Bron: Kompas, 2002. 3 bladsye.

Moeites van die Ouderdom

’n Vroueprogram op die radio, aan die begin van die dag. Die onderwerp is bejaardes en hoe hulle voel. As daar probleme is kan hulle maar inbel. Daar is ’n sagte stem wat sê: “Moet asseblief nie vir my kinders sê dat ek gebel het nie, want hulle beheer my pensioengeld, maar ek kry so min, ek kan amper nie daarvan lewe nie, hulle vat amper alles…” ’n Volgende een huil: “Hulle het my 23 jaar gelede in hierdie ouetehuis afgelaai en ek het hulle nooit weer gesien nie…”

’n Mens skrik as jy sulke dinge hoor en jy wonder: Hoe gaan dit met die ouer lidmate in ons gemeente? Dink ons aan hulle? Het hulle ’n plek in die gemeente? Gee ons genoeg aandag? Is daar liefde vir hulle, en begrip vir hulle moeites?

Daar word soms gepraat van ou mense wat knorrig geword het. Is dit tereg? Verstaan ons die depressie wat hulle kan tref omdat hulle nou maar net in ’n stoel kan sit en wag tot die Here hulle kom haal? Ek het van ons bejaarde lidmate al hoor sug: “dit vat so lank…”

Daar is miskien ’n neiging om die ouer broeder of suster in die rede te val met die vermaning “ja maar u weet tog dat u nog ’n taak het en dat die Here ’n doel met hierdie tyd van u lewe het?” Dit is egter belangrik dat ons geleentheid sal gee vir verdriet en vir gevoelens van depressiwiteit.

Moeites🔗

Die meeste van ons is die grootste deel van ons lewe mobiel. Ons kan rondbeweeg na allerhande plekke. Dit raak egter heeltemal anders as ons in ons ouderdom op ’n plek kom waarvan ons weet: dit is die plek waar ek gaan sit totdat ek sterf. Die probleem is dat jy maar moet sit en wag totdat daar ander mense opdaag. Partykeer is daar niemand wat kom kuier nie en is dit maar net die versorgers wat hulle werk kom doen. Hulle is nie altyd in ’n goeie stemming nie, want dit is hulle werk om jou te versorg en jy raak lastig. Jy begin allerhande klagtes kry: jou boude begin seer word, jou knieë raak lam, jy vergeet so baie. En jy sê dit ook.

Die reaksie van die personeel is baie keer: “Toe nou, moenie so baie kla nie, dit is nou maar iets wat jy moet dra.” Dit is natuurlik die waarheid, ons moet moeites dra. Maar die feit bly staan dat jy so ongelukkig voel. Wie wil nou regtig kla? Wie wil graag as ’n moeilike mens bekend staan? Elkeen lewer ’n stryd en dit is nie net oorwinnings wat behaal word nie!

Dikwels is daar ook die angs vir die tyd dat dit nog slegter met jou sal gaan. Wanneer sal die tyd kom dat jy nie meer self toilet toe kan gaan nie? Wanneer bring hulle jou hospitaal toe omdat een van jou liggaamsdele weier om te funksioneer?

As daar dan nie mense is met wie jy jou ongelukkigheid en jou vrese kan deel nie, word die sorge in jou belewing al hoe sterker. En as jy ook elke keer moet hoor dat jy nie so mag praat nie, begin jy ook sleg voel teenoor die Here. “Het die Here my nie my hele lewe lank al sy goedheid en liefde bewys nie? Hoe kan ek dan nou in my ou dag so sit en kla oor alles?”

Daarby kom dat ’n mens se herinnerings soms selektief is. Jy verloor die regte perspektief. Dit is al asof jy die negatiewe baie beter onthou as die positiewe: “Het ek werklik ’n goeie lewe gelei? Het ek alles gedoen wat ek moes gedoen het? Wat van die opvoeding van my kinders? Moes ek nie veel meer aandag aan hulle gegee het nie? En wat van daardie misstappe wat ek destyds begaan het? Ek het lankal vergewing daarvoor gevra, maar nou kom die herinnerings weer terug en dit pla.”

Om te bid is ook nie altyd maklik nie. Dit is soms moeilik om jou gedagtes te beheer. Jy moet hardop bid om die lyn te kan vashou, maar soms is dit onmoontlik vanweë die omgewing waarin jy sit.

Hierdie beskrywing gee maar net ’n klein en onvolledige indruk van die moontlike gedagtes en gevoelens van ons ou mense. Daar is nog baie meer om te noem. Ons moet ook daarby voeg dat die duiwel ook hier aanwesig is. As ’n mens sielkundig gesien swak raak, sal Satan dit geniet om jou nog meer aan jou sondes en gebreke te herinner. Hy kla jou aan en jy voel dat dit heeltemal tereg is, want jy het mos nie goed geleef nie. Jy het jou foute gemaak.

Pastoraal🔗

Hoe kan ons iets beteken vir ons ouer broeders en susters? Eerstens is dit belangrik dat ons respek betoon. Respek vir die Here se werk in hulle en daarom ook respek vir hulle self. Hulle is die mense vir wie die Here so lank Sy liefde en goedheid laat ervaar het. Ons kan maar net by hulle staan en met dankbaarheid sien dat hulle deur alle moeites van die lewe heen die geloof mog behou. Dit impliseer ook dat ons geduldig is, ook as ou mense knorrig of klaerig geword het. Laat ons nie te vinnig met trooswoorde kom nie, want dan laat ons hulle nog meer skuldig voel. Tweedens is dit belangrik dat ons tyd neem vir gesprek. Mense is geskape met ’n behoefte om te praat, te deel, te kommunikeer. Dit geld nie net vir die mooi dae nie, maar beslis ook vir die moeilike dae. As daar dan broeders en susters is wat oud en eensaam word, is dit ’n taak vir die jongeres om met hulle te praat, na hulle te luister, met hulle te kommunikeer. Ons mag hulle bemoedig en vertroos. Ons mag hulle help om nie sleg te voel oor hulle moeilike gedagtes nie. In die gemeente van Christus is daar baie geleenthede vir spontane en informele pastoraat!

