Bron: Kompas, 2005. 2 bladsye.

Liturgie – Skuif reg, dit begin…

Toe ek met hierdie hoofstuk begin, het ek gedink dat ek dit darem nou vir myself moeilik gemaak het. Ek het naamlik by die voorbereiding ʼn indeling vir die hoofstukke gemaak aan die hand van die verskillende dele van die liturgie. Die vorige hoofstuk het gegaan oor die sang, hierdie een oor die skriflesing en die volgende een oor die preek. Nou is die skriflesing dus aan die beurt. Maar wat kan mens nou daaroor vertel? Bybellees is Bybellees en daarmee klaar.

In die meeste boeke wat ek gelees het, word die skriflesing en die preek saam behandel. Dit is nie ontereg nie. In die orde van diens word die skriflesing as ’n aparte onderdeel genoem. Apart, maar dis nie ’n losstaande deel van die liturgie nie. Toe ek hieroor begin nadink en met ander mense daaroor praat, het ek agtergekom dat die skriflesing gewoonlik as ’n inleiding op die preek beskou word. Sonder om die werk van die predikante te na te kom, wil ek dit tog merkwaardig noem. Nadat ek nog verder daaroor nagelees het, het dit geblyk dat die skriflesing in die kerkgeskiedenis nie altyd ’n groot plek ingeneem het nie. Dit is nogal vreemd dat daar in die eredienste wat ’n ontmoeting met die Allerhoogste is, nie altyd ewe veel aandag gegee word aan die lesing van sy Woord nie!

Kom ons kyk na die geskiedenis. Voortgaande op die werkswyse in die sinagoges, het die eerste Christelike gemeentes eers ’n skrifgedeelte gelees en daarna het die uitleg (wat “midrasj” genoem is) gevolg. Die eerste gemeentes het egter nie altyd ’n volledige Bybel gehad nie. Hulle moes regkom met geleende boeke, wat dan dikwels oorgeskryf is vir die eie biblioteek, en met mondelinge oorlewering. Die vinnige uitbreiding van die Christendom het nie ’n verbetering in hierdie situasie gebring nie, inteendeel. ’n Halwe oplossing vir hierdie probleem is gevind in die gebruik van die sogenaamde “lectionaria”. Dit was klein boekies waarin daar aan die hand van die kerklike jaar kort gedeeltes uit die Bybel (perikope) oorgeskryf was. Die lectionaria kon maklik oorgeskryf word. Later is daar in hierdie boekies ook preke opgeneem. Daar was toe al ’n noue verband tussen skriflesing en prediking.

Tot in die agtste eeu was dit alles nogal verwarrend en van kontinuïteit was daar nie sprake nie. Bowendien was dit vir die meeste kerkleiers in daardie tyd voldoende as die gemeente die mis bygewoon het. Dit het selfs ’n uitwerking gehad op die bou van die kerke in die tyd. Die preekstoel het uit die middel verdwyn en is êrens teen ’n symuur neergesit. Die altaar het voor in die kerk gestaan. Prediking, wat dikwels net in die “voormis” of selfs net in weeksdagdienste plaas gevind het, is minder belangrik geag. Later, in die tyd van Karel die Grote het die aandag weer effens verskuif. En in die 13de eeu het daar selfs spesiale predikordes (soos die Fransiskane) ontstaan.

Die Reformasie het hierin nog meer verskuiwing gebring, letterlik deur die preekstoel weer in die middel van die kerk te plaas en figuurlik deur die klimaks van die liturgie weer te verskuif na die verkondiging van die Woord deur skriflesing en prediking. In die begin van die Reformasie is daar nog steeds weeksdagdienste gehou. Hier het die sogenaamde “lectio continua” plaasgevind: voorlesing van Bybelboeke. Almal kon dit hoor! Die voorleesdienste is gewoonlik nie deur ’n predikant gelei nie, maar deur ’n voorleser.

Dit bring ons by ’n aktuele saak. Daar gaan vandag weer stemme op om die instituut van ’n voorleser in te stel. Ek het êrens gelees dat daar geen prinsipiële besware aangevoer is om dit af te skaf nie. Daar is voorstanders van die instelling van ’n voorleser wat die argumente gebruik dat die erediens dan minder ’n “eenmanvertoning” word. Dit lyk vir my egter nie ’n prinsipiële stellinginname nie. Egter oor ander argumente is dit die moeite werd om na te dink. Die spesiale aandag wat die skriflesing daardeur sou kry, sou nie verkeerd wees nie. Natuurlik moet daar dan goeie oorleg plaasvind tussen die voorleser en die predikant.

Dit lyk dikwels asof ons eredienste eers begin wanneer die preek begin. Ons skuif reg, deel pepermente uit, sommiges is paraat met pen en papier, Bybel op die skoot…, nou kan dit begin.

Dit sal goed wees as ons voor die tyd reg skuif, naamlik wanneer die Bybel oopgaan. Dan is dit immers die Here wat spreek, Hy wil oor sy verbondsdade spreek. Die skriflesing is nie ’n inleiding op die preek nie. Die preek is ’n verduideliking van die skrifgedeelte wat gelees is.

Natuurlik wil ek nie hiermee sê dat die seëngroet, die sang, die gebed en die offergawes minder aandag verdien nie. As ons egter van die klimaks van die erediens wil praat, dan is dit tog daar waar die Here praat.

Dit geld nie net vir die skriflesing in die eredienste nie, maar ook in die persoonlike- en gesinsliturgie. Eerbied vir die Skrif moet ons permanente aandag hê. Die Here spreek so regstreeks tot ons as wat kan en so regstreeks as wat ons kan verdra. Laat ons dan regskuif daarvoor. Regskuif is nie dieselfde as ontspan nie! Wat dit betref kan ons nog iets leer van die Moslems, wat baie eerbiedig omgaan met die lees van die Koran. Of kyk na die ortodokse Jode wat met baie intensiteit die Thora lees, sodat hulle alles daaruit kan haal wat daarin sit.

Ons mag deur ons houding en deur middel van intense aandag as’t ware sê: “Spreek, Here, u kneg luister!”