Bron: Vox Viva. 3 bladsye.

Luther en die Ekonomie

Hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde. Dit is ʼn bekende gesegde wat baie waar is van die mensdom se sig op die omgaan met aardse besittings. Wat ook al verander het in die funksionering van die ekonomie van ʼn land, is daar al hoe meer faktore wat tog maar dieselfde bly. Die kerkhervormer, Martin Luther, het geen geringe invloed gehad op die ontwikkeling van visie op die ekonomie nie. In menigte opsig bly soveel van sy waardevolle insigte net so relevant en aktueel vir vandag.

Aalmoese en Armoede🔗

Gedurende Luther se hele lewe, het hy ʼn stryd aangegaan teen wat hy gesien het as die twee gesigte van Mammon. Aan die een kant was daar ʼn asketiese wegvlug van geld waarin armoede as ʼn deug verheerlik is. Andersyds het hy in konfrontasie gekom met ʼn onbeskryflike gierige versamel van aardse rykdom ten koste van die gelowige lewe met die Here, die ontwikkeling van die samelewing en die oorlewing van die naaste.

Luther se basis vir die stryd wat hy aangegaan het vir die twee vorme van “Mammonisme”, was die wonderlike ontdekking dat ʼn persoon se waarde nie bepaal word deur wat iemand besit of nie besit nie, maar eerder deur God se beloftes in Christus. Rykdom en geld is nie heer van ons lewe nie, maar ʼn genadegawe van God waardeur my naaste gedien kan word en waarmee ʼn mens diensbaar kan wees aan die opbou van die gemeenskap. Binne die Middeleeuse konteks van aalmoese, armoede en barmhartigheid, het Luther se verstaan van regverdiging deur geloof alleen, ’n aardverskuiwing gebring in mense se waardering van en sig op armoede.

Aangesien verlossing eerder die basis as die doel van ons lewe is, en aangesien verlossing eerder ʼn genadegeskenk is wat ontvang word en nie verwerf word nie, is nie armoede of die uitdeel van aalmoese meer gesien as ʼn verdienste voor God nie.

Armoede is nie meer gesien as ʼn besondere vorm van seën deur die Here nie. Dit was ʼn donker kol in die samelewing wat vanuit die ekonomiese samelewing aangespreek moes word. Geloof wat deur die liefde werksaam word, begeer en soek óók die ekonomiese voordeel van my naaste!

Luther as “Ekonoom”🔗

As iemand wat erns wou maak met die onderrig van die Woord van God en hierdie Woord self uitgelê en toegepas het op sy wêreld, het hy ook te doen gehad met verskeie sosiale en ekonomiese probleme. Hy het homself as kampvegter opgestel vir die stryd teen onreg. Óók in die ekonomie. Die aanspreek van die lewensomstandighede van mense het hom aan die hart gegaan.

Hy het nie ʼn blinde oog gedraai na sosiale wantoestande onder die skyn van geloof in die naderende einde van die wêreld nie. Selfs al sou Christus môre kom, is vandag ʼn uitstekende geleentheid vir die plant van ʼn boom! Luther se ekonomiese etiek is vir ons in menigte opsig van groot waarde. Tegelyk moet ons besef dat Luther se uitsprake oor die ekonomiese aspekte van die lewe, net soos die res van sy teologie, altyd ʼn pastorale fokus het. Hy was nie besig as politieke ekonoom nie, maar as pastor van die gemeente.

In sy uitleg van die Skrif oor ekonomiese aspekte, interpreteer hy dit altyd as ʼn ontmoeting met God sélf in die eerste plek. Ons ontmoet God nêrens in sy hemelse majesteit nie, maar altyd gekleed in sy Woord en beloftes vir ons. Daarom kan hy soos volg skryf oor die ontmoeting met God op ekonomiese terrein: God sê: “Ek kies om nie na jou te kom in My heerlikheid en in die teenwoordigheid van engele nie, maar in die vermomming van ʼn eenvoudige bedelaar wat vra vir brood.” Jy mag vra: “Hoe weet jy dit?” Christus antwoord: “Ek het aan jou in my Woord geopenbaar watter gedaante Ek sal aanneem en aan wie jy moet gee. Jy vaar nie op na die hemel, waar Ek aan die regterhand van my hemelse Vader is, om aan My iets te gee nie. Ek kom met vlees en bloed tot voor jou deur met die appel: “Gee My iets om te drink! … Ek het nie behoefte aan voedsel in die hemel nie. Ek het al die pad van Judea gekom. Gee My iets om te drink. Ek het dit bekend gemaak aan die hele wêreld dat wát ook al gedoen is aan die geringste van hierdie broeders van my, aan My gedoen is. Luther, die ekonoom, verkondig God se belofte en oordeel.

Middeleeuse Ekonomie🔗

Luther het reeds te doen gehad met die skuif van ʼn feodale ekonomiese opset na ʼn winsgebaseerde ekonomie. Een aspek hiervan was die gedagte dat die gee van aalmoese in jou guns kan tel in die verkryging van ʼn plek in die paradys. Die gee van aalmoese dien as betaling vir sondes en armoede op sig weerhou mense van sondes. ’n Ideologie word op hierdie manier ontwikkel waarin alle fokus is op die gewer van aalmoese en nie die ontvanger daarvan nie. Die verligting van mense se ekonomiese nood kom eintlik glad nie in fokus nie. In die middelpunt staan die soeke van verlossing vir die siel van gewer en ontvanger van aalmoese.

Armoede was vir lank gesien as die ideale status vir die Christen. God is die God van die armes. Dit is ʼn ideologie wat naby staan aan die ideologie van “bevryding” van die armes in die twintigste en een-en-twintigste eeu. God sou ’n voorkeur hê vir die armes. Tegelyk dien die armes die selfsugtige motiewe van rykes wat op soek is na ’n manier om hul plek in die paradys te koop. Die armes word noodsaaklik vir die bereiking van selfsugtige doelwitte.

