Bron: Kompas. 3 bladsye.

'n Goeie Vrydag-preek van Luther

Met al die opwinding rondom die film ‘The Passion of Christ’ is dit goed om na ’n stem uit die verlede te luister. In 1519 het Martin Luther ’n Goeie Vrydag-preek uitgegee met die titel “Ware en valse sienings oor Christus se lyding”. Amper vyfhonderd jaar later is sy boodskap nog merkwaardig aktueel. Hier volg ’n vrye bewerking van Luther se preek.

Daar is mense wat die lyding van Christus op so ’n manier oordink dat hulle kwaad word vir die Jode en vir die arme Judas. Dit is soos wanneer sommige mense uit gewoonte kla oor ander mense en op hulle vyande gefokus is. So ’n oefening is natuurlik nie ’n oordenking van die lyding van Christus nie, maar ’n oordenking van die verdorwenheid van Judas en die Jode.

Daar is ook mense wat Christus se lyding op ’n ander manier misbruik. Dit gebeur wanneer Christus se lyding afgebeeld word in prente en boeke en krusifikse. Sommige gaan selfs so ver dat hulle glo dat hulle daardeur beskerming geniet teen gevare soos water, of vuur, of die swaard. Op hierdie manier word die lyding van Christus ’n middel tot beskerming teen eie lyding. Dit is nie waarvoor Christus se lyding bedoel was nie!

In die derde plek is daar mense wat met Christus simpatiseer op so ’n manier dat hulle hom geweldig jammer kry omdat Hy so onskuldig was, soos byvoorbeeld die vroue van Jerusalem wat oor Christus gehuil en geweeklaag het. Soos ons weet, het Christus hulle vermaan om eerder oor hulleself en oor hul kinders te weeklaag.

Aan die ander kant is daar diegene wat die oordenking van Christus se lyding liewer vermy en meen dat dit genoeg is om die mis by te woon. Die oorsaak hiervan is die onderrig van sommige leraars wat sê dat die mis opere operati, non opere operantis werk, met ander woorde, dat die mis outomaties werk, onafhanklik van ons verdienste of waardigheid. Nogtans was die mis nooit om daardie rede ingestel nie. Dit was juis die bedoeling dat ons daardeur die lyding van Christus sou oordink. As ons dit nie doen nie, is die deelname aan die mis nutteloos.

Die regte verstaan van Christus se lyding🔗

Diegene wat op die regte manier oor die lyding van Christus nadink, doen dit op so ’n manier dat hulle in hul harte verskrik raak, en dat hul eie gewete hulle aankla. Hierdie verskrikte gevoel is nodig sodat ons die ernstige toorn van God oor sonde en sondaars mag raaksien. Dit is ook nodig sodat ons kan verstaan dat God bepaal het dat sy Seun die sondaars slegs kon verlos deur die losprys wat in Jesaja 53:8 genoem word: “Ter wille van die oortreding van my volk was die plaag op Hom.” As jy diep daaroor nadink dat God se Seun hierdie lyding ondergaan het, sal jy inderdaad verskrik wees. En hoe meer jy daaroor nadink, hoe groter indruk sal dit op jou maak.

Jy sal verder ook besef dat jy die persoon is wat Christus se lyding veroorsaak het. Jou sondes het dit gedoen. So het die apostel Petrus die Jode geweldig laat skrik toe hy vir hulle gesê het: “Julle het Hom gekruisig” (Hand. 2:36). Hy het hulle almal, sonder onderskeid, aangespreek.

So was daar op daardie dag drie duisend wat verskrik was en wat bewend aan die apostels gevra het: “Broeders, wat moet ons doen?” Daarom, as julle sien hoe die spykers deur sy hande gedryf word, moet julle glo dat dit julle is wat dit gedoen het. As julle die doringkroon op sy kop sien, moet julle glo dat hierdie dorings julle verdorwe gedagtes is, ensovoorts.

Een van die kerkvaders was in sy gewete so verskrik as gevolg van die oordenking van Christus se lyding dat hy gesê het: “Ek het gedink dat ek veilig was. Ek het niks verstaan van die ewige oordeel wat in die hemel op my wag nie, totdat ek gesien het hoe die ewige Seun van God na vore getree het en Homself vir my geoffer het oor juis daardie oordeel.” As ons die erns van Christus se lyding sien, behoort ons nie meer ligtelik oor ons sondes te dink en te reken dat ons veilig is nie. Daarom het die Here die vroue aangespreek en gesê: “Dogters van Jerusalem, moenie oor My ween nie, maar ween oor julleself en oor julle kinders.” (Luk. 23:28) En dan gee Hy in die 31ste vers ook die rede: “Want as hulle dit doen aan die groen hout, wat sal met die droë gebeur?” Asof Hy vir hulle wou sê: Leer van my martelaarskap wat julle eintlik verdien het om te ontvang.

Elkeen moet homself hierin oefen, want die wins van Christus se lyding hang daarvan af of ’n mens ware kennis van jouself kry, sodat jy verskrik raak in jou gewete. Solank ’n mens hierdie punt nie bereik nie, sal die lyding van Christus vir jou geen voordeel oplewer nie.

