Bron: Die Kerkblad. 2 bladsye.

'n Christendom in Balans

In die wêreld, maar nie van die wêreld nie. So het ons Here Jesus dié wat aan Hom behoort, genoem (Joh. 17:16-18).  Daarmee het Hy nie net na die gelowiges van destyds verwys nie, maar ook na ons — die Christene aan die einde van die twintigste eeu. Ook ons is in die wêreld, maar is nie daarvan nie.

Met hierdie paar woorde het die Here 'n balans in ons lewe gelê, 'n balans wat vir Christene van lewensbelang is. In die geskiedenis is daar tragiese voorbeelde van welmenende Christene wat hierdie balans verloor het en daardeur ontspoor het.

Nie Wêreldontvlugting Nie🔗

Die bekendste voorbeeld van Christene wat in 'n beheptheid om nie van die wêreld te wees nie, hulle heeltemal uit die wêreld probeer onttrek het, was die Middeleeuse monnike met hulle kloosterbestaan. Ook welbekend is die sogenaamde "Amish"-groepe in Amerika wat hulleself terugtrek in 'n bestaanswyse (vervoermiddele, kleredrag, ens.) wat vreemd is aan die twintigste eeu.

In sulke mense se pogings om nie van die wêreld te wees nie, het hulle roeping om steeds in hierdie wêreld te leef, helaas by hulle verbygegaan. En die tragiek van hulle bestaan is dat hulle in elk geval nie van die "wêreld" kan wegkom nie, want die "wêreld" - die sonde - is nie maar net daar buile in die samelewing nie. Dit is in ons elkeen. Van die "wêreld" in onsself kan ons nie wegvlug deur onsself in 'n kloosterbestaan terug te trek nie.

Hoewel ons ver van wêreldonttrekking moet wegbly, loop Christene gevaar om in oorreaksie in die ander uiterste in te retireer. Dit gebeur wanneer ons, diep onder die indruk dat ons in die wêreld is, ook "in" wil wees by die wêreld— aanvaarbaar, selfs gewild. Dan het ons in die proses ook van die wêreld geword. Ons in-die-wêreld-wees het dan geword wêreldgelykvormigheid.

Weer eens het dit nie soseer met kleredrag en leefstyl te doen nie. Ja wel, dit kan soms gesien word in die navolging van onkuise kleredrag en 'n onbeheerste leefstyl, Maar die wortel van wêreldgelykvormigheid lê eintlik by die aanvaarding van onbybelse denkbeelde en oortuigings (Rom. 12:2).

Nie Menslike Eer en Waardigheid Nie🔗

In die moderne wêreld is dit byvoorbeeld mode om nie na die eer van God te soek nie, maar na die eer van mense. In 'n poging om nie hierin agter te bly nie, kan Christene maklik hulle godsdiens hierby aanpas: mense se waardigheid en regmatige aansprake van mense word dan die fokuspunt van die Christelike godsdiens. In die proses skuif God se eer en sy regmatige eise al meer op die agtergrond. In so 'n Christendom word al meer gevra na wat die mens wil en al minder na die wil van God.

In die lig van die Skrif word dit egter duidelik dat hierdie mode glad nie nuut is nie. Trouens, die eerste treë daarvan is by die sondeval gegee, toe die eerste mens ter wille van eie eer en waardigheid die "regmatige plek" wat hom toekom wou opeis.

Daarmee het hy juis die heerlike plek wat God aan hom ge­gee het, skade aangedoen. Daarmee het hy die toorn van God en sy verskriklike oordeel oor homself gehaal (Gen. 3:17; Openb. 20:12).

Nie Versoening met die Heidendom Nie🔗

In die moderne wêreld is dit ook mode om konfrontasie tussen godsdienste te vermy en 'n "versoenende" houding in te neem. Ten einde in pas met die wêreld te bly, kan Christene verlei word om ook godsdienstige "versoening" met ander godsdienste te soek. Of ten minste in hulle godsdiens minder klem daarop te lê dat die Here die enigste ware God is en dat alle ander gode vals is.

Hierteenoor leer die Skrif ons dat daar geen gemeenskap tussen God en die afgode kan bestaan nie (2 Kor. 6:13-16). Ook word ons gewaarsku dat elkeen wat 'n vriend van die wêreld wil wees, 'n vyand van God word (Jak.4:4). Vyandskap teen God is 'n vrug van die sonde en word beloon met die ewige dood (Rom. 8:6,7).

Nie Geestelike Vlug nie, maar Stryd Voer🔗

Teen die gevaar van geestelike wêreldgelykvormigheid is daar egter weer die gevaar van oorreaksie. Dit gebeur waar Christene in verset teen moderne denkbeelde en oortuigings heeltemal niks daarmee te doen wil hê nie. Die gevolg is dat hulle nie bewus is van wat rondom ons aan die gang is nie.

Die Christen se roeping is egter om steeds in hierdie wêreld te bly, en daarom op hoogte te bly met hoe die moderne wêreld dink en doen. So sal ons in staat wees om nie onverhoeds deur die dwaling oorval te word en onbedag ook soos die wêreld te begin dink nie.

So sal ons ook in staat wees om ons roeping op 'n eietydse manier uit te leef. En dit is om die dwalings van ons tyd uit te ken en te weerlê, en die waarheid van God se Woord daarteenoor te stel (2 Tim. 4:2).