Mag geskeides hertrou?
Mag geskeides hertrou?
Wie oor die huwelik skryf, kan nie anders nie as om met groot terughoudendheid en selfkritiek daaroor te skryf. Jy skryf immers vanuit ’n diep besef van jou eie tekortkomings en gebreke en mislukkings, en nié vanuit ’n situasie van “die volkome huwelik” nie, soos die Nederlandse skrywer Th. H. van de Velde (1952) met sy bekende boek oor die huwelik suggereer. ’n Ander Nederlandse predikant, ds. J. Overduin, het iewers die volgende oor die huwelik opgemerk: “Slegs enkele huwelike is uitgesproke gelukkig, ’n hemel op aarde; vele verkeer in die hel, die meeste in ’n gematigde vaevuur.”
Hierdie uitspraak mag dalk oordrewe wees, maar as ’n mens kyk na die hoë egskeidingsyfer vandag, steek daar seker ’n element van waarheid in. En dan verskyn die groot vraag onvermydelik voor ons: Mag geskeides weer trou? Of is ’n tweede huwelik na egskeiding ’n sonde, ja, ’n voortdurende leef-in-sonde?
Die ideaal⤒🔗
Laat ons begin met die ideaalbeeld van die Bybel wat die Here God aan ons voorhou. Dis so helder soos daglig: God het die huwelik ingestel, en dis sy bedoeling dat man en vrou in die huwelik ’n permanente en liefdevolle eenheid sal vorm. So staan dit baie duidelik in Genésis 1 en 2. Die mens is anders as diere. Daar kry ons wel hier en daar ’n voorbeeld van ’n “monogame huwelik”, dit wil sê ’n lewenslange verbintenis van een mannetjie met een wyfie, maar dis die uitsondering. Die reël is dat een mannetjie ’n paar wyfies aanhou en op hierdie wyse paar en aanteel.
Die mens is egter anders geskape, en elke keer as die mens die oorspronklike bedoeling van God, naamlik die monogame huwelik, ignoreer of minag, maak hy ’n misoes van sy lewe en dié van sy gesin. Ons sien dit elke dag rondom ons: hoe die sport- en kunssterre tuimel wanneer hulle ontrou in hulle huwelike is.
Dis nie net God se Skeppingswoord wat hiervan vertel nie, ook sy Verlossingswoord beaam dit. Daarom sê Jesus vir die Fariseërs: God het man en vrou geskape en hulle permanent in ’n huwelik saamgevoeg, en wat God saamgevoeg het, mag geen mens skei nie (Matt 19:4-7).
Die huwelik is ’n instelling van God, en vir ’n samelewing om sinvol en vreedsaam te funksioneer, moet hierdie ordinansie van God eerbiedig word. Wie dit ignoreer, ondergrawe een van die pilare waarop ’n verantwoordelike samelewing rus.
Dis die ideaal. Maar ons almal weet dat die werklikheid anders daar uitsien. In die werklikheid kry ons met sonde te doen, ook huweliksondes, en daarom het die Here God bepaalde noodmaatreëls ingestel om die gebroke lewe leefbaar te maak. J.A. Heyns noem egskeiding “God se genadige noodordening”.
Die werklikheid←⤒🔗
- Moses (“iets onbetaamliks”) – Uit die Ou Testament weet ons dat Moses met die probleem van egskeiding te doen gekry het (Deut 24:1-4). Moses sê dat indien ’n man “iets onbetaamliks” aan sy vrou vind, hy aan haar ’n skeibrief mag gee. Die vraag is natuurlik wat onder “iets onbetaamliks” verstaan moet word? Van die latere Joodse rabbi’s het dit so verstaan dat ’n Joodse man van sy vrou mag skei indien hy ’n mooier vrou gevind het of as sy vrou die kos verbrand het! Jesus lewer egter skerp kritiek teen elke vorm van goedkoop egskeiding, Moses het dit toegelaat vanweë die “hardheid van die hart van mense”, dit wil sê onbekeerlikheid, maar van die begin af het God dit anders bedoel (Matt 19:8).
