Bron: Kompas, 2012. 4 bladsye.

Kultuuropdrag en die Gevalle Mens – Wetenskap se Grense

Agtergrond en Probleemstelling🔗

In die reeks artikels oor die onderwerp Bybel en evolusionisme is reeds duidelike tendense en riglyne geskets ten opsigte van die beoefening van wetenskap en geloof in God die Skepper. As gevolg van die geweldige druk van die wêreld oor die sogenaamde kennis van die ontstaan van die wêreld, probeer Christengelowiges hulle weg vind in die beoefening van hul kultuuropdrag, wat soms lynreg indruis teen wat ons in die Woord van God lees. Die vraag ontstaan: hoe moet ons die Woord van God verstaan en hoe relevant is dit in die beoefening van die wetenskap? Die vraag anders gestel: is Skrif met Skrifverklaring van Genesis 1 dalk verkeerd omdat die populêre wetenskapskennis die skepping in 6 dae van 24 uur elk, soos dit in Genesis 1 vir ons vertel word, verwerp? Die aarde is dan miljarde jare oud!!

In die eerste plek is dit nodig om weer vir onsself duidelikheid te probeer verkry oor hoe ons moet omgaan met die Woord van God en hoe dit ons houding ten opsigte van ons lewe in sy geheel – wat insluit ons werk, ontspanning, huwelik, kuns en kultuur, om maar ʼn paar velde te noem – bepaal. In die tweede plek is dit nodig om duidelikheid te verkry oor die spesifieke interpretasie van Genesis 1, die skeppingsdae en wat Skrifgetrouheid nou eintlik inhou en beteken. Hier is klaarblyklik sprake van ʼn botsing of ʼn groot verduistering van ons verstand. Buiten Genesis 1 is daar ook talle ander gebeure in die Bybel wat nie klop met ons huidige wetenskaplike verklarings nie.

Bybelse Gebeure en Geloof🔗

Gebeure in die Bybel wat ons nie kan verklaar met ons huidige kennis nie, maak die gebeure tog nie noodwendig ongeldig nie, veral teen die agtergrond van die sondeval en die gevolglike verduistering van ons verstand. Om maar ʼn paar voorbeelde te noem:

  • Indien ons glo dat Christus opgestaan het, moet ons ook glo dat daar ʼn maagdelike geboorte plaasgevind het, dat Hy – Christus – water in wyn verander het, dat Hy op water kon loop, dat Hy deur ʼn toe deur kon beweeg en weer verdwyn, ens;

  • Indien ons glo dat die sondeval plaasgevind het, moet ons ook glo aan die verlossing en herstel van die skepping in Jesus Christus;

  • Indien ons glo dat daar ʼn herskepping (wederkoms) gaan plaasvind, dan moet ons aanvaar dat voor die sondeval alles baie goed was en dat daar geen dood was nie;

  • Indien ons glo dat die sondeval en die gevolge daarvan plaasgevind het, moet ons ook glo dat die sondvloed plaasgevind het;

  • Indien ons glo dat die sondeval plaasgevind het asook die kosmiese betekenis daarvan, moet ons ook glo dat die skepping nou sug en verlang na die herstel met die jongste dag (Romeine 8:19);

  • Die sondeval is verbind met die stryd wat in die hemel gewoed het en die duiwel wat na die hemelvaart nie meer in die hemel te vinde is nie – hy is uit die hemel op die aarde gewerp waar hy soos ʼn brullende leeu rondgaan en kyk wie hy kan verslind (Openbaring 12). Die stryd – anders gestel: die tese en antitese – is met ons en ons is deel daarvan.

Wat het dit nou met Genesis 1 te doen? Ons staan in die lyn van skepping – sondeval – verlossing en herskepping in Christus – ons lewe na die uitstorting van die Heilige Gees.

Moet ons selektief te werk gaan met dit in die Woord wat ons nie kan verklaar nie? Omdat die sogenaamde bewyse oor die “feit” van evolusie opstapel by universiteite, moet die Bybel verklaar word deur buite-Bybelse wetenskaplike inligting? Dit druis in teen ons belydenis en met die reformatoriese beginsel van Skrif met Skrif verklaar. Maar hoe nou gemaak met Genesis 1? Gewoon, soos hoe dit daar staan en soos wat die term dag elders in die Skrif gevind word. Dink maar aan wat ons elke Sondag hoor: “maar die sewende dag is die Sabbat van die Here jou God” (Exodus 20:10) EN “in ses dae het die Here die Hemel en die aarde gemaak (Exodus 20:11). Wat doen ons dan met die sogenaamde “feite” wat evolusie bewys?

