Bron: Kompas, 2004. 6 bladsye.

'n Rolprent - "The Passion of the Christ"

Dit is soos dit was.

(Johannes Paulus II)

Elke keer as ek oor die kruis preek of praat, sal die dinge wat ek op die skerm gesien het in my hart en gedagtes wees.

(Billy Graham)

Dit was ʼn ontmoeting, anders as enigiets wat ek nog ooit beleef het.

(Keith Fournier)

Dit is die naaste wat enige een van ons ooit aan kennis sal kom, totdat ons ten volle sal ken.

(Jody Dean)

Dit is die beste evangelisasiegeleentheid wat ons nog sedert die werklike dood van Jesus gehad het.

(Lisa Wheeler)

the passion of the Christ

Die lofbetuiginge slaan byna ʼn mens se asem weg! Wie sou nie na Mel Gibson se nuwe rolprent genaamd “The Passion of the Christ” wou gaan kyk nadat aanbevelings soos hierdie gelees is nie? Daar word ʼn aanspraak gemaak dat die rolprent die teks van die Skrif volledig volg, soos dit die laaste 12 ure van Christus se lewe op aarde uitbeeld, van die tuin tot die graf, met as slot ʼn vlugtige blik op die opstanding.

Die vervaardiger is niemand anders nie as Mel Gibson, nou 46 jaar oud, die suksesvolle akteur wat rolprentvervaardiger geword het, wat die hoofrol gespeel het in sommige van Hollywood se gewelddadigste en bloederigste rolprente. Gibson is in der waarheid ʼn toegewyde Rooms-Katoliek wat oor hierdie rolprent gesê het: “Dit weerspieël my geloofsoortuigings – ek het dit nog nooit voorheen gedoen nie.” Die grootse gevoel van opwinding en afwagting wat die debuut van die rolprent omgeef, spruit uit die feit dat Gibson dit eers na duisende geestelikes en kerkleiers geneem het om hulle menings in te win.

Die meeste, veral evangeliesgesindes, het reageer met oorweldigende goedkeuring en moedig Christene aan om hele rolprentteaters uit te koop om sodoende van hierdie rolprent ʼn enorme lokettreffer te maak (bv. Rick Warren, James Dobson).

Ons word gekonfronteer met die vraag of ons kragte met ander moet saamsnoer in die onderskrywing van hierdie rolprent, en die vraag is dringend, veral gesien al die publisiteit wat die rolprent omring.

Sommige lesers mag dit onnodig vind om verder te lees, omdat hulle dit uit beginsel verwerp om te gaan fliek. Ek juig julle standpunt toe, aangesien ek nie dink dat Christene Hollywood behoort te ondersteun nie. In hierdie artikel gaan ek egter nie hierdie breër vraagstuk aanspreek nie, maar myself beperk tot hierdie een rolprent. Ek is bevrees dat die wye publisiteit sommige Christene sal oorreed om hulle drumpelvrees te oorkom en vir die eerste keer te gaan fliek. Indien wel, lees eers hierdie artikel. En as jy ʼn gereelde fliekganger is, wil ek jou spesifiek afraai om na hierdie rolprent te gaan kyk.

Tweede Gebod🔗

Prinsipiële besware is uiters belangrik. ʼn Mens mag dink dat die rol van Christus in ʼn rolprent vertolk kan word, omdat Hy volledig mens was en is, net soos ons. Alhoewel Hy God was, het die mense van die tyd nie deur bloot na Hom te kyk, gesien dat Hy God was nie. Nieteenstaande kan sy Goddelike natuur nie geskei word van sy menslike natuur nie, en daarom is blote mense nie in staat om die lewe van Christus te vertolk wat beide God en mens is nie. Selfs in sy menslike gedaante was hy sondeloos. Dit kan ook nie deur sondaars vertolk word nie. Laastens weet niemand hoe Hy gelyk het nie. In hierdie rolprent is die afbeeldings van Christus die hooffokus. James Caviezel, wat die rol van Christus in die rolprent vertolk, is juis gekies vir sy deurdringende blik. Dit lyk of sy oë die lyding van die hele wêreld in hulle ronddra, en dit was baie belangrik vir Gibson, om redes wat binnekort duidelik sal word. Caviezel het godslasterlik opgemerk dat sy eie voorletters J.C. is en dat hy 33 jaar oud was tydens die verfilming van die rolprent. Sommige mense het in der waarheid voor hom gebuig. Dit onderstreep hoe die vertolking van die rol van Christus die tweede gebod verbreek.

