3 bladsye.

'n Kwade Dag in die Parlement - Toeganklikheid van die Aborsiewet

In die afgelope weke is daar heelwat oor die aborsiewetgewing in Suid-Afrika gepraat en gepubliseer. Die parlement het bestaande aborsiewetgewing meer toeganklik gemaak. In kort hou dit in dat verpleegsters ook nou aborsies kan uitvoer. Verder kwalifiseer alle klinieke en hospitale nou outomaties om aborsies sonder die toestemming van die minister uit te voer. Groter druk word sodoende op gesondheidswerkers geplaas om aan aborsiepraktyke deel te neem.

Al hoe meer aborsies word met misoprostol, die mees beskikbare abortifikant, geïnisieer. Hierdie middel veroorsaak kontraksies van die baarmoeder wat tot gevolg het dat die embrio met plasenta afgedryf word. Die vrou begin dus te bloei soos in die geval van ’n miskraam. Die aborsie wat met misoprostol geïnduseer word, is nie volledig nie. Daarom moet die vrou in ’n hospitaal ’n prosedure kry om die baarmoeder ‘skoon te maak’. Dit word ’n dilatasie en kurettasie genoem en geskied onder ’n sedeermiddel soos midazolam of pethidien. Die serviks word gedilateer en die binnekant van die baarmoeder gekuretteer. Hierdie prosedure is nodig om die bloeding te stop wat ernstig kan wees as gevolg van bloeding van die embrio of plasenta of produkte daarvan.

Indien dit nie gedoen word nie, kan die vrou ernstige hoeveelhede bloed verloor wat lewensbedreigend kan wees.

Algemene praktisyns en verpleegsters gee hierdie middel steeds meer aan vroue wat ’n aborsie versoek. Die vroue word geadviseer om, sodra die bloeding begin, na ’n hospitaal te gaan waar ’n dilatasie en kurettasie uitgevoer kan word. So word die werk van die aborsie in die spreekkamer of kliniek geïnisieer en in die hospitaal afgehandel. Hierdie praktyk kom al hoe meer voor en gaan in die toekoms onder die nuwe wetgewing toeneem.

Dokters en verpleegsters wat in hospitale aan diens is, ontvang ’n pasiënt met vaginale bloeding nadat sy misoprostol van ’n ander dokter of verpleegster ontvang het om ’n aborsie te induseer. ’n Groot dilemma. Die personeel word nou met ’n pasiënt gekonfronteer waarin ’n aborsie geïnduseer is en waarvan hy of sy nou gevra word om die ‘werk van die aborsie’ deur middel van ’n dilatasie en kurettasie te voltooi. Dus, ’n dokter of verpleegster wat geen probleem met aborsie op versoek het nie, begin die aborsie en laat dan die werk aan iemand anders oor wat moontlik prinsipieel daarteen gekant is.

Onlangs het ek self so ’n pasiënt gehad. Sy het by die hospitaal gekom met die klagte van vaginale bloeding en laer abdominale pyn. Na ondersoek het ek bevind dat sy swanger was en die diagnose van ’n onvolledige miskraam gemaak. ’n Dilatasie en kurettasie was noodsaaklik om te verseker dat sy ophou bloei. Die pasiënt was eerlik genoeg om te vertel dat haar algemene praktisyn haar misoprostol gegee en vir haar gesê het dat sy hospitaal toe moet kom as sy begin bloei. U begryp die probleem. Haar algemene praktisyn het geen brief saamgegee om te verduidelik wat hy gedoen het nie en die dokter aan diens in die hospitaal heeltemal in die duister gelaat. Of haar algemene praktisyn enigsins met haar oor die gevolge van aborsie gepraat is, is onbekend.

Die dokter se besonderhede is opgespoor en hy is geskakel. Vir hom en die pasiënt het ek verduidelik dat ek prinsipieel nie deelneem aan aborsiepraktyke nie. Verder het ek hom versoek om die werk wat hy begin het, klaar te maak. Ek het die pasiënt gestabiliseer, ’n drup in werking gestel en haar, met ’n verwysingsbrief met my bevindinge, na die algemene praktisyn terugverwys.

Wat staan ons as Christen-dokters en -verpleegsters te doen noudat die wetgewing so toeganklik geword het dat dokters en verpleegsters omliggend aan ’n hospitaal kan aanneem dat elke fasiliteit kwalifiseer om aborsies uit te voer? Hulle kan nou sonder om teen die wet te handel ’n aborsie met misoprostol induseer. Onder die nuwe wetgewing sal misoprostoltablette makliker en by meer klinieke beskikbaar wees. Steeds meer dokters sal onder druk kom om die aborsieproses in die hospitaal af te handel.

