Bron: Nader Bekeken. 4 bladsye.

Nahum 3:18-19 - Perspektief op Politiek

Jou herders sluimer, o koning van Assur, jou edeles lê daar, jou volk is op die berge verstrooi, en niemand versamel hulle nie. Daar is geen herstel vir jou verbreking nie; jou wond is ongeneeslik; almal wat die tyding omtrent jou verneem, slaan hulle hande saam oor jou; want oor wie het jou boosheid nie voortdurend heengegaan nie?

Nahum 3:18,19

Die boek Nahum is ’n “Godspraak oor Ninevé” (1:1). Ninevé was die hoofstad van die Assiriese ryk, in dié dae die wêreldmag wat die internasionale politiek oorheers het. Dit het ook Israel en Samaria so ’n 60 of 70 jaar tevore onderwerp (722 v. C.). ’n Ander groot mag, Egipte, is pas deur Assirië ’n gevoelige slag toegedien met die verwoesting van No-Amon (663 v. C.). Die herinnering aan dié oorwinningstog is nog vars in die geheue (3:8). Die Assiriese troepe (die ‘snoodaard’ of boosaard van 1:15) het op hulle terugtog van Egipte al plunderend deur Juda getrek en niemand kon iets daaraan doen nie. Assirië het sy mag deur bloedige en dierlike optrede van sy leërs afgedwing. Oral het skrik geheers vir hierdie onstuitbare en meedoënlose hordes, maar niemand kon iets teen hulle uitrig nie.

Die HERE ken Ninevé beter as enigiemand. Hy ken sy ligging, sy paleise, verskans met water rondom, en hulle geheime (2:6, 12; 3:1). Hy weet dat leeujag die tydverdryf van sy vorste is. Dat die leeu byna ’n nasionale simbool is (lees ook 2:11-13). Hy sien hoedat onsedelikheid, korrupsie en geweld die openbare lewe kenmerk met ’n mentaliteit van: ‘leef jou uit en gryp wat jy kan’. Hulle gryp na towery en okkultisme. Vir Ninevé geld geen internasionale oorlogsreg nie. Oorwonne volke is bloot handelsware en word na willekeur só behandel (3:4).

Ninevé is ver van Jerusalem. Sy mense wil niks met die HERE te doen hê nie. Hulle meen selfs dat hulle met Hom afgereken het. Maar die stad val nie buite die sig van God nie. Ook nie buite bereik van sy heilige arm nie! Die HERE is immers die Skepper van die eindes van die aarde (Jesaja 40:28). Hy ken die stad deur en deur. Niks ontgaan Hom nie en Hy sal sy kennis nie ongebruik laat nie.

Die verwoesting van Ninevé word aangekondig🔗

Kyk, Ek sál ... !” Dit is die woorde van die HERE van die leërskare (3:5). “Die HERE van die leërskare”: hoe mooi is hierdie beskrywing deur God van Homself. Teenoor wispelturige, onbetroubare, onregverdige Assiriërs noem Hy Homself HERE. Jahwe. Die God wat doen wat Hy sê. Daar is by Hom nie wisselvalligheid of willekeurigheid nie. Hy manipuleer nie. Hy is aan sy verbond en sy woorde getrou. Hy is volstrek betroubaar.

Die HERE van die leërskare. Teenoor die brute, die niks ontsienende en skynbaar onoorwinlike leërs van Ninevé, stel die HERE Hom met sý leërs. Ninevé, berei jou maar voor vir ’n langdurige beleëring. Versterk maar jou mure en vestings. Dit sal jou nie baat nie. Die HERE sal juis in die versterkte deel van jou mure die bres slaan. Juis dáár gaan sy leërs die stad binnestroom (3:15). Van alles waarop jy so trots is, sal niks oorbly nie. Jou ministers, jou generaals, jou topamptenare gaan almal, wanneer dit daarop aankom, wegvlug. Soos sprinkane in die nagtelike koue op ’n muur: wanneer die oggend warm word, het hulle skielik spoorloos verdwyn.

Verse 18 en 19 is ’n spotlied op die val van Ninevé. “... almal wat die tyding omtrent jou verneem, slaan hulle hande saam oor jou; want oor wie het jou boosheid nie voortdurend heengegaan nie?”

