Bron: Kompas, 2002. 4 bladsye.

'n Naam om Nie te Vergeet Nie

In Augustus van die vorige jaar was dit 200 jaar gelede dat mnr. G Groen van Prinsterer gebore is. Aan die groot massa het dit beslis geen stof tot herdenking gegee nie, maar onder gereformeerdes is dit tog ’n naam wat ons nie moet vergeet nie. Daar het selfs ’n splinternuwe populêre biografie oor Groen verskyn. Ook onder ons lesers sal daar baie wees vir wie die klank van sy naam nie onbekend is nie. Maar wat weet ons van die man self en meer nog oor dit waarvoor hy gestaan het en wat hy gedoen het?

Agtergrond🔗

Guillaume Groen van Prinsterer is as tweede kind en enigste seun van ’n mediese dokter in Den Haag, Nederland, op 21 Augustus 1801 gebore. Die dubbele naam kan ’n mens laat dink dat hy van adellike afkoms was, maar dit is nie die geval nie. Een van sy voorouers het sy moeder se van by die van sy vader gevoeg waardeur die kombinasie Groen van Prinsterer ontstaan het. Die familie het deur die geslagte deel begin uitmaak van die Hollandse aristokrasie. Veral die vader van Groen het naas sy mediese praktyk belangrike staatsfunksies vervul. Die familie was ook baie ryk. Groen se ma is voor haar troue “die erfdogter van Holland” genoem en het in die huwelik met die reeds welgestelde dokter Groen ’n groot vermoë ingebring.

Willem Groen, soos hy in die wandeling genoem is, het ’n opvoeding ontvang soos wat slegs vir die kinders van die aristokrasie weggelê was. Die beste privaat onderwysers en skole is vir hom gekies. Die koste en aandag aan sy opvoeding en opleiding bestee, was ’n goeie belegging. Ruim 22 jaar oud sluit hy sy studies in Leiden af met ’n dubbele promosie. Op een en dieselfde dag verdedig hy ’n proefskrif oor die Justiniaanse wetgewing en direk daarna ’n proefskrif oor die persoonsbeskrywing van Plato. Daarmee verwerf hy sowel die doktorstitel in die regte as in die lettere. Meer nog, sy optrede en die skitterende beheersing van Latyn het spreekwoordelik geword: om Latyn te praat soos Groen.

Op 31 Mei 1828 trou Groen met Elizabeth van der Hoop, ’n Groningse burgemeestersdogter en vriendin van sy suster. Sy het ’n baie groot invloed op haar man gehad en hom in alles ondersteun. Betsy Groen was ’n vrome vrou en sy het net soos Groen die ideale van die Réveilbeweging van harte ondersteun. By Groen se sterwe is van haar getuig dat Nederland vir ’n groot deel aan haar dank verskuldig is vir wat haar man was en gedoen het.

In 1832 sterf Groen se moeder en word hyself ook ernstig siek sodat vir sy lewe gevrees is. Hierdie periode in sy lewe het hom tot ernstige besinning gebring en sy verhouding tot God verdiep. Ook voor die tyd was hy ’n Christen, maar daar was veel tradisie en min werklike diepgang in sy geloof. Die verandering in sy lewe het die Groens tot leiers van die Nederlandse Réveil gemaak. Hulle was aan die Réveil-ideaal toegewy: persoonlike betrokkenheid by die evangelie en ’n diepe oortuiging aan die saak van Christus op alle gebiede van die lewe. Toewyding is by Groen van Prinsterer ’n sleutelbegrip.

Loopbaan🔗

Groen vestig hom na sy promosie as advokaat in Den Haag, maar die werkkring gee hom nie baie voldoening nie. Deur bemiddeling van invloedryke vriende word hy onder die aandag van Koning Willem I gebring wat Groen as sekretaris in die persoonlike kabinet van die koning aanstel. Willem I was ’n vors wat alle toutjies van die regering stewig in eie hande gehou het. Daar was wel ministers, maar hulle was slegs uitvoerders van die besluite van die koning. Die senusentrum van die regering was die koning se persoonlike kabinet waar alle besluite voorberei en geformuleer is. Groen se aanvanklike taak was om die koning op hoogte te hou van wat in die koerante geskrywe is en van die inhoud van die debatte in die parlement.

