Bron: Vox Viva. 2 bladsye.

Navolging

Toe sê Jesus vir sy dissipels: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg.

Mattheus 16:24

kompas

Die Christelike lewe kan op baie maniere gedefinieer word. Daar is een definisie wat in die Nuwe Testament uitstaan en dit is die beskrywing ‘navolging’. Christen-wees is om Jesus na te volg. Toe Jesus op die aarde was, het die ontmoetings wat Hy met allerhande mense gehad het telkens op een ding uitgeloop: ‘Volg My!’ Daar is selfs 69 tekste in die evangelies waar oor die navolging van Jesus gepraat word.

Dit verduidelik allereers, dat dit in die Christenskap nie gaan oor die navolging van iets nie, maar van Iemand. Christenskap word nie gekarakteriseer deur die navolging van ʼn bepaalde idee of ideaal nie, maar deur die navolging van ʼn Persoon. Die navolging van Jesus bepaal die Christenwees tot dit wat dit is.            

Die navolging van Jesus het alles te doen met ʼn lewe hier en nou, soos Jesus dit geleef het. Tog is die navolging van Jesus iets anders – en iets meer – as die naboots van Jesus. Navolging en nabootsing mag nie gelyk gestel word aan mekaar nie.

Ons kan dink aan ʼn gids wat by ʼn gevaarlike ekspedisie in die berge voorloop. ʼn Groep ondersoekers volg die gids. Die mense wat agter die gids aanloop volg presies dieselfde pad as die gids, maar tog op ʼn ander manier. Die gids wys nie net die weg nie, hy baan ook die weg. Al loop al die mense in so ’n groep wat met ʼn gids deur die berge trek, almal dieselfde pad, het die gids in die groep ʼn eie en unieke plek.

Dieselfde geld vir die navolging van Jesus. Jesus behou daarby ʼn eie en unieke plek.

Wanneer ons die beeld van die gids voor oë hou, blyk die woord ‘navolging’ veral drie elemente te bevat.

  • Die eerste element is die van afhanklikheid. Die mense wat ʼn gids volg doen dit in voortdurende afhanklikheid van daardie gids. As hulle die gids uit die oog verloor, loop hulle hulle heeltemal vas. Hulle kan nie ʼn tree gee sonder die gids nie. By die navolging van Jesus is ons ook voortdurend op Hom aangewys. Geen mens kan op eie krag die weg van Jesus gaan nie. Dit kan ons net regkry wanneer ons Hom voortdurend in die oog hou.

  • Die tweede element in die woord ‘navolging’ is die van vertroue. Die mense wat ʼn gids volg doen dit in die volste vertroue dat die gids