Koop en Verkoop Sonder Geld🔗

Die skema van verlossing waarvolgens armoede as die ideale Christelike lewe voorgestel word en dit ook nog in die samelewing vasgeanker word deur die belofte van aardse en hemelse belonings op grond van die gee van aalmoese, het mense blind gehou vir die noodsaaklike veranderings wat dikwels nodig was in die sosiale strukture wat armoede in stand gehou het.

Die Bybelse leer van verlossing uit genade alleen, het hierdie armoede ideaal verpletter. Aangesien verlossing ʼn genadegeskenk is sonder enige menslike verdienste, verloor armoede en die gee van aalmoese hul betekenis en waarde. Ekonomiese uitbuiting kan dan in die volle lig te staan kom wat dit openbaar vir wat dit is. Armoede is geen Christelike ideaal meer nie, maar ’n sosiale swakheid wat aangespreek moet word. Luther skryf soos volg daaroor: “Armoede moet nie aanbeveel word, gekies of geleer word nie, want daar is genoeg armoede vanself, soos Hy sê (Joh. 12:8): ‘Die armes sal julle altyd met julle hê’, net soos daar baie ander euwels sal wees. Maar gedurige sorg moet bestee word dat, aangesien hierdie euwels altyd teenwoordig is, hulle altyd teëgestaan word”.

Vir Luther het dit beteken om die nood en onreg aan te spreek, strukturele veranderinge moes gemaak word. Hy het selfs op grond van die burgerlike wetgewing van Moses betrokke geraak by plaaslike regerings om maatskaplike programme, beleid en wetgewing vas te stel.

Kerkorde en Gemeenskapskas🔗

In 1522 bepaal Luther in die Kerkorde van Wittenberg dat ’n soort gemeenskapskas daargestel moes word met die oog op maatskaplike betrokkenheid. Hierdie kerkorde het bedel verbied, rentevrye lenings gegee aan ambagsmanne wat dit moes terugbetaal indien enigsins moontlik en sorg gebied vir arm weeskinders, die kinders van behoeftige mense en jong vroue wat ʼn gepaste bruidskat met die oog op ʼn huwelik benodig het.

Wat gemaak met die moontlikhede dat hierdie gemeenskapskas misbruik kan word? Luther reageer soos volg: “Hy wat niks het om van te lewe nie, moet gehelp word. As hy ons mislei, wat dan? Dan moet hy weer gehelp word!” Dit het daartoe gelei dat teen 1523 voorsorg gemaak is vir maatskaplike programme in die kerkordes van stede soos Augsburg, Leisnig, Neurenberg, Altenburg, Straatsburg, Breslau en Regensburg. Hierdie kerkordes was ’n konkretisering van Luther se oortuiging dat dit ʼn Christelike verantwoordelikheid is om ekonomies betrokke te wees in die samelewing.

Daar word beweer dat die sleutel vir die verstaan van die karakter van ʼn samelewing, geleë is in die manier waarop dit sy jeug en sy bejaardes behandel. In die woorde van die Kerkorde van Leisnig ontdek ons Luther en sy kollegas se bedoeling met hul sosiale betrokkenheid: “Arm en verlate weeskinders in die stad en dorpies … sal soos nodig voorsien word van opleiding en fisiese versorging deur die bestuurders van die gemeenskapskas tot op sodanige tyd dat hulle self kan werk en hul brood verdien”.

Indien daar tussen die weeskinders en kinders van verarmde ouers seuns is wat gewillig en geskik is vir onderwys en bekwaamhede toon in die lettere, sal die bestuurders van die kas hulle ondersteun en versorging aan hulle voorsien … Daardie persone wat verarm het deur die mag van omstandighede en sonder die ondersteuning van familielede gelaat is … en hulle wat ongeskik is vir arbeid vanweë siekte en hoë ouderdom … sal elke week op Sondag en by ander geleenthede soos die behoefte voordoen, onderhoud en ondersteuning vanuit die kas ontvang.

… Dit moet gedoen word uit Christelike liefde, tot eer en lof van God, sodat sulkes se lewe en gesondheid bewaar mag word van verdere agteruitgang, verswakking … deur gebrek aan onderdak, kleding, voeding en sorg. Dit moet gedoen word sodat geen behoeftige persoon in die gemeenskap ooit in die openbaar hoef te smeek, kla of bedel vir dit wat nodig is vir hul daaglikse sorg nie.”

Luther en Geld🔗

Oor Franciscus van Assisi het Luther ʼn uitgesproke opinie. Hy dink nie dat Franciscus ’n bose man was nie, maar die feite bewys dat hy naïef of, beter gesê, dwaas was. Sy dwaasheid het daarin gelê dat Hy veronderstel het dat geld op sig boos was. Luther laat dan hoor hoe hy self dink oor geld. As silwer en goud op sig boos was, dan moet almal wat hulle daarvan weerhou, aangeprys word. Maar as geld goeie skeppings van God is, wat gebruik kan word vir die nood en behoeftes van ons naaste en tot eer van God, is iemand dan nie belaglik en ondankbaar teenoor God, indien hy hom daarvan weerhou asof dit boos is nie? Want dít (geld) is nie boos nie, selfs al is dit by geleentheid misbruik vir ydelheid en kwaad. Indien God vir jou rykdom gegee het, dank God en sorg dat jy goeie gebruik maak daarvan.

Geld is nie die heer wat ons lewens mag beheer nie, maar die gawe van God vir diens aan ons naaste en die opbou van die gemeenskap.