Bron: De Reformatie. 3 bladsye.

Liturgie is Diens

Wanneer 'n burger van Griekeland die woord 'liturgie' (leitourgia) gehoor het, het hy aan 'diens' gedink. Nie – soos ons – aan erediens nie, maar aan die diens wat ons bedoel wanneer ons sê: Jan word vir militêre 'diens' opgeroep. Dit wil sê 'n diens aan die land, die republiek, aan die volk.

'Liturgie' beteken van huis uit 'openbare diensverskaffing'. Daaruit kan ons terselfdertyd verklaar waarom 'n Griek by die hoor van dié woord gewoonlik dieselfde gewaarwording gekry het as met die woord 'fiscus'. Want ook die betaal van belasting het as die verrigting van 'liturgie' gegeld.

As mens die oorgang van hierdie betekenisse ('diens' en 'fiscus') na die 'plegtighede' van die erediens wil begryp, moet ons let op die Griekse vertaling van die Ou Testament, die sogenaamde Septuaginta. Dáár was die woord liturgie die aanduiding van die openbare diens van die priester by die tabernakel en die tempel. Die politieke betekenis het vervaag en voortaan het dit gegaan oor diensverrigting ten bate van die hele volk, wat deur die wet gereël en met  bepaalde plegtigheid verrig is.

Ons vind die Ou Testamentiese betekenis ook in die Nuwe Testament, byvoorbeeld in Hebreërs 9:21 en 10:11, en daaruit kan ons ook begryp dat ons enigste Hoëpriester, Jesus Christus, in Hebreërs 8:2 en 6 ons liturg genoem word. Dit is Hy wat 'n voortrefliker liturgie ontvang het.

Die ware liturgie vind dus nou in die hemel plaas; dit is saam met Christus na die hemel verplaas toe die diens-op-aarde voltooi is.1 Dit moet ons by ons nadenke oor die liturgie-op-aarde nooit vergeet nie. Sodra ons hierdie fundamentele feit nie meer voluit verreken nie, draai ons terug op die pad, dit is: die pad na Rome. In die Roomse liturgie word Christus en die offer van versoening na die aarde afgetrek.

Maar Christus verrig vir ons die priesterliturgie in die hemel. Ons aardse liturgie is die vrug van sy offer, voorbede en priesterlike versoeningsdiens.

Wanneer ons dus kerk toe gaan, gaan ons na die diens toe (vgl. Handelinge 13:2). Dit is nie maklik om hierdie, nogal algemene, woord nader te beskryf nie. Ons praat dikwels van 'erediens', maar tog kan hierdie woord, hoe mooi ook al, nie die hele gebeure omvat nie. Dieselfde geld van 'Woorddiens' of 'godsdiensoefening'. In ons woord 'diens' kom verskillende woorde uit die Bybel byeen  2 en wanneer ons na die betekenis daarvan vra, kry die algemene woord 'diens' tog vir ons 'n steeds ryker klank.

So dikwels as wat ons in die kerk saamkom, word daar aan ons diens verrig. Christus bedien aan ons (deur sy Heilige Gees) die versoening wat in die bediening van die Woord en sakramente na ons kom en waarin ons die geregtigheid en die lewe ontvang (vgl. byvoorbeeld 2 Korintiërs 3:6, 8, 9; Efesiërs 3:7; Kolossense 1:25). Dikwels noem ons die hele diens volgens hierdie sentrale saak, waarbuite die kerk nie kan lewe nie.

Terselfdertyd word in die kerk deur ons diens verrig. Dit is die diens van gebede, van die offers en van lofprysing. Ook word daar aan mekaar diens verrig. Ons beoefen gemeenskap met mekaar, neem mekaar saam in gebed, luister, sang en offer. By die viering van die heilige nagmaal kom dit alles in gekonsentreerde vorm tot uiting, maar ook sonder die sakramentele viering is elke kerkdiens wesentlik 'n samestelling van al hierdie dienste.

Dit kom alles neer op één groot saak: ons handel in die kerk as volk van die verbond. Ons ontmoet die Here en ons ontmoet mekaar. Die Here kom tot ons en ons kom tot Hom. Wanneer Hy praat, luister ons en Hy luister wanneer ons praat. Hy maak ons vry en versier ons met Christus se geregtigheid; ons 'maak' Hom 'groot' (vgl. die Magnificat van Maria, Lukas 1:46 en, byvoorbeeld, ook Deuteronomium 32:3) deur sy Naam aan te roep en sy deugde te verkondig.