Koning van die konings🔗

Dit is opvallend dat die koning van Assur in Nahum regstreeks aangespreek word en in eie persoon met die oordeel van God te doen kry. Nie net die volk van God nie, maar ook die heidense en goddelose vors van die nommer één mag in die wêreld moet na die HERE luister en is aan Hom onderworpe. Al sou Nahum in die oë van die koning van Ninevé ’n onbenullige mannetjie gewees het, al het hy miskien nog nooit van hom gehoor nie - hy kom met ’n godspraak van die HERE van die leërskare. Daarom is hierdie boodskap belangriker en dringender as alle verslae en beleidsvoornemens wat sy weermag, ministers, wetenskaplikes en adviseurs aan hom voorlê.

In ’n sekulêre staat word geloof en godsdiens as private aangeleenthede verklaar. Tuis en in die kerk kan die Woord van God miskien nog betekenis hê; in die samelewing en die openbare lewe is daarmee weggedoen: jy kan jou nie daarop beroep nie. Doen jy dit, is jy buite die ‘demokratiese’ orde. Christelike politici word beleefd aangehoor net as hulle hul op méér kan beroep as die Woord van God. Eers wanneer hulle die maatskaplike belang of sosiale voordeel van byvoorbeeld die Sondag kan aantoon, is daar ’n bereidheid om dit wat hulle sê, te oorweeg. Welsyn en vermaak van die burgery staan immers bo alles. Alles wat dááraan dienstig is, tel. Aan dié norm word die Here ook onderwerp. Wat Hy sê, is slegs van belang as die hedendaagse mens oortuig kan word van die sin daarvan.

Ons weet nie hoe en waar die profesie van Nahum gehoor is nie; of hy, soos Jona, Ninevé binnegegaan het en sy boodskap tot in die paleis van die koning deurgedring het nie. Dit was wel vir die koning van belang, want dit was die woord van die Koning van die konings! Wat Hy te sê het, is dringender as enige plan, verslag of advies, as enige faks of memo! Of hulle wil of nie, konings en presidente sal deur Hom geoordeel word.

Nahum vestig ons aandag daarop dat dit in die politiek nie in die eerste plek gaan oor respek vir die ‘Christelike deel van die volk’ nie. Ook nie oor Christene wat hulle gedronge voel om te ‘getuig’ nie. Selfs nie oor kanse en geleenthede wat ons ‘nog’ sien en dink dwaas sou wees om te laat verbygaan nie.

Dit gaan om die werklikheid van God se koningskap. Hy het alle mag aan die Seun wat aan sy regterhand sit, gegee. Hy is die Owerste van die konings van die aarde. Iedereen is aan Hom onderworpe. Almal sal eenmaal voor sy troon verantwoording moet doen. Dit is nie maar ’n Christelike niksseggendheid nie. Dit is ook nie ‘ons mening’ nie. Dit is die realiteit! Christelike politiek is eers verstandig as dit hierdie werklikheid as uitgangspunt neem. Vrymoedig. Sonder vrees. Die wêreld behoort aan die Vader, wat deur sy Seun regeer! Ook dit hoort tot die waarheid wat ons in Christus vry, en vrymoedig, maak.

Politieke verantwoordelikheid🔗

Nie net konings en regeringshoofde moet na die HERE luister nie. Ook hulle ministers en amptenare en adviseurs is regstreeks aan God verantwoordelik. “Jou herders sluimer, o koning van Assur, jou edeles lê daar ... ” sê Nahum (lees ook Psalm 13:4 en Psalm 76:6, 7). Jou herders: dit is die ministers, die politici en die hoë amptenary; diegene wat in die samelewing die leiding moet neem. En die edeles: die omkopers en rykaards wat mens in die leërs en die boonste lae van die vryemark-samelewing in Ninevé aangetref het (3:16). Hulle word afsonderlik deur God se oordeel getref. Hulle moet self die verantwoordelikheid dra. Hulle kan nie agter hulle koning wegkruip met ‘ons het nie daarvan geweet nie’ of ‘ons moes dit doen - ’n opdrag is ’n opdrag’ nie. Die HERE hou hulle persoonlik verantwoordelik.

