Hierdie artikel handel oor die kerk as moeder.

2 bladsye. Vertaal deur Lize Kampman.

Moeder

hand moeder en kind

As jy van die kerk praat as ʼn huis van waarheid en liefde, kan jy ook sê dat dit die bedoeling is dat die kerk soos ʼn moeder vir jou moet wees.

Die kerkvader Cyprianus het die volgende kras uitspraak gemaak: ‘Wie die kerk nie as moeder het nie, kan God nie as Vader hê nie.’ In navolging van hom het heelwat mense – Augustinus, Calvyn en ander – graag van die kerk as moeder gepraat. Ek wil dit graag anders as Cyprianus wil uitdruk: Iemand wat God as sy Vader ken, kan nie sonder die kerk as sy moeder klaarkom nie.

Die beeld van die kerk as moeder is waardevol. Waarheid en liefde word skitterend daarin saamgevat. Dit het te make met liefde, gesonde voeding en beskerming. Dit omvat geborgenheid en ruimte. Die bewering is al gemaak dat die kerk nêrens in die Bybel moeder genoem word nie. In Galasiërs 4:26 word die hemelse Jerusalem ons moeder genoem. Die aardse gemeente kan nie sommer vinnig met die hemelse werklikheid gelykgestel word nie. Maar ons moet besef, dit kan ook nie daarvan losgemaak word nie. So byvoorbeeld sien os dat die Bybel op baie plekke praat van die gemeente as God se beminde bruid of ook as owerspelige vrou. En hierdie vrou het kinders! Aan Moeder Sion word daar byvoorbeeld gesê: God bring die kinders weer na jou toe terug. Die kinders hoor op hulle beurt: waar is tog die skeibrief van julle moeder waarmee Ek haar verstoot het (Jesaja 49:14−50:1)? ʼn Rukkie later beloof God:

Wees bly saam met Jerusalem en juig oor haar, almal wat haar liefhet! Wees vrolik saam met haar, baie vrolik, almal wat oor haar treurig gewees het! Sodat julle kan suig en versadig word aan die bors van haar vertroostinge; sodat julle kan uitdrink en julle verlustig in die oorvloed van haar heerlikheid.Jesaja 66:10, 11

Kan daar ook ʼn gevaar in hierdie beeldspraak skuil? Ja, as ‘die heilige moederkerk’ op dieselfde vlak as God die Vader gestel word. Te hoë verwagtinge van die kerk het teleurgestelde Christene tot gevolg. Daar bly steeds ʼn oneindige groot verskil tussen Hom en haar. Hy is jou getroue en sterke Vader, sy is jou swak moeder. Ek sien die hemelse Jerusalem gebrekkig gestalte kry in my gemeente. Soms gaan die liefde met spanning gepaard. As ʼn verhouding jou na aan die hart lê, is pyn onvermydelik! Maar ek bly daarvoor bid dat die gemeente toenemend die moeder mag wees wat my by die Vader bring.

Tog spreek die beeld van die moeder my aan. Persoonlik, omdat dit vir my verbind met die kerk van my jeug. Die naam ‘moeder’ sê ook vir my dat jy die drie kenmerke van die kerk wat in die belydenis genoem word, nie as koue kriteria kan sien nie. Inteendeel: die Bybelse verkondiging is jou voeding. Die sakramente is die versterkende middels wat die moeder vir my daarby op tafel sit. En die kerklike tug is die beskerming wat sy my bied. Dit is dan ook nie waar dat dit in die kerk net om die leer gaan en dat atmosfeer en ervaring nie saak maak nie. By jou moeder mag jy tuis voel, tuis in God se huis. ʼn Moeder wat jou voed, versterk en beskerm is iets anders as die sakevrou van die jaar wat aan alle kwalifikasies voldoen.

Aan die ander kant sê die naam ‘moeder’ vir my dat die kerk iets is om van harte lief te hê. Die jongste neiging is in ʼn neutedop: ‘Geloof ja, kerk nee’. Maar hierdie neiging het nie sy oorsprong in die Bybel nie. Omdat Vader moeder so liefhet, daarom het ek haar ook lief (sonder inagneming nog van alles wat ek aan hierdie moeder te danke het). Daarom is dit onbegryplik dat Christene soms so vryblywend en ongebonde teenoor die kerk staan: asof jy die een vereniging net so vir ’n ander kan verruil. Probeer om weer opgewonde oor die kerk te raak en oor die mooi dinge wat daar gebeur. Dit is aansteeklik en opbouend. Is die enorme kerklike verdeeldheid wat ons dikwels deesdae kry nie ʼn aanduiding van ʼn chroniese tekort aan moederliefde by baie gemeentelede nie?

moeder en baba

Ja, jy kan dit ook te ver neem en misbruik maak van die moeder-beeldspraak. Dan loop dinge heeltemal skeef in die kerk, dwalings kry vastrapplek en tog sê mense dan: ek bly steeds getrou aan my gemeente, want ʼn mens laat mos nie ‘’n siek ma’ in die steek nie? Om van jou ma af weg te loop, is iets wat ʼn mens slegs in uiterste nood doen. Maar as die gemeente nie meer ʼn moeder is nie, maar ʼn vrou wat haar kinders vergiftig, het jy geen ander keuse nie.

Sommige kere hoor mens dat daar van ‘kerkkeuse’ gepraat word. Dit lyk dan soms asof die eerste keuse ons s’n is om te maak. In werklikheid het God al vir jou gekies en jou ʼn plek in ʼn bepaalde gemeente gegee. Erken sy leiding in jou lewe. God het jou en my al geken voordat ons gebore is. Die woord ‘moeder’ mag jou daaraan herinner dat jy binne ʼn bepaalde gemeente gebore is. Jou doop was God se rigtingwyser vir jou: “Ek wil jou deel van hierdie liggaam maak.” En daarom ook: Moenie van Christene in ander kerke verwag dat hulle sommer so sonder baie goeie rede ‘oorkom’ na jou kerk nie. Bid wel daarvoor dat elke Christen so bewustelik met God se Woord besig sal wees dat hy dit van sy gemeente verwag dat slegs die stem van die Here daar gesag dra.

En vra jouself af waarom God jou lewe so gelei het en jou in jou huidige gemeente ʼn plek gegee het. En hoe God jou daar wil gebruik.

Vrae🔗

  1. Wat dink jy van die moeder-beeldspraak? Is dit nie ʼn mooi manier om aan te dui dat die kerk nie  slegs ʼn instelling is nie, maar ook te make het met versorging, voeding en intimiteit? Wat sou jy self beskou as ʼn belangrike punt waarop hierdie moeder moet verbeter? (Reken jouself gerus daarby in.)
  2. Om gereformeerd te wees is ‘om groot te dink oor God se genade en dit as iets kosbaar te beskou’. Wat dink jy van hierdie omskrywing?