Bron: Kompas, 2003. 4 bladsye.

Lewe en Werk van Thomas van Kempen: 1379 – 1471

Thomas van Kempen

Thomas van Kempen het deur die eeue heen bekend gebly met sy boek die De Imitatione Christi oor die navolging van Christus. Die boek is in tientalle tale vertaal, waaronder ook in Afrikaans, en het al honderde uitgawes belewe. Daar word beweer dat ná die Bybel, Thomas se Navolging die mees gelese boek in die wêreld is. Dit is genoeg rede om meer van hom te weet en aan sy geskrifte aandag te gee. In hierdie artikel wil ons iets meer vertel oor die lewe en werk van Thomas à Kempis, die belangrikste verteenwoordiger van die laat Middeleeuse vernuwingsbeweging, die ‘Moderne Devotie’, en afsluit met ʼn evaluasie van sy werk.

Geboorte en Beginjare🔗

In die jaar 1379 of 1380 is Thomas Hermerken (of Hämerken, betekenis: hamertjie) in Kempen, naby die stad Keulen, gebore. Sy vader was ʼn ambagsman, waarskynlik ʼn silwer of goudsmid, waarvan die hamertjie in die familiewapen getuig. Die moeder van Thomas was ʼn vroom vrou en deur haar onderrig is sy kinderlike godsvrug en vroomheid ontwikkel. Thomas het ʼn ouer broer gehad, Johannes, wat betrokke was by die stigting van die klooster Windesheim in 1387, geleë naby die stad Zwolle in Nederland. Net soos sy broer het Thomas hom aangespreek gevoel deur die religieuse en kerklike vernuwingsbeweging wat later bekend geword het as “Moderne Devotie”, hedendaagse godsvrug of die beste aangedui deur hulle eie nuwe woord: ‘ingetoënheid’.

Op 12- of 13-jarige leeftyd vertrek Thomas vanuit Kempen na die klooster Windesheim. Sy broer Johannes stuur hom, met ʼn aanbevelingsbrief na Florens Radewijnste Deventer. Florens was een van Geert Grote se goeie vriende. In Deventer word Thomas opgeneem in die koshuis vir arm skoliere (domus pauperum) en word Florens Thomas se mentor. Florens Radewijns is ook die stigter van die eerste broederhuis in Deventer, waar die grondslag gelê is vir die latere huise van die “Broeders van de Gemene (Gemeenskaplike) Leven”. Dit het bestaan uit ʼn gemeenskap van leke wat nie die kloostergelofte afgelê het nie, maar gehoorsaamheid aan die rektor van die huis belowe het. Hulle wou lewe volgens die ideaal van die eerste Christelike gemeente soos beskrywe in Handelinge, (Handelinge 4:32).

Die broeders en susters van die gemeenskaplike lewe het stelselmatig, metodies selfverloëning beoefen en het getuienis afgelê van hul onwaardigheid voor God. Met daardie onwaardigheid voor oë was hulle ernstig en nederig wat ook in hulle gedrag na vore getree het. Soms het dit die laglus opgewek as hulle op straat met neergeslane oë rondbeweeg en altyd met ʼn sagte stem praat en vormlose donker klere gedra het. Alle nadruk het op die innerlike geval en was hulle aandag steeds op die Bybel gerig, daaruit is stelselmatig Bybeltekste oordink of sinsnedes uit ʼn gebed.

Intrede in die Klooster op die Agnietenberg naby Zwolle🔗

Nadat Thomas sy skoolloopbaan in 1399 voltooi het, keer hy eers na Windesheim terug en later na Zwolle. Met sy intrede in die Agnietenklooster was Thomas 18 of 19 jaar oud. Die klooster was geleë op ʼn heuwel net buite Zwolle. Aanvanklik was die klooster ʼn broederhuis maar in 1398 is dit omvorm tot ʼn klooster vir “Reguliere kanunniken (wêreldlike geestelikes) van Windesheim” volgens die kloosterreël van Augustinus. Thomas se broer was die ‘prior’ (kloosterhoof) van gemelde klooster. Behalwe vir twee kort besoeke elders het Thomas hierdie klooster nooit meer verlaat nie en is hy daar in 1471 op 92-jarige leeftyd oorlede.

