Bron: Waarheid en Dwaling. 2 bladsye.

'n Feesvierende Menigte

in die kerk

Erediens. Wat hou dit in? Waar kom dit vandaan? Die Bybel gebruik die woord nêrens nie. Die naaste daaraan vind ons in Romeine 12:1 “dat julle jul liggame stel as ’n lewende, heilige en aan God welgevallige offer – dit is julle redelike godsdiens”. As ons hierdie voorskrif bekyk en met die res van die Bybel vergelyk, kom dit regstreeks uit die denkklimaat van die Ou Testamentiese kultusdiens. By die tempel, as die sentrale heiligdom, moes al die offers, feeste en seremonies volgens vaste voorskrifte uitgevoer word.

Die woord erediens is een van die benaminge wat vir die samekomste van die gemeente gebruik word. Die term erediens beklemtoon veral die aanbiddingselement (Engels – worship). Die spesifieke gedagterigting ontlok tereg groot besware. Die samekomste van die gemeente omvat veel meer as aanbidding. In Handelinge 2:42-46 word verskillende praktyke van die eerste Nuwe Testamentiese gemeente in Jerusalem genoem. Hulle het:

  • volhoudend gehoorsaam gebly aan wat die apostels geleer het

  • getrou gebly om geloofsgemeenskap met mekaar te beoefen

  • volhoudend tot God gebid

  • na mekaar se liggaamlike behoeftes omgesien

  • die sakramente bedien.

Hulle het daagliks by die tempel sowel as by mekaar aan huis saamgekom vir die onderhouding daarvan. Die gemeente moet mekaar, vervuld met die Gees en onder die ryke inwoning van die Woord van Christus, leer en vermaan met psalms, lofsange en geestelike liedere (Kolossense 3:16; sien ook 1 Korintiërs 14, Efesiërs 4, 1 Timoteus 4 en 2 Timoteus 4).

In die vroeë Nuwe Testamentiese gemeentes was daar nie ’n vaste liturgiese orde nie. Eers by die uitvoering van so ’n orde van aktiwiteite het dit die naam erediens, soos ons dit vandag ken, gekry. In die Nuwe Testament word ’n verskeidenheid van samekomste van die gemeente genoem. Die inrigting van die samekomste was sterk geskoei op die samekomste in die sinagoges. Treffend: die praktyk om ’n sinagogediens in aansyn te roep en volgens ’n sekere orde in stand te hou, is nêrens deur die HERE beveel nie. Tog het die Here Jesus, tydens sy aardse lewe, voluit hierby ingeskakel en sin daaraan verleen; so ook sy apostels in die verdere verbreiding van die evangelie en die vergadering van gemeentes. By die sinagoges was die inrigting sterk ingestel op die gebeure wat daagliks en jaarliks by die tempel in Jerusalem moes plaasvind. Die samekomste het hulle besondere momente van onder meer votum, seëngroet, verskeie Skriflesings, prediking en gebed gehad.

Alhoewel die kultiese seremonies van die tempeldiens nie tydens samekomste in die sinagoges uitgevoer is nie, het hulle dit wel gebruik om hulle lewens volgens die ware inhoud daarvan in te rig en hulle geloof daarop te grondves (NGB artikel 25).

’n Reusesprong is sedert daardie tyd gemaak. Toe het die voorlesers en predikers vanaf handoorgeskrewe rolle die Bybelteks aan die gemeente voorgelees. Die gemeente kon dit alleen in herinnering vashou as hulle dit uit die hoof geleer het. Vandag het elke individu op verskeie wyses (in vertaalde vorm op skrif, oudio-visueel, elektronies) self toegang tot die Bybel. Hierdie ontwikkeling bring noodwendig mee dat die inkleding van die samekomste van die gemeentes deur die eeue verreikende aanpassings ondergaan het. Gemeentelike of kerklike samekomste is vanweë ons moderne kommunikasie- en vervoertegnologie nie meer vasgevang of beperk tot mense in ’n afgeslote geografiese gebied nie. Al is ons samekomste geskoei op die liturgiese aspekte van die sinagoges van ouds, het die inrigting daarvan tog aangepas in harmonie met ons omstandighede.

Wat is ’n erediens? Hoe verskil dit van ’n Bybelstudiegroep en ’’n kerkraadsvergadering? Meer ingrypend: Hoe verskil ’n erediens van ’n omgeegroep, ’n selgroep, ’n jeugsangaand, ’n moderne Nederlandse “God-fashion” of van kinderkerk? Waarom is eredienste verpligtend en die nalating daarvan tugwaardig, terwyl Bybelstudies en ander samekomste opsioneel en vrywillig is?

Vir sommige is ’n erediens daardie spesiale samekoms van die gemeente waar daar ’n vaste orde van items, soos in die sinagoge van ouds, plaasvind. Hierdie spesiale samekoms word dan gesien as die enigste verpligte samekoms: as lidmate nalaat om dit by te woon, moet hulle onder sensuur kom. Indien die samekoms dan nie op die vaste orde van gebeure ingerig word nie - veral as dit nie deur ’n predikant gelei word met die hande opgehef deur ’n aanvangseën geopen en met ’n slotseën geëindig word nie – is dit geen erediens nie. Dan is dit hoogstens ’n godsdiensoefening.

Hierdie onderskeidings kom nie tussen die verskillende samekomste van die Nuwe Testamentiese gemeentes voor nie. Uit al die verskillende Skrifgedeeltes wat oor samekomste van die gemeente handel, kan ons sekere afleidings maak. Die gemeente kom saam:

  • voor die aangesig van die Here

  • om deur die Here uit sy Woord onderrig te word (Skriflesing, psalmgesang, prediking)

  • om met die Here in gebed te verkeer

  • om die sakramente ter versterking van die geloof te gebruik

  • om die geloofsgemeenskap te beoefen in onderlinge meelewing, vertroosting, vermaning, diens van barmhartigheid.

Bybelstudie

Hierdie samekomste moet veral op die feesdag (rusdag, Sondag) meermale geskied, maar behoort ook deur die week op verskillende plekke en tye plaas te vind. Wie huisgodsdiens nalaat, is net so skuldig aan erediensversuim as iemand wat die oggend- of aanddiens verpas.

Die gemeentelike samekoms met die Here en met mekaar het reeds in die kleine by Adam en Eva in die paradys en by Kain en Abel in hulle offerdiens begin. Sedert die tydperk van die aartsvaders het dit in die geskiedenis van die volk van Israel tot ’n seremoniële kultusdiens verword wat in Christus vervul is. Na Christus se opstanding uit die dood en sy hemelvaart, vergader Hy sy gemeentes op alle plekke deur sy Woord en Gees om onderlinge byeenkomste te hou en om in Gees en waarheid te aanbid. Terwyl ons hiermee besig is, wag ons met reikhalsende verlange om by die wederkoms van Christus deel te mag wees van die feesvierende menigte. Dit is die menigte wat in Sion voortdurend voor sy aangesig vergader en in sy heilige lig wandel, lewensbly.