Die Skrif roep ons nêrens op tot ’n doperse vermyding van owerheidsampte nie. Ons word geroep tot voorbede en tot ontsag vir die owerhede (1 Timótheüs 2:1, 2; Romeine 13:1-7; 1 Petrus 2:13-17). Daniël het ’n hoë amp in die hof van die koning beklee. Johannes die Doper vra nie van soldate om die Romeinse krygsdiens te verlaat nie (Lukas 3:14). Jy is nie as ’n ondergeskikte sonder meer aanspreeklik vir alles wat in die onderneming waar jy werk, gebeur en waarmee jy met wettige middels niks aan kan doen nie (1 Korinthiërs 5:10). Daar is aangeleenthede waarin nie die amptenaar nie, maar die minister polities verantwoordelik is. Ewewel rus daar steeds ’n persoonlike etiese verantwoordelikheid op owerheidsdienaars. Daniël en sy vriende het hulle steeds - Christelik vrymoedig! - gehou aan die onderrig van God (Daniël 1 en 3).

’n Totalitêre staat kan ewewel nie sy burgers se verantwoordelikheid voor God wegneem nie. Nahum praat immers ook van die bevolking van Ninevé. Hulle is die skape sonder ’n herder (lees ook Numeri 27:16, 17; 1 Konings 22:17). In die berge is die dood so ’n kudde se voorland. Dit is die oordeel van God oor burgers wat hulle hul vryheid en verantwoordelikheid as skepsels van God (vgl. Artikel 12 van die Nederlandse Geloofsbelydenis) laat ontneem deur die ideologie van die staat of die verkeerde wil van die meerderheid (Eksodus 23:2).

Die toekoms in die HERE alleen🔗

Daar wag ’n onontkombare verwoesting op Ninevé. Die HERE sal met hom nog meer volkome afreken as wat hý met die stede gedoen het wat deur hom oorwin is (soos No-Ammon, 3:8 e.v.). “Daar is geen herstel vir jou verbreking nie; jou wond is ongeneeslik”. Hierin klink die verskrikking van die hel, “waar hulle wurm nie sterf en die vuur nie uitgeblus word nie”. Geen medelye met die slegte vrou nie; eerder uitspattige danse oor haar druk en verdriet: almal wat hoor hoe die groot prostituut, Ninevé, vergaan het, klap die hande in helse leedvermaak. (Klaagliedere 2:15 beskryf soortgelyke spot: “Almal wat met die pad verbygaan, slaan die hande saam oor jou; hulle spot en skud hulle hoof ...”).

Dit is die toekoms van die stad wat in Nahum se dae so indrukwekkend was: pragtige fonteine, skitterende bouwerke, luukse paleise vol kunsskatte en trofees, bloeiende handel, beroemde markte, bekwame diplomate, onoorwinlike leërs, seks, toorkuns en vermaak. Vol betowering en aantrekkingskrag vir almal wat vir sulke dinge leef.

As die HERE egter teen die stad optrek, bly daar niks van oor nie. Ninevé kon nie een van die volke wat noodgedwonge na hom moes opsien, werklik aan hom verbind nie. Almal wat die treurmare oor hom hoor, klap daaroor hande.

Nahum se profesie is ’n ontnugtering vir almal wat op militêre mag steun; wat hulle laat lei deur die politieke magsbalans van die dag; wat die verspreiding van kennis, mag en inkomste as die enigste medisyne vir ’n beter wêreld ag; wat dink dat ’n nuwe wêreldorde, met vryheid, regte en welvaart vir elkeen, haalbaar is en met militêre en ekonomiese middele afgedwing kan word. Nahum wys op die relatiwiteit van politieke, ekonomiese, kulturele en militêre mag. Ninevé het in ruim mate hieroor beskik, maar dit het geen sekerheid gebied nie. Veiligheid is by die HERE alleen. Hy is goed, en ’n toevlug in dae van benoudheid. Hy ken, beskerm en gee lewe aan wie by Hom skuil (1:7). Wie van die HERE is, sien op die berge die herout van vreugde aankom met sy boodskap van triomf en vrede. Hulle kan solank die dank- en vredeoffers te voorskyn bring en begin feesvier (1:15).

Hierin staan hulle teenoor mekaar: Ninevé, wat op mag steun, en Juda, wat by die HERE skuil. Die teenstelling bestaan nié daarin dat Juda wat deur Nahum getroos word (die naam Nahum kan waarskynlik verbind word met die Hebreeuse woord vir troos) ’n volk sonder ’n leër en kultuur en politiek is nie. Die kontras met Ninevé is dat Juda hom nie op politieke, ekonomiese en militêre gebied van die HERE losmaak nie: hulle verwag alle veiligheid en welvaart van Hom, en weet dat hulle in die gebruik van politieke en ekonomiese middele aan die wet van God gebonde is.

