Bron: Kerk en Woord. 4 bladsye.

Mattheus 26:14-16 - Dertig Sikkels Silwer

Matthéüs     26: 14 - 16.
Lees ook      Eks 21: 28 - 32,
                    Sag 11: 4 - 14,
                    Fil 2: 1 - 8,
                    Matt 27: 1 -

Sing:          Ps 117,
                   Ps 116: 1 - 5,
                   Ps 118: 1, 6, 7,
                   Ps 122: 1, 2

Dwarsoor die openbaringsgeskiedenis verkondig God hoedat Hy die enigste verlossingsweg in en deur sy éniggebore Seun vir sy ganse kerk voorberei het en ook waar gemaak het. Elke openbaringslyn trek reguit na Christus Jesus toe. So is dit ook met al die gebeure wat met Jesus se gevangeneming en veroordeling in verband gestaan het. Dit is opgeteken vir ons om te lees, om van kennis te neem, om ons waardering vir God se almag te verryk, om ons des te sekerder te dring tot aanbidding van Hom wat ons op so ’n wonderbare wyse verlos het.

Hierdie oordenking kyk na die owerpriesters wat aan Judas Iskariot die presiese getal van 30 silwermuntstukke afgeweeg het as vergoeding daarvoor dat hy Jesus aan hulle sou oorle­wer. Daar was dan ook kort daarna ’n perfekte geleentheid om Hom in die nag, en in die tuin van Getsémane, in hegtenis te neem sodat die volk nie aanstoot daaraan sou neem nie. Waarom is dit so bewerk, dat dit so ’n betaling moes wees? Wat is die heilsbete­kenis wat daarin vir ons opgesluit is?

Matthéüs het sy beskrywing hiervan in ’n baie betekenisryke konteks geplaas. In hoofstuk 23 word Jesus se uitgebreide polemiek en sy veroordeling van die Fariseërs beskrywe. Jesus het reeds vir die laaste maal Jerusalem toe gekom, en dan wissel Hy bewegings af. Soms gaan Hy aan die einde van die dag nadat Hy by die tempel onderrig gegee het, na die Olyfberg, en ander kere wyk Hy ooswaarts na Betanië, ’n dorpie daar naby, uit.

Nou moet ons goed kennis neem dat Hy in hoofstuk 23 swaar oordele oor die Fariseërs en Skrifgeleerdes uitgespreek het. Vers 13: “Maar wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle sluit die koninkryk van die hemele toe voor die mense, want julle gaan self nie in nie, en die wat sou ingaan, laat julle nie toe om in te gaan nie”. En vers 14: “Wee julle, Skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle eet die huise van die weduwees op, en doen vir die skyn lang gebede. Daarom sal julle ’n swaarder oordeel ontvang.”

So gaan dit aan. Mens moet dan verstaan waarom die tempelowerhede en die owerpriesters met lis begin beraadslaag het om Jesus dood te maak.

Dan gaan Jesus met ’n groot storm van vervloeking saam met sy dissipels van die tempel af weg, en terwyl hulle terugstap na Betanië toe, waar Martha en Maria en Lasarus gebly het, en waar Simon die Fariseër gebly het wat Jesus vir ’n ete genooi het.

Terwyl hulle daarheen stap, leer Jesus sy dissipels. Hy vertel hulle van die tekens van die eindtyd, en Hy vertel vir hulle gelykenisse van hoe dit sal gaan voor die groot oordeelsdag. En dan vertel Hy ook vir hulle dat Hyself binne enkele dae oorgelewer sal word om gekruisig te word.

Daardie aand eet Jesus en sy dissipels in Betanië aan huis van Simon die Fariseër wat deur Jesus van sy melaatsheid genees is. Dan kom daar ’n vrou in wat ’n albasterfles vol kosbare salf oor Jesus uitgiet. Mense vra waarom die vermorsing van kosbare salf?

Maar daardie selfde nag nog het Judas Iskariot gegaan en gaan onderhandel met die owerpriesters om Jesus vir 30 silwerstukke te verraai. Die kosbare salf mog nie in geld omgesit word nie, dit word op Jesus uitgegiet, die salwing vir sy dood. Maar Jesus se lewe word in 30 geldstukke omgesit, die vergoeding vir sy lewe. Waar kom die tempelowerhede aan die vasstelling van hierdie bedrag? Toevallig? Nee. Die waarde van Christus se lewe is nie sommer net op ’n materiële wyse deur tempelowerhede geskat is nie, maar hulle het sonder dat hulle wou, God se Woord in vervulling laat gaan. ’n Veel ryker openbaring is uit die res van die Skrif gegee, wat hierdie geldstukke betekenisryk ook ’n ewige en saligmakende openbaring maak.

