkopies. Dit is werklik rede tot droefheid vir elke Christen om te beleef hoe “Hy wat van bo kom” en “bo almal” (Johannes 3:31) is, op ʼn goedkoop manier diensbaar gemaak word aan selfgesentreerde doeleindes.

Hoe moet ons as gelowiges egter wel in die komende fees- en vakansietyd ons lewens inrig sodat ʼn egte Christelike lewenswyse tot uitdrukking kom? Daaroor enkele aandagspunte.

Geen Kersboom?🔗

Lidmate van die gemeentes het dikwels groot moeite met die vreeslike drukte rondom kerse, dennebome en –takke wat in huise versier word met liggies, behang word met geskenke en die uitdeel van geskenke op of rondom Kersdag. Daar word selfs heel ernstig gewaarsku vir wêreldgelykvormigheid wanneer hierdie dinge begin plek kry in die huise en feestelikhede van ander gelowiges tydens die somervakansieseisoen en veral op Kersdag.

Beteken dit dat ons feestelike stemming oor die geboorte van ons Verlosser geen uitdrukking mag vind in sogenaamde “uiterlikhede” nie? Sommige gelowiges sal sê: die uitdrukking van ons vreugde op Kersdag kry vorm in die erediens saam met die gemeente waar ons die “heilsfeit wat op hierdie dag in besonder herdenk word”, verkondig word (Kerkorde Artikel 68). Vir baie is die sing van “Ere aan God” ná die uitspreek van die seën al te veel van die goeie.

Die argument word gevoer dat alles wat meer is as dit, die aandag wegtrek van Christus oor wie dit moet gaan op Kersdag. ʼn Feestelike stemming in ons huise gedurende die weke en dae voor en ná Kersdag, so gaan die argument verder, maak die viering van Kersfees mensgesentreerd. Nog ander voer aan dat wanneer ʼn versierings en geskenke in ons huise ʼn plek kry om uitdrukking te gee aan ons blydskap oor Christus se geboorte, dit ʼn vermenging is van ʼn fees vir die Here met heidense feesgebruike. Dit sou dan ʼn uitdrukking van ons geestelike armoede wees wanneer ons heidense en wêreldse feesgebruike op hierdie manier benut in ons feestelikhede.

Geestelike Armoede🔗

Dit sou verseker ʼn teken wees van geestelike armoede, wanneer ons nie meer weet hoe om op ʼn goeie Christelike manier uitdrukking te gee aan ons feesvreugde nie. Ongelukkig is dit al te dikwels die geval. Hopeloos te veel Christelike feesvieringe rondom Kersfees is veel meer ʼn nabootsing van die wêreld as wat dit navolging van Christus en die apostels (Filippense 4:9) is. Dan is die waarskuwing van pas dat ons nie aan die wêreld gelykvormig moet word nie.

Wêreldgelykvormigheid in die konteks van Kersfees kry juis gestalte daarin dat in die plek van die hele skepping wat blydskap moes uitsing oor die geboorte van die Verlosser, nou gebruik word om uitdrukking te gee aan ons vakansie- en partytjiestemmings. Sjampanje, kersklappers, “Kersvader” en ʼn romantiese stemming neem maklik die plek in van verwondering en blydskap oor die Woord wat vlees geword het en onder ons kom woon het. Daarin mag ons die wêreld nie naboots nie. Ons het gedurig weer nodig dat ons verander sal word deur die vernuwing van ons gemoed (Romeine 12:1-2). Dit alles op grond van die groot ontferming van God in die menswording van sy Seun!

