2 bladsye.

Lukas 1:3-4 - Die Evangelie is Goeie Medisyne en die Getroue Geskiedenis vir Vandag se Theofilusse!

Ons het in die vorige uitgawe gefokus op die skrywer van die boek Lukas. Dit was toe duidelik dat Lukas net soos ons, self die woord van ander moes glo uit die mond van ander. Hy moes toe self ook seker maak van die feite. Ons het gesien dat dr Lukas, getrou aan sy beroep, die nodige studie gaan maak het. So oortuig was hy dat hy bereid is om sy geestelike genesing op voorskrif te plaas vir ’n bekende en geëerde Griekse vriend! Die geneesheer is self genees deur die Evangelie. Ons kan maar vandag net so seker wees dat die Evangelie van Christus op vaste gronde staan. Kom ons kyk na Lukas 1:3 en 4.

Theófilus beteken “Godgeliefde”, “een wat die gode liefhet” of “geliefde van God”. In Lukas 1:3 gee Lukas aan ons die rede vir sy boek. Hy het dit goedgedink om aan ’n sekere “Theófilus” in volgorde te skrywe. Ons weet nie wie die persoon was nie, maar weet dat hy wel ’n fisiese persoon was. Lukas sal nie ’n fiktiewe persoon as “hooggeagte” aanspreek nie. Normaalweg het die Christene nie na medebroeders in so ’n formele trant, soos hier in Luk. 1:3 verwys nie (Matt. 23:8 ev). Daar kom egter ’n verandering. Wanneer Lukas in Handelinge weer aan dieselfde man skryf, noem hy hom net Theófilus. Ons lei af dat Theófilus dus iemand was wat ’n hoë posisie beklee het, maar later self, by die tyd van Lukas se tweede boek aan hom, tot geloof gekom het. Hy was heel moontlik ook ’n Griek soos Lukas self (let op sy naam). Lukas vertel nou aan Theófilus nog meer van sy eie boek wat hy aan’t skrywe is. Hy het van voor af, d.w.s. van die begin af alles noukeurig ondersoek. Dit kan ook wees “ek het alles nagevors, nagespeur en seker gaan maak alles is reg”. Onthou dat Lukas ’n dokter is. Hy is ’n geleerde en noukeurige man, soos sy beroep van hom vereis. Hy gee daarom ook alles in volgorde deur aan sy leser.

Die hoofdoel (1:4) is dat sy leser met volle sekerheid kan weet die dinge waaromtrent hy onderrig is. Dit is ook die doel van die hele Bybel vir elke geliefde Theófilus wat vandag lees, … vir u ook. God skrywe deur sy diensknegte aan sy kinders sodat hulle kan weet (1 Joh. 5:12-13) dat alles waar is waaroor hulle onderrig ontvang. Maar God se Gees werk nie net in die skrywers nie. Die Heilige Gees bring die volle sekerheid deur die Woord van God ook aan ons, die lesers, die Theófilusse, die geliefdes van God, van nou. ’n Mens kan “volle sekerheid’ ook vertaal met “son-der enige twyfel”. Die Evangelie van Christus is vir Lukas histories waar en betroubaar. Die Christen hoef nie te twyfel aan die Evangelie nie, al doen die Satan en die hedendaagse mens en selfs teoloë hulle bes om die rekords van die Bybel te bevraagteken. In Lukas se tyd was daar ook die twyfelsaaiers, maar die Christene het hulle nie van stryk laat bring nie. Lukas vertel dat die Christene, en nou Theófilus ook!, in die evangelie onderrig is. Dié woord word vandag gebruik vir “Sondagskool” of “kategese”. Dit is nodig dat ons moet leer van die Bybel net soos wat ons moet leer van enige ander ding op aarde. Die kerk is vandag in die toestand waarin hy is, omdat Chris-tenmense nie meer weet wat in die Bybel staan nie (Hos. 4:6), of omdat party mos reken ’n Chris-ten hoef nie “geleerd” te wees nie. Petrus en Paulus waarsku teen die fout! (2 Pet. 3:16; Heb. 5:12; 1 Tim. 1:7). Die Christen word gelei deur die Heilige Gees en die Bybel is vir die gemeente geskryf en heeltemal verstaanbaar, maar die gemeente moet tog ook geskool word in die Woord van God (Neh. 8:9; Mal. 2:7)

Maar mense kan en mag steeds wil vra: is dit net Lukas en die Nuwe Testament wat ons vertel van die historiese lewe en sterwe van Jesus of ken die ongelowige wêreld van hulle tyd ook die feite wat ons hier aantref? Hierop kan ons antwoord dat daar meer historiese bewyse vir die lewe en sterwe van Jesus is as vir die lewe van Julius Caesar self. Ons noem kortliks die volgende buite-Bybelse getuienis. Argeologies is daar die bekende Pilatus-inskripsie wat onlangs (1961) ontdek is. Dit bevestig, net soos Lukas sê (Luk. 3:1 ev) dat Pilatus die goewerneur van Juda was in die tyd toe Tiberius keiser was. Daar is ook heidense geskiedskrywers soos Tacitus (60-120 n.C.), Plinius die Jongere (62-113 n.C.) en Seutonius (95-160 n.C.) wat almal op een of ander wyse bevestig dat wat in die Nuwe Testament staan nie uit die duim gesuig is nie. Hierdie manne het geen belange gehad by die Christelike geloof nie en tog konstateer hulle dieselfde feite uit dieselfde tyd. Dan is daar ook begrondings uit werke van die Joodse geskiedskrywer Josefus. Hy het in Jesus se tyd geleef. Eerstens verwys hy na Jakobus se dood (Hand 12:2). Josefus beskryf Jakobus as “Jesus, wat Christus genoem word, se broer”

(Ant. 20:200). Tweedens is daar sy werk “Testimonium Flavianum” (Ant. 18:63-64) waarin hy sê: “In die tyd het Jesus opgetree, ’n wyse man, as mens Hom so mag noem. Hy was naamlik Iemand wat wonders gedoen het, ’n Leraar vir mense wat gretig was om die waarheid te hoor. Hy het vele Jode, maar ook vele uit die Griekse volk byeengebring. Hy was Christus. Pilatus het Hom op aandrang van die vooraanstaandes onder ons (die Jode) veroordeel tot die kruis, maar hulle wat Hom liefgehad het, het nie daarmee opgehou nie. Hy verskyn naamlik aan hulle op die derde dag weer lewend (die Goddelike profete het dit en vele duisend ander wonderlike dinge voor Hom gespreek). Die na Hom vernoemde stam van Christene is nog steeds daar”. Josefus was geen Christen nie, en tog pas sy weergawe die van Lukas soos ’n handskoen! Behalwe die getuienisse is daar ook nog rekords van Christelike geskiedskrywers soos Julius Africanus, Thallus, Justinus die Martelaar en Tertullianus wat saam met die Christelike Apokriewe aansluit by die gebeure waarvan Lukas ons vertel. Daarop kan u self maar ingaan.

Ons sluit saam met dr Lukas af as hy in dieselfde boek, in hoofstuk 18:8, vra: “… as die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?” Die onbetroubaarheid lê klaarblyklik nie in die Evangelie nie, maar in die harte van die ongelowige mense wat dit nie meer wil glo nie. Is daar nog ’n Theófilus wat hier lees? Gegroet … godgeliefde!