Terselfdertyd sien ons mekaar en aanvaar ons mekaar telkens opnuut as broeders en susters 'in Christus. So is elke kerkdiens 'n fees van verbondsvernuwing. God wil sy volk graag byeen sien en ons behoort die Here en mekaar op die plek van die verkondiging van die genade te ontmoet. Dit is alles saam die hartklop van die Christelike lewe en die voorsmaak van die ewige lewe. Dit alles noem ons nou diens, en die 'liturgie' gee vorm, kleur en styl daaraan. So uniek as wat die verbond van God is, so uniek is hierdie liturgie op aarde. Dit is liturgie onder die oop hemel.

Mens kan hier tereg die opmerking maak dat die woord 'dien' in die Bybel tog 'n wyer begrip beskryf as ons woord liturgie. By liturgie dink ons aan die samekoms van die gemeente op Sondag, terwyl die diens, die dien van God, immers ons hele lewe omvat. 'Diens' laat hom nie in Sondag opsluit nie, maar lê beslag op al sewe dae van elke week.

Hierdie opmerking is nuttig en gee aan ons die geleentheid om verder na te dink oor die verhouding tussen liturgie en diens, tussen Sondag en werkdag. Hoe breed spreek die Bybel immers oor ons diens van die Here in die geheel van ons lewe! Baie tekste sou hier genoem kan word, maar ons volstaan by 'n paar kenmerkende Skrifgedeeltes.

Die apostel Paulus vermaan ons op 'n sentrale punt in sy brief aan die Romeine dat ons ons hele bestaan en funksionering in hierdie wêreld (ons “liggame”) moet stel  "as ʼn lewende, heilige en aan God welgevallige offer - dit is julle redelike godsdiens" (Romeine 12:1). Ons hoor hier die klanke van die tempeldiens maar die woorde maak hulle as't ware los uit die tempel en die voorhof en lê beslag op ons hele lewenspraktyk. Soortgelyke opmerkings kan gemaak word na aanleiding van, byvoorbeeld, Lukas 1:74; Filippense 3:3; Hebreërs 9:14; 12:28 en 1 Petrus 2:5, 9. Wat gebeur in werklikheid hier?

Die ou tempelwoorde kom langs die openbare pad na ons huise en werkplekke en lê beslag op ons lewe dáár. Ons hele lewe moet die vorm, styl en kleur van erediens voor God vertoon. Die verering van God op die eerste dag van die week laat hom nie in die kerkgebou toesluit of begrens tot een dag nie, maar wil uitstraal buite die mure van die gebou en oor die grense van die een dag. Beide 'Sondag en feesdae' en werkdae lê in die Christelike 'diensreëls' baie na aan mekaar. In (sommige Europese) spoorweggidse word Sondag en feesdae met 'n kruis en werkdae met twee hamers aangedui, maar in die Christelike lewe het kruis en hamer soveel met mekaar te make dat ons die twee weliswaar nie vereenselwig nie, maar tog baie na aan mekaar skuif. Ook die dae waarop ons ons werktuie hanteer, is diensdae, en Christus se kruisweg het vir ons die weg ook na dié diens gebaan. Hierdie insig het vele konsekwensies. Ons wys op twee aspekte:

  1. Deur hierdie verbinding van ons 'erediens' met ons 'lewensdiens', bevry die Bybel ons van die starre kultus wat kenmerkend is van die heidendom (en die latere Jodedom). In die begrip van hierdie kultusgangers is die lewe in twee geskeie terreine verdeel: die profane en die kultiese. Die daaglikse lewe is die 'gewone' lewe in die laagland van ons 'alledaagsheid'. Die kultus is op 'heilige' grond. Dáár is die godheid, dáár is die heilige terme en tye, handelinge en gebare. 3

    Van 'n lewe van verbondsomgang is daar by hierdie kultus geen sprake nie. Die kultus van die heidene is star en stereotiep. Daar word 'n paar dwangmatige handelinge verrig volgens 'n tradisionele ritueel en daar word geglo dat die verrigting van die handelinge ooreenkomstig die ritueel as sodanig in staat is om die godheid gunstig te stem en te bevredig. Wanneer die kultiese plig uitgevoer is, gaan die 'profane' lewe weer sy ou gang.

