Bron: Kompas. 4 bladsye.

Nagmaalviering

Die viering van die heilige Nagmaal is een van die middels van genade wat God aan sy kerk gegee het. Daarom is hierdie sakrament so belangrik vir ons en moet dit so goed as menslik moontlik tot sy reg kom in die kerk. Die viering van die Nagmaal roep verskillende vrae op. Hoe het dit gegaan met die viering van die Pasga en by die instelling van die Nagmaal? Is dit altyd nodig om aan 'n tafel die Nagmaal te vier? Waarom gebruik ons geen kelkies nie? Waarom gebruik ons wyn en nie druiwesap nie? Hierdie vrae is van belang en dit is nodig om daaroor na te dink.

Ingestel tydens die Paasmaal🔗

Die Here Jesus het die Nagmaal ingestel tydens 'n heel besondere maaltyd, die Paasmaal. Hoe het dit op so 'n Paasmaal gegaan?

Oorspronklik het die Jode die Paasmaal in staande posisie geëet. Ons lees in Exodus 12:11: "En so moet julle dit eet: Julle heupe moet omgord wees, julle skoene aan jul voete en julle staf in jul hand; baie haastig moet julle dit eet. 'n Pasga van die HERE is dit." Die Jode moes reisvaardig wees, in gespanne afwagting van die komende gebeurtenisse wat sou lei tot die uittog uit Egipte. As ingrediënte van die maaltyd word genoem die gebraaide vleis van die lam, ongesuurde brode (die afwesigheid van suurdeeg wat 'n beeld is van bederf en onreinheid, dui op suiwering) en bitter kruie (as herinnering aan die bittere verdrukking in Egipte).

Op die duur het daar elemente bygekom en het die Jode by die viering van die Paasmaal 'n sekere orde van diens gevolg. Aangesien die Paasmaal 'n viering van die vryheid was, het die rabbyne bepaal dat dit in liggende of leunende houding gevier moes word. Die maaltyd het verskillende simboliese elemente gehad. Met tussenposes is vier bekers wyn, 'n simbool van vreugde, gedrink. Teen die tyd van die Nuwe Testament was die liturgie van die Paasmaal ongeveer soos volg:

I. Inleiding🔗

  1. Seënbede oor die dag en die (eerste) beker.
  2. Voorgereg (vrugtemoes en groente).
  3. Die opdiening van die hoofdis.

II. Gedagtenis🔗

  1. Herinnering aan die uittog (in antwoord op die vrae van die jongste seun).
  2. Eerste lofsang (Ps. 113,114).
  3. Die drink van die (tweede) beker.

III. Maaltyd🔗

  1. Seënbede oor die ongesuurde brood.
  2. Hoofmaaltyd (lam, ongesuurde brood, bitter kruie, vrugtemoes, wyn).
  3. Seënbede oor die (derde) beker (die beker van danksegging).

IV. Slot🔗

  1. Tweede lofsang (Ps. 115-118,136).
  2. Danksegging oor die (vierde) beker.

Met hierdie volgorde in gedagte, is die vraag wanneer presies het Christus die Nagmaal ingestel? In Markus 14:22 lees ons dat Jesus die brood geneem het "terwyl hulle eet". Dit sal waarskynlik wys op die eet van die hoofmaaltyd (III, b). Terwyl hulle die lam eet, neem Christus die brood, spreek opnuut sy seën daaroor uit, breek dit en gee dit aan sy dissi­pels en sê: neem, eet, dit is my liggaam. Dit word 'n heel besondere maaltyd binne die Paasmaal. Daarna neem Christus een van die bekers wat op die tafel staan of die een beker waaruit almal vir die derde keer moes drink (III, c) en gee dit aan hulle. Almal moet uit daardie spesiale beker drink. So het Jesus die Nagmaal ingestel tydens die Paasmaal.

By die instelling van die Nagmaal sluit die Here Je­sus Homself slegs by twee momente in die Paas­maal aan, die eet van ongesuurde brood en die drink uit die (derde?) beker. Dit is opvallend dat Hy Homself nie aansluit by die eet van die Paaslam nie. Daarom moet ons die Nagmaal ook nie sien as 'n Christelike vorm van die Paasmaal nie. Die Paas­maal het nie sonder meer in die Nagmaal oorgegaan nie. Christus het die Paasmaal vervul en in plaas daarvan die Nagmaal ingestel. Ook al is die wyn van die Pasga wel opgeneem in die Nagmaal, moet ons goed bly besef dat die Pasga en die Nagmaal nie identiek is nie maar elkeen sy eie, onderskeie momente het. Dit is ook belangrik in verband met die vraag wie aan die Nagmaal moet of mag aansit.