Filippense 2🔗

Hier lees ons dat Hy (Christus), wat in die gestalte van God was, dit geen roof geag het om aan God gelyk te wees nie (vs 6), maar dat Hy Homself ontledig het deur die gestalte (gedaante) van ’n dienskneg (slaaf) aan te neem en aan die mense gelyk geword (vs 7).

Jesus het die gedaante (morfose) van ’n slaaf aangeneem, Jesus het binne in die volle werklikheid van die status van ’n slaaf ingeklim. Hy het die volle werklikheid van die status en posisie van ’n slaaf vir Homself aangetrek, net soos wat in die natuur ’n larwe op ’n stadium die status van ’n papie aanneem en die papie nog weer later die status en heerlikheid van ’n vlinder.

So het Christus, ten spyte daarvan dat Hy in goddelike gelykheid en wese die Seun van God is, hierdie heerlike gedaante nie as ’n berowing geag nie, maar die gedaante van ’n slaaf aangeneem, soos wat die mense in die tye van die Grieke en Romeinse beskawings ’n slaaf geken het. ’n Slaaf is destyds volkome as ’n soort besitting van sy eienaar beskou, wat vir niks anders bestem was nie as om sy lewe totaal te bestee aan die welwese van sy eienaar.

Dit was baie keer die taak van slawe om hul eienaar se huishouding teen gevare te beskerm met hulle lewe. ’n Toegewyde slaaf was iemand wat sy/haar lewe gewilliglik opgeoffer het vir die veiligheid en welsyn van sy/haar eienaar.

En nou praat Paulus in die helder idioom van hierdie kultuur van slawerny. Die Here Jesus het Homself verneder tot en met die uiterste offer wat van ’n slaaf verlang is, om ter wille van die verlossing van baie duisende huisgenote van God, ter wille van hul lewe en hul welsyn, verneder te word tot in die dood, en veel erger selfs as dit, die soort dood wat ’n vervloekte politieke misdadiger ten lot val, die vloekdood aan die kruis.

Om hiermee by die Ou Testamentiese openbaring aan te sluit, is dit juis betekenisryk dat die kerkvolk van die HERE aanvanklik ook in Egipte die status van slawe gehad het. En in daardie jare was dit met slawerny ook niks anders as in die Griekse en Romeinse beskawings nie. Die Egiptiese slawe het ook so vir hulle eienaars gelewe, en is baie keer by die dood van hulle eienaars ook saam met hulle eienaars doodgemaak en begrawe.

So was dit veral die geval met die Farao’s. En dan lees ons die merkwaardige gebeurtenis in die lewe van Moses dat hy in die koninklike status opgevoed was met die doel om Farao te word. Dan beskrywe die Hebreër-briefskrywer in Hebr 11 dat Moses deur die geloof geweier het om die seun van Farao se dogter genoem te word, omdat hy verkies het om liewer sleg behandel te word saam met die volk van God as om ’n tyd lank die genot van die sonde te hê (Hebr 11: 24 - 26) en die smaad van Christus groter rykdom geag het as die skatte van Egipte, want hy het uitgesien na die beloning.

Dit is ’n stukkie regstreekse Christusverkondiging uit die lewe van Moses wat in profetiese vergesig op Christus se smaad ook self nie sy verheerlikte gedaante in die Paleis van Egipte as ’n berowing geag het nie, maar homself verneder het en die gedaante van ’n slaaf - saam met die volk van God - aangeneem het.

Deur die bemiddeling van hierdie man het die HERE sy volk uit hul slawerny verlos. By die berg Sinai het die HERE sy verbond met hulle gesluit. Saam met die tien gebooie het die HERE ook baie toepassings gegee waarmee die volk die betekenis en die strekking van sy wet kan verstaan. Een van daardie toepassings is hoedat die volk die lewe van mense moes beskerm.

