Bron: Die Kerkblad, 1986. 2 bladsye.

Los die geweld

Geweld by politieke vergaderings het in die jongste tyd weer voorgekom. Hierdie weer is belangrik. Daarmee word gesê dat dit voorheen reeds gebeur het. Maar dit is nou nie 'n "tradisie" wat noodwendig voortgesit hoef te word nie. Immers, 'n fout of oortreding in die verlede hoef regtig nie herhaal te word nie. Bowendien is die hele klimaat in Suid-Afrika so dat beoefening of propa­gering van geweld werklik min moet wees.

Ons moet in ons Christelike verantwoording oor ge­weld met die volgende gegewens rekening hou.

Die Ou-Testamentiese bedeling vermeng kerk en volk. Daarom kan opdragte tot oorlog en uitroeiing nie na die nuwe bedeling deurgaan nie. Dink ook daaraan dat die Here nie vir Dawid toelaat om die tempel te bou nie omdat hy 'n man van geweld en oorlog was. Daarby sien ons ook dat die Here soms mense (Jehu) of nasies (Assiriërs) aangesê het om — as uitoefening van oor­deel van God — veldtogte van geweld (teen Agab, teen ontroue Israel) uit te voer. Wanneer hulle daarby egter te ver gaan en in die oordeelsvoltrekking hulle luste botvier, dan kom hulle self daarvoor onder die oordeel van die Here. Opvallend is die uitspraak van Johannes die Doper — op die grens van die Ou en Nuwe Testa­mente — aan soldate wat raad vra oor wat hulle moet doen. Hy sê:

Moet van niemand met geweld of valse aanklag geld afpers nie…Lukas 3.

Kom ons by die Here Jesus self, dan is eerstens merkwaardig hoe Hy die slagoffer van geweld in sy lewe is. Daar is die moordpoging op Hom as jong kindjie in Betlehem toe Herodes, 'n verskriklike geweldenaar, deur sy soldate daar toegeslaan het. Ook wou die mense van Nasaret met geweld van Jesus ontslae raak (Lukas 4) nadat Hy Homself voor hulle as die Verlosser bekend gestel het — en Hy hulle in bepaalde opsigte skerp aangespreek het. (Die ander Evangelies meld van die ongeloof van die Nasareners in Hom.) Dan moet ons let op die volksrumoer teen Stefanus. Nadat hy die verlos­sing in Jesus Christus verkondig het, het hulle met die kort proses van steniging hom uitgeskakel. Dit gebeur, hoewel die Jode nie die bevoegdheid gehad het om die doodsvonnis uit te spreek of te voltrek nie. Die jong man Saulus was ten nouste hierby betrokke en later skryf dieselfde Paulus — wat baie onder geweld moes ly, selfs van die kant van owerhede — dat mense hulle moet onderwerp aan die owerhede (wat ook die reg en plig het om te straf).

Die dood van die Here Jesus aan die kruis het gekom na regsprosesse en 'n vonnis deur die goewerneur. In daardie opsig was dit dus anders as met Stefanus. Tog sê die Skrif dat 'n groot volksrumoer en byna afpersing van Pilatus dit voorafgegaan het — en hy was eintlik oortuig van Jesus se onskuld. (Dit lê dalk ook bloot dat die Romeinse kriminele reg nie so goed en ontwikkel was as die welbekende siviele reg nie.)

Dit wat aan hierdie regsproses voorafgegaan het, is só belangrik. Daar het algaande 'n botsing tussen die Joodse owerhede en Jesus ontstaan — waarby Hy hulle in woord en optrede teengegaan het, maar sonder geweld. Jesus het dit gedoen in gehoorsaamheid aan God en sy openbaring (of Wet), soos by die tempel­reiniging waarby Hy 'n beroep op die Ou Testament doen. Na sy opstanding word hierdie teenstelling deur die apostels voortgesit — die Jode het gereken die geval van Jesus van Nasaret is afgehandel, maar dan gebeur daar wonders in sy Naam. Eindelik word die apostels beveel om die verkondiging te staak. Maar hulle Gehoorsaamheid aan God is die hoogste eis. 'n Beroep op hierdie uitspraak om vandag geweld teen die ower­heid te regverdig, gaan nie op nie. Die apostels weer­staan slegs 'n bevel om nie die Evangelie te bring nie, maar is steeds saam met die Joodse leiers onder die gesag van die Romeinse owerheid.

Dit moet duidelik raakgesien word dat die Joodse leiers nie in finale sin oor God bekommerd was nie. Dit het hulle oor hulle eie posisie en eer gegaan. Dit blyk allerduideliks nadat Christus vir Lasarus uit die dood opgewek het. Duidelik sê Kajafas daarby dat geweld teen Jesus nodig is (Hy moet dood). Dit moet gebeur sodat die Romeine nie Israel as nasie tot niet maak en die hele nasie verlore gaan nie. Voorkeur vir die nasie — of 'n nasionalistiese motief — lê dus ook in die soeke van Jesus se dood.

In twee gevalle het die Here Jesus self verder nog die gebruik van geweld vir doeleindes van die koninkryk van God afgewys. Die manne van Boanarges (donder) wou soos Elia die geweld van hemel vuur op Samaritane laat afkom — maar Jesus het hulle skerp tereggewys. En aan Petrus het by beveel om sy swaard terug te trek.

'n Christen is altyd betrokke by die koninkryk van God. Daarom pas 'n aksie tot versoening eerder as 'n daad van geweld. Daarby is dit nog dikwels so dat die man wat eerste oorgaan om te slaan of geweld te pleeg, se argumente op is. Let maar op dat die Nagmaalsfor­mulier toegang tot die tafel ontsê aan die wat oproer in die kerk en staat wil veroorsaak en ook aan rusie­makers!