“Verlossing Reeds Voltooi”🔗

As gereformeerde Christene praat ons Bybels oor verlossingsgeskiedenis. Hiermee bedoel ons dat die gebeurtenisse van verlossing vir eens en vir altyd op ʼn sekere tyd en plek voltooi is. Daar is nie een gebeurtenis van Christus se aardse bediening wat herhaal moet word nie (Bybelse geskiedenis is liniêr). Christus se oomblik van glorie op die berg van verheerliking sal net so min herhaal word as sy dood aan die kruis. Hierdie is ʼn hoofpunt van kritiek wat die Protestantse kerk nog altyd teen die Rooms-Katolieke leerstellings van die Mis gehad het, waar Christus oor en oor geoffer word. Ons bely dat die kruisiging en dood van Christus, net soos al die ander gebeurtenisse van verlossing, as voltooide gebeurtenisse gepredik moet word, waardeur ons redding en saligheid verseker is en verseker bly.

doring kroon

Rooms-Katolisisme by die Agterdeur in🔗

Die rolprent is in der waarheid ʼn gestileerde weergawe van die veertien stasies van die kruis. Wat is dit? Die stasies van die kruis is ʼn reeks van 14 wydingsafbeeldings (twee- of drie-dimensioneel) waarna Rooms-Katolieke tydens Paasfees (of ander tye) kyk, en die spoor van Jesus vanaf sy veroordeling tot sy begrafnis volg. Rooms-Katolieke geskrifte beklemtoon dat die stasies nie gebruik word om beter te verstaan nie, maar dit is ʼn “denkbeeldige oefening” wat moet lei tot ʼn dieper “belewing” van die “geheimenisse” van die geloof. By elkeen van die veertien stasies fokus die aanbidder op die afbeelding om Christus te aanbid, die heiliges te vereer en ʼn kort gebed te bid. Hierdie rolprent is niks anders as ʼn gestileerde, bewegende weergawe van hierdie afbeeldings nie. In ons Heidelbergse Kategismus beskou ons sulke “boeke vir die leke” as teen God se heilige wil (Vr. & Antw. 98). Mense wat na die rolprent gekyk het, het die teater verwonderd en in trane verlaat, waardeur hulle verseker die rolprent as ʼn hulpmiddel gebruik om te aanbid, wat verkeerd is. Hulle dwaling groei net as ons besef wat hulle ontroer: ʼn aantal versinde byvoegings tot die evangelie.

Mistieke Byvoegings🔗

Mel Gibson se bronne was nie net die evangelies nie, maar ook die dagboeke van St. Anna Catharina Emmerich (1774-1824) en Maria van Agreda se “The City of God”. Albei hierdie geskrifte is Rooms-Katolieke mistieke geskrifte gebaseer op “visioene”. Hulle invloed verskyn in sodanige byvoegings tot die evangelie soos dat Jesus vir Maria ontmoet op pad na die kruis toe (vierde stasie), Veronica wat Jesus se gesig afvee (sesde stasie), Jesus wat drie maal val op die weg na die kruis (derde, sewende en negende stasies), Maria wat Jesus se liggaam vashou nadat dit van die kruis afgehaal is (dertiende stasie). Alles is in die rolprent. Gibson het ook versinde terugflitse bygevoeg, soos dat Maria vir Jesus as kind help nadat hy op die grondpad voor hulle huis geval het. Bowendien lyk Maria soos ʼn non. Die duiwel verskyn op verskeie plekke, alhoewel hy nie in die evangelies op daardie plekke genoem word nie. Daar kan nog byvoegings genoem word. Soos verskeie resensente sterk benadruk: hierdie rolprent is ʼn kunswerk en as sodanig is dit beide ʼn vertolking en ʼn oefening in verbeeldingskrag. Dobson se aanspraak: “daar is geen spesifieke verwysings na unieke Katolieke leerstellings in die rolprent nie,” is ongelooflik.

