2 bladsye.

Mamma, Wys My Hoe om te Leef Asseblief

moeder en kinders

Nee, daar is nie tikfoute in hierdie titel nie. Dit is nie regtig ʼn vraag wat jy van jou kinders verwag as dit gaan oor ons lewenstyl nie. Tog is dit iets wat hulle van ons vra. Want elke kind van God het geloofsvoorbeelde rondom hom nodig. Sulke ‘identifikasie-persone’ help hulle om as ʼn Christen (op) te groei. Daardie voorbeeld-wees begin by ons as ouers. Voorleef is daarom net so belangrik as voorlees. Dis nie verniet dat die bekende Engelse skrywer Adrian Plass ʼn boek aan sy moeder opgedra het nie: ‘Vir my moeder, haar lewe is die beste moderne gelykenis wat ek ken’.

Het jy geweet dat die uitdrukking ‘soos die ma, so die dogter’ ook in die Bybel voorkom? Dit staan in Esegiël 16, al het dit hier ʼn negatiewe betekenis. Wanneer ouers se geloofslewe begin skeefloop, sal die kinders s’n heeltemal verkeerd loop – as die Here nie self op ’n besondere manier ingryp nie. Maar daar is ook ʼn positiewe kant. Ouers speel ʼn onmisbare rol in die tot-geloof-kom van hulle kinders. Daarvoor hoef hulle regtig nie ideale opvoeders te wees wat al die reëls van geloofsopvoeding ken nie. Wat God in die eerste plek van ouers vra, is ʼn eenvoudige gelowige lewe naby aan Hom. Die Bybel gee vir ons ʼn pragtige voorbeeld daarvan in 2 Timoteus 1:5: Timoteus se ouma was Loïs en sy ma Euníce. Hulle was gelowige vroue. Paulus sê dat Timoteus se geloof eers in húlle gewoon het. So het Timoteus se geloof gegroei. Dit was dus ‘deur voorbeeld’.

ʼn Wonder🔗

Tog gesels ek reëlmatig met ouers wat byna wanhopig op soek is na goeie maniere of metodes vir die geloofsopvoeding van hulle kinders. Hulle doen hulle uiterste bes maar tog lyk dit asof hulle niks regkry nie. Hulle sou so graag die geloof in die harte van hulle kinders wou ingooi, maar dit is ook nie moontlik nie. Ouers praat met hulle, maar dit lyk asof die kinders nie wíl luister nie. Dit lyk asof hulle in ʼn ander wêreld lewe. Hoekom is dit so?

Ons moet eers duidelik vasstel dat jongmense nie tot ʼn persoonlike geloof kom omdat hul ouers sulke goeie werk gedoen het nie. En ook nie omdat iemand die regte ouderdom daarvoor bereik het nie. Die Bybel is baie duidelik daaroor in Matteus 16. Daar vra Jesus vir Petrus: ‘Maar julle, wie sê julle is Ek?’ As Petrus dan sy geloof bely, is Jesus se reaksie: 'Salig is jy, want vlees en bloed (=mense) het dit nie aan jou geopenbaar nie, maar my Vader wat in die hemele is.’ Dit is dus elke keer weer ʼn wonder van God se Gees, as iemand ‘ja’ sê vir God! Dit is dus ook nie sommer die ouers se ‘skuld’ as hulle kinders nie vir die Here kies nie. Tog is dit moontlik dat ons met ons eie bedrywig-wees in die pad kan staan van ons kinders se ware geloofsopvoeding. Want ons ontbreek dikwels self die tyd en rus om naby die Here te lewe. Die geestelike armoede wat so ontstaan, bied niks wat jy aan jou kinders kan uitdeel nie. Hoe kan jy hulle voed met iets wat jy skaars self het? Dit sou goed wees as elke ouer homself ʼn slag die volgende vrae sou stel:

  1. Geloof is ʼn vaste vertroue. Maar het my kinders al ooit iets daarvan ervaar toe daar probleme in ons gesin was?

  2. Om te glo is om te stry teen jou eie sondige begeertes. Praat ek ooit met my kinders daaroor dat ek ook sondes het waarteen ek moet veg? Of probeer ek in hulle oë ʼn super-Christen wees, sonder enige verkeerde begeertes?

  3. Om te glo is om ʼn lewendige band met God te hê. Het my kinders my al ooit sien bid? Of Bybellees? Nie die Bybellees of gebed by die etenstafel nie, maar sommer net besig wees met ʼn gebed of Bybellees? Of juis in moeilike tye of as daar blydskap is?

