Bron: Vox Viva. 2 bladsye.

Liefde

En nou bly geloof, hoop, liefde – hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde.

I Kor. 13:13

Van altyd af en oor die hele wêreld word gepraat, gedink en gesing oor die liefde. In allerhande verbande en tale kan die woorde: ‘liefde’, ‘love’, ‘amour’, ‘Liebe’ gehoor word.

Daar is ʼn hele aantal bekende woorde wat tog deur verskillende mense verskillend geïnterpreteer word. Die woord “liefde” is ongetwyfeld een van daardie woorde. Daar is veral twee opvattings omtrent die betekenis van die woord “liefde” wat ons duidelik van mekaar moet onderskei. Dit is die Griekse en die Bybelse opvatting. Hoe praat ons oor die liefde? Op die Griekse of op die Bybelse manier? Oor hierdie saak – net soos op baie ander sake – is ons dikwels geneig om meer Grieks as Bybels te praat en te dink.

Dit is tiperend van die Griekse opvatting omtrent liefde dat daar altyd iets in die ander moet wees wat maak dat ek die ander liefhet. Die ou Griekse wysgeer Aristoteles het gesê dat niemand geliefd kan wees wat nie die liefde werd is nie. Bietjie verder sê hy dat niemand kan verwag om liefgehê te word, “as daar nie in hom iets is wat die toegeneentheid wek nie”. Dit kom dus daarop neer, dat ek iemand net kan liefhê as ek in die ander iets sien en ook of die ander iets vir my beteken. Die liefde kan nie van een kant kom nie. Die logiese gevolgtrekking hiervan is, wat ʼn ander Griekse wysgeer uit die oudheid, Plato, gesê het, dat die gode nie kan liefhê nie. Die gode besit immers alles. Hulle kan nie in die ander iets raaksien nie en hulle kan nie van die ander iets wil hê nie, omdat hulle self alles besit.            

Die teenstelling met die Bybelse uitsprake oor die liefde word hier baie duidelik. Terwyl Plato sê: “die gode kan nie liefhê nie”, verseker die Bybel ons baie stellig: “God is liefde” (I Johannes 4:16). Dit beteken: God kan nie anders as om lief te hê nie. Na sy aard en wese moet Hy liefhê. Dit kan in die Bybel so gesê word, omdat in die Bybel die liefde – en tereg ook – op die ander gerig is in wie ek niks sien en wie niks vir my beteken nie. Daarom staan by die Bybelse liefde, nie die gevoelens nie, maar die handeling op die voorgrond. Liefde is nie primêr ʼn saak van gevoel nie, maar van die daad.               

Dit is in hierdie verband opmerklik dat daar in die Ou Testament baie meer gepraat word oor God wat liefhet as oor God se liefde. Die verhouding is 1 tot 8. Dat God liefhet word agt keer meer in die Ou Testament gebruik as wat die uitdrukking “die liefde van God” gebruik word. Dit is beter om oor die liefde van God te praat met behulp van ʼn werkwoordsvorm. Niks laat duideliker uitkom dat dit by die liefde in die Bybel primêr om die daad gaan nie. Daarby is daardie daad ʼn daad van oorgawe, die daad van ʼn offer. Nêrens word die liefde van God ryker geopenbaar as in die daad van die oorgawe (offer) van sy Seun.

Deur hierdie liefde mag ons liefde nou gekenmerk word. Ons moenie slegs mense liefhê in wie ons iets sien en wat iets vir ons beteken nie. Ons mag en moet ook mense liefhê in wie ons niks sien en wat niks vir ons beteken nie – tot selfs ons vyande toe. Dan word ons liefde ook ʼn offer. Dan moet die liefde nie verkry word uit inkomste nie, maar uit uitgawes. Soos ʼn kers sal ook die liefde brand tot dit homself verteer. So kan die liefde ook ʼn gebod word.

Sonder hierdie liefde beteken al ons doen en late niks nie. Hierdie liefde is selfs die mees opvallende kenmerk van die kerk en van alle gelowiges. Ons praat oor geloof, hoop en liefde, en dat ons hulle in hierdie volgorde gebruik is sekerlik nie toevallig nie. Geloof, hoop en die liefde vorm saam ʼn asemrowende plant. Geloof is die wortel waar hoop en liefde uit voorkom; hoop is die stingel en liefde is die blom. Die volgorde is nogtans op ʼn manier omkeerbaar. Ons kan ook praat oor liefde, hoop en geloof. Die blomme van ʼn plant sal immers eerste raakgesien word en  ʼn blom trek eerste die aandag.

In hierdie verband is ʼn verhaal wat prof. dr. J.H. Bavinck iewers vertel het, baie van toepassing. Hy vertel dat hy die ingebruikneming van ʼn nuwe kerk bygewoon het. Daardie kerk het aan die een sykant drie vensters gehad waar geloof, hoop en liefde uitgebeeld word. Enigiemand wat die kerk ingekom en verby daardie vensters gestap het, het daardie uitbeeldings in die volgorde geloof, hoop en liefde raakgesien. Dit is die orde binne die kerk. Terselfdertyd word daarop gewys dat iemand wat buitekant die kerk verby gestap het om na die deur van die kerk te gaan, daardie vensters in presies die omgekeerde volgorde gesien het: liefde, hoop en geloof. Dit is die orde buite die kerk. Hulle wat van buite af inkom word altyd eerste geraak deur die liefde.

Dit hou ook in dat daar waar die liefde nie te siene is nie, niks te sien is nie. Ook nie geloof en hoop nie.