Om dit sinvol en in perspektief te antwoord, moet ons eers kyk na die mens voor en na die sondeval en veral na die gevalle mens in ʼn skepping wat ook sug van verlange na die herskepping. (Romeine 8:19 e.v.)

Die Gevalle Mens en die Gevolge daarvan op Ons Lewe van Elke Dag🔗

Ons geweldige onvermoë om maar iets werklik te kan verstaan, plaas perke op alles wat ons doen. Adam het voor die sondeval ʼn spesifieke opdrag gekry (kultuuropdrag): bewerk, bewaar en benoem (Genesis 2:15, 19). Dit kon hy ten volle Godsgerig doen as beelddraer, vasal, van God, sy Skepper. Perfekte beelddraer – Imago Dei. Na die sondeval bestaan die opdrag nog steeds, maar ons sal die opdrag nou uitvoer in die sweet van ons aangesig, dus met gebreke en beperkte vermoëns. Ons het deel geword van die geweldige stryd wat heers tussen God en satan (Tese en antitese waartussen geen sintese moontlik is nie). In alles probeer die satan die mens verlei om teen God te draai. In alles beteken letterlik alles: in kuns, wetenskap, opvoeding, ons totale lewe. In hierdie verband is dit ook belangrik om die lewe as een te sien en nie in aparte sfere nie.

Volgens hierdie denke – verdeling van die lewe in aparte sfere – het die Woord van God slegs betrekking op die kerk, geloof en op moraliteit, terwyl dit glad nie van toepassing is op ander sfere nie. (AM Wolters; 2005:7) Dit is ʼn tendens wat ons vandag baie duidelik sien en wat ten sterkste verwerp moet word. God se Woord en ons kultuuropdrag omvat alle sfere van ons lewe. Daar is geen sogenaamde neutrale terrein nie.

Om die punt van ons beperktheid verder te illustreer, is dit so dat ons maklik verblind word deur die geweldige tegnologiese vooruitgang; ons dink dat ons nou regtig darem baie weet. Ons noem gou op dat daar die laaste honderd jaar geweldige vordering gemaak is in byvoorbeeld vervoer, telekommunikasie en noem maar op. Dit verblind ons (wat die duiwel graag wil regkry) en gee ons ʼn sogenaamde hoogmoed en selfs arrogantheid, en dan vergeet ons dat ons slegs skepsele is wat grensloos beperk is in ons verstaan van die werklikheid. ʼn Paar tegnologiese ontwikkelings laat ons dink dat dit al is wat bestaan en dat daar niks anders buite hierdie tegnologie is nie. Dit is veral soms duidelik in sekere beroepe waarvan die beoefenaar geleer het om deur middel van tegnologie die menslike omgewing te “verbeter”. As gevolg van ons beperktheid kon ons dus op daardie stadium nie die invloed daarvan op die ekosisteem sien nie, en dit word geïmplementeer tot groot nadeel van die omgewing. Die mens se arrogansie skrei ten hemele, en as dit nog nie vir enige iemand duidelik is dat die mens ʼn gevalle mens is nie, is hy juis deel van hierdie hoogmoed.

Hoeveel Weet of Ken Ons?🔗

  • ʼn Vooraanstaande wetenskaplike, prof Dijkgraaf, pas aangestel as direkteur aan die Princeton Institute for Advanced Studies, het binne 45 minute op ʼn televisieprogram aan die publiek die geskiedenis vanaf die “big bang” tot op hede verduidelik. Hy het egter bygevoeg dat ons slegs 4% van die totale heelal in ʼn mate ken;

  • Nog ʼn wetenskaplike het beweer dat ons slegs 5% van die aarde se oseane ken of nagevors het en dis sommer hier by ons;

  • Die ontwikkeling van die SKA naby Carnavon het ten doel om deur middel van radioseine meer te wete te kom van die heelal. Die wetenskaplike wat die program verduidelik het, weet te vertel dat ons slegs 5% van alles deur middel van gewone tegnologie kan waarneem. Die ander 95% wat bestaan, kan ons glad nie sien nie en daarom moet ons met ander tegnologie op ʼn manier aflei wat die ander 95% is wat werklik bestaan.

