Bron: Kompas, 2005. 2 bladsye.

Liturgie – Stimulerende Middels

Aan die begin van hierdie hoofstuk wil ek my verskoning aanbied aan ʼn jong belydeniskatkisant wat eendag aan my die vraag gevra het: “Hoekom kyk al die mense altyd so ernstig as hulle aan die Nagmaalstafel aangaan? Dit is mos ʼn feesmaaltyd?” Ek het nagedink oor hierdie vraag wat tog dikwels gevra word. Ek het ook met ʼn ouer kollega-ouderling daaroor gepraat en hy het geantwoord: “Onthou dat die Nagmaal twee kante het. Ons dink aan die verlossing wat ʼn duidelike rede tot vreugde is. Maar jy kan jou ook voorstel dat daar mense is wat dink aan hulle sondes, dat dit die redes was vir die lyding en sterwe van Christus. Dit is geen rede tot feesviering nie! Die viering van die Nagmaal is nie iets wat jy sommer gedagteloos doen nie. In die formulier lees ons: ‘Almal wat nie so gesind is nie, eet en drink ʼn oordeel oor hulleself.’ Ek dink daar is baie mense wat hulle daarvan bewus is en daarom kyk hulle ernstig.”

Tog is hierdie antwoord gedeeltelik verkeerd! In Handelinge 2:46 staan daar: “… van huis tot huis brood gebreek en hulle voedsel met blydskap geniet…” Hier word ʼn woord gebruik wat aandui dat hulle demonstratief bly was, soos wat die Israeliete op hulle groot feesdae bly was. Daar was nie plek vir droefheid nie! Demonstratief beteken nie dat hulle blydskap getoon het sonder dat hulle dit regtig gevoel het nie. Nee, hulle het die blydskap wat hulle gevoel het, gedemonstreer, dit gewys, omdat hulle nie anders kon nie. Die gelowiges het as’t ware oorgeloop van blydskap.

In die gebed aan die einde van een van die formuliere vir die viering van die Nagmaal lees ons dat dit hier gaan oor die “… heerlike gedagtenis aan die bittere dood van Christus.” Iemand wat aan die Nagmaal deelneem, mag, as hy aan die uitnodiging gehoor neem, “daarvan verseker wees dat geen sonde of swakheid … kan verhinder dat God ons in genade aanneem en waardig maak om deel te hê aan hierdie hemelse voedsel en drank nie.” Hierin lê rede tot groot blydskap!

By die sakrament van die doop is dit vir baie mense meer duidelik. Die doopouers en die gemeente sit ook nie met somber gesigte en toekyk nie. Tog hoor ons dadelik by die begin van die doop: “Daarom rus God se toorn op ons…” en “deur die doop word die onreinheid van ons siele aan ons voorgestel.” Daar is nie juis redes om jou vreugde te wys nie!

Baie mense het by die verskillende sakramente verskillende ervarings. Eintlik is dit merkwaardig, want albei sakramente is ingestel om ons geloof te versterk, om “… die belofte van die Evangelie beter te leer verstaan,” (Sondag 25). By die viering van die Nagmaal is daar dus rede tot vreugde. En tog … die oordenking van jou sondes by die selfbeproewing is nie iets wat ʼn mens vroliker maak nie. Dit is verstaanbaar dat mense – ʼn paar dae of ʼn week later – nog daarvan onder die indruk is. Jy hoor dan ook soms dat mense, soms selfs met enige verligting in hulle stem, sê: “Ons het weer ʼn goeie Nagmaal gevier.”

Daar is nog ʼn ander rede hoekom ek so baie aandag hieraan bestee. In gesprekke met (veral jonger) mense wat steeds minder in die kerk kom, het dit soms na vore gekom dat hulle geïrriteerd raak met die (ouer) broeders en susters wat so somber aan die Nagmaalstafel sit. “al die somberheid in die kerk, al die lang gesigte,” merk hulle dan met afsku op, “daar voel ek nie tuis nie.”

Ek dink nie dat ons ʼn beperking moet lê aan die blydskap by die Nagmaalstafel nie. Ons mag ook beslis nie op grond daarvan gevolgtrekkings maak oor die geloof van ʼn broeder of suster nie. Die liturgie van die Nagmaal gee verseker rede tot groot vreugde en verwondering, maar tegelykertyd gaan dit ook oor die “bittere” dood van ons Heiland.

