Bron: Kerk en Woord, 1994. 2 bladsye.

Mattheus 7:21-23 - Verspeel nie die Koninkryk deur Selfmisleiding nie

Lees Matthéüs 7:21-23

Gaan in deur die nou poort en wandel op die smal pad, is die Here se oproep. Maar nou kan ’n mens deur leuenprofete of deur selfmisleiding op die breë pad beland. Daarom moet ons luister na die dodelike erns waarmee Christus sê: “Nie elkeen wat vir My sê, Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.”

Dit sê die Seun van God self. Hy is die Een in wie se Naam geprofeteer word en duiwels uitgedryf en groot kragte gedoen word. Hy is die een wat teenoor die skrifgeleerdes se misleiding sê: “Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is, MAAR EK Sê VIR JULLE....” Die klem op die outoriteit waarmee Hy praat bereik hier in die laaste verse van die bergpreek ’n klimaks. Hy kan selfs onbekeerdes na die verdoemenis verwys.

Christus het nie kritiek daarop as mense Hom “Here-Here” noem nie. Inteendeel! Maar die gevaar bestaan dat Here, Here-sêers, dus kerkmense, mense met die regte leer, mense suiwer in hulle belydenis en wat die Here Jesus in sy reg as Seun van God erken, tog in die dag van die oordeel as werkers van ongeregtigheid uitgewys kan word. Skrikwekkend om dit so te hoor!

Christus se drie voorbeelde maak die hele waarskuwing nog dringender: “Baie sal in daardie dag vir Christus as Regter sê: Here, Here, het ons nie IN U NAAM GEPROFETEER nie?” Dat Hy praat van “baie”, maak die vraag vir elke bedienaar van die Woord akuut: Is ek nie dalk een van die baie nie? Jy kon dalk “die tale van mense en engele spreek” (1 Kor. 13:1). Met taal, een van God se wonderlikste gawes, vermag mense geweldige dinge. Iemand wat die gawe het om sy tong goed te gebruik, kan mense meevoer, kan selfs ’n massahisterie ontketen. So kon jy dalk mense inspireer oor die HERE se genade in Jesus Christus. En tog, in die dag van die oordeel word jy weggewys, gebrandmerk as “ ’n werker van ongeregtigheid”.

Of in sy Naam kon jy hulpelose slagoffers van bose geeste met een magswoord genees. Dit verbyster ’n mens dat Christus sê dat iemand wat iets van die hemel aan ’n besetene kan skenk, ondanks alles tog verlore kan gaan...

Of daar is die derde moontlikheid, dat jy kan kragte doen, bv. iemand uit die dood opwek of ’n storm tot bedaring bring, en tog, dat so ’n gestuurde van Christus in die dag van die oordeel nie aangeneem word nie.

Ons kan ons voorstel dat niemand daardie dag meer verbaas sal wees as sulke profete self nie. Ons hoor hulle protesteer teen die Here Jesus se oordeel en dat hulle Hom dan herinner aan al hulle weldade aan ander. Die Here moet Hom tog met hulle misgis. Matt. 25 vertel van dieselfde teleurstelling by die wat Hy na sy linkerhand verwys.

Hoe is dit moontlik dat sulke gevierde dienaars van die Here uiteindelik tog verlore kan gaan? Die antwoord is: Hulle het hulself al die tyd mislei oor wat die Here werklik van ons verwag. Waar lê die groot verskil tussen Here, Here-sêers en hulle wat die wil doen van Jesus se Vader wat in die hemel is?

Om die wil te doen van Christus se Vader wat in die hemel is, beteken eenvoudig dat ons die Here Jesus Christus moet aanneem soos die Vader in die hemel Hom aan ons geskenk het, nl. as ons volkome Verlosser en Saligmaker, as die Een wat aan die kruis ons sondes gedra het. Gaan ons werklik met al ons sondes en gebreke na Hom? Vra ons by Hom vergewing?

’n Deel van God se genadeverbond is egter ook dat Hy sy Seun ook bedoel het vir ons heiligmaking. Deur sy Gees en Woord kom Hy ’n lewende gemeenskap met die Here Jesus by ons bewerk. En daardie lewensband met Christus stel ons in staat om waarlik God en ons naaste lief te hê, om sy Vader se gebooie met vreugde na te leef. Maar as hierdie lewende band deur die geloof nie bestaan nie, as ons nie waarlik ingelyf is nie, bedrieg ons onsself. En dit is vir alle Christene ’n verskriklike gevaar. Die moontlikheid is lewensgroot dat ons kan profeteer, selfs duiwels uitwerp, of indrukwekkende kragte doen sonder hierdie lewende band met die Here.

Byvoorbeeld, ons kan in ’n gereformeerde huis en ’n gereformeerde skool en deur ’n gereformeerde predikant opgevoed wees. Maar intussen het daardie dinge vir ons op sigself staande groothede geword. Heel subtiel het die klem vir ons verskuif. In plaas dat ons die Here van die kerk lief het en daarom sy kerk en alles wat goed gereformeerd is, is ons dalk trots op ons kerk en ons skool en ons gereformeerde opvoeding en ons suiwer belydenis. Dan is so ’n mens op die breë pad en dan moet hy nie verbaas wees as hy op die laaste dag dalk verneem: “Ek het jou nooit geken nie.”

Om Christus te ken - dit is waaroor dit gaan. Daardie woordjie dui op die opregte en innige lewensband van die geloof met die Here Jesus. Dit is wat die Gees deur die woord by ons wil bewerk. Daar is dikwels maar ’n haarbreedte verskil tussen waarlik met die Heilige Gees vervul wees en vol wees van ons eie vleeslike aspirasies.

Jesus se laaste woorde hier “Gaan weg van my, al julle werkers van ongeregtigheid...”, is ’n aanhaling uit Psalm 6:9.

Wie was die werkers van ongeregtigheid van Psalm 6? Wie het dit vir Dawid in die lyding wat die HERE hom aangedoen het, so onleefbaar gemaak?

Nee, nie mense buite Israel, nie iemand buite die kring van die verbond nie. In die Psalms is dié benaming feitlik altyd sinoniem met benamings soos “goddelose”, “vyande”, “manne van bloed.”

En dit was Israeliete. Aan hulle, net soos aan die ander, was ook God se verbondsbeloftes toegesê. Maar hoewel hierdie lede van God se volk hulle vroom voorgedoen het, het hulle nie Godvresend gelewe nie. Dink aan mense onder die Ou Verbondsvolk soos Esau, soos Saul, soos Hofni en Pinehas, soos Absalom, soos koning Agab, ens.

Die skeidslyn tussen geloof en ongeloof, tussen die saad van die vrou en die saad van die slang loop dwarsdeur die kerk. Die Here Jesus waarsku vir Here, Here-sêers. Dit is werkers van ongeregtigheid juis in die kerk, die wat in die nabyheid van die Woordverkondiging geleef het, wat week na week in die kerk gekom het.

Daarom net die een vraag: Waaroor gaan dit vir u in u godsdiens? Nee, nog skerper moet ek dit stel: Oor WIE gaan dit vir ons?