  4. Geloof word sigbaar in vrugte... Hoe werk dit by my? Is daar blydskap, trou, sagmoedigheid en selfbeheersing by my?

moeder en kind

Geen Voorbeeld Gee nie – Wees ʼn Voorbeeld🔗

ʼn Voorbeeld wees is dus nie dieselfde as om perfek te wees nie. Baie ouers probeer om die goeie voorbeeld te gee. Maar dit gaan nie oor ʼn goeie voorbeeld gee nie, maar om ʼn voorbeeld te wees. Want daardie mooi rol wat jy speel as jy die goeie voorbeeld gee – jou kinders kyk dwarsdeur jou. Jongmense wil weet wie jy regtig is. Dit beteken iets vir hulle. Daarom is dit so belangrik om te kan praat oor ʼn ding soos ‘stryd’. Dit is so dat jongmense gereeld deur hulle ouers gewaarsku word (teen uitgaan, teen seksualiteit voor die huwelik, ens.), terwyl hulle nooit regtig sien dat die ouers self ʼn stryd met hulle eie sondes voer nie. Ook as ouers mag jy van God se genade lewe. In feite is jy daarom dus nie ánders as jou kinders nie. Net soos hulle is jy ʼn kind van God. In Psalm 105 se beryming lees ons dat God sy verbond bevestig ‘van kind tot kind’. Dít moet jongmense by hulle ouers kan sien.

As dit gaan oor die plek van die gesin in ʼn jongmens se lewe, gebruik ek dikwels die woord ‘opvoedingsbodem’. Dit gaan oor opvoeding, en ons praat baie daaroor, maar dit is terselfdertyd ʼn voedingsbodem. Dit is iets waarop ʼn jongmens kan staan, sonder om daardeur te val. Dááruit kan hy iets haal, iets wat hy nodig het vir sy groei. Nog sterker gesê, jy kan nie regtig groei as daar nie voeding in daardie bodem is nie.

Toewyding aan die Gemeente🔗

‘Ek wonder wat sou my ouers sê as hulle my nou hier moes sien’, het ʼn pa eendag tydens ʼn tema-aand oor geloofsopvoeding vir my gesê. ‘Hulle was toe net so bekommerd oor my as wat ek vandag oor my eie kinders is’. (Hiermee het hy nie bedoel dat dinge vanself goed sal gaan nie). ‘Maar’, sê hy toe ook, ‘in die ou dae was omtrent ons hele dorp Christelik. Dinge lyk vandag darem maar baie anders….’ Daarmee het hy die spyker op sy kop geslaan. In ons land vandag is dit vir jongmense baie makliker om heeltemal van die Here af weg te raak. In die alledaagse lewe is daar maar min dinge oor wat nog herinner aan God se bestaan. Inteendeel, daar is baie wat daarop gerig is om jou van Hom af weg te trek. Daarom is dit belangrik dat jongmense ʼn eie plek in die gemeente het, met mense wat vir hulle omgee en vir wie hulle belangrik is. Van daardie soort mense na wie hulle kan opkyk, maar wat nie bo-oor hulle kyk nie. Dit kan jeugleiers wees, dosente, ampsdraers of selfs mense wat kinderoppas benodig.

Om ʼn voorbeeld vir jongmense te wees, vra toewyding in die gemeente. Moenie jongmense laat ronddobber in die onsekerhede van hierdie tyd nie! Hulle het die geloofsvoorbeeld van ouers so nodig. Daarom is kontak met jongmense nie sommer net ʼn vryblywende saak nie. Want so kan daar nooit ʼn hegte band of regte kontak ontwikkel nie. As jy regtig kontak met tieners opbou, moet jy dáár wees vir hulle, buiten daardie uurtjie van Bybelstudie of ʼn ander toevallige ontmoeting. Stel belang in hulle op die kerkplein en doen iets anders saam met hulle. Maar sulke toewyding vra ook deursettingsvermoë. ’n Mens kan hulle nie in die steek laat nie, ook al verloop dinge nie altyd ewe glad nie. Jongmense mag iets van ons verwag, ook al is dit nie spesifiek ons eie kinders nie.

ma praat met dogter

Geloofsgetuies🔗

In Hebreërs 11 spreek God met ons oor die geloofsgetuies wat ‘deur die geloof’ dinge kon doen, wat hulle nie uit hulself kon doen nie. As ouers en gemeentelede mag όns ook geloofsgetuies wees vir die kinders in ons gesinne en die jongmense in ons gemeentes. Nie na-maak Christene wat die goeie voorbeeld probeer gee nie, maar kinders van God wat deur Sy genade geloofsvoorbeelde is. Net soos manne soos Noag, Abraham en Moses, of vroue soos Sara en Ragab. ʼn Wolk van geloofsgetuies rondom ons jongeres (Hebreërs 12:1). Hulle het ons nodig!