3 bladsye.

Mattheus 2:17-18 - Christus kom te Midde van Trane om ons Trane af te Droog

Lees Skriflesing: Matteus 2

Toe is vervul wat deur Jeremia, die profeet, gespreek is toe hy gesê het: 'n Stem is in Rama gehoor; rouklag en geween en groot gekerm; Ragel beween haar kinders en wil nie vertroos word nie, omdat hulle daar nie meer is nie.

Matteus 2:17-18

Kersfees word gewoonlik beleef as vreugdetyd. En so hoort dit ook. Kersfees is die tyd van die jaar om in vreugde te jubel oor die geboorte van Jesus, die Seun van God, die Christus, ons Verlosser. Maar hier in Matteus 2 lees ons dat sy geboorte in werklikheid op trane uitgeloop het. In Betlehem gaan 'n rouklag op oor die kindermoord wat Herodes laat pleeg het. Ja, die geboorte van die kind Jesus lei tot die dood van honderde klein kindertjies in Betlehem.

Hoe moet ons hierdie droewige afloop van Jesus se geboorte-geskiedenis verstaan? Jesus is gebore om lewe te bring. Tog lei sy geboorte tot die dood van talle kindertjies. Buitendien: Hoe kan die onreg wat onskuldige babatjies aangedoen is, ooit geregverdig word? Herodes se verwerplike motiewe kan 'n mens nog verstaan. Maar hoe kon God so-iets toelaat? Was dit dalk 'n vals noot wat per ongeluk in die geskiedenis gedruk is?

Hoegenaamd nie. In Matteus 2:17-18 leer die Heilige Gees ons dat die kindermoord moes gebeur. Dit was immers die vervulling van 'n profesie wat Jeremia eeue tevore uitgespreek het: "'n Stem is in Rama gehoor: rouklag en geween en groot gekerm; Ragel beween haar kinders en wil nie vertroos word nie, omdat hulle daar nie meer is nie".

En nou moet ons goed begryp: Die vervulling van die Ou-Testamentiese profesieë was nie maar net 'n blote noodwendigheid nie. Dit was ook verklarend. Met ander woorde: Die kindermoord het nie maar net gebeur omdat dit eeue tevore so geprofeteer was nie. Nee, die profesie was uitgespreek sodat die kindermoord eeue later verstaan sou word. Dit wil sê dat Jeremia se profesie 'n verduideliking gee waarom die kindermoord gebeur het. Daarom moet ons nagaan wat sy profesie presies behels het.

Trane oor die Ballingskap🔗

Jeremia het sy profesie gebring in die tyd toe Israel en Juda in ballingskap was. Ons lees hierdie profesie van Ragel se rouklag in Jeremia 31:15. Die rede vir haar rouklag is oor niks anders nie as dat die volk in ballingskap weggevoer is na Assirië en Babilonië.

Jeremia beskryf die volk as kinders van Ragel, omdat Ragel as lieflingvrou van Jakob 'n stammoeder van die volk Israel was. Ragel ween oor haar kinders, sê Jeremia. Daarmee bedoel hy dat die hele volk – die tien stamme van Israel en ook die twee stamme Juda en Benjamin – in diepe rou, verkeer omdat hulle uit hulle land weggevoer is. Die land is immers die land wat die Here aan hulle gegee het, die land van belofte. Maar Ragel se kinders is uit die land weggevoer. Hulle is 'nie meer daar nie'. Daarom huil Ragel troosteloos. Sy is beroof van haar kinders en van haar kinders se toekoms. Die beloofde land met al die beloftes wat die Here daaraan verbind het, is hulle kwyt. 'n Volk sonder toekoms. 'n Hopelose toestand.

Maar as 'n mens Jeremia 31 in sy geheel lees, word dit duidelik dat Ragel so troosteloos huil omdat sy teen die onmiddellike omstandighede vaskyk. Sy sien die volk se ballingskap net van een kant af – van die mens se kant. En menslik beskou, was die volk sonder toekoms. Hulle vyande het hulle as ballinge weggevoer juis om die volk tot niet te maak. Menslik gesproke was dit klaarpraat met die volk van die Here.