Groen was egter nie vir “skryfslaaf” in die wieg gelê nie. Teen die einde van 1833 bied hy sy ontslag aan die Koning aan. Nie sonder rede beroep hy hom daarin op sy swak gesondheid. Veral die Hollandse winter het hom sy lewe lank gepla en dikwels vir weke aan die huis gebind. In sy ontslag van alle werksaamhede vir die koning was een uitsondering. Groen sou aanbly as die versorger van die huisargief van die huis van Oranje-Nassau. In hierdie huisargief was deur die eeue die persoonlike korrespondensie en dokumente van die Oranjes byeengebring. Dit het begin by die Prins Willem van Oranje en het dus die hele periode van die geskiedenis van die Republiek van die Verenigde Nederlande omvat. Groen het in hierdie argief sy gelukkigste jare deurgebring. Hy het ongelooflik hard gewerk en ’n skitterende publikasie van hierdie historiese skatte versorg.

Met hierdie werksaamhede het hy op die kruin van die golf gery. In baie lande het die vak geskiedenis as ’n selfstandige wetenskap begin ontwikkel. Met name die kritiese en sorgvuldige hantering van die bronne begin toe ’n groot rol speel. Voor die tyd was geskiedenisboeke meer ’n verslag oor wat mense graag oor hul eie verlede wou glo as wat dit ’n poging was om die werklike gebeure opnuut te vertolk. Groen was in hart en siel ’n historikus. Hy het egter nie slegs gepoog om die verlede te rekonstrueer nie, hy het gesoek na die wese van die verlede en sy betekenis vir die hede. Wat die Nederlandse geskiedenis betref is hy gegryp deur die sterk band tussen die regering van die Oranjes en die handhawing van die gereformeerde godsdiens. Daarin het hy die wese van die Nederlandse nasionaliteit, die heeltemal eie rol van die Nederlandse volk gesoek.

Hierdie groeiende oortuiging staan haaks op wat in die tyd in Nederland plaasvind. In 1834 het die Afskeiding uit die Nederduitsch Hervormde Kerkgenootskap plaasgevind. Groen en sy vrou was van oordeel dat geen onreg, hoe groot ook al, so ’n stap kon regverdig nie. Hulle het hulle lewe lank lidmate van die Hervormde kerk gebly. Aan die ander kant was hulle heeltemal daarvan oortuig dat die Afgeskeidenes niks anders as die ware Gereformeerde pad geloop het. Die verdrukking en vervolging van die Afgeskeidenes was vir Groen ’n doring in die siel. Eerstens het die vervolging met alle regsgevoel gestry, maar dit was ook in absolute teenspraak met Groen se groeiende visie op die Nederlandse geskiedenis van staat en kerk. Groen tree in 1837 met ’n uiters moedige daad voor die voetlig. In ’n geskrif toets hy die optrede van regering en koning aan die staatsreg en toon aan dat dit onregmatig en onNederlands is. Daarmee plaas hy sy goeie verhouding met die koning op die spel, gaan hy regstreeks in teen die gevestigde mening veral in sy eie kringe en verloor hy vriende.