Skuldgevoelens🔗

’n Belangrike moeite van oud wees is dat ’n mens jou skuldgevoelens moet hanteer. In hierdie opsig is dit baie belangrik dat sodanige gevoelens in gebed by die Here gebring word. Ons lees in die Psalms hoe Dawid sy donker gevoelens uitspreek, en dan kom daar ook verligting, want hy ken die Here. As die kind van God sy gedagtes voor die aangesig van die Here uitspreek, is die Here daar. Hy is die liefdevolle kenner van die harte. Hy weet wat in ons is, en Hy wil dit ook hoor, sodat daar vergewing kan wees. Selfs jou mees ontevrede of ongelukkige gedagtes en gevoelens word deur die bloed van die Here Jesus bedek. Dit is die kern van die gesprekke en besoeke wat ons bring aan ons ouers of ou broers en susters in die gemeente.

Psalm 32, met die pragtige sielkundige beskrywing, mag ons leidraad wees. Dawid sê: “Toe ek geswyg het, het my gebeente uitgeteer in my gebrul die hele dag” (vers 3) Maar toe hy gebid en sy sonde bely het, het hy die Here ontmoet as die groot Ontfermer. Gevoelens van sonde en skuld is soms diep gewortel. As ons dan reageer met ’n oppervlakkige “ag, maar dit is tog nie so erg nie,” kyk ons verby aan die nood wat daar is by die broeder of suster wat op die punt staan om die Here te ontmoet. Laat ons juis probeer om die ouer broeder of suster te verseker van God se beloftes van genade en vergewing vir almal wat na Hom toe vlug.

As ’n mens voel dat jy aan die einde van jou lewe gekom het, weet jy dat jy die Here gaan ontmoet. Dit kan aan die een kant ’n verlange oproep: Daar gaan uiteindelik ’n einde aan jou lyding kom. Maar daar kan ook vrees wees: Hoe kan ek die heilige God ontmoet? Hoe belangrik is dit dan dat ons van jongs af gehoor het dat daar vergewing is, soos wat byvoorbeeld Psalm 130 daaroor praat:

Sou U as regter handel,
O Heer, en gadeslaan
Ons goddelose wandel,
Ag, wie sou dan bestaan?
Maar nee, daar is vergewing
Altyd by U gewees:
So word U, Heer, met bewing
Reg kinderlik gevrees.

Eintlik sou hierdie psalmvers een van die eerste verse moet wees wat ons as kinders leer, sodat ons van ons vroegste dae af kan leer om op die Here se vergewingsgesindheid te vertrou. As ons so ’n psalm as kind geleer het, sal ons dit in ons ouderdom nog onthou. Dit sal geweldig help om op ons sterfbed nie te begin wankel en te begin twyfel oor die genade van die Here nie.

Daar is egter ook ander reaksie. Daar is ook bejaardes wat skuldgevoelens onderdruk en glad nie daaroor kan praat nie. Daar is ook diegene wat vasklou aan die lewe en wat nie in staat is om ’n gesprek te voer oor die naderende ontmoeting met die hemelse Vader nie. In ons gesprekke met bejaardes sal ons moet luister, en met wysheid moet antwoord gee. Paulus se bekende opdrag is ook toepaslik as ons praat met bejaardes:

Laat julle woord altyd aangenaam wees, met sout besprinkel, sodat julle kan weet hoe julle iedereen moet antwoord.Kolossense 4:6

Geen Hemelverlange🔗

Ons ouer broeders en susters kan ook begin sleg voel oor ’n gebrek aan hemelverlange. Hulle geniet nog so baie van kinders en kleinkinders dat hulle nog glad nie lus is om ‘heen te gaan’ nie. Dit kan gebeur dat bejaarde gelowiges sleg voel omdat hulle nie soos Paulus kan getuig dat hulle ’n verlange het om heen te gaan en met Christus te wees nie (Filippus 1:23).

Daar is egter ’n verkeerde veronderstelling in hierdie gedagtegang. Die Here vra nie van ons dat ons almal te alle tye net soos Paulus moet voel nie. Dit is tog die Here wat vir ons die lewe gegee het, asook die verlange om dit te geniet? Sou dit dan nie ’n gawe van die Here wees as ons nog nie wil sterwe nie? Dit is die orde in die lewe wat die Here self bepaal het. Hierdie skuldgevoelens is al weer ’n lis van Satan wat met sy leuens God se kinders aanval as hulle swak is. Solank ons tyd om te sterwe nog nie gekom het nie, is dit nie ons roeping om daarna te verlang nie, en is dit ook nie nodig dat die Here sy sterwensgenade vir ons gee nie. Maar ons mag mekaar verseker dat die verlange na die vreugdevolle ontmoeting met Hom sal kom. Op God se tyd, as Hy ons roep. Dit het te make met sekerheid wat in God self is. Hy, die God van die lewe, regeer sy kind in lewe en sterwe.

So mag die jonger generasie die ouer broeders en susters vertroos met die evangelie wat hulle juis van die ouer generasie ontvang het. Is dit nie ’n pragtige ordening van ons goeie God dat ons vir hulle mag teruggee wat hulle self vir ons geleer het nie?