Die tafel van die Here🔗

As ons wil bepaal hoe ons die Nagmaal sal vier, moet ons in gedagte hou dat die heilige Nagmaal 'n maaltyd is. In die nag waarin die Here verraai is, het Jesus met sy dissipels aan 'n tafel gesit of gelê. Hy het brood en wyn, ingrediënte van 'n feestelike maal, geneem, dit geseën en aan sy dissipels gegee. Onder leiding van die apostels het die vroeë Christelike kerk die Nagmaal gevier as 'n maaltyd. Die apostel Paulus stel die tafel van die Here teenoor die tafel van die duiwels en waarsku die gelowiges dat hulle nie beide die offermaaltyd van die heidene en die maaltyd van die Here kan gebruik nie (1 Kor. 10:21). Paulus praat dan ook van die "Nagmaal van die Here" (I Kor. 11:20). Dit blyk 'n gemeenskapsmaal te wees waarin die gelowiges gemeenskap met Christus en met mekaar het (1 Kor. 10:16,17). Christus self is die Gasheer wat Homself in die tekens van brood en wyn aan ons gee. So wil Hy ons voed en verkwik tot die ewige lewe.

Beteken die feit dat Christus waarskynlik aan tafel gelê het toe Hy die Nagmaal ingestel het en dat Paulus spreek van die tafel van die Here, dat ons die Nagmaal nou altyd en alleen aan tafel mag vier? Christus het ons die manier waarop ons die Nagmaal moet vier nie presies voorgeskryf nie. Wanneer in die Nuwe Testament die woord 'tafel' ge­bruik word, dan word dit dikwels in figuurlike sin gebruik vir die maaltyd wat daarop aangebied word. Ons sien iets dergelik reeds in die Ou Testament, byvoorbeeld in 1 Sam. 20:27,29 en Ps. 23:5. Dit gaan daar vernaamlik om die maaltyd wat berei is. Daarom kan ons nie outomaties uit die woord tafel aflei dat ons dan ook aftyd letterlik 'n tafel, soos ons dit vandag ken, moet gebruik nie.

Dit is interessant om te sien hoe die Israeliete met betrekking tot tafels, 'n ontwikkeling geken het. Die Hebreeuse woord vir tafel wys aan dat die tafel vir die Jode aanvanklik 'n stuk leer was, wat hulle op die grond uitgesprei het en waarop hulle die bekers en skale geplaas het. Dit was dus 'n soort eetmat waarlangs die mense gehurk het. In paleise en soms ook by rykes was daar 'n eettafel op pote waaraan 'n mens kon sit. Later het die gewone mense op matte gesit rondom 'n lae tafel waarop die gemeenskaplike maaltyd gestaan het. Teen die tyd van die Nuwe Testament was die gebruik van tafels algemeen. By gewone maaltye het die men­se meestal 'n tafel met hoë pote gebruik, omdat hul­le aan tafel gesit het. By feesmaaltye het hulle 'n lae tafel gebruik, omdat hulle daaraan gelê het. Op 'n sekere stadium het die rabbyne alle Israeliete verplig om by die Pasga te lê. Ons mag veronderstel dat Jesus tydens sy laaste Paasmaal met sy dissipels op divans aan 'n lae tafel gelê het. Op so 'n divan word die voete agtertoe gestrek en word die bolyf met die linkerarm gesteun. So het die persoon wat aan die regterkant gelê het met sy hoof teen die bors van sy linkerbuurman gelê. Daarom lees ons van Johannes dat hy aan tafel teen die bors van Jesus gelê het (Joh. 13:23; 21:20).

Uit hierdie geskiedenis blyk dat die vorm van die tafel nie die belangrikste is nie. Christus wou sy volgelinge verenig aan 'n feestelike maaltyd. Dit gaan oor 'n feestelike maaltyd wat uitdrukking gee aan die gemeenskap met die Here Christus en met me­kaar. Hoe kan ons vandag in ons samelewing die beste daaraan vorm gee? Deur die gelowiges aan een of meerdere tafels te laat sit. So doen ons dit tog ook as ons 'n feesmaal hou! Daarom sal ons, waar moontlik, daarna moet strewe om die Nagmaal aan 'n tafel te vier. Die Nagmaal is nie maar net 'n kwessie van eet en drink nie. Die Nagmaal is 'n feestelike gemeenskapsmaal. Kom dit nog wel voldoende tot sy reg in die manier waarop ons van­dag die Nagmaal vier?