    Die Christelike erediens kom in verset teen hierdie verwoestende tweedeling van die lewe. Ons kom nie kerk toe om 'n bietjie van die samelewing te ontvlug in 'n toevlugsoord van stigtelikheid en religieuse toertjies nie; ewemin kom ons om die paaiement van ons lewensversekering te betaal.

    Die gevaar van sodanige kultusbelewing bedreig ons egter voortdurend as ons van  kerkgang 'n verposing maak in ons spanning, om ons daarna weer in die alledaagse drukte te begewe waarin ons aan ons lewe die styl laat opdring van die wêreld wat ons omring.
    Die Sondagse kerkgang wil ons die totale diens voor God laat verstaan. Die styl wat ons dáár leer, moet ons lewe van elke dag tipeer sodat ons hele lewensinrigting vir God 'n aangename offer mag wees. Slegs dán sal ons 'liturgie' nie verval tot die vlak van kragtelose stigtelikheid nie.

  2. Leer ons nou op hierdie wyse die noue verband tussen ons diens op Sondag en tydens die werksdae, dan word daarmee nie gesê dat ons eintlik sonder die Sondagse liturgie kan klaarkom nie. Ons moet ons nie alleen teen starre ritualisme nie, maar ook teen fanatiese spiritualisme, in sowel sy ou as nuwe vorme, verset.

    Ons hele lewe is inderdaad 'n erediens voor God. So het die Here dit bedoel en daarvoor laat Hy sy Gees in die midde van die gemeente woon. Dit beteken egter nie dat die aparte Sondagse liturgie vir 'geestelike' mense kan verval, omdat 'elke dag Sondag is' en dit tog maar gaan oor die 'daad' en oor 'glo op Maandag' nie. Dít is 'n spiritualistiese verdamping van die liturgie, wat die ondergang van die Christelike lewe beteken. Want alle dae word wel deur die Sondag bepaal, maar het nie daarom almal Sondae geword nie.

    Die samekoms van die gemeente is volgens die Woord onontbeerlik vir die gemeente, dermate so dat ons nie wyser as God moet wees nie. Die samekomste is nie onmisbaar omdat daar heilige en nie-heilige plekke en tye en gebare is nie. Dit is essensieel vanweë die verbond van God: God en sy volk wil mekaar ontmoet op vaste tye en binne die kader van 'n bepaalde liturgiese vorm. God het nie 'n getal hooggeestelik bedrywige individue op aarde nie, maar Hy het 'n volk, wat hom in sy samekomste telkens opnuut konstitueer en wat sonder dié ontmoetings die prooi word van ontbinding. Wanneer die volk saamkom, straal die krag van die ontmoeting uit na die daaglikse lewe, na die gewone werk en na die gewone dae. God het nie 'n volk wat in 'n godlose wêreld lewe en een keer per week na 'n heiligdom as die enigste plek waar God aanwesig is, vlug nie. God het 'n volk wat Hom voortdurend ontmoet en wat weet dat hy hierdie God – die God van die verbond – ook op alle ander plekke op aarde mag aanbid.

    Want Jesus is Here – so bely die kerk opnuut elke Sondag. En met dié triomfantelike en kragtige woord gaan die kinders van God elke dag tegemoet, en dit gee hulle die krag en die moed tot heiliging van die lewe. Só het die Kategismus die sabbatsgebod reeds eeuelank vir die gemeente uitgelê.

    Hy wat dink dat hy elke dag verjaar sal sy verjaardag nooit vier nie. Maar wie die dag een maal per jaar werklik vier, sal elke môre opnuut dankbaar wees vir die lewe wat God gee. Asof vanself word die liturgie vir ons 'n viering – die viering van die heil in die genadeverbond. Die ware (= van harte) viering van dié fees sal ons die styl leer vir die vorm van ons lewe van elke dag.

Endnotes🔗

  1. ^ As ons die oorspronklike betekenis van die woord voor oë hou, word dit ook duidelik waarom die apostel die diens van Epafroditus namens die hele gemeente van Filippi 'n liturgie noem. Sien Filippense 2:25, 30, vgl. ook Romeine 15:27 en 2 Korintiërs 9:12. 
  2. ^ Leitourgia, diakonia en latreia. 
  3. ^ Die woord fanum beteken heiligdom, tempel; die woord pro-fanum dui dan op dit wat voor (nog nie op) die terrein van die tempel lê.