Ervaring van Fisiese Lyding Alleen🔗

Waarom byvoegings tot die Skrif maak? Dit hou direk verband met die hoofklem van Rooms-Katolisisme. Die Rooms-Katolieke geloof is gebaseer op ervaring, naamlik die ervaring van die sakramente, veral die Mis. In sowel hierdie geloof as in die rolprent, is byvoegings gemaak om die algehele ervaring te vermeerder. Om die waarheid te sê, nie-Christelike resensente het steeds die rolprent waardeer as ʼn pragtige verhaal oor ʼn moeder en haar seun. Is dit moontlik om die Skrif te lees en tot so ʼn gevolgtrekking te kom? Die Skrif onthul eerder God die Vader wat sy Seun afstaan aan die dood! Rooms-Katolisisme fokus op Maria en Jesus, en op Jesus se fisiese lyding, met die doel dat kerklidmate daardeur met Hom identifiseer. Daarom die fokus op afbeeldings en verbeelding.

kruisdra

Maar die boodskap van die kruis is meer as die fisiese lyding van Jesus – die rede vir sy lyding word in die res van die Nuwe Testament verduidelik, op maniere wat in geen rolprent weergegee kan word nie, wat die rede is waarom God sy Woord in woorde eerder as prente gegee het. Hierdie rolprent is ʼn baie gevaarlike manier om toe te laat dat vals leerstellings deur emosionele ervarings by jou verstand inglip, beide deur wat bygevoeg is en deur wat weggelaat is.

Wie het die Meeste Gely?🔗

Daar is geen kwessie daaroor dat niemand nog ooit so baie gely het soos Christus nie, want Hy het gely onder die las van God se ewige toorn oor die sonde. Die rolprent fokus egter net op sy fisiese lyding – dit word beskryf as brutaal en grusaam, klassiek aan Mel Gibson. In hierdie opsig kan ʼn mens sekerlik redeneer dat ander se lyding erger was as die van ons Heer, want sommige van die kerk se martelare het vir jare strawwe marteling verduur. Die klem van die Nuwe Testament ten opsigte van fisiese lyding, val in der waarheid nie op die fisiese lyding van Christus nie, maar die fisiese lyding van sy kerk. Paulus skryf selfs dat hy sy vlees vul met die oorblyfsels van die verdrukkinge van Christus – en hier verwys hy na die fisiese verdrukking (Kolossense 1:24 en Filippense 3:10). As ons vandag op Christus se lyding wil fokus, moet ons kyk na ons broeders en susters wat nóú vervolg word.

Die Mis🔗

Die kern van die Rooms-Katolieke geloof is die Mis. Mel Gibson het gesê dat hy self elke oggend die Mis bygewoon het tydens die verfilming van die rolprent, want “ons moes silwerskoon wees om hieraan te werk.” James Caviezel het gesê dat hy die sakrament “in hom” nodig gehad het om die rol van Christus te vertolk. Gibson hang die Latynse Mis aan, iets wat grootliks deur die Rooms-Katolieke kerk verlaat is sedert Vatikaan II in die 1960’s. ʼn Deel van Gibson se doelstelling met die rolprent is juis om die offer van die altaar (die Mis) en die offer van die kruis naas mekaar te stel, want vir hom is dit een en dieselfde ding. Rooms-Katolieke glo dat Christus oor en oor in die Mis geoffer word. Die rolprent is deur middel van terugflitse só ontwerp dat dit die vestiging van sulke gedagtes in die kyker se verstand aanhelp.

