Bron: Kompas, 2001. 3 bladsye.

Metodistiese Sending in Suidelike Afrika

Die Metodisme met sy opwekkingskarakter is van nature ’n sendingsbeweging. Vroeg in die 19de eeu ontmoet ons al Metodistiese sendelinge in Suidelike Afrika, sowel in die Noord-Kaap as in die Oos-Kaap. Merkwaardig genoeg was in altwee gebiede ene eerwaarde Shaw die eerste en leidende figuur van die Metodistiese sending, terwyl hulle glad nie familie van mekaar was nie.

Barnabas Shaw🔗

In 1788 is Barnabas Shaw as seun van ’n kleinboer in Yorkshire in Engeland gebore. Hy is deur godvrugtige ouers en grootouers opgevoed. Na ’n besoek van ’n Metodistiese prediker het hy hom by die beweging aangesluit. Toe hy 20 jaar oud was, het hy self as prediker begin optree. Na die gebruiklike proeftydperk is hy in 1814 tot predikant georden.

Hy het sy dienste vir die buitelandse sending aangebied en is in Kaapstad aangestel. Voor sy vertrek na Suid-Afrika in Desember 1815, het hy lesse in Nederlands in Londen geneem. Toe die skip waarop hy en sy vrou reis, ’n tussenstop maak in Rio de Janeiro, is hy diep getref deur die harde werk van die slawe wat hy daar sien. Volgens Shaw klink dit vir hom asof hulle sang te kenne gee: “Bejammer die arme Afrika!” – woorde wat hy oorneem vir sendingoproepe en as stempel gebruik.

Op 13 April 1816 het hy in Kaapstad aangekom. Daar was onder die Britse soldate ’n groepie Metodiste wat vir ’n voorganger gevra het. In 1814 is ’n prediker vir hulle uitgestuur, maar die goewerneur, lord Charles Somerset, het hom verbied om te preek. Die leraar het daarop vertrek en Shaw het sy opvolger geword. Ook aan hom word toestemming geweier, maar hy verontagsaam die verbod en preek ongehinderd vir die soldate. Hy word egter nie toegelaat om sendingsaktiwiteite in Kaapstad te onderneem nie. Shaw wou egter juis sendingwerk doen en het daarom moontlikhede in die binneland gesoek. ’n Sendeling van die LSG het hom oorgehaal om onder die mense van Namakwaland en oorkant die Oranjerivier te gaan werk. Teësinnig het Somerset sy toestemming gegee. Op pad na sy beoogde sendingterrein is Shaw deur ’n hoofman naby Klamiesberg gevra om onder sy mense te werk. So het die eerste Metodistiese sendingstasie op die plaas Leliefontein ontstaan.

Shaw en sy vrou het in ’n matjiesgoedhuis gewoon en ’n begin gemaak met sy godsdienstige werk en onderwys. Hy leer die oueres eenvoudige landboumetodes, voer merinoramme in om die stoet te verbeter, gee onderwys aan die kinders en verkondig die evangelie. Een van sy eerste bekeerlinge was ene Jacob Links wat in 1822 ’n geordende predikant geword het.

Toe daar bykomende personeel vir die sendingstasie op Leliefontein aangekom het, het Shaw die moontlikheid ondersoek om verdere sendingstasies te begin.

Saam met sy vrou het hy ’n gevaarvolle reis na Boesmanland onderneem, waarna Jacob Links as sendeling daarheen gestuur is. Links het na ’n tyd halfdood verhonger teruggekeer.

Een van die bekendste medewerkers van Shaw was eerwaarde J Archbell wat in 1819 by hom aangesluit het. Na ’n verkenningstog in die Visriviervallei in Suid-Namibië, trek Archbell soontoe om in daardie gebied te werk. Hulle sien die moontlikhede van Walvisbaai as hawe en basis raak en hul ambisies reik so ver noord soos die huidige Grootfontein. Stamoorloë verhinder hulle egter om hulle planne uit te voer.