- Jesus (“owerspel”) – Ook in die prediking van Jesus kom die vraag na egskeiding ter sprake en ons is maar te goed bekend met sy standpunt slegs “owerspel” is ’n rede tot egskeiding (Matt 5:32; 19:9). Hy sê nie in geval van owerspel móét egskeiding plaasvind nie, maar mag dit. Uiteraard bly die deur tot versoening, en vergewing, altyd oop, en waar enigsins moontlik behoort hierdie roete van genesing gevolg te word.
- Paulus (“ongeloof”) – As Paulus raad gee oor ’n gesonde huwelik, moet ons daarmee rekening hou dat hy aan egpare skryf van wie een ’n Christen geword het terwyl die ander ’n heiden gebly het. In sulke omstandighede adviseer hy: as die ongelowige wil skei, laat hom/haar skei (1 Kor 11:15). Die gelowige man of vrou moet egter sover moontlik die huwelikslewe probeer volhou.
In ons moderne samelewing kan maklik ’n omgekeerde situasie ontstaan: ’n egpaar begin as gelowiges, maar langs die pad verloor een sy/haar geloof. Ek neem aan dat die raad van Paulus aan die Korintiese egpare ook in sulke gevalle van toepassing is: die ongelowige mag gaan, maar die gelowige sal die huwelik probeer red.
- Suid-Afrikaanse wetgewing – Ons lewe in ’n gebroke werklikheid, het ons opgemerk. Huwelike val uitmekaar vanweë talle redes – dis die harde en tragiese werklikheid. ’n Regering moet met hierdie werklikheid rekening hou en deur middel van wetgewing goeie orde in die samelewing probeer verseker. (Dit beteken natuurlik nie dat die wette wat die regering reglementeer, ook deur die kerk moreel gelegitimeer behoort te word nie. Juridiese wettiging en morele wettiging is nie dieselfde saak nie.)
In ons ouer wetgewing in hierdie verband, voor 1979, was daar sprake van vier “gronde” vir egskeiding (om in hierdie geval van “gronde” te praat is omstrede): owerspel, kwaadwillige verlating, gewoontemisdadigheid of langdurige gevangenskap, en ongeneeslike kranksinnigheid. Na 1979 is nuwe wetgewing aanvaar wat daardie tyd nogal sterk gedebatteer is en wat slegs onherstelbare huweliksverbrokkeling as “grond” aandui. Hiermee is die vraag na wie die (on-) skuldige party in geval van egskeiding sou wees, uitgeskakel en word verdere verwyte en verwydering tussen beide partye, veral waar daar kinders ter sprake is, vermy. In die geval van onherstelbare verbrokkeling kan sake soos ongeneeslike geestesongesteldheid en permanente bewusteloosheid natuurlik ’n rol speel.
Die nuwe wetgewing het egskeiding baie makliker gemaak, en moraalkundiges het die kritiese vraag gestel of dit ’n goeie ding is.
- Nog baie ander redes – In ’n gebroke wêreld kan daar natuurlik nog talle ander redes vir egskeiding aangevoer word. Die oud-Nederlandse teoloog Voetius het byvoorbeeld geoordeel dat wanneer een van die twee huwelikspare (permanente) geslagsomgang met die ander weier, daar nie van ’n huwelik sprake kan wees nie. Die Nederlandse etikus J. Douma wys daarop dat as die man of vrou na die huwelik blyk homoseksueel (of lesbies) te wees, is ’n normale huwelik eintlik nie moontlik nie. (Ons weet ook dat Calvyn kwaadwillige verlating as “egskeidingsgrond” aanvaar het.) En so sou op ander groot struikelblokke gewys kon word, soos permanente-liggaamlike bedreiging, radikaal botsende persoonlikhede, ensovoorts. In die mooiste sitkamer val die mooiste blompot maklik stukkend.
Ek noem ’n ander (ekstreme) geval waarvan ek weet en wat byna plaasgevind het. Dit werk so: ’n bababoetie en sussie word deur twee totaal onbekende ouerpare as kinders aangeneem. Jare later raak die boetie en sussie onbewus daarvan dat hulle familie is op universiteit op mekaar verlief en besluit om te trou. Kort na die huwelik ontdek hulle dat hulle broer en suster is. Ek dink nie daar behoort onoorkomelike morele besware te wees indien hulle besluit om die huwelik te beëindig nie hoe traumaties die ervaring ook al vir hulle mag wees.