Skryf en Vormingswerk🔗

Na ʼn lang novisiaat (proeftyd) doen Thomas in 1406 belydenis van sy ewige professie, maar eers in 1413 of 1414 word hy as priester gewy. In 1425 word Thomas benoem as subprior (onderhoof van die klooster). Dit het beteken dat hy verantwoordelik was vir die opleiding en vorming van noviete (jong kloosterlinge). In daardie tyd skrywe hy vir sy jong kloosterleerlinge tallose geestelike traktate, alles in Latyn omdat Latyn in daardie tyd die universele taal van die kerk en wetenskap was.

klooster

Oor die Navolging van Christus🔗

Thomas het ook begin om uitsprake en kernagtige Bybelspreuke te versamel wat in die kringe van die Moderne Devosie gangbaar was. In daardie tyd is dit genoem die geestelike aantekeninge boekie of Rapiarium. Met hierdie versameling lê Thomas die basis vir sy latere De Imitatione Christi. Vir twintig jaar voeg Thomas aan hierdie stigtelike traktate verbindende tekste toe, herskryf en redigeer sy werk in uiteindelik vier ‘boeke’ wat saam die Navolging vorm. Nog tydens sy lewe word sy werk gekopieer, versprei en gelees binne die kringe van die Moderne Devosie. In 1441 voltooi Thomas sy redigeerwerk van die Navolging. ʼn Eksemplaar van die laaste redaksie (1441) met sy naam word bewaar in die Koninklike Biblioteek in Brussel. Nêrens skryf Thomas gemaklik oor die geloofsweg nie. In elke deel ontleed hy die moeilikhede en dring hy aan op ʼn persoonlike beslissing. Tot vandag toe blyk hierdie boek vir baie mense ʼn bron van geestelike rykdom te wees, met baie praktiese wenke vir die opbou van ʼn persoonlike geloofslewe.

Ander Skriftelike Nagelate Werke🔗

Tydens sy lang lewe het Thomas heelwat traktate en stigtelike werke geskryf. In totaal staan daar 39 werke agter sy naam. Die rektor van die Gymnasium Thomaeum in Kempen, Michael Josephus Pohl, het tussen 1902 en 1922 ʼn 7-delige uitgawe van die versamelde werk van Thomas, die Opera Omnia uitgegee. Wat ook interessant is, is dat Thomas ʼn kroniek oor die Agnietenberg klooster geskryf het. ʼn Onlangse Nederlandse vertaling is deur Udo de Kruijf uitgegee met die titel Een klooster ontsloten, (Kampen, 2000).

Waardering en Kritiek🔗

Thomas van Kempen is deur sy tydgenote geroem vir sy groot belesenheid en welsprekendheid. Hy was egter nie ʼn wetenskaplike en diepsinnige navorser nie. Hy het hom toegewy op die terrein van mistieke en praktiese godsvrug.

B Wielinga skryf van hom:

Sy taalgebruik is fyn, ʼn sangerige, liriese Latyn. Die geheime bekoring van Thomas se taal bestaan daarin, dat dit orals die indruk skep dat dit opborrel uit suiwer bronne, onpeilbaar diep. Dit is ʼn edel genot om na hierdie man van God te luister. Dit is vrome musiek, in veelvoudige skakering.

Sy beroemdste werk: De Imitatione Christi het ingang gevind by mense van verskillende geloofsoortuigings, allereers in Rooms-Katolieke kringe. Onder Protestante het die Navolging ook waardering gevind. Luther verklaar in 1532: “Ek Martin Luther getuig met my eie hand dat ek niks onchristeliks in hierdie boekie vind nie. Mag God gee dat al die kloosters Gods Woord so ernstig wil leer en onderhou”. Voetius het dit ʼn “goue boekie” genoem alhoewel hy ook kritiek gehad het. Die Groningerrigting in Nederland het in die Navolging die ideaal gesien van ʼn gemoedelike eg-Nederlandse vroomheid.