Daarvan lees ons in Ex 21. Wanneer ’n eienaar oor sy gevaarlike dier gewaarsku is, maar hy doen niks daaraan nie, en daardie dier maak 'n mens dood, dan moet daardie eienaar saam met die dier met sy lewens boet. Hy kan egter sy lewe vrykoop, maar dan moet hy alles betaal wat aan hom opgelê word. Dit is te sê, indien die persoon wat doodgemaak is, ’n gewone vryburger of ’n kind van ’n vryburger was. Maar dan reël Ex 21: 32: “As die bees ’n slaaf of slavin stoot, moet die eienaar aan die slaaf se heer dertig sikkels silwer gee, en die bees moet gestenig word.”

Hier leer ons iets uit die wetgewing van die Ou Testament dat die waarde van ’n slaaf se lewe 30 sikkels silwer was. Dit is wat hulle uitbetaal het as ’n slaaf gesterf het. In elk geval, dit is waarmee hulle hul eie lewe vrygekoop het as ’n slaaf gesterf het.

Hiermee beweeg ons na die Profeet Sagaria, na sy hoofstuk 11: 4 - 14. Die verbondswraak van die HERE tref die volkere en vir Israel. Israel het slegte herders wat hulleself verryk uit skaapslagtery. Maar onder hierdie korrupsie het die hele volk verdorwe geraak, teen God in opstand geraak. Daarom het volgens vers 9, die HERE hulle aan hulself oorgegee. Hulle het die Goddelike herderskap wat God aan hulle verskaf het, verwerp.

Daarom sê die Herder as’t ware: Gee my my pakket as julle wil. En daarop het die verdorwe volk dertig silwerstukke afgeweeg om van hulle Godgegewe Herder ontslae te wees. Die heerlike prys waarmee die goddelike herder volgens vers 13 deur die volk gewaardeer is, is ’n sarkastiese uitdruk­king. Daarom word Sagaria opdrag gegee om die sogenaamde heerlike prys vir die pottebakker te gooi. ’n Handeling wat veragting uitdruk. Hulle het die godgegewe Herder maar op die skamele waarde van ’n slaaf bereken.

Die vervulling hiervan is merkwaardig as Judas Iskariot later teruggaan tempel toe, hul geld voor hulle neersmyt. En hulle koop die akker van die pottebakker daarmee as ’n begraafplaas vir vreemdelinge (Matt 27: 9).

Maar dan weet ons dat dit van die vroegste eeue af reeds al verkondig is as deel van die smaad wat Christus moes dra. Die steen wat die bouers verwerp het. Die Messiaskneg van die HERE wat volgens Jesaja 52 en 43 verneder moes word, misvormd moes wees, gepla en verag deur die mense wat as oorgegewe slaaf in volkome liefde, terwyl Judas om die prys van 'n slaaf vir sy lewe beding het, opgestaan het van die tafel, sy bokleed uitgetrek het, en sy dissipels se voete gewas het. Die gestalte van ’n slaaf aangeneem het, en sy dissipels as die kinders van die huishouding van die Vader so liefgehad het, dat Hy in slawe-gewilligheid sy lewe vir ons afgelê het, in ons plek afgelê het sodat ons kan vry uitgaan.

Hierdie gebeure dwing ons opnuut tot ’n waardering van die bittere lyding van ons Here Jesus in ons plek, maar ook veel meer: Dit is die bedoeling van die verkondiging van die evangelie om die hoorders in beweging te bring. Want noudat Christus ons verlos het, wil Hy ons ook hoe langer hoe meer tot sy ewebeeld vernuwe. Hy het dit ook net so aan sy dissipels gesê: As Ek dan, die Here en Meester julle voete gewas het, is julle ook verplig om mekaar se voete te was.

By die verkondiging van Christus se selfverloëning het die apostel Paulus dit op ons toegepas: Hierdie selfde gesindheid moet dan nou ook in julle wees. Om nie elkeen net aan sy eie belang te dink nie, maar elkeen ook aan die ander s’n.

Hierdie is net moontlik as die Here Jesus self deur sy Gees in ons woon. Dit is sy Gees wat Christus en al sy weldade ons deelagtig maak. Deur dan vervul te wees met die een gesindheid en die een begeerte en een strewe van ons Here Jesus Christus, so maak ons die blydskap van ons saligheid uit die offergawe van Christus volkome.

So word die nikswerd 30 sikkels silwer waarmee die tempelowerhede Christus gekoop het vir die kruis, vir ons en in ons die mees kosbare gawe, die waardevolste besitting, sodat ons onsself in wederliefde volkome aan Hom wil toewy.