Hoe bereik ’n mens dit? Nie deur baie woorde nie, maar deur diep gedagtes en deur ’n diepe besef van ons sondes. Kom ons neem ’n voorbeeld: Sê nou maar ’n boosdoener is veroordeel omdat hy die kind van ’n koning doodgemaak het, en jy was veilig omdat jy onskuldig was. Maar dan word jy gevange geneem en dit blyk dat jy die boosdoener in staat gestel het om daardie bose misdaad te pleeg … kyk, dan is jy skielik in groot ellende en jou gewete sal jou aankla. So moet jy ook voel oor Christus se lyding. Want die ‘boosdoeners’, die Jode, alhoewel hulle die Seun van God geoordeel en verwerp het, was ook die dienaars van jou sondes. In werklikheid was jy die een wat die Seun van God deur jou sondes gekruisig het.

Enigiemand wat so hard en gevoelloos is dat sy gewete hom nie aankla as hy Christus se lyding oordink nie, moet bevrees wees en bewe. Want daar is geen keuse nie: as jy nie nou, tydens jou lewe, in jou gewete verskrik raak vanweë Christus se lyding nie, sal jy Christus se lyding ervaar nadat jy gesterf het. Dit is verskriklik om met hierdie dinge gekonfronteer te word op jou sterfbed. Bid derhalwe tot God, dat jou hart versag mag word en dat jy op ’n vrugbare manier die lyding van Christus mag oordink. Jy moet egter besef dat dit nie beteken dat jy self hierdie dinge moet doen nie. Jy moet eerstens die genade van God soek en daarna verlang, sodat jy dit deur God se krag mag vermag, en nie deur jou eie krag nie.

Aangesien hierdie werk nie in ons hande is nie, kan dit gebeur dat ons bid en tog nie onmiddellik die verlangde effek ontvang nie. Tog moet ons nie wanhoop nie, maar aanhou bid. Dit sal kom wanneer ons nie daarvoor bid nie, volgens God se kennis en besluit.

Die troos van Christus se lyding🔗

As ons Goeie Vrydag op die regte manier gevier het, moet ons voortgaan en by Pase en Hemelvaart uitkom. As ’n mens jou sondes raakgesien het en jy is verskrik in jou gewete, dan moet ’n mens oppas dat jy nie daarby bly staan nie. Dit mag nie so wees dat niks as onsekerheid en twyfel oorbly nie.

Bring dan jou sondes by Christus en glo met ’n opgewekte gees dat jou sondes deur sy wonde en lyding bedek word. Wees oortuig daarvan dat Hy dit dra en genoegdoening bewerk. Dit is wat Jesaja 53:6 sê: “Die HERE het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom.” Dit sê die apostel Petrus ook in sy eerste brief, hoofstuk 2:24: “wat self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het”. En die apostel Paulus in 2 Kor. 5:21 “Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.” Ons moet volledig vertrou op Skrif-gedeeltes soos hierdie. Hoe sterker ons gewete ons aankla vanweë ons sondes, hoe meer moet ons ons toevertrou aan die boodskap van hierdie verse. As ons dit nie doen nie, sal ons nooit vrede in ons hart hê nie. As ons sondes op ons gewete bly lê, sal die las vir ons te groot word om te hanteer. Maar as ons sien dat ons sondes op Christus gelê is en dat Hy die oorwinning oor ons sondes behaal het deur sy opstanding, en as ons dit vreesloos glo, dan is ons sondes dood en beteken niks meer nie. Want ons sondes kan nie op Christus bly lê nie. Dit word gekanselleer deur sy opstanding. Dit is die boodskap van Paulus in Rom. 4:25 as hy sê dat Christus “oorgelewer is ter wille van ons misdade en opgewek is ter wille van ons regverdigmaking”.

As ons sover gekom het, moet ons nog verder gaan. Ons moenie by Christus se lyding bly staan nie, want dit het sy werk gedoen. Gaan voort en dink ook aan die vriendelike hart van Christus, hoe vol liefde dit vir jou is. Dink aan die liefde wat Hom gedring het om die swaar las van jou sondes te dra. Dan sal jou hart ook in liefde vir Hom ontbrand, en jy sal sekerheid van geloof ontvang. Trouens, jy moet nog hoër gaan: deur die hart van Christus na die hart van God toe. Jy moet besef dat Christus nie in staat sou gewees het om jou lief te hê as God dit nie in sy ewige liefde wou gehad het nie. Dan sal jy die Goddelike, goeie Vaderhart sien, en so sal jy deur Christus na die Vader getrek word. Dan sal jy die woord van Christus verstaan: “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (Joh. 3:16). Om God na waarheid te ken, beteken dus om Hom te ken in sy goedheid en sy liefde. Dan sal ons geloof en vertroue onwankelbaar vas staan.

As jy sover gekom het, sal Christus se lyding ook ’n voorbeeld vir jou hele lewe wees, en dan sal jy sy lyding nog weer op ʼn ander manier oordink, naamlik soos volg: As depressie of siekte ons wil onderkry, onthou dan hoe nietig jou probleme is in vergelyking met die dorings en spykers in Christus se liggaam. As hoogmoedige mense jou aanval, onthou dan hoe Christus verneder was en saam met moordenaars gereken is. As jy die slagoffer word van haat of jaloesie, onthou dat Christus met vele trane gebid het vir die wat Hom haat.