Die Aanslag van Satan🔗

Maar daar was nog twee ander kante, twee minder sigbare kante van die ballingskap. Eerstens moet ons onthou dat daar agter die Assiriërs en Babiloniërs kragte aan die werk was wat groter was as hulleself. Die mag van die duisternis, Satan self, wou die volk vernietig omdat hulle God se uitverkore volk was. Satan rig sy vyandskap teen alles wat aan God behoort. Daarom het hy die wêreldmagte ingespan om Israel en Juda ten gronde te rig.

Dit gaan nog verder. Satan se vyandskap is eintlik teen Christus gerig. Omdat God uit die staanspoor duidelik gestel het dat Christus uit hierdie volk gebore sou word, daarom was dit vir Satan absoluut noodsaaklik dat die volk vernietig moes word. Met die ballingskap, het hy gereken, is dit Ikabod met die volk. En so is die koms van Christus by die wortel afgesny!

Hierdie aspek van die profesie word by die kindermoord van Betlehem vervul ter verduideliking hoe ons die kindermoord moet verstaan. Soos die wêreldmagte in die tyd van Jeremia die saad van Jakob ten gronde wou rig, so vind dit ook plaas wanneer Herodes, die Edomiet, die kinders van Jakob en Ragel laat doodmaak. Hoewel daar onskuldige kinderbloed vloei, is Herodes eintlik met duiwelse woede gerig teen Christus. Die kindermoord roep dus uit: Hy wat gebore is, het gekom om die heerser van hierdie wêreld, Satan self, die stryd aan te sê. Daarom was die smart van die vroue van Betlehem vervulling van Ragel se smart. Dit was trane as gevolg van die stryd wat Satan, die teëkoning, teen die ewige koninkryk van God voer.

God se Almag en Trou🔗

Maar dit is nie al nie. Die ballingskap moet nie net van die mens en van Satan se kante gesien word nie. Genadiglik was daar ook nog 'n derde kant: God se kant. Dié kant was alles-bepalend. In sy almag sou God nie toelaat dat Satan die oorhand kry nie. God sal sorg dat Israel uiteindelik as oorwinnaar uit die stryd tree. As Ragel dit maar wil besef, dan is daar vir haar troos. Daarom roep Jeremia haar toe: "Daar is verwagting vir jou nakomelinge, spreek die HERE; en die kinders sal terugkom na hulle grondgebied".

Kyk, Ragel, kyk net vorentoe, en jy sien die verlossing wat wag. Dan sal die huidige droewige omstandighede van die ballingskap jou nie onderkry nie. Maar waarom dan hoegenaamd die smart en droefheid van 'n ballingskap? Die ballingskap is nodig – nie tot vernietig van die volk nie, maar juis tot hulle behoud! Hulle het so ver van die Here af weggedwaal, dat hulle op 'n pad van selfvernietiging was. In sy alwysheid en trou het die Here egter die ballingskap oor hulle laat kom om hulle te tugtig. In die ballingskap sou hulle tot hulle sinne geruk word en terugkeer na die Here, by wie hulle behoud is. Daarom roep Jeremia in 31:18 uit:

U het my getugtig en ek het my laat tugtig soos 'n ongeleerde kalf. Bekeer my, dan sal ek my bekeer, want U is die HERE my God.

Ook die aspek van Jeremia se profesie kom by die kindermoord van Betlehem tot vervulling. Soos God met die ballingskap nie sou toelaat dat die magte van die duisternis die oorhand kry nie, so ook by die geboorte van Christus. Satan wil deur Herodes, sy instrument, Christus by sy geboorte summier uit die weg ruim. God laat nie toe dat dit gebeur nie. Die kindermoord moet gebeur sodat Herodes se paniekbevange aanslag op Jesus tot rus kom. Herodes wou bloot 'n bedreiging vir sy troon, soos dit vir hom gelyk het, afweer. Met die dood van alle seuntjies onder twee jaar het hy gedink dat hy in sy doel geslaag het. So kon die kindjie Jesus onopgemerk en veilig in Egipte bly lewe.

