3 bladsye.

'n Sprokie

Eendag was daar ʼn koning en hy het baie dienaars gehad. Op ’n dag ontdek die koning dat een van sy dienaars se skuld onvoorstelbaar groot geword het en dat hy nie kan terugbetaal nie. Die koning besluit om die dienaar en sy gesin as slawe te verkoop. In wanhoop kruip die man toe na die koning en belowe om alles te betaal. Die koning ontferm hom oor die man. Hy laat hom vry en verleen kwytskelding van al sy skuld. Die koning is bereid om self skade te ly. Niemand kan hulle ore glo nie - en die minste van almal, die dienaar self.

Daar was eendag ʼn koning.... Ag, sulke konings bestaan mos nie! Geen mens sal so iets doen nie.

En tog is dit nie ʼn sprokie nie.. Dit is ʼn gelykenis wat Jesus vertel het (Matteus 18:21-35) oor  die mees werklikste werklikheid van God waarin die onmoontlikste dinge gebeur.

ʼn Koning wat volledig bereid is om skade te ly. En hierdie Koning is God self. G’n mens doen so iets nie, maar Hy wel: Hy gee vir ʼn mens wat alles opgemors het, sy lewe terug. Hy gee ’n nuwe lewe.

Ons noem dit vergewing. Vergewing is meer as net om iets oor die hoof te sien of te ignoreer. Vergewe is: aanvaar en opnuut begin. Vergewe is: bereid wees om skade te ondergaan, die pyn te ly. Vergewe is: om jou regte, jou eer, jou ‘reg wees’, jouself op te offer.

Dit is wat God doen, telkens weer.

In die gelykenis vergelyk Jesus die skuld wat ʼn mens by God het met die onbetaalbare skuld van die man by die koning. Ons kom nie te hore wat die man presies gedoen het nie. Ons hoor net van ʼn skuld, dat hy agterstallig is. Dit wat hy aan sy heer skuld, kan hy nie aan voldoen nie.

So is dit ook met ons skuld by God. Ons het ʼn agterstand in vergelyking met hoe dit in die begin was. Jy ervaar dit miskien nie as ʼn agterstand nie – dit is immers juis ons ellende, dat ons dit nie meer so goed aanvoel nie! – maar dit is wél ʼn agterstand. Jy het ʼn enorme skuldlas, sê Jesus in die gelykenis. Naas die konkrete dinge waarin jy fouteer, is jou skuldlas die grootste deel van jou skuld. Onbetaalbaar.

Daar is vir ons ook net een manier om van ons skuld ontslae te raak. Dit is as die Here jou skuld kwytskeld. En God doen dit. Die Bybel is vol voorbeelde. God vergewe graag ons skuld. Maar voordat dit egter kan gebeur, moet ons van ons kant die sonde en skuld erken. Net soos die man wat voor die koning op sy knieë geval het. Dan is daar vergewing.

Vergewing vir wat jy ook al gedoen het. Of dit nou bewus, onbewus, konkreet en bewysbaar of minder aanwysbaar is, dit is alles deel van daardie groot agterstand. Erken en bely, en God vergewe. Wat ʼn Koning!

En Nou Verder🔗

Daar was eendag ʼn koning …en die koning was God. En daar was eendag ʼn mens. Dit was die man wat sy lewe weer van die koning teruggekry het. Daardie man, soos dit nou maar gebeur, het iemand gehad wat hom iets geskuld het. Terwyl hy vrolik (!) huis toe loop, loop hy die man toe raak. Hy kry hom in ʼn wurggreep beet, en eis betaling.

Genade, kerm die skuldenaar. Maar daarvan wil hy niks weet nie: Dit is my reg … jy sal betaal!

Ja, daar was eendag so ʼn mens. En die mens bestaan vandag nog steeds. Want ons vind hierdie mens wat geen genade ken nie, orals. Ook die Christen is maar net ʼn mens wat alte dikwels nie verstaan wat met homself gebeur nie.

Kyk maar bietjie om jou rond. Vriendskappe en familieverhoudings word onherstelbaar verbreek omdat mense mekaar iets kwalik neem. Mense word van binne uit vergiftig, omdat hulle hul nie kan versoen met wat hulle aangedoen is nie. Mense weier nie net om eerste die hand uit te steek nie, maar hul weier ook om die hand van ʼn ander wat na hulle toe uitgehou word, te aanvaar. Mense wil onverbiddelik op hulle regte staan. Dit werk verwoestend in op jou eie lewe en op ʼn ander s’n. Tog beskou niemand dit as vreemd nie.

Daar was eenmaal ʼn mens. En wie is nie soos hierdie mens nie? In die gelykenis kom ons gou agter hoe absurd die man optree. Self kry hy sy lewe present, maar hy maak die lewe van ʼn ander onmoontlik. Maar in die praktyk van ons eie lewe kom ons dit minder gou agter. Dan sien buitestaanders eerder ons optrede raak: ons sing van genade, maar kyk net hoe ongenadig behandel ons mekaar.

