Bron: Kerk en Woord. 4 bladsye.

Maleagi 3:7-8 - Ek het nie Verander nie, Bekeer Julle dus!

omkeer teken

Maleági begin ’n nuwe strydgesprek met die kerkvolk. Hulle het nou al baie siniese beskuldigende vrae gevra. Dit het begin met: “Waarin het die HERE ons liefgehad?” Daarna het hulle gevra in watter opsig hulle die Naam van die HERE verag het. Daarna huil hulle en vra waarom die HERE nie meer hulle offers aanneem nie.

Ook is gevra: “Waarmee vermoei ons tog die HERE.” Hulle het dit selfs durf vra: “Waar is tog die God van reg?” Dis nie vrae maar net van daardie oue tye nie. Dis ook maar vrae van vandag. Ons ken tog ons belewenisse van swaarkry en onreg. En ja: veral oor die karakter van God en oor die wese van God is daar vandag oneindig baie twyfelvrae.

Mense verbeel hulle selfs dat hulle die reg het om enige vrae oor God te vra. Maar is dit wettige vrae?

In hierdie nuwe strydgesprek maak die HERE Homself opnuut bekend as die troue Verbondsgod wat ook trou aan sy karakter nooit verander het nie. Daarom bied Hy steeds nog weer geleentheid tot bekering en belowe sy seën as ons Hom gehoorsaam.

Selfopenbaring🔗

Die HERE – JHWH – het sy Naam by Moses bekend gemaak: Ek is wat Ek is. Hier verklaar Hyself ook sy Naam net soos by die begin van die Wet. Hy het soos Hy belowe het sy volk uit die slawehuis van Egipte uitgelei.

Sy Naam JHWH beteken dus soos Hy hier sê: Dat Hy nie verander het nie.

Ons sien dit nie net regdeur die Ou Testament nie. Ons sien dit ook in die voortgaande kerkgeskiedenis. Ons sien die geskiedenis van hierdie gemeente. Ons sien die geskiedenis van elke verbondsgesin van hierdie gemeente, en ons sien hoedat die HERE sy kerk in stand hou in die opkomende geslagte. Dit terwyl ons dikwels verdien om verdelg te word!

Dis die evangelieboodskap. Dat God ons nie tref en verteer soos wat ons verdien nie. Dat die mens nie die ewige dood sterf soos God in die paradys beloof het nie, maar dat Hy daardie doodstraf op sy eie Seun uitgevoer het, om ons te verlos. Hy is die HERE wat sy verbondskinders verlos en wat nie verander het nie. Die bewys daarvan is dat ons nie verteer is soos wat ons dikwels verdien nie.

JHWH🔗

Doel en effek🔗

Die bedoeling met hierdie openbaring van Homself as die Een wat nie verander nie, is veel meer as dat ons moet weet dat Hy die regverdige en die Heilige God is. Ja ons moet dit buitendien baie goed besef dat Hy Heilig en regverdig is.

Wanneer Hy in hierdie strydgesprek in Maleági vir sy Kerk sê dat Hy nie verander het nie, en veral as Hy daarna sê wat Hy daarby bedoel: Dat hulle nie verteer is nie, dan is dit veral sy bedoeling dat hulle Hom as barmhartig en genadig en groot van goedertierenheid moet sien. Hy wil dat hulle sy Vaderlike goedheid weer belewe.

Aan die een kant is Hy ’n jaloerse God wat die misdaad met verbondswraak besoek. Aan die ander kant is Hy ook barmhartig vir die wat Hom liefhet en sy gebooie onderhou.

Aan die een kant staan die felle skerpheid van sy haat en wraak teen die sonde. Aan die ander kant wil Hy uit liefde vir sy kerk, ook vir hulle die uitkoms en die antwoord gee. En Hy wil aan hulle die vrye guns aanbied. Die Handreiking van Vaderlike liefde.

Voordat julle sondeweg sy allerergste ellendes binnegaan, roep Ek julle op tot herbesinning, bekering. Ek het nie verander nie! Dus: “Keer terug na My en Ek wil na julle terugkeer, sê die HERE van die leërskare.” Keer julle in bekeerlike offerdiens, bekeerlike gehoorsaamheid, bekeerlike ywer in God se diens weer terug van waar julle uitgeval het... en Ek wil deur my barmhartigheid, my geseënde nabyheid, my troos en beskerming, lewensontvouïng weer ook na julle terugkeer.