As hulle maar net verby hulle onmiddellike beproewing kon kyk, sou die vroue van Betlehem hierin troos vind. Hulle seuntjies moes sterwe sodat die Christus van God kon ontvlug. Hulle moes besef dat daar baie meer op die spel was as net hulle en hulle seuntjies se kortstondige aardse lewe. Dit gaan om 'n aanslag van Satan teen die mensdom en daarom 'n aanslag teen die Verlosser van die mensdom. Hulle seuntjies moes sterwe sodat Christus kon bly lewe om die oorwinning te behaal tot ons almal se ewige behoud.

God Gee Geloofsvisie🔗

Maar nog steeds die vraag: Waarom was die kindermoord dan hoegenaamd nodig? Dit het nou wel ter vervulling van 'n profesie gebeur, maar kon God die kindjie Jesus nie maar net sowel op 'n ander manier in die lewe gehou het nie? Kwelvrae soos hierdie spring in 'n mens op as jy die geskiedenis van Betlehem se wenende vroue lees. Moontlik het daardie vroue met soortgelyke vrae geworstel, selfs met verwyte en verbittering teenoor die kindjie van Maria: Die Here is darem nie regverdig nie; waarom so baie ter wille van een? So kom die verwyt teen Christus: Dit is sy skuld.

Terwyl mense met sulke verwytende kwelvrae worstel, lag Satan. Hy begeer bo alles om 'n wig tussen God en die mense in te dryf. As hy dan nie die kindjie Jesus betyds uit die weg geruim kan kry nie, sal hy ten minste toesien dat mense Hom verkwalik en verwerp – sy eie mense. Hiermee het Satan volgehou tot op Golgota. Jesus is in so 'n mate deur sy eie mense verwerp, dat hulle Hom aan die Romeinse soldate oorgelewer het en geskreeu het: "Kruisig Hom!"

Maar God is almagtig. Hy sal nie toelaat dat sy raad omvergewerp word nie. Die oënskynlike nederlaag by Golgota was juis die uur van oorwinning. Juis daarvoor het Christus in die wêreld gekom. Juis daarvoor het die seuntjies van Betlehem onder die hand van Herodes gesterf; baie ter wille van een sodat Hy uiteindelik as een ter wille van almal kon sterwe. Juis daarvoor het Jesus telkemale die slinkse planne en venynige aanslae van die Joodse leiers ontsnap, sodat Hy aan die kruis kon sterwe ter betaling van die skuld van alle sondaars wat die Vader aan Hom gegee het. Sodat Hy die dood kon ingaan en dit kon oorwin. Sodat Hy as Oorwinnaar-Koning na die hemel kon opvaar om as ons ewige Koning oor ons te regeer.

Vanuit die hemel regeer en lei en versorg die Here sy kerk deur die eeue tot vandag toe. Ook in en deur swaar tye. Ook wanneer die waarom-vrae van ons tyd ons wil oorweldig, kom God ons tegemoet. Die waarom-vrae bring soms verbittering en verwyte in ons harte. Teleurstelling en droefheid en kwelling bring ons soms tot op die punt waar ons God wil verkwalik: Waarom laat Hy dinge tog nie anders verloop nie? Dit is darem onregverdig dat my lewe so moet skeefloop!

Maar deur sy Woord en Gees leer God ons om verder te sien as ons onmiddellike omstandighede. Hy maak aan ons bekend dat hierdie dinge moet gebeur, tot ons beswil. Dalk het ons tugtiging nodig. Dalk moet dit gebeur sodat iets veel belangriker behoue mag bly. Hoe ook al, Hy leer ons in Jakobus 1:3 dat lyding en beproewing oor ons kom sodat ons met sterker geloof anderkant sal uitkom. So lei die Here ons tot 'n geloofsvisie, soortgelyk aan die waarvan Paulus in die aandskemering van sy lewe getuig: "Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou".

Daarom is Kersfees rede vir blydskap. Nie maar omdat dit tydelike ontvlugting van al die ondermaanse smarte en ellendes bied nie. Maar omdat dit ons leer om met die geloofsoog verder te kyk. Omdat dit ons leer om raak te sien aan wie die oorwinning behoort. Om Jesus Christus te sien en te erken as ons Verlosser en ons Oorwinnaar-Koning. Hy is die Een wat ter wille van baie gesterwe het sodat ons in Hom kan lewe. Ons vind in Hom ons vreugde.