So na as moontlik aan die ideaal←⤒🔗
Omdat die Bybel so duidelik is oor God se bedoeling met die huwelik, het die kerk deur die eeue altyd sover as moontlik gepleit vir ’n gesonde huwelik en vir die herstel van ’n huwelik wat uiteen rafel. Die evangelie vertel ons immers van vergewing en versoening, van God wat ons sondige mense in sy oneindige liefde in Christus vergewe en met Hom en met mekaar versoen. Dis die voorbeeld wat Hy aan sy navolgers stel, en wie bely dat hy/sy ’n Christen is, mag hierdie hoë ideaal nooit uit die oog verloor nie. Juis daarom lê die kerk hoe langer hoe meer klem op huwelikspastoraat ten einde voornemende troupare en huwelikspare toe te rus vir hulle huwelikslewe. Die kerk ag hierdie ideaal so hoog dat dit selfs ’n skeiding van tafel en bed aanbeveel in plaas van ’n totale opbreek van die huwelik. ’n Tweede beste huwelik is nog altyd beter as ’n gebroke huwelik wat op egskeiding uitloop.
Christene lewe egter in ’n stukkende wêreld waar die bose magte op alle moontlike maniere die mooi dinge wat God daargestel het probeer opbreek en uiteenskeur. Vandag nog veel meer as in die ou dae. Ons lewe immers in ’n oop samelewing waar verskillende mans en vrouens mekaar daagliks by die werk ontmoet en die verleiding en afglyding soveel groter is as lank gelede. (Jesus sê dat egbreuk eintlik al in die oog van die kyker begin Matt 5:28. En ons weet maar alte goed dat seksuele begeerte een van die grootste dryfkragte in die lewe is, en dat die mens se sekslus haas geen perke ken nie.) Die werkende ma het ’n nuwe dimensie na vore gebring. Man en vrou kom saans moeg by die huis, en hulle huwelikslewe begin ongesiens sy glans verloor. Man en vrou dryf al hoe verder uitmekaar, en die huwelik word al hoe meer vanweë interne spanning en eksterne versoekings bedreig.
Steeds sal die kerk egter daarvoor pleit dat egpare mekaar sal liefhê, met mekaar sal kommunikeer, selfverloëning sal toepas, mekaar sal vergewe en weer sal versoen wanneer ’n breekpunt bereik word Die kerk mag nooit die huwelik goedkoop maak en egskeiding goedsmoeds aanbeveel nie. Die huwelik is immers beeld van die intieme verhouding van Christus en sy kerk (Ef 5:32).
Maar iewers in hierdie stukkende wêreld breek egter selfs die mooiste dinge stukkend, val ’n huwelik uitmekaar en word ’n hertroue met ’n ander lewensmaat aangegaan. In sulke uiterste omstandighede sal die kerk nie die nuwe huwelikspaar veroordeel en beweer dat hulle in sonde saamleef nie, maar sal hulle in die gesindheid van liefde opvang en begelei, welwetende dat dit vir die egpaar self ’n saak van gebed, skuldbelydenis en nuwe voornemens is. Hieroor is daar onder Christelike etici ’n groot mate van eenstemmigheid (J. Douma, J.A. Heyns, P.J. de Bruyn). Daar is immers net een onvergeeflike sonde, en dit is die lastering van die Heilige Gees (Matt 12:31-32).
Op die vraag na die kerk se betrokkenheid in ’n geval van hertroue, kan in die algemeen die volgende opgemerk word: elke plaaslike kerkraad moet elke geval op meriete beoordeel en met die nodige verantwoordelikheid, en in die lig van die Skrif, hanteer (KO, art. 70).
Mag geskeides dan hertrou? Ja, in uiterste gevalle. Maar dit mag nie op so ’n wyse geskied dat die huwelik goedkoop gemaak word en egskeiding en hertrou die reël word nie.