Lewensvisie vanuit die Verbondslyn🔗

Ons beperktheid vind nie net sy neerslag in ons kennis van die skepping nie, maar in die kennis van God ons Skepper wat Homself in sy Woord openbaar.

Die mens is baie beperk in sy ken en kennis. Ons het as gevolg van die sondeval ons unieke plek as beeld, Imago Dei, van God verloor. Die Imago Dei is vernietig, besmet en vermink (Institusie I, hoofstuk15, paragraaf 4, p. 180 – vertaling Sizoo), volgens Calvyn. En daar het niks van oorgebly nie.

Die vraag oor die ken en hoe ons ken is hier van toepassing. Wat is die basis van ken? Sonder om diep filosofies te raak, is dit nodig om gewoon eerstens te kyk na ons beperktheid en tweedens na die raamwerk op grond waarvan ons probeer om te ken en om kennis in te samel teen die agtergrond van skepping, sondeval, verlossing en herskepping (SSVH). Hierdie lyn, SSVH, staan lynreg teenoor dié wat nie in die skepping of die sondeval glo nie. Deur God se besondere Openbaring glo ons dat Hy ʼn goeie skepping geskep het. Dit was goed. Voor die sondeval was daar volkome harmonie tussen God, die mens en die skepping.

Die eintlike denkraamwerk is die SSVH-lyn waarmee ons denke moet struktureer.

Hoe moet ons dit dan sien vanuit die Bybelse riglyn van skepping – sondeval – verlossing en herskepping? Dit is juis hierdie raamwerk waarbinne ons na die werklikheid moet kyk, ook in die beoefening van ons kultuuropdrag wat onder andere insluit ons beoefening van wetenskap.

Die Volgende Beginsels is Belangrik:🔗

  • Ons gevalle toestand wat ons verstand totaal verduister het en wat ons verstaan van dinge uiters moeilik maak. Dit sluit in die beoefening van die ken, bestudering van die natuur, maar ook die verstaan en verklaring van die Bybel. (Dink aan die uitstorting van die Heilige Gees wat ons help om weer deel te wees van die verlossing en herskepping).

  • Die verlossingswerk deur Christus as tweede Adam wat die lewe vir ons weer moontlik maak en dat ons ook binne ons beperkings en sonde vir Hom deur en met alles mag loof en prys – laasgenoemde is ons doel hier op aarde.

Ons het voorheen verwys na die tese en antitese, die stryd tussen die vrouesaad en die slang, wat deel van ons bestaan as gevalle mens uitmaak. Soos een skrywer dit stel: beide God en satan maak aanspraak op die totale skepping (Wolters, AM, 2005: 81). Dit sluit alles – soos die kerk, familie, kuns, besigheid, plante en diere, ja, alles – in. Ons lewensbeskouing is volgens die raamwerk SSVH wat as basis aanvaar word. Maar omdat ons weet dat dit so is omdat God dit geopenbaar het, is ons nederig en beskeie en verstaan ons die unieke plek wat God ons gegee het. Hierdie nederigheid beteken dat ons besef dat alles wat ons doen, slegs deur die genade van God en deur sy Gees moontlik gemaak word. Daarom bestudeer ons sy Woord wat altyd vir ons tot lering is (2 Timoteus 3:16-17: Volhard in die gesonde leer). Ons sukkel om sy Woord ten volle te verstaan, maar ook om die natuur te verstaan. Daar is reeds geskryf dat dit wat God openbaar in sy natuur en Skriftuur nie in botsing kan wees nie (NGB artikel 2: God word geken deur natuur en Skriftuur). Teen hierdie agtergrond, die gevalle en beperkte mens, is die V in SSVH van uiterste belang: verlossingswerk in Christus. Met Christus se soenverdienste, verlossing, het die gevalle mens letterlik weer lewe gekry. Die satan is uit die hemel gegooi, sodat hy ons nie meer by God kan aankla nie, en Christus sit aan die regterhand van God om vir ons voorspraak te doen. Die Heilige Gees is uitgestort om ons te help om staande te bly teen die aanslae van die duiwel. Maar vanweë ons sondige aard en natuur ken ons slegs ten dele en sukkel ons maar om iets te begryp. Slegs deur sy Woord en Gees kan ons wel rigting hou in ons kultuuropdrag, met baie val en opstaan.