Rooms-Katolieke Bekerings🔗

Gibson maak aanspraak op baie bekerings en selfs genesings tydens die skiet van die rolprent. Moet egter nie ʼn fout maak nie, hy praat nie bloot van bekering tot die Christendom nie, maar tot die Rooms-Katolisisme, en dan veral na die pre-Vatikaan II Tridentiese rituele van Rooms-Katolisisme. In kontras met Vatikaan II, glo hy dat daar geen saligheid buite die Rooms-Katolieke kerk is nie. Gibson het tuis sy eie kapel waar hy elke Sondag die Mis ontvang terwyl ou Latyns gepraat word. Vir hom is dit ʼn roerende geloofsbelewenis.

Die Film as Medium🔗

Is dit nou duideliker waarom ʼn toegewyde Rooms-Katoliek so ʼn rolprent sal maak? Dit is vir hom ʼn daad van toewyding (kan dit selfs ʼn manier wees om boete te doen vir vorige sondes?). En in hierdie geval is dit meer waar as ooit dat die medium die boodskap is. In plaas van om met die Woord te kom, kom Gibson met die Prent (oorspronklik sou die rolprent nie eers subtitels gehad het nie, wat alles sou oorlaat aan die kyker se verbeelding, aangesien die tale wat gepraat word, Latyns en Aramees is). Die Rooms-Katolieke klem op die visuele, op belewenis, op Christus se fisiese lyding, en op misterie (mistisisme) word goed gedien met die rolprent oor die lyding van die Christus.

Rooms-Katolisisme is nie ʼn geloof van die Woord nie, maar van die sakramente, van die verbeelding, en van die gesag van die kerk. Film as sulks versterk hierdie tipe geloof. Ons het hier te doen met ʼn groot moderne reliek, die bewegende prent. Die medium ís die boodskap, ook in die sin dat films gaan oor vermaak. Soos een webgebruiker dit gestel het nadat hy die rolprent gesien het: “Hulle besef nie dat die meeste mense wat dit sien, dit steeds as ʼn film sal sien nie, en ook binne die konteks van ʼn film nie.”

Roomse mis

As gereformeerde Christene wat hou by die Woord, bely ons dat God ons vernuwe deur sy Woord, wat die werktuig is wat aan ons gegee is en deur die Heilige Gees gebruik word. Ons bely dit in die Heidelbergse Kategismus Vraag & Antwoord 65 en die Dordtse Leerreëls III/IV, art. 17. Sy Woord is nie net die “saad van vernuwing” nie, maar dit verskaf ook daaglikse voedsel vir ons siele (DL V, art. 4). Dit is presies wat die kerkhervormers in die tyd van die Reformasie beklemtoon het, nl. Sola Scriptura, teenoor allerhande Rooms-Katolieke wangebruike soos die stasies van die kruis. Kom ons volg in hulle voetspore, in ooreenstemming met ons belydenis en geloof (NGB, art. 3, 5, 7)!

Algemene Lof🔗

Baie van die lof vir die rolprent kom van evangeliese protestante. Rick Warren se “Saddleback Community Church” het byvoorbeeld 18 000 teatersitplekke opgeraap. Dobson het sy lesers aangemoedig om enigiets binne hulle vermoë te doen om die rolprent te ondersteun. Dit het daartoe aanleiding gegee dat een resensent geskryf het: “Tye het inderdaad verander as (evangeliese) kerkverteenwoordigers hulle uitgesproke steun gee aan ʼn film wat so letterlik fokus op die fisiese lyding van Jesus se liggaam, eerder as die metafisiese betekenis wat die lyding op die mensdom oorgedra het.”

Evangelies-Gesindes en Katolieke Tesaam🔗

Waarom al die lof vir die rolprent, spesifiek van evangeliese protestante? Dit hang saam met die toenadering tussen die evangelies-gesinde en Rooms-Katolieke tradisies. ʼn Voorbeeld hiervan is ʼn inisiatief wat genoem word ‘Evangelicals and Catholics Together’ (ECT, Evangelies-gesindes en Katolieke Tesaam). Hierdie beweging is in 1985 deur Chuck Colson begin. In 1994 het hulle hul eerste dokument vrygestel, genaamd, “Evangelies-gesindes en Katolieke Tesaam: Die Christelike Missie in die Derde Millennium.” In 1996 is ʼn verdere dokument geproduseer, genaamd, “Die Geskenk van Saligheid”.