Terwyl pogings onderneem word om in die huidige Namibië vaste voet te kry, het Shaw al weer sy oog op nuwe werkterreine gerig. In 1821 stuur hy twee van sy medewerkers om ’n sendingstasie onder die Tswana’s te stig en in 1829 word Archbell na die suide van die latere Oranje Vrystaat oorgeplaas. Toe die Groot Trek begin was hy nog daar werksaam. Baie van die trekboere het eerder van Archbell se dienste gebruik gemaak as van die van Erasmus Smit. Archbell was later die eerste amptelike predikant van die Boerenedersetting in Natal.

Die sterk uitbreidende aktiwiteite is beheer deur ’n ‘District Meeting’ waarvan Shaw die leidende figuur was. Hulle is gefinansier deur onreëlmatige gifte en donasies van vriende in Engeland. Na ’n klompie jare het die ondersteuning minder geword en moes die ‘District Meeting’ sekere sendingstasies sluit.

In 1826 het Shaw, wat gesondheidsprobleme ontwikkel het, na Kaapstad teruggekeer. Daar het hy tot 1837 gewerk en ’n reeks preekpunte in Kaapstad, Kalkbaai, Dieprivier, Wynberg en Rondebosch gestig. Die sendingswerk het uitgebrei na Hottentotsholland, Stellenbosch en Caledon. Dienste is gehou in tronke (o.a. op Robbeneiland), in padkampe, op skepe in die hawe en in privaat huise. Prediking in die ope lug is, hoewel dit aanvanklik deur die polisie teengestaan is, later as ’n reg erken.

Van 1837 tot 1843 is Shaw in Engeland waar hy preek, sendingvergaderings toespreek en sy ‘Memorials’ publiseer. Van 1843 tot 1854 is hy weer in die Kaap waar hy ligte arbeid verrig. Hy koop grond naby Stellenbosch waar hy ’n nedersetting stig waar daklose vrygestelde slawe gerehabiliteer kan word. Raithby is die naam van die projek en ondanks aanvanklike moeilikhede word die doel bereik en ontstaan ’n progressiewe dorpie.

Drie jaar na sy aftrede in 1854 sterf Barnabas Shaw in Mowbray. Shaw word beskou as een van die belangrikste sendelinge in Suid-Afrika. Hy was vol geesdrif en het sy werk met groot geeskrag aangepak. Hy was prakties en aanpasbaar en sy wakker gees het alles wat hy teen gekom het, ondersoek. Sy voorligting was nie net op fondsinsameling gemik nie, maar het baie luisteraars aangemoedig om self sendingwerk te onderneem.

William Shaw🔗

In 1798 is William Shaw as elfde kind van ’n sersant in die Britse leër in Glasgow gebore. Hy was bestem vir ’n militêre loopbaan en is op baie jeugdige leeftyd ingelyf. In 1812 het hy hom by die Metodisme aangesluit. Omdat daar eintlik geen vooruitsigte op bevordering in die leër was nie het hy in 1815 bedank. Na allerlei los werk meld hy hom in 1817 as vrywilliger vir diens as Wesleyaanse of Metodistiese sendeling aan, maar weens sy gebrekkige formele skoolopleiding word hy afgekeur. In 1819 antwoord hy op ’n advertensie waarin ’n Wesleyaanse prediker gevra word om ’n geselskap Setlaars na Suid-Afrika te vergesel. Hoewel daar ook nou aanvanklik teenstand was, is Shaw aanvaar en bevestig as regeringsondersteunde kapelaan. In Julie 1820 kom hy met die 1820-Setlaars in die Oos-Kaap aan en vestig hom in Salem naby Grahamstad.

Shaw was amptelik slegs verantwoordelik vir sy eie groep, maar in die tradisie van die Metodisme beskou hy die hele nedersetting as sy gemeente. Hy reis dikwels onder moeilike omstandighede rond, hy hou dienste, stig Sondagskole en werf in die hele grensdistrik plaaslike predikers. Sy vroeë werk word gekonsolideer deur ’n toenemende aantal predikante wat as Metodistiese sendelinge uitgestuur is. Teen 1860 is daar 22 voorgangers en 44 kapelle vir blankes terwyl daar baie werk onder kleurlinge en swart mense gedoen is.

