Bron: Die Kerkblad, 1985. 1 bladsye.

Lomp en Plomp

Niemand is onafhanklik nie. Elke mens is afhanklik van ander mense. Dink net 'n slag hoe afhanklik is ons elke dag van ander mense — hulle wat die strate netjies en skoon hou; die bakker wat die brood bak; die tegnici by die waterwerke wat toesien dat ons skoon water in ons krane het en selfs ook die verkeerskonstabel wat vir ons die verkeer reël.

Ons is daagliks met baie mense in aanraking en tog is ons verhouding tot ons naaste vir ons so dikwels 'n probleem. Ja, dit is opvallend hoe lomp en plomp ons soms teenoor ons medemens kan optree. En dan hoor jy die klagte: "Ek kan my soms so gou vervies en dan is ek later spyt daaroor. Ek is so selfsugtig dat ek mense meer wegstoot as wat ek hulle nader trek". Een ding is egter seker en dit is dat jy jou vanweë jou lompheid in jou menseverhoudinge nie van jou medemense moet onttrek nie, want God het die mens onder andere tot 'n saamwees met ander geskape. 'n Gelowige mag nie skanse om hom bou nie, want die mens word uit ander tot ander gebore. God het jou geskape om te gee, om te dien en om betrokke te raak, want die ware self vind in die weggee sy hoogste en mooiste uiting — 'n weggee van liefde teenoor ons naaste.

Die sonde het hierdie verhouding van mens tot mede­mens ontwrig, maar deur sy versoeningswerk het Christus ook hierdie verhouding herstel. In Christus sien ons die mens wat ons nie is nie, maar wat ons moet wees soos God die mens bedoel het. Jesus was volkome op sy Vader gerig, maar Hy was ook volkome op die mens gerig. Hy self sê:

Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie. Markus 10:45

Die kruis is die groot bewys van Jesus se oorgawe aan God, maar ook van sy liefde vir die mens. Jesus het weggegee sodat ons lewe en oorvloed kan hê. Liefde wil uit en daarom moet die Christen wat deur die geloof in die volheid van Christus deel, ook teenoor die naaste met liefde oopmaak.

Daar is heelwat boeke op die mark wat daarop roem dat dit jou 'n nuwe mens sal maak wat menseverhou­dinge reg sal kan hanteer. Die bepaalde nut van hierdie dinge word nie ontken nie, maar dit bly net 'n vernis­lagie indien jou menseverhoudinge nie vanuit 'n hart vol liefde opkom nie. Die kernpunt van alle mensever­houdinge moet wees dat die liefde van God in ons harte deur die Heilige Gees uitgestort moet word. Want dit is alleen deur die dryfkrag van die liefde dat jy in vrede met jou medemens kan lewe en dat jy jou naaste hoër sal ag as jouself.