Oor baie dinge wat Thomas geskryf het kan ons van harte saamstem, soos die pragtige begin van sy Navolging:

Wie my volg wandel nie in die duisternis nie, sê die Heer. Dit is die woorde van Christus waardeur hy ons vermaan sodat ons sy lewe en lewensgedrag sal volg. As ons waarlik verlig wil word, en bevry van alle verblindheid van die hart. Laat daarom ons hoogste strewe wees om oor Jesus se lewe te peins. Sy leer styg bo die leringe van alle heiliges uit. En wie die Gees besit, sal verborge manna daarin vind. En tog gebeur dit dat talle, terwyl hulle dit dikwels hoor, maar weinig tot die Evangelie aangetrokke voel, omdat hulle die Gees van Christus mis. Wie egter die woorde van Christus ten volle, met insig wil verstaan, behoort te strewe om sy hele lewe aan Hom gelykvormig te maak.Vertaling uit Latyn deur dr A S Geyser: Die Navolging van Christus, 1952

klooster🔗

Kritiek🔗

Ons kan dit waardeer dat Thomas hom beywer vir ʼn konsekwente lewensheiliging, maar andersyds het verskillende mense daarop gewys dat Thomas in sy werk die geloof te eensydig voorstel. Die regverdigmaking deur Christus word omtrent nie aangespreek nie. ʼn Mens kan selfs praat van ʼn reduksie van Christus se genoegsaamheid insake sy versoeningswerk en juis op hierdie punt is die Navolging teleurstellend. Daar is ook min aandag vir die werk van die Heilige Gees en verder is daar onmiskenbaar ʼn sterk wettiese inslag by Thomas te bespeur. Sy aanhoudende aandrang om alle begeertes af te sterf roep ook vraagtekens op, asof daar geen goeie begeertes sou wees nie. Sy voortdurende teenstelling tussen die hemelse en die aardse dinge, waarby die aardse meesal as sondig en verwerplik getipeer word, bring die opdrag tot uitoefening van die kultuurmandaat in gedrang. Sy neiging tot afsondering met vermyding van menslike kommunikasie, toon ʼn asketiese inslag wat werklik nie navolgingswaardig is nie, want hy baseer dit op ʼn aanhaling van Seneca.

Die grootstes onder die heiliges het, waar hulle kon menslike troos vermy, en verkies om verborge met God te leef. Iemand (Seneca) het eenmaal gesê: Telkens as ek onder mense was, het ek (as) ʼn mindere mens teruggekeer. Dis dikwels ons ondervinding ook, as ons lank in geselskap was. Dis makliker inderdaad om stil te bly, dan in woorde nie buite die perk te gaan. Dis makliker om tuis jou skuil te hou, dan daarbuite jou voldoende te bewaak. Wie dan daarop mik om die innerlike geestelike lewe te berei, moet hom saam met Jesus van die skares afwend.Boek 1, hoofstuk XX par 1

Daar is mooi Bybelse uitsprake en vermanings in die Navolging oor die oproep en toepassing van die lewensheiliging, maar dit bly eensydig en die pelgrimsgedagte word steeds aanbeveel. Dit beteken uiteindelik: ʼn wegvlug uit die konkrete lewe met ʼn ‘boekske in een hoekske’. Die mistieke inslag van sy werk tree duidelik na vore en is in wese onskriftuurlik. Hoe moet ons dan maak? Hoe moet ons in die wêreld staan en tog nie van die wêreld nie.