Kruispunt🔗

Met die publikasie van sy geskrif ter verdediging van die Afgeskeidenes het Groen ’n baie belangrike posisiebepaling gegee. Die drie lyne van Groen se diepste oortuigings het hierin saamgevloei. In die eerste plek was dit sy absolute oortuiging dat die gereformeerde leer die Heilige Skrif naspreek. Die verdediging daarvan is in sy diepste wese gewortel. Daarby sien hy ’n direkte verband tussen die handhawing van die gereformeerde godsdiens en die bloei van die Nederlandse volk onder die soewereiniteit van Oranje. Ten slotte was hy ’n regsgeleerde vir wie die handhawing van die reg sonder aansien van die persoon en tot in die kleinste onderdele van die openbare en persoonlike lewe van die grootste belang was. Die Groens het so diep daarin geglo dat hulle hul hele lewe aan die verbreiding, verdediging en uitleef van hierdie ideale gewy het.

Sy optrede het hom geteken as ’n man wat met sy hele wese die oortuiging van sy hart bely en verdedig het. Hy het in sy werk as historikus gesoek na oorsake van die ontwikkelinge wat hy raaksien. Deur sy selfopgelegde taak om ’n totaal nuwe handboek van die Nederlandse geskiedenis te skryf, moes hy die Franse rewolusietydperk, sy agtergronde en gevolge probeer deurgrond. Hy het die oorsaak van die rewolusie gesoek in die verlating van God se Woord en reg, ’n groeiende en steeds brutaler wordende ongeloof. Konings wat die van God gegewe mag tot eie voordeel en vermeende nut aangewend het, wetenskaplikes wat hulle eie denkvermoë tot die godin van die rede maak om God daarmee van die troon te stoot, die volk wat werklike en vermeende onreg op ’n ontoelaatbare manier wil ‘regstel’ terwyl hulle nie insien dat hulle die een onreg met die ander onreg bestry nie. Sy boek “Ongeloof en Rewolusie” lê tot vandag toe getuienis van hierdie diepgewortelde insig af.

Daar is in ’n dergelike toestand slegs een uitweg en dit is bekering. ’n Bekering wat op alle terreine van die lewe moet plaasvind en deurwerk. In die kerk, waar die Woord van God weer sy regmatige plek moet kry en alle dwaalleer uitgeban moet word. Dit het Groen ’n stryder vir kerkherstel gemaak en ’n verdediger van die Afgeskeidenes wat hy sy lewe lank as sy broeders en susters beskou en behandel het. Die volle evangelie moes ook weer plek in die skole kry sodat die land se jeug daar weer in die regte sin tot gereformeerde staatsburgers gevorm kon word. Groen het in die parlement en daarbuite ongelooflik hard gewerk vir die Christelike skool. Ten slotte het hy daarna gestreef dat, teen die tydgees en die stroom van die ontwikkelinge in, Nederland weer ’n Skriftuurlik gefundeerde staatsvorm sou kry. Sy gawe van woord en geskrif het hy daarvoor aangewend, uit sy groot vermoë het die self kinderlose Groens mildelik bygedra aan talle plaaslike skole wat in nood verkeer het. Die stryd het hy binne en buite die parlement gevoer en was steeds gemik op die gees van ongeloof wat as rewolusie die samelewing in al sy aspekte bedreig het.

Parlement🔗

Die volksverteenwoordiging in Nederland was tydens sy leeftyd nog maar in ’n vroeë fase van ontwikkeling. Slegs ’n geringe persentasie van die Nederlandse bevolking het stemreg gehad. Verteenwoordigers is op basis van ’n distriktestelsel gekies, politieke partye en programme het nie bestaan nie en die parlement het maar beskeie magte gehad. Daar was in breë trekke twee strominge: die liberale rigting wat in meerdere of mindere mate die ideë van die rewolusie nagestreef het en die konserwatiewe wat min of meer die toestand van voor die Franse Rewolusie sou wou herstel. Groen kon by geen van twee rigtings aansluit nie. Hy het altyd, soms alleen en ander jare as leier van ’n klein groepie, die sogenaamde antirewolusionêre rigting verteenwoordig. Hy het daarin die liberale bestry op hul uitgangspunte van volksoewereiniteit en die konserwatiewes op hulle pogings om onregmatige toestande te bestendig. Hy het ’n uitgesproke prinsipiële standpunt ingeneem en dit uiters prakties toegepas. Hy was ten gunste van die afskaffing van die slawerny, verligting van die laste van die armes, deeglike Christelike onderwys vir almal, toesig op die koning se uitoefening van die van God gegewe gesag. Hy was ook die eerste Nederlandse politikus was ’n begin gemaak het met die opstel van ’n politieke program. Hy kon praktiese liberale wetsvoorstelle steun terwyl hy die gees daaragter gehekel het. In baie opsigte was hy sy tyd vooruit en juis daardeur deur baie tydgenote misken.