Gemeenskaplike beker of individuele kelkies🔗

Toe die Here Jesus die Nagmaal ingestel het, het Hy die beker geneem en nadat Hy gedank het, het Hy dit aan sy dissipels gegee en gesê: "Drink almal daaruit" (Matt. 26:27). Hierdie opdrag is opvallend. Dit benadruk dat die dissipels saam moet drink uit die een beker. Waarskynlik het elkeen aan die Paasmaal ook 'n eie beker gehad. Tog sê Christus: Drink almal uit hierdie een beker. Die saam drink uit dieselfde beker is blykbaar belangrik. Net soos die een brood gee ook die een beker uitdrukking aan die eenheid van die deelnemers. Hulle het gesamentlik deel aan die heil in Christus.

Is daar dan geen gevaar van besmetting as ons almal uit die een beker drink nie? Ernstige siektes kan maklik versprei word. In die verlede het die kerk dit in rekening gebring toe sy aparte reëlings gemaak het vir sekere persone. Die sinode van Middelburg 1581 het besluit dat die Nagmaal aan die melaatses gegee moes word in 'n aparte hoek van die gebou of aan die laaste tafel. Die sinode van Leeuwarden 1920 het bepaal dat die kerkrade, na oorleg met die doktors, sulke maatreëls mag neem, wat nodig is om die gevaar van besmetting soveel as moontlik te voorkom, wanneer lede met besmetlike siektes wil deelneem. Hulle het toe gedink aan spesiale klein kelkies. In hierdie reëlings word aan uitsonderings binne die gemeente aandag gegee. Die kerke het gesoek na moontlikhede om le­de met besmetlike siektes tog die Nagmaal te laat vier. Tegelyk is dit duidelik dat die kerke, soveel as moontlik, die normale patroon wat Christus aangegee het, wil handhaaf. Die uitsondering mag nooit die reël laat verdwyn nie.

Dit is waar dat Christus geen streng en bindende gebod gegee het dat die kerk altyd en onder alle omstandighede uit die een beker moet drink nie. Daarom het die kerk altyd oog gehad vir uitsonde­rings. Daarom het ons daarmee geen probleem dat in ons gemeentes vier in plaas van een beker gebruik word nie, om die praktiese rede dat een beker te swaar en te lastig sou wees as alle lede daaruit sou moes drink.

Waarom het Christus almal uit die een beker laat drink? Om die eenheid van die gelowiges in Hom te benadruk. Daarom moet ons ook by die uitsondering nog soveel as moontlik probeer om uitdrukking te gee aan die eenheid. Daarom het die sinode van Sneek 1939, toe hy die gebruik van klein kelkies in spesiale omstandighede toegelaat het, benadruk dat die eenheid van die kelkies sigbaar gemaak moet word deur die gebruik van een kan.  Ons deel saam in die heil in Christus, die enigste bron van lewe. Onder normale omstandighede word die eenheid die beste uitgedruk deur saam te drink uit die gemeenskaplike beker. Bowendien word die onderlinge band ook aangegee deur die beker aan mekaar deur te gee. Hierdie element raak jammer genoeg verlore by die gebruik van individuele kelkies.

Aangaande die uitsonderings moet ons ook vandag opsies oophou vir hulle wat 'n siekte het wat besmetlik geag word. Hulle sou gevra kan word om as laaste persone van die beker te drink of hulle sou spesiale kelkies, wat gevul is uit die gemeenskap­like kan, gegee kan word.

Wyn of druiwesap🔗

Toe die Here die Nagmaal ingestel het, het Hy ge­bruik gemaak van die elemente van die Joodse Pasga wat in die tyd wyn ingesluit het. Christus het 'n beker van normale wyn aan sy dissipels deurgegee. Hy het gesê: "Ek Sal van nou af nooit meer van hierdie vrug van die wynstok drink nie, tot op daardie dag wanneer Ek dit met julle nuut sal drink in die koninkryk van my Vader." (Mat 26:29) In daardie verband is dit duidelik dat die woorde 'vrug van die wynstok' wys op 'n alkoholiese wyn, waarvan die misbruik tot dronkenskap kan lei (1 Kor. 11:21).