Die res van die strydgesprek is baie prakties van aard. Ons kan ook hieruit lering trek en dit vir onsself toepas. Die volk vra steeds sinies en terneergedruk, selfverontskuldigend: “Waarin moet ons terugkeer?” Hulle dink waarlik dat hulle hul deel doen. Hulle dink dat hulle hierdie verbondsgetroue kerkvolk is, want kyk dan net hoe bedrywig gaan dit by die tempelheuwel! Nou gaan die HERE dus ’n saak aanstip waarin die terugkeer duidelik sal wees:

Die eis🔗

Die Here stel in vs 8 ’n retoriese vraag: “Mag ’n mens God beroof? Want julle beroof My en julle sê: Waarin het ons U beroof?”

Dan antwoord die HERE dat hulle dit doen in die tiendes en die offergawe.

Nou word die wetgewing van die tiendes en die offergawe volledig in die Wetboek beskrywe. Besonderlik so in Deut 14:22-29: die tiende van ons inkomste. Deur hierdie offerdiens te verrig, was die volk veronderstel om hulle dankbaarheid aan die HERE te betuig.

Maar die volk het dit nie nagekom nie. Dis tog vreemd dat die offertafels kreun van die baie offers daagliks, en dat dit die ene bedrywigheid by die tempelheuwel is, maar die HERE kla hulle van berowing aan.

Waarin lê dan nou eintlik die berowing? Daarvoor moet ’n mens die hele wet hier sorgvuldig deurlees. En dan hoor ons voorheen uit die profesie van Maleági dat die volk lam en siek diere bring om te offer. Hulle bring nie hulle eerstelinge nie, en hulle bring nie die diere wat sonder gebrek is nie. En hier in hoofstuk 3 lees ons dat hulle nie die volle tiende van hulle opbrengs sorgvuldig afweeg nie.

Hieruit blyk die houding en gesindheid van die volk. Die tiendes is vir die HERE ’n sterk barometer van hoe die hart van die kerkvolk ingestel is, want daaruit blyk ook hoe hulle dankbaarheid is. Daaruit blyk hoedat hulle geloofsdissipline is, hoedat hulle barmhartigheidsdiens is, hoedat hulle versorging van die tempeldiens is.

Die verwyt van die HERE is in baie sterk taal uitgedruk: Vers 9: “Met die vloek is julle belaai, en tog beroof julle My, julle, die hele nasie!”

geld

Ons weet dat as ons mense in hierdie taal met mekaar praat, dan bereik ons dikwels presies die teenoorgestelde reaksie as wat ons in die oog gehad het. Maar ons moet baie goed begryp dat die kerkvolk soos wat Maleági haar hier aanspreek in ’n vergevorderde graad van deformasie is, en dat die verbondsvloek van God reeds dreig om oor haar los te breek. Hierdie felle verwyt dat hulle Hom beroof, is so goed as om iemand soos ’n brandhout uit die vuur te ruk voordat dit heeltemal daardeur verteer en verswelg word.

Daarom die oproep-instruksie terug na die Wetboek toe. Reformasie: Terug na die Woord van die HERE: Vers 10: “Bring die hele tiende na die skathuis, sodat daar spys in my huis kan wees.”

Nou weet ons dat die tempeldiens van die Ou Testament in vervulling gegaan het toe Jesus sy Kruisoffer gebring en daarna tot in die hemele verhef is.

Daarna het die Nuwe Testamentiese gemeente tot stand gekom. Die heel eerste gemeente in Jerusalem is ook geken as een waarin die gemeente hulle goedere op so ’n wyse onder mekaar verdeel het dat daar ’n geseënde gemeenskap was wat ook in aansien by die wêreld was.

