Bron: Nader Bekeken, 2004. 1 bladsye. Vertaal deur Nic Grobler.

Kragtige Gebede?

biddende hande Bybel

Om te bid is nie ons sterkste punt nie. Dit is nie aan die (gereformeerde) leer te danke nie. In ons geskiedenis is daar baie materiaal te vind wat tot gebed stimuleer en rigting gee aan ʼn intensiewe en fyngevoelige gebedslewe. Nee, as ek sê dat die gebed nie ons sterkste punt is nie, sê ek dit op grond van praktykservaring. My eie ervaring en dié van ander. Ja, daar is ongetwyfeld diegene onder ons wat ʼn ryk gebedslewe het. Van harte geluk! Maar vir baie bly gebed nie méér as om vir ʼn paar minute ʼn paar cliché-agtig dinge na bo te sê nie. Totdat nood leer bid. En ook dan konsentreer die gebed nog maar op die één nood en laat nie ruimte om werklik met die Here te kommunikeer nie.

ʼn Goeie gedagte: die ‘gewoonte’ om die gebed gepaard te laat gaan met Skriflesing. So ontstaan daar immers ʼn gesprek. Woord en antwoord. In ieder geval meer as ʼn memo aan die Here vol met persoonlike versoeke.

Maar die praktyk is nie so eenvoudig nie. Ek oordryf! In die vakuum van verskraalde gebede onstaan ʼn groot behoefte aan kragtige gebede. Dit is logies dat in die gestelde minimale gebedsomgang met die Here, so ʼn reaksie sal ontstaan. Vir seker as jy hoor van so baie wonderlike gebedsverhorings. Jy moet dit net reg doen; die gebed. En staan daar nie in die Bybel dat ons gebede groot krag het nie? Berge kan versit word. Siektes kan genees word. Om te leer bid, is dus nie ʼn oorbodige saak nie. Die dissipels het ons Heiland gevra: “leer ons bid”. En Hy het hulle die Onse Vader geleer.

Mens kan vandag ook weer leer bid. Baie gaan leer in die (Angel-Saksiese) gebedeskool. Daar leer jy byvoorbeeld die ‘kringgebed’. Dit kan in beginsel nie afgewys word nie, maar is vatbaar daarvoor om teen mekaar te bi(e)d. Ons leer daar ook van die sogenaamde ‘ministry’ gebede. Heel persoonlike voorbede op versoek, en eventueel met handoplegging. So ʼn voorbede kan selfs nog kragtiger word as meerdere persone om hulle heen weer voorbidding doen vir die voorbidders. ʼn Soort piramidegebed dus. Dan is daar ook die sogenaamde ‘meditatiewe’ gebed. Bid met stiltes tussenin, om die Gees ruimte te gee om persoonlik met jou te praat.

Wat my oë werklik laat oopgaan het, was die versoek om op ʼn bepaalde tyd saam met baie ander vir ʼn bepaalde saak te bid. Kan julle more presies om 3 uur almal bid vir die verlening van ʼn visum vir vlieënier B? Soortgelyk aan die kringgebed. Maar het so ʼn gebed dan meer invloed? Merk God as ‘t ware die aantal bidders af, en is dit dan vir Hom makliker as ons ons gebede in bundels by Hom indien?

Jakobus sê dat die profeet Elía net so ʼn mens was soos ons! Tog het die Here na die een mens geluister. Waarom? Omdat die Here self deur sy Gees aan die gebed van ʼn regverdige krag verleen. Ons hoef nie ons gebede self kragtig te maak deur getalle of gekonsentreerde gebede of deur herhalings nie.

Is ek dan teen voortdurende gebed? Is ek teen gemeenskaplike gebed? Is ek teen voorbidding? Nee, inteendeel. Maar ek het groot probleme met die moderne uitgangspunt: die gebed moet ‘werk’. En dit is wat jy lees en hoor oor metodes om meer ‘effektief’ te bid. Asof ons self krag aan ons gebede moet verleen!

Ons belydenis noem die gebed die vernaamste deel van die dankbaarheid. Laat ons gebed dan maar ʼn dankbare antwoord op die vaste beloftes van God bly. Dan bly ons gebed ook ware gebed.