In sommige kerke word die deel van die Nagmaalsformulier wat oor die selfbeproewing gegaan, nie op die Nagmaals-Sondag self gelees nie, maar die week daarvoor op die “voorbereiding vir die Heilige Nagmaal.” Dit kan ʼn goeie ding wees. Ongelukkig is dit dikwels so dat baie mense pas op die laaste oomblik besef dat die Nagmaal daardie Sondag gevier word. Dan is daar nog min tyd oor om weloorwoë selfbeproewing te doen. Wanneer die broeders en susters reeds ʼn week vantevore opgeroep is om hulleself te beproef, dan staan die hele week in die skaduwee van die verwagting van die verkondiging van die verlossing. Dit het twee gevolge: aan die een kant bring die selfbeproewing van die afgelope week die lidmate tot ʼn ingetoë en bewuste viering. Aan die ander kant mag die selfbeproewing nie tot somberheid lei nie, maar juis tot ʼn groter verwondering oor die genade wat die Here “demonstreer” in die breking van die brood en die uitgiet van die wyn.

Terloops: het u al ʼn slag die formuliere vir die Nagmaal en die doop vir u self gelees? Ja, natuurlik, dit is al talle kere voorgelees, maar het u dit al sélf gelees? Lank terug het iemand my aangeraai om dit rustig te doen en dit tot my te laat deurdring. Dit was beslis die moeite werd. Ons het ʼn pragtige stuk geloofsleer in hierdie formuliere. Met die oortuiging dat u daarvan ryker sal word, gee ek hierdie raad ook aan u deur.

Kom ons gaan weer terug na die doel – ʼn pragtige liturgiese doel! – van die sakramente: om ons geloof te versterk. Ons laat die kind doop, nie om hom in die middelpunt van die belangstelling te plaas nie, maar om die geloof van elke betrokkene, die doopouers, die dopende dominee, die kykende en luisterende gemeentelede, te versterk! Die vraag is nou of hierdie sakramentsliturgie – die lees van die formulier, die indringende vrae, die “ja” en die luister na alles, die besprinkeling met die water, die noem van die naam van daardie klein mensie in een sin met dié van God die Vader, Seun en Heilige Gees, die gesamentlike bid en sing en dank – of dit alles wel altyd sy doel bereik. Laat ons altyd ons geloof versterk? Stel ons onsself daarvoor oop? By die viering van die Nagmaal is dit makliker om hierdie vraag te beantwoord. Daar is altyd ʼn duidelike moment van stilte om te oordink waarmee ons besig is.

Versterk. Dit beteken om iets sterker te maak as wat dit was. Dit is ʼn aspek wat soms meer aandag kan kry in die dae na die doopbediening en na die viering van die Nagmaal. Ons kry ʼn hartversterking van die Here. Daarmee kan ons feitlik op ʼn beter vlak gaan lewe as voorheen. Natuurlik, die weeklikse woordbediening doen dit ook. Ek het dit in een van die vorige hoofstukke al genoem: “Daar mag nie ʼn preek ontvang word sonder dat u ʼn stukkie meer kan sien van die hemel nie,” het ek daar geskryf. Hierdie uitsig word nou uitgebeeld in die voorbeeld van die doop en die Nagmaal. U kry nie net woorde nie, maar ook (voor)beelde: so het Christus sy liggaam laat breek en so is sy bloed vergiet. So was Christus se bloed die sondes af. En deur hierdie weg, deur die offer, deur die afwassing mag ons hemelbewoners word. Eintlik is dit ongelooflik!

Daarna kom die dae ná die hartversterking. Ons het weer ʼn stimulant om antwoord te gee op die pragtige boodskap, op die Evangelie wat ons “voor oë gestel is”. Op die gewone Maandae en Woensdae wat volg, moet ons ons na ʼn hoër vlak laat lei. Elke keer weer ʼn treetjie hoër en ʼn stappie verder. Want dit werk ook andersom. Ons gaan aan die Nagmaalstafel, nadat ons onsself beproef het en “van voorneme is om van nou af met my hele lewe uit ware dankbaarheid God te dien…” en “… voortaan in liefde en vrede met my naaste te lewe.” In die week wat volg blyk dikwels dat ons maar weer dieselfde foute maak. Maar dan mag ons terugdink aan die afgelope Sondag: ons het gesien hoe Christus sy offer gebring het, dus kan ook die sonde wat ek vanmôre of gister gedoen het, nie verhinder dat God ons in genade aanneem nie. As ons daaraan dink, dan kan ons mos verder gaan?

Verstaan u die rykdom van die liturgie van die doopbediening en die Nagmaalsviering? ʼn Kort definisie van liturgie is: “Die manier waarop daar vorm gegee word aan die ontmoeting tussen God en sy gemeente.” Hierdie liturgie word realiteit by die doop en die Nagmaal. Dit is pragtige (voorbeelds)vorme. Brood en wyn: daaglikse kos en drank. Doopwater: gewone kraanwater. In die daaglikse lewe is dit middels om verder te lewe, te werk, te praat en te dink. In die verhouding van God met sy volk is dit stimulerende middels om verder te kan gaan in en na Gods koninkryk.