Dit is dus begryplik dat die letterlike en kultiese betekenis van die tiendes in en deur Jesus vervul is. En tog het daar ’n morele aspek van hierdie wetgewing oorgebly. Die selfversorging van die gemeente deur die offergawes van die gemeente het ’n sentrale kerkregbeginsel gebly. Daarom ook dat Paulus aan die Korinthiërs skrywe hoe met oorgawe die kerke van Macedonië bygedra het vir die versorging van die diens van die Here, besonderlik vir die hulpdiens aan die verstrooide gemeente van Jerusalem. Kyk maar na 2 Kor 8:1-5.

Hier gee Paulus as’t ware, as die groot eksegeet van die Ou Testament en geïnspireerde Bybelskrywer, vir ons die grondbeginsel agter die voorskrifte van die tiendes deur. Die gelowiges het hulself eers aan die Here gegee, en toe aan die apostels deur die wil van God, en daaruit het ook duidelik sigbaar geword wat in hulle geloofslewe aangaan uit die gawes wat hulle onder baie beproewinge deur verdrukking, onder diepe armoede, en tog met oorvloedige blydskap en oorvloedig in ryke milddadigheid, na vermoë en selfs bo vermoë vir die versorging van die diens van die HERE gebring het.

Dit is die riglyn vir die Nuwe Testamentiese gemeentes. Dit is ook die riglyn vir ons. Laat elkeen van ons maar met beskaamde gesigte weer onsself aan hierdie duidelike gewetensriglyn loop toets. Want uit die oorvloedigheid van die hart kom ook die oorvloedigheid van die hand.

Belofte🔗

Die HERE daag nou verbondsmatig die volk uit om Hom ook te beproef in die dinge wat Hy vir hulle sê. Hulle sal opnuut agterkom dat dit inderdaad waar is dat Hy nie verander het nie. Dat daar by Hom geen verandering of skaduwee van omkering is nie. As hulle weer die verbondseise getrou in die hart en in die hand nalewe, sal hulle beslis ook ervaar hoedat die HERE barmhartig en genadig is, 'n God wat lankmoedig is en groot van goedertierenheid oor die wat Hom vrees.

Luister net wat belowe Hy hier direk uit die beloftes van Deuteronó­mium 28. Maleági 3:10: “beproef My tog hierin, sê die HERE van die leërskare, of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle ’n oorvloedige seën sal uitstort nie.”

Maar ons weet ook dat saam met die belofte van seën ook die bedreiging van vloek gegaan het. En veral in hierdie strydgesprek is dit dringend, omdat die kerk reeds deur haar deformasie onder die vloek van die verbond ingeleef het. Bekering is dus dringend noodsaaklik.

Soortgelyk hieraan praat die Here Jesus ook met die Nuwe Testamentiese gelowiges wat sy verbond gehoorsaam uitlewe en wat sy Wet steeds gehoorsaam dankbaar betrag as Hy in Matt 6 sê en ons vermaan (vs 31-34): “Daarom moet julle jul nie kwel en sê: Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie? Want na al hierdie dinge soek die heidene; want julle hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het. Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. Kwel julle dus nie oor môre nie, want môre sal hom oor sy eie dinge kwel. Elke dag het genoeg aan sy eie kwaad.”

brood en melk

Terug dus by die kernboodskap van die vyfde strydgesprek van die profeet Maleági: Die kerkvolk wat al so vervalle is dat sy selfs nie eers weet waarin sy haar moet bekeer nie, ja ons almal wat dikwels so ’n tragiese gebrek aan selfkennis het en daardeur van God se barmhartigheid wegdrywe: Ons moet die dringende en liefdevolle wekroep van die HERE hoor:

Hy het nie verander nie. Hy het nie iets anders as ’n barmhartige Vader vir sy kinders geword nie. Hy sal ons nie verwerp as ons eerlik daagliks tot Hom terugkeer nie. En laat ons elkeen weer ook met ons gewetens voor die dankbaarheids-eis van die HERE loop stilstaan en eerlik vra of ons Hom nie dalk in ons tiendes beroof nie. Hy het nie verander om ons te seën en te versorg as ons tot Hom bekeer nie. Laat ons dus nie huiwer nie.

Hy belowe in Psalm 81:

Open julle mond
Eis van my vrymoedig
Op my trouverbond
Al wat jul ontbreek
Skenk Ek as jul smeek
Mild’lik en oorvloedig.