Dit is skrikwekkend om te weet dat daar sedert die beskikbaarheid van misoprostol reeds ’n hele aantal vroue gesterf het − uiteraard ’n onnatuurlike dood. Doctor’s for Life (’n anti-aborsie vereniging onder dokters) het onlangs ’n verduideliking van die minister van gesondheid gevra oor die onnatuurlike sterftes van vroue in een provinsie as gevolg van die gebruik van misoprostol. ’n Antwoord is nog uitstaande.

Dit is ’n moeilike situasie. ’n Paar riglyne mag dalk help in die gesprek en praktyk:

  • Dit is duidelik dat dokters en verpleegsters met die nuwe wetgewing onder groter druk gaan kom om deel te neem aan aborsiepraktyke. Dokters en verpleegsters kan selfs onwetend in die aborsiepraktyk ingetrek word deurdat hulle aangewese is op die eerlikheid van die pasiënt en die verwysende dokter of verpleegster om hulle in te lig dat die vaginale bloeding waarmee hulle presenteer nie die gevolg van ’n natuurlike miskraam is nie, maar van ’n wilsbesluit om die vrug af te dryf sekondêr tot ’n pil wat ’n dokter of verpleegster aan hulle gegee het.
  • Christen-dokters en -verpleegpersoneel sal ’n pasiënt wat presenteer met ’n vaginale bloeding moet vra of hulle enige pil by ’n dokter of verpleegster gekry het om ’n aborsie te induseer. Hierin is hulle heeltemal aangewese op die eerlikheid van die pasiënt en die eerbaarheid en professionaliteit van die dokter of verpleegster wat die aborsie geïnduseer het.
  • Christen-dokters en -verpleegsters sal duidelik openheid moet gee dat hulle nie aan aborsiepraktyke van ander wil deelneem wat hulle nie self voltooi het nie. Die beste is om dit pro-aktief aan die betrokke gesondheidsowerheid (superintendent van die hospitaal) voor te lê. Geen gesondheidsowerheid kan dokters of verpleegsters bind om teen hulle oortuiging aan aborsiepraktyke deel te neem nie. My ervaring is dat ’n duidelike posisie-inname respek afdwing en gewoonlik verstaan word. Daaroor gaan dit natuurlik nie in die eerste plek nie, maar om aan die HERE meer gehoorsaam te wees as aan die mense, soos die gelowige vroedvroue in Egipte gedoen het. Dit moet ons uitgangspunt bly − ook as wetgewing dokters en verpleegsters onder groter druk plaas om aan aborsiepraktyke deel te neem.
  • Christen-dokters en -verpleegsters kom voor ’n baie moeilike dilemma te staan as hulle byvoorbeeld op nagdiens ’n pasiënt kry waar ’n aborsie elders geïnduseer is en met aktiewe bloeding by die hospitaal aankom. Hierdie pasiënt sal gehelp moet word. Dit beteken eerstens stabilisasie volgens die gewone protokol van resussitasie. Sorg dat die pasiënt se lugweg oop is, goeie ventilasie teenwoordig is en stabiliseer die bloeddruk en sirkulasie deur middel van ’n drup en bloedoortapping, indien nodig. Dit is goeie praktyk om ’n sonar te doen en die diagnose te bevestig. Gewoonlik is die baba reeds oorlede (moord reeds gepleeg). Indien daar geen uitweg is nie, sal ’n dilatasie en kurettasie ook gedoen moet word om die vrou se lewe te beskerm. Dit sou nie aanvaarbaar wees om die vrou te laat doodbloei nie. Dit sal egter duidelik die volgende oggend aan die superintendent en die dokter of verpleegster wat die aborsie geïnduseer het, voorgehou moet word. Ook die pasiënt moet ingelig word. Jy is prinsipieel gekant teen deelname aan aborsiepraktyke. Dokters en verpleegsters wat aborsies sonder enige verwysingsbrief induseer, moet aan die dissiplinêre komitee van die mediese raad oorgegee word. Dit is onaanvaarbare en onprofessionele praktyk en moet aan die kaak gestel word. Dit is belangrik om met die superintendent te gaan praat om duidelik jou oortuiging oor te dra. Indien dokters of verpleegsters aborsies induseer moet hulle self hul werk afhandel.

Dit was ’n kwade dag in die parlement. Ons glo onomwonde dat God die mens vanaf konsepsie gemaak het. Dit is interessant dat aborsiewetgewing in die Verenigde Koninkryk en Verenigde State van Amerika meer beperk word − in teenstelling met wat ons in Suid-Afrika beleef. Oortuigende mediese bewyse is gelewer dat ongebore kinders reeds van ’n baie vroeër leeftyd ‘mense’ en lewensvatbaar is as wat vroeër gedink is − jammer dat daar nie gewoon by konsepsie al van beskermwaardigheid gepraat word nie. As Christen-dokters en -verpleegsters sal ons daarvoor moet uitkom en hierdie belydenis moet laat hoor, ook voor die mense.