Daar is verontrusting oor die kerklike ontwikkeling binne die Vrygemaakte Kerke in Nederland. Die artikel van ds Bijzet in verlede maand se uitgawe van Kompas het daarna verwys. Konkreet is dit aangewys in die herdenkingsuitgawe oor die Vrymaking: Vrijmaking – Wederkeer: Vijftig jaar Vrijmaking in beeld gebracht 1944 – 1994. J. Douma skets die uitwendige deformasieverskynsels by baie vrygemaakte kerklede en noem dat die televisie een van die grootste oorsake is van toenemende sekularisasie by kerklede. Offervaardigheid verminder en die besondere amp van ouderling en diaken word toenemend as ʼn las beskou. Daarteenoor is daar verlange na genot (hedonisme) wat veroorsaak dat laste, lyding en pyn moeilik aanvaar word. Ons is kinders van ons tyd en is nie immuun teen verkeerde invloede nie. Dit sou leersaam wees om te weet hoe die Sondagse prediking onder ons funksioneer, watter uitwerking dit het – deurgaande reformasie of ʼn handhawing van die status quo?

Toenemend word besef dat die gereformeerde lewenstyl en lewensheiliging by baie kerkmense dreig om verlore te gaan. Wat is die remedie of medisyne? Kan die Navolging van Thomas van Kempen, wat so sterk die lewensheiliging beklemtoon ʼn wal opwerp, genesing bewerk teen die sekularisasie. Moet ons terug na ʼn verborge lewe met God of meditasies en gebede in die styl van die “ou skrywers” van die Nadere Reformasie? In die opsig het K. Schilder ʼn suiwerder en meer skriftuurlike aanduiding gegee oor die Christen se taak en roeping in die uitoefening van sy amp in die wêreld:

Wat is die amp in die kring van die genadeverbond? Die amp is nie: ʼn onttrekking van ʼn religieusbevoorregte mensekind, met sy kwaliteit- en klassevoorregte in die hoë eensaamheid, waar God hom laat vind (soos in die misteriekultusse) om met Hom in ʼn mistieke-unie te versmelt nie. Die amp is omgekeerd: ʼn uitgaan van ʼn geroepe mens, in wie die kwalitatiewe bevoorregting, dadelik omgeskakel word na ʼn gemeenskapsdiens opvorderende roeping. Dit is om die “Gabe” (wat hy van God ontvang het) dadelik te verdiskonteer in ʼn “Aufgabe” (wat hy aan ander moet gee uit naam van God). Hierdie amp is opdrag om as God se geroepene, uit die intimiteit van die individuele oefening van gemeenskap met God uit te tree en in te gaan tot die breë menselewe, om daar die seën oor ander te bring.

Die amp is geen aristokratiese vereensaming van die ingewyde siel tot louter alleen die ontvang van God se genade in ʼn binnekamer en die vensters te sluit vir die wêreld nie, maar die amp is, sowel in die Ou en Nuwe Testament, ontlening en oefening van krag in en tot ʼn bepaalde werk van missie… om na die stad van die mense te gaan en na die diepe dal van geboë lewens af te daal en die wêreld in Gods naam te gee, wat die ampsdraer self ontvang het.Vertaal uit: Christus aan den ingang van Zijn lijden, bl 190, 191.

grafsteen

Bogenoemde sluit aan by vraag en antwoord 32 van die Heidelbergse Kategismus en artikel 23 van die Kerkorde: Die amp van die ouderlinge is … en om ook ander (buitestaanders – ongelowiges) tot die Christelike godsdiens op te wek. Hiermee hang ook saam ons visie op die verbond. In die boek Het Nieuwe Testament Boek van het Verbond deur dr C van der Waal, stel die outeur dat as ons die verbond as ʼn visie, ʼn deursnit of as ʼn aspek beskou, dan gee ons die feite prys. Die Here openbaar Hom as die God van die verbond aan sy volk (in belofte, bevel en bedreiging) en so wil Hy bely word. ʼn Ander visie is nie moontlik vir diegene wat die Skrifte, die boeke van die Ou en Nuwe verbond respekteer. Ons kan die verbond nêrens uitskakel nie … Erken ons dit nie dan word ons onherroeplik in die arms van metodisme, spiritualisme of liberalisme gedryf. Die toestand waarin die teologie en die kerklike lewe by regs en links verkeer, is bewys daarvan, (pp.120,121 – vertaal in Afrikaans). In die verbond word die bondeling opgeroep tot ʼn belewing en uitoefening van sy drievoudige amp op alle terreine van die lewe.