Die profesie van Nahum is politieke prediking. Nie prediking waarin die hele evangelie in die politiek opgaan nie; ook nie waarin alle politieke aktiwiteit as ongeestelik verwerp word nie, maar prediking wat leer dat ook in die politiek, wetenskap en ekonomie, die heerskappy van die HERE van die leërskare erken moet word. Dit is nie neutrale terreine nie. Die mark is nie ‘vry’ nie en hoewel politieke maghebbers vol bravade die indruk wil wek dat hulle die toekoms van die wêreld bepaal - los van die HERE - is al hulle aktiwiteit tot ondergang gedoem. Die wêreld is die wêreld van die Here. Van Hom kom silwer en goud en kennis en wetenskap. Wie Hom ontken of sy gawes teen Hom gebruik, sal kennis maak met sy ysterknuppel. Die ongelowiges sal nie hulle skatte en prag oorleef nie (lees ook Haggaï 2:7, 8).

Daarteenoor is daar vir ware Christelike politiek en ekonomie wel ’n toekoms. Wie vanuit die belydenis van die opgestane Christus politiek bedryf, mag weet dat sy werk in die Here nie tevergeefs is nie. Wat nou as bespotlik en bekrompe afgemaak word, sal aanstons blyk die saak van die Seun van God te wees (1 Petrus 2:12). Met hierdie perspektief kan gereformeerde politici hulle werk doen. Vrymoedig, sonder verleentheid. Daar wag ’n groot toekoms.

Nie bekrompe nie🔗

Die verwoesting van Ninevé was onvermydelik en onherstelbaar, maar ook onbetwisbaar, “want oor wie het jou boosheid nie voortdurend heengegaan nie?” (3:19).

Hulle boosheid. Daarmee gaan dit nie net oor die boosaardige gesindheid van Ninevé nie, maar ook oor die optrede wat daaruit voortgekom het. Hulle heerssug en terreur, hulle verdrukking van andersdenkendes, hulle agterbakse diplomasie, hulle verafgoding van leërs en die wetenskap, hulle muwwe kultuur.

‘Oor wie het jou boosheid nie heengegaan nie?’ vra die profeet. In hierdie retoriese vraag lê die oorsaak vir die oordeel van God opgesluit.

Let daarop dat Ninevé nie ondergaan weens sy verdrukking van Juda nie. Nahum is nie ’n nasionalistiese profeet met ‘eie volk eerste’ en ‘eie volk die maatstaf vir alle dinge’ nie. Ninevé word gestraf vir sy terreur oor alle volke. Die HERE sê ook nie: ‘die volke rondom Juda het straf verdien met hulle onreg en afgodery’ of ‘net die verdrukking van my volk is erg’ nie. Nee, die HERE vind dit erg as watter volk ook al getiranniseer en uitgemoor word. Oorloë, vervolging en die vertrapping van ‘menseregte’ sal daar wees, en God kan volke soos Assirië gebruik as roede van sy toorn, maar wee die volk wat daarin sy eie slegtigheid uitlewe (lees ook Jesaja 10:5-7).

In die dae van die profeet Jona het die HERE, na die bekering van die stad en die koning, die oordeel oor Ninevé uitgestel met die opvallende motivering dat daar meer as honderd en twintig duisend mense, wat die onderskeid tussen hulle regter- en hulle linkerhand nie geken het nie - én baie vee - was (Jona 4:11). Nou, in die dae van Nahum, verdelg die HERE Ninevé (dit het in 612  v.C. gebeur). Weereens is die motief opvallend. By Jona spaar God die stad uit liefde vir sy skepsels. In die dae van Nahum verpletter Hy dit omdat dit so sleg was vir volke wat deur Hom geskape is; deur Hom geroep is tot sy lof; vir wie Hy sy Seun na die wêreld sou stuur sodat elkeen, uit watter volk ook al, wat in Hom glo, die ewige lewe sal hê.

Nahum word soms van Joodse eiebelang beskuldig, maar hiér blyk die teendeel. Nahum verkondig die HERE as die God wat die onreg wat aan alle volke gedoen word, wreek. Hy soek ’n skare uit elke stam en taal en volk en nasie. Daarom mag gereformeerde politiek nie bekrompe wees en hom oorgee aan eng nasionalisme of vreemdelingehaat nie. Welseker is ons aktief op ons eie klein plekkie, binne die grense van ons beperkte vermoëns, maar ons besef ons staan in die onmeetlike ruimte van die skepping van God. Ons dien niemand minder nie as die God van hemel en aarde.