Ondertekenaars het Chuck Colson, Bill Bright, Mark Noll, Richard Mouw en J.I. Packer van die evangeliese kant ingesluit. Ons moet oplet dat die Rooms-Katolieke kant nie deur Rome onderskryf is nie, maar slegs verteenwoordig is deur ʼn beperkte aantal Rooms-Katolieke teoloë (daar is ʼn gevaar dat baie evangelies-gesindes dit nie sal besef voor dit te laat is nie). Hoe het die ECT ontstaan?

Gemeenskaplike Vyand🔗

Evangelies-gesindes en sekere Rooms-Katolieke het bemerk dat hulle ʼn gemeenskaplike vyand het, naamlik die liberale wat die gesag van die Skrif verwerp. Hier is ʼn voorbeeld van die verskil: Liberale sou sê dat Jesus nie werklik uit die dood opgestaan het nie; dit is ʼn storie of mite. Evangelies-gesindes en Rooms-Katolieke glo hy het werklik opgestaan (let egter daarop dat daar baie liberale Rooms-Katolieke is). Terwyl die liberale aborsie, eutanasie en homoseksuele huwelike toelaat, sou die meeste toegewyde Rooms-Katolieke en evangelies-gesindes dit nie doen nie. Dus, hulle het op verskeie fronte verenig.

Eenheid oor Maatskaplike Kwessies🔗

Evangelies-gesindes en Katolieke het gevind dat hulle sy-aan-sy staan teen aborsie, eutanasie en homoseksuele huwelike. Gereformeerde Christene het ook hier ʼn plek. Die probleem kom in wanneer sulke kwessies so baie aandag ontvang dat hulle verwar word met die wese van die evangelie. Om aborsie teen te staan red ons nie! Ons moet daarop bedag wees dat ons ook nie moet aanneem dat ons motivering identies is nie. Evangelies-gesinde leiers wat die rolprent onderskryf, oorsien die verskille met Rooms-Katolieke in die leerstellings van saligheid, die kerk, aanbidding, Maria, sakramente ens. Waarom? Waarskynlik omdat leerstellings vandag as minder en minder belangrik geag word. Een van die redes is die volgende.

Maria

Eenheid van Ervaring🔗

ʼn Groot beweging agter die eenheid van allerhande verskillende kerke is die charismatiese beweging. Hierdie beweging word in feitlik alle kerke gevind, van Rooms-Katoliek tot Gereformeerd, Christelik. Wat is die beweging anders as ʼn fokus op belewing? Mense in die baie verskillende kerke ervaar dieselfde ekstase, of dit spreek in tale is, om deur die Gees “geslaan” te word, of om “lof- en aanbiddings-liedere” te sing. In sy resensie van die rolprent vra Richard Bennet, ʼn voormalige RK priester, “Sal die geskiedenis hierdie dag onthul as die dag toe evangelisasie, op ʼn populêre vlak, saamgesmelt het met die Rooms-Katolieke kerk?” Hierdie eenheid in ervaring is nommerpas met die Rooms-Katolieke klem op ervaring. Die Rooms-Katolieke kerk was nog altyd bereid om ander te akkommodeer op voorwaarde dat hulle binne die “moederkerk” bly. Ek sien die ECT as ʼn poging van die Roomse Kerk om die Evangelies-gesindes terug “huis toe” te lok. Geoordeel aan die aanvaarding van die rolprent, lyk dit asof hulle taktiek werk.

Selfs Eenheid in Sending🔗

Dit is verrassend dat die ECT-dokumente ook eenheid in sending en evangelisasie aanmoedig. Mel Gibson se rolprent ontvang juis om hierdie rede soveel lof – dat dit dalk een van die grootste evangelisasiewerktuie ooit sal wees. Maar die doel heilig nie die middele nie. Deur sy Woord reguleer God ons doelwitte én ons metodes. As die rolprent nie die ware evangelie oordra nie, en as die rolprent as medium nie gebruik behoort te word om die evangelie oor te dra nie, dan moet ons dit nie gebruik nie.