Sou dit egter nie ook ʼn teken van geestelike armoede wees as ons feesviering rondom Kersfees vorm kry in dit wat ons nie mag doen nie? Ons “heel anders”-wees as die wêreld moet in die eerste plek tog ʼn positiewe Christelike invulling van feesvreugde kry. Daarin lê ons groot uitdaging as Christene in hierdie land. Daardie anderswees kan tog nie eensydig bestaan in die onthouding van gebruike wat oppervlakkig en selfs verkeerd by die ongelowiges funksioneer nie.

kersboom

Ons geestelike rykdom bestaan nie daarin dat ons onsself demonstratief onthou van dit wat God geskape het nie. Alles wat deur God geskape is, is goed. Dit kan nie verwerplik wees as dit met danksegging ontvang en gebruik word nie. Dit is die Woord van God self en die gebed wat dit heilig (1 Timoteus 4:3-5). Juis met die fees wat die vleeswording van die Seun van God vier, sal ons op ʼn goeie manier gebruik moet kan maak van die mooi en goeie skepping van die Here om uitdrukking te gee aan ons vreugde. Dan sal ons altyd daarvoor moet waak dat ons vreugde ook werklik blydskap in die Here (Filippense 3:1; 4:4) is. Daarin lê die krag van ons getuienis teenoor die partytjiestemmings by die wêreld op Kersfees. Ons hoef nie die feestelikheid uit Kersfees te haal uit vrees vir wêreldgelykvormigheid nie. Ons sal egter wel onsself moet ondersoek om seker te maak wat en Wie die bron en middelpunt van ons vreugde is!

Feesstemming🔗

Dit is vir ons almal duidelik dat kerse, versiering en geskenke maklik misbruik kan word om ʼn stemming/atmosfeer in Kersfeesvieringe te plaas wat niks met Christus te doen het nie. Wanneer “Kersvader” deur ons verbind sou word aan geskenke wat op Kersdag uitgedeel word, het ons ver gevorder op die pad om Christus self as die bron van ons vreugde op hierdie dag kwyt te raak.

Dit sal egter volgens my ʼn verlies wees as ons alles uit ons huise gaan verban wat ons heel gewoon kon gebruik het om ʼn feestelike stemming in ons huise te skep. Nie elke huishouding skep op dieselfde manier ʼn feestelike atmosfeer tuis nie. Die samestelling van die gesinne verskil. Wanneer oupa en ouma saam hul huis wil inrig vir ʼn feestelike stemming, gaan dit waarskynlik heel anders wees, lyk en klink (!!) as in ʼn huishouding waar daar vyf lewenslustige jong laerskoolkinders by betrokke is. In laasgenoemde geval sal dalk nog baie gedoen moet word om kinders te leer en begelei om hulle blydskap in Christus te vind. Dan sal dit ook werklik op ʼn manier moet gebeur wat die kinders tuis aanspreek.

In albei bogenoemde huishoudings kan die blydskap in die Here wees, maar kom dit op ʼn ander manier tot uitdrukking. Vir albei gaan dit oor die Koning van die wêreld en Hoof van die kerk wat gebore is. Tog gaan hulle blydskap nie op dieselfde manier vorm kry nie. Vir ʼn huishouding met jong kinders lyk die versiering wat by kinderlike vreugde pas, anders as vir volwassenes of selfs nog weer anders as vir bejaardes. Maar dit is tog gepas dat op die dag wat ons as gemeente afgespreek het om in besonder na te dink oor die geboorte van ons Verlosser, ons huise ʼn feestelike karakter sal hê!

Fees en Erediens🔗

Die feestelikheid in ons huise word aangesteek deur die fees in die erediens. Dit kan nie anders nie. Die feesvreugde word met name gegee deur die heilsfeite wat verkondig word. Kersvreugde is die vreugde van die geloof. Hierdie geloof is altyd uit die gehoor. En die gehoor deur die prediking (Romeine 10:17). Ons gaan op Kersdag na die erediens, nie om daar iets besonders te gaan “beleef” nie. Ons herdenking van die geboorte van Christus beteken ook nie dat ons op soek is na ʼn herhaling van wat 2000 jaar gelede gebeur het nie. Ook in hierdie erediens op Kersdag sal die Woord van die Here en die verkondiging daarvan in die middelpunt van die feesvieringe moet wees. Ons fees kan net ryk wees, as ons oë van geloof oop is vir die rykdom waarmee God ons in Christus ryk gemaak het.