Reformatoriese Lewens- en Wêreldbeskouing🔗

Reformatories beteken onder andere om voortdurend besig te wees met verandering na die eise van Gods Woord. Reformasie is onderwerping aan God en sy Woord (Van der Walt, BJ 1986:351) op alle lewensterreine. Prof PH Stoker in sy skrywe Darwinisme, natuurwetenskaplike kennis en die Woord van God (2009:8) noem dit ‘reformatoriese lewens- en wêreldbeskouing’.

Hierdie raamwerk bepaal ons benadering tot alle handelinge, waaronder die beoefening van wetenskap, ekonomie, kunste, joernalistiek, ens. As ons aanvaar dat die stryd op alle lewensterreine woed, dan moet ons ons ook bewapen vir die stryd op alle lewensterreine. Die worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die geeste in die lug (Efesiërs 6:12). Om hierdie stryd duidelik te maak en aan te toon hoe ons deur middel van ʼn duidelike lewens- en wêreldbeskouing vaardig kan raak in hierdie stryd, het mense soos AM Wolters in sy boekie Creation Regained – Biblical Basics for a Reformational Worldview sekere riglyne gegee wat ons maar gerus geestelike wapens of gereedskap kan noem. Teen die agtergrond van die SSHV, ons sondige aard en beperktheid, het ons eenvoudige riglyne nodig om ons te help in hierdie stryd. Dit gaan ons ook help om werklik die sogenaamde “problematiek” van Genesis te verstaan.

Twee begrippe is van belang nl. “struktuur” en “rigting”. Met struktuur word bedoel die skepping en sy wette (Van der Walt, 2008:106). Wolters gaan verder en sluit ook strukture in soos die huwelik, skool, familie, politiek, ens. (Wolters, 2005:80-83). Dit is nie losstaande strukture nie, maar geïntegreer in die geheel wat ons normaalweg gewoon skepping noem. God het ook die huwelik en die gesinslewe gegee in ʼn bepaalde omgewing. Die tweede term, naamlik rigting, is gebaseer op die SSHV-lyn, dit dui ʼn sekere rigting aan binne die struktuur. As gevolg van die sondeval het nie net die rigting verlore gegaan nie (Godsgerig = rigting, bewerk, benoem en bewaar), maar het die struktuur ook begin kreun en steun op sy skarniere. Die struktuur was voor die sondeval baie goed en die rigting suiwer op God gerig. God het met Adam in die paradys gewandel. Adam was volkome gehoorsame “onderkoning” van God, wat hom met ʼn taak en roeping aangestel het oor sy volmaakte skepping (struktuur). Dus, Adam was deel van die geskape struktuur en hy kon God ten volle dien.

Dit het egter na die sondeval verander en beide struktuur en rigting is tot in sy diepste fondament geraak. Daar is twee magte wat reg teenoor mekaar staan: mag van God teenoor die mag van die satan (wanorde, chaos, duisternis, ewige dood). En ons is deel van daardie stryd. Volgens die orde van sondeval en verlossing (Calvyn) en daarmee die stryd tussen lewensbeskouings en lewenswandel (wat insluit wetenskapsbeoefening), is die stryd uiteindelik tussen die Ryk van die Lig en die ryk van die duisternis is (Stoker, H, 1967:39). En gelukkig, in die lyn van SSHV (rigting), sien ons dat ons deur Christus kan en moet deelneem aan hierdie stryd. Soos wat Paulus skryf in Galasiërs 5:17, dit gaan oor die magte van die gees teenoor die magte van die vlees. Die antitese is hier duidelik.

Om reformatories besig te wees, beteken om deur die krag van die Heilige Gees alles vanuit die Skrif te belig. Alles beteken letterlik alles. Huwelik – hoe sien ons huwelike daaruit? Is dit werklik soos wat God dit van ons vra in sy Woord? Met die beoefening van ons wetenskap – belig en vra ons werklik vanuit die Skrif of ons besig is met die op God gerigte wetenskap? Is die hele vermaaklikheidswêreld (struktuur) of dele daarvan werklik op God gerig? So kan en moet ons steeds besig wees om juis die strukture asook die rigting te reformeer, sodat dit wel op God gerig is en ons God daarmee (rigting) kan dien.