Waarom gebruik Christus wyn en nie water of enige ander soort drank nie? Wyn word nie slegs gebruik om die dors te les nie. Dit is ook nie slegs 'n tradisionele tafeldrank nie. Wyn is 'n feestelike drank. Dit is 'n stimulant wat "die mens se hart kan bly maak" (Ps. 104:15). Deur die wyn te gebruik laat Christus mooi sien dat Hy nie slegs ons red nie, maar dat Hy ook hulle wat treur vanweë hul sondes wil bly maak. "Ons geniet aan die tafel 'n voorsmaak van die oorvloedige vreugde wat Hy ons belowe het. Ons sien met groot verlange uit na sy verskyning in heerlikheid, na die bruilofsmaal van die Lam, wanneer Hy die wyn saam met ons sal drink in die koninkryk van sy Vader." (Formulier vir die viering van die Heilige Nagmaal). Die geantisipeerde heil in die koninkryk van God word geteken as 'n banket of 'n fees waar die wyn deur alle gaste met vreugde gedeel word (Mark. 14:25; Open. 19:7; Luk. 13;29; 14:7-24).

Uit die bostaande mag duidelik wees dat Christus bewus gekies het om wyn as element van sy Nagmaal te gebruik. Wyn het 'n spesiale waarde as simbool van die vreugde van die nuwe verbond. Hoewel Jesus nie 'n streng en bindende opdrag gegee het om altyd en onder alle omstandighede wyn te gebruik nie, het Hy vir ons wel die klaarblyklike en betekenisvolle reël agtergelaat dat ons onder nor­male omstandighede wyn sou moet gebruik. Daar sal dus baie goeie redes moet wees om af te wyk van die reël wat die Here ons gegee het, toe Hy die Nagmaal ingestel het deur wyn met druiwesap te vervang.

Die kerke het ook hier oog gehad vir uitsonderings. Die eerste Frans Protestantse koloniste in Amerika kon geen wyn gebruik nie, omdat daar nog geen wyn was nie. Calvyn het hul vraag hieroor beantwoord deur te skrywe dat dit toegestaan is om 'n ander soort drank te gebruik as wyn nie beskikbaar is nie, want die geestelike genieting van die Nag­maal van die Here is nie beperk tot een bepaalde drank nie. So is in die verlede ook uitsonderings gemaak vir lede wat op mediese advies nie wyn mog drink nie. Aan hulle is water gegee in plaas van wyn. Die kerk is verplig om reëlings te tref sodat alle belydende lede, waar moontlik, die Nag­maal saam met die gemeente kan vier. Christus wil hê dat almal deel in die vreugde van sy reddingsfees. Ons sal ook vandag rekening moet hou met die moontlikheid van individuele uitsonderings. Die volgende opsies sou oorweeg kan word:

  1. Die lede sou die beker kan deurgee sonder om daaruit te drink.
  2.  Klein kelkies met druiwesap sou aangebied kan word aan hulle wat dit om wettige redes vra.
  3. As daar meerdere wettige uitsonderings is sou 'n beker met druiwesap rondgedeel kan word op een tafel of 'n deel daarvan.

Konklusie🔗

Net soos die viering van die Pasga het ook die viering van die Nagmaal 'n ontwikkeling deurgemaak. Ons vier vandag die Nagmaal nie op presies dieselfde manier as wat Christus dit met sy dissipels gevier het nie. Dit kan ook nie en hoef ook nie. Die tye en omstandighede het verander. Dink alleen maar aan die feit dat Christus self nie liggaamlik aanwesig is nie. Christus het nie in detail presies voorgeskryf hoe ons die Nagmaal altyd en onder alle omstandighede moet vier nie. Wel het Hy sekere simbole en 'n sekere patroon nagelaat. Ons moet soveel as moontlik daardie simbole en patroon handhaaf. Aan die een kant moet ons nie so krampagtig daarmee omgaan dat ons geen oog het vir moontlike uitsonderings nie. Aan die ander kant moet ons ook nie onverskillig wees teenoor die simbole en patrone wat Christus ons nagelaat het sodat ons sonder dringende redes daarvan afwyk nie.  Ons moet goed onthou dat die Nagmaal ingestel is as 'n gedagtenismaal om die heil in Christus (gesimboliseer deur brood en wyn) te onthou, as 'n gemeenskapsmaal waarin ons die gemeenskap met Christus en met mekaar vier en as 'n voorsmaak van die oorvloedige vreugde van die bruilofsmaal van die Lam. Dit is waaroor die Nagmaal gaan en dit moet ons dus na ons vermoë bewaak en tot sy reg laat kom.