In die Huise en Gesinne🔗

Net soos in die erediens, sal ook in ons huise die boodskap en betekenis van Christus se geboorte sentraal moet wees. Daardie boodskap kan sentraal staan wanneer ons saam op daardie dag en die dae daaraan vooraf die gebeure rondom Christus se geboorte lees en daaroor sing. Ook die versiering in ons huise kan uitdrukking wees van die blydskap wat pas by die geboorte van ons Verlosser. Die engel wat aan die herders in die nag van Christus se geboorte verskyn het, bring vir hulle (en ons!) ʼn goeie boodskap van groot blydskap (Lukas 2:10).

kersgeskenke

Hy wat gebore is, is die Lig vir die wêreld. Vir ouers van jonger kinders sou dit ʼn mooi hulpmiddel wees om na aanleiding van ʼn mooi lig of kers(e) in die huis oor hierdie rykdom in Christus te praat. Veral vir ons kinders sal ons dit moet duidelik maak dat ons Kersvreugde nie bestaan in dit waarvan ons ons op die dag weerhou nie. Ons wêreldgelykvormigheid bestaan nie in die teenwoordigheid in ons huise van ligte, kerse, versiering en geskenke wat my ongelowige buurman dalk ook op Kersdag in sy huis het nie. Die vraag is of ons as ouers nog met ons kinders op die dag vreugde het omdat die reddende genade van God aan alle mense verskyn het (Titus 2:11).

Die verskyning van God se reddende genade leer ons om die goddeloosheid en die wêreldse begeerlikhede te verloën (Titus 2:12a). Christus se geboorte laat ons ingetoë en regverdig en vroom in hierdie wêreld lewe (Titus 2:12b). Die viering van sy geboorte mag daarom op geen manier losgemaak word van die gewone lewe nie. Dit wat ons as Christene in ander omstandighede in ons huise sou gebruik om uitdrukking te gee aan ons vreugde in die Here, sou ewe goed op Kersdag diens kan en moet doen.

Die verskyning van God se reddende genade word deur Paulus verbind aan die daaglikse lewe van jonk en oud, man en vrou (Titus 2:1-10). Hoe mooi is die geleentheid met Kersfees om saam as gelowige gesin of saam met ander gelowiges fees te vier op ʼn waardige, opregte in ingetoë manier (Titus 2:6-7). Dit is juis die verskyning van God se reddende genade wat ouer mans leer om waardig, ingetoë, gesond in die geloof, in liefde en geduld te wees (Titus 2:2). Ouer gelowige vroue laat sien dat hulle nie verslaaf is aan wyn of hul ophou met kwaadpratery nie (Titus 2:3). ʼn Feestelike stemming beteken nog geen uitspattigheid nie. By die geboorte van Christus was daar geen prag en praal nie.

Een in Lewensstyl🔗

Die Here vra van ons in sy Woord dat ons in die gemeente “eensgesind onder mekaar (sal) wees ooreenkomstig die wil van Christus” (Romeine 15:5). Die invulling van ons gewoontes en styl rondom Kersfees sal daarom nie los van die gemeente kan gebeur nie. Ons moet God in eendragtigheid kan verheerlik. Dit beteken ten minste dat elkeen oortuig sal moet wees dat dit wat hy doen, hy met die oog op Christus en die eenheid in sy gemeente doen. Nie een van ons leef tog vir homself nie, maar vir die Here (Romeine 14:5). Dit mag beteken dat daar onderling nog verskille sal wees in wat gedoen en nagelaat word, maar dan op só ʼn manier dat ons nie vir onsself leef nie. Ons sal in die gemeente mekaar moet help om dit te doen wat die vrede en onderlinge opbou dien (Romeine 14:19).