In die eerste jare van sy parlementêre loopbaan het Groen gemeen dat sy visie op die Nederlandse geskiedenis in ’n spesifieke staatsvorm verwesenlik kon word wat op sy beurt die samelewing ten goede sou verander. Jarelank het hy byvoorbeeld geywer vir ’n werklik Christelike staatskool. Eers teen die einde van sy politieke loopbaan het hy begin besef dat die gees van ongeloof daarvoor te sterk was en dat slegs in die isolement van eie private skole die suurdeeg vir die maatskappy bewaar kon word. Hy het hom in die tyd, waarin hy steeds meer alleen te staan gekom het, dikwels beroep op die volk agter die kiesers. Bedoelende dat die massa wat nog geen stemreg gehad het nie, na sy mening nog wel sy ideale gedeel het. In hierdie ontwikkeling het Groen begin plek maak vir dr A Kuyper wat as die groot organiseerder “de kleine luyden” teen die einde van die negentiende eeu gelei het.

Persoonlikheid🔗

Die egpaar Groen van Prinsterer het nie net die groot sake van belang geag nie, ook in die kleine was hulle sorgvuldig en trou. Hulle was deel van die klein groepie ryk mense in Nederland, maar het hulle aardse besittings soos voor die oë van God beheer. Groen het afgesien van regte wat hy as landeienaar gehad het, hulle het jaarliks huise vir arm mense gebou, skole ondersteun en weeshuise help bestuur. Ook persone wat in finansiële verknorsing gekom het, het nooit tevergeefs ’n beroep op hulle gedoen nie, ja selfs van sy teenstanders het hy uitgehelp as daar nood was. Hulle reputasie onder die volk was so goed dat iemand eendag verklaar het dat as daar in Den Haag ’n hongeroproer sou uitbreek – iets wat in die eerste helfte van die negentiende eeu beslis nie tot die onmoontlikhede gereken moes word nie – die huis van Groen deur die volk gespaar sou word.

Ook in sy politieke stryd het Groen nooit uit die oog verloor dat hy met die geestelike agtergronde gestry het en nie met die persone wat die rewolusie-ideale voorgestaan het nie. Hy was daarvan oortuig dat die probleme van die samelewing opgelos kon en moes word deur ’n Christelike vervulling van die liefde-eis van die evangelie en nie deur ’n gewelddadige omwenteling van die bestaande orde nie. Dit het hom sy prinsipiële standpunt met krag laat verkondig en terselfdertyd het hy elke verandering wat by die implementering van die evangeliese eise kon help, gesteun.

In teenstelling met die milieu waarvan hy deel uitgemaak het, het die Groens ’n eenvoudige en ingetoë lewenstyl gehad. Sosiale aktiwiteite was beperk, hulle meelewe met ander mense groot en gemeend. Dat hulle deur die pad van gehoorsaamheid te loop steeds meer misken is, het hulle geduldig gedra as iets wat hulle deur die Here opgelê is. Hoewel sy rykdom hom in staat gestel het om sy hele lewe finansieel onafhanklik in te rig het Groen en sy vrou verkies om met alles wat hulle was en besit het in die Koninkryk van God te gebruik. Op 19 Mei 1876 het Guillaume Groen van Prinsterer in die rus van sy Heer ingegaan.

Voorwaar ’n man om nie te vergeet nie.