Ondanks die groot hoeveelheid werk wat daar in die oostelike grensgebied van die Kaapkolonie was, het Shaw sy blik tog reeds op verre horisonne gerig. Reeds ’n jaar na sy aankoms in Salem het hy die plan opgevat om ’n ketting van sendingstasies van Port Elizabeth tot Maputo te stig. Teen 1830 is daar reeds ses sendingstasies in Pondoland. Sy strategie was om by al die vername Transkeise stamme sendelinge te plaas. Daarmee het hy die grondslag gelê vir die wydverspreide invloed van die Metodisme in dié streke. Daar was baie teleurstellings, oorloë en ontoereikende middele en ook die mag van die stamstelsel was oorsake daarvan. Daar was ook ’n ander oorsaak van die teenslae wat ondervind is. Shaw volg die Wesleyaanse gebruik om predikante elke drie jaar te verplaas. Die proses van verskuiwing van medewerkers is nog versterk deurdat Shaw allerlei probleme wat voorgekom het probeer oplos het deur die betrokke mense oor te plaas. Daardeur het daar dikwels kontinuïteit ontbreek en is die impak van die werk verminder.

In 1837 is Shaw aangestel as algemene superintendent van die Metodistiese sending in suidoos-Afrika, wat stasies in Transkei, noord van die Oranjerivier en – na 1842 – in Natal omvat het. Die reise en administratiewe werk wat hy moet onderneem, ondermyn uiteindelik sy gesondheid. Behalwe die evangelieverkondiging, het allerlei maatskaplike werk ook die aandag van die Metodistiese sending geëis. Boerderyprojekte met vrygestelde slawe en opleiding van allerlei aard het deel gevorm daarvan. Ondanks teenslae is op hierdie gebied sukses behaal. Minder suksesvol was sy pogings op onderwysgebied. Die projek was te groots. In plaas dat hy eers vir deeglik opgeleide medewerkers gesorg het, het hy geesdriftige maar onbekwame kragte aangestel.

Alle Wesleyaanse sendelinge het opdrag gekry om “die koning te eer” en om politieke partye en wêreldlike twiste te vermy. Shaw het nie soos John Philip politieke invloed probeer verwerf om dit as wapen in die sendingstrategie te gebruik nie. Nietemin het hy nie gehuiwer om persoonlik invloed op hooggeplaaste amptenare uit te oefen om die sendingwerk te bevorder nie.

Die werksaamhede van die Metodistiese sending het gegons van aktiwiteite en inisiatiewe. Daar is selfs iets ongedurigs in, ’n drang na optrede en uitbreiding. Dit het tot teleurstellings en werk van swak gehalte gelei, maar dit het soms ook spektakulêre dinge te sien gegee. Veertig jaar na Shaw se aankoms was daar 132 Metodistiese sendelinge onder sy leiding in die veld. Die ‘suksesver-haal’ het behalwe bewondering ook weerstand by die gevestigde kerke opgeroep.

Daar was ook ’n mate van ongelukkigheid by die Wesleyaanse sendingwerkers in die Wes- en Noord-Kaap. Daar is gevoel dat te veel van die beskikbare geld na die oostelike sendingterreine gegaan het. Een van hulle het selfs na Londen geskrywe dat die hele 1820 nedersetting ’n fout was. Ander was krities oor die vinnige uitbreiding. Hulle het gekla dat die onstuimigheid die deeglikheid ondermyn het. Daar moet uiteraard ook ander faktore in berekening gebring word. Die grensoorloë het die sendingswerk in die Oos-Kaap dikwels tot ’n vorm van krisisbestuur gedwing. Die veel talryker bevolking in die grensgebied en die Transkei het baie makliker tot vinnige uitbreiding gelei as die dun bevolkte halfwoestyn van die Noord-Kaap. Daar was ongetwyfeld ook karakterverskille tussen die twee Shaws. Altwee het egter, elk op sy eie manier, van sendingwerk hul lewensdoel gemaak en hierdie taak met volle toewyding en ondanks alle swaarkry en teenslae met geesdrif bly uitvoer.