Die werklike gevaar lê daarin dat ʼn generasie grootgemaak sal word met die Gibson rolprent, maar dat steeds bitter min mense hulle sal wend tot die Woord van God en ware Christene sal word (NGB art. 29, par. 3). Soms is kerke meer suksesvol om die Amerikaanse kultuur uit te voer as om die evangelie aan ander te leer. (Stel jou voor ʼn rolprent word vertoon aan ʼn stam wat nog skaars ʼn TV gesien het, laat staan nog een besit het! Hulle sal die TV wil hê, nie die evangelie nie. Die evangelie word maar net ʼn middel om die TV-kultuur te verkry.)

As Gereformeerde Christene kan ons nie met die Roomse Kerk in sending verenig nie, en ons behoort nie ons Bybelse beginsels in die gedrang te plaas deur ʼn medium te gebruik wat nie ons Vader se goedkeuring wegdra nie.

Hollywood Luister🔗

ʼn Hollywoodse publikasiebeampte het onlangs belangrike statistieke onder ateljee leiers se aandag gebring – “week na week gaan ongeveer vyf keer meer mense kerk toe as fliek toe.” Die boodskap aan Hollywood is: tint jou rolprente met Christelike temas en jou poel van fliekgangers word vyf keer groter. Geld, sakke vol! En wat kry ons? Rolprente met geestelike temas of sub-temas, maar sonder die regte waarheid van die evangelie. Die duiwel kom op pantoffels, om diegene te verlei wat nie die waarheid so goed ken as wat hulle dit behoort te ken nie.

Deel van ʼn Groter Konteks🔗

Om op te som: die wyer kerk het die prooi geword van ʼn vals idee van toleransie – verenig met mekaar en ignoreer die verskille.

Die resultaat is onvermydelik. Hoe langer jy die verskille ignoreer, hoe meer verdwyn hulle. In plaas daarvan om in metode en boodskap aan die evangelie vas te klou, kies baie kerke vir ʼn vals eenheid. Dit word bereik deur oor maatskaplike kwessies te verenig, of op die vlak van ervaring, of oor ʼn doel vir evangelisasie. Baie is besig om die hart van die evangelie te verloor, naamlik regverdigmaking deur genade alleen deur geloof alleen. Of terwyl hulle wel die hart van die evangelie behou, gaan hulle kompromieë aan ten opsigte van die res van God se gebooie. Terwyl so baie daarvan praat om die kultuur te transformeer, lyk dit asof die kultuur die kerk transformeer.

kruis

Mel Gibson se rolprent mag lyk na die begin van ʼn groot terugkeer na die evangelie, maar in die lig van wat ek geskryf het, sien ek dit as ʼn volledige ommeswaai weg van die ware evangelie van vrye vergiffenis af.

Tyd vir Hernuwing🔗

Dit het tyd geword dat ons as Gereformeerde Christene ons verbintenis met die Woord van God in die volle sin van die word hernu. Ds. Richard Pot, predikant van die CanRC in Orangeville, het sy gemeente herinner:

Hierdie is ʼn geleentheid om ons entoesiasme en passie vir die Woord – gelees en gepredik – wat die lewende Christus onthul, te vernuwe. Uiteindelik moet dit wat ons van Christus se lewe verstaan, deur die Woord gevorm word. As jy groter insig wil hê in die lyding van Christus se passie, moenie na die rolprent gaan kyk nie, maar lees die Boek. En as mense na aanleiding van die rolprent ons nader met vrae oor die Boek, laat ons gereed wees met antwoorde! Ek moedig julle aan om elke dag die Skrifte te lees en te bestudeer, en om versigtig na die Skrif se boodskap te luister soos dit week na week deur God se dienaars gepredik word. Mag die Here daardie boodskap gebruik om ons ook vandag in die volharding van ons geloof aan te moedig.