En die koning in die verhaal? Dat hy self moes skade ly, wou hy graag aanvaar. Maar dat die man self geen skade wou ly vir ʼn heelwat kleiner skuld nie, was vir die koning onaanvaarbaar. Hoekom het hy eintlik die man gered? Hy het sy geld verloor en die man nie gewen nie. Dit is nog steeds die ou refrein van die ou mens. En op daardie oomblik gaan die verhouding stukkend. Dat jou eie skuld vergewe word en jyself nie vergewe nie, dis onvergeeflik.

In die Onse Vader verbind Jesus die twee dele van hierdie verhaal aan mekaar: God se vergewing en ons vergewing. En kragtiger as wat ons dink. Hy sê nie: en vergewe ons ons skulde, dan maak ons ook so teenoor ander, nie. Nee, dis: “vergewe ons ons skulde, soos ons ook ons skuldenaars vergewe.” Daar staan eintlik: vergewe het! Dit is asof ons eers om vergewing kan vra nadat ons ander vergewe het. Daar is ʼn wisselwerking tussen God se vergewing en ons vergewing. Wie nou agterkom hoe God ly aan ons skuld, sal bereid moet wees om te ly aan die skuld van ʼn ander. Eers dan kan jy in alle eerlikheid God om vergewing vra.

Gelukkig is dit nie so dat God eers kyk hoe ons ander vergewe en ons dan net so behandel nie. Dan sou alles nie so goed uitwerk vir ons nie...

Maar dit is dus wel duidelik dat die één nie sonder die ander een moontlik is nie, en omgekeerd. Anders trek God sy vergewing weer terug.

Moeilik🔗

Vergewe is moeilik, baie moeilik. Vergewe beteken selfs om skade te ly, die pyn te verdra. Soms probeer mense op ander maniere onreg hanteer.

Daar is die weg van vergelding. As dit nie met dade gedoen word nie, dan gebeur dit wel mettertyd met woorde. Dit bemerk jy dan in persoonlike verhoudings: Haatlikheid word teruggekaats, kwaai briewe word met gelyke munt beantwoord, koppe word weggedraai, elke geleentheid word benut om mekaar goed die waarheid te vertel. Wie hierdie weg kies beland in Satan se kloue. Hy bevry nie die ander een van skuld nie, maar hyself word ook nie bevry nie. Hy is en bly ʼn gevangene van sy vermeende onreg, woede en haat.

Daar is die weg van vergeet. Wat gebeur het, het gebeur. Ons praat nie meer daaroor nie. Los dit! Dit lyk soos ʼn beter opsie, miskien selfs wys en verstandig. Want soms kom ’n mens mos nie regtig verder met sulke sake nie? Maar is dit ʼn oplossing? Mens kan slegs dinge vergeet wat hom nie regtig geraak het nie. Die res kan jy wegdring, van jou af stoot. Maar daar hoef maar net iets kleins te gebeur en die ou wonde is weer oopgekrap. Net soos ʼn smeulende vuur.

Daar is ʼn derde weg. Die een van vergewing. Nie ʼn maklike pad nie, maar wel ʼn vrugbare een. Daarby behoort: eerlike bewustheid dat jy pyn ervaar, en ook eerlik wees en erken as jy verkeerd was. Want in interpersoonlike verhoudings, net soos in die verhaal, kom belydenis vóór vergewing. Dit is die pad van mekaar in die oë kyk en weer opnuut begin en saam verder gaan. Selfs nog beter: voordat julle mekaar in die oë kyk, kyk na bo en probeer besef wat die Koning jou alles vergewe. Oordink dat dit wat tussen julle staan, nie naastenby so groot is soos dit wat tussen jou en God is nie.

Ja, dan kan vergewing lyding wees, soos die koning dit gedoen het. En ʼn werkwoord. Soos skuldbelydenis in sommige situasies ook ʼn werkwoord, ʼn houding moet wees. Maar dit is die weg wat Jesus ons wys. Hy, wat die onmoontlike pad na vergewing deurloop het, mag dit tog ook van jou vra?

En indien die ander party nie wil nie? Of as die ander nie reageer op jou uitgesteekte hand nie? Op die lange duur moet jy nie toelaat dat jy na woede of wraak neerdaal nie. Werk aan ʼn goeie houding en gesindheid, soos dit ook in die Kategismus staan: “dat dit ons ganse voorneme is om ons naaste van harte te vergewe” (Sondag 51). Pas op dat jou hart nie ʼn moordkuil word nie. En moet ook nie in selfbejammering verval nie. Dit is altyd goed om in alle nugterheid te onthou dat God en ander ook skade ly deur ons.

Daar was eendag ʼn koning wat gekies het om te vergewe. Dit klink soos ʼn sprokie. Maar dit is nie. Die koning – dit is God.

Daar was eendag ʼn mens – self begenadig – wat teenoor ʼn ander ongenadig was. En dis nie ʼn sprokie nie. Daar is baie van hulle!

Daar was eendag ʼn mens wat regtig kon vergewe en so andere laat leef het. Jesus Christus. In die gebed wat Hy ons geleer het vra ons ook of ons, wat dit betref, in Sy voetspore sal volg.

ʼn Gebed wat nodig is. As ons so bid en leef, leef ons lank en gelukkig.

Dit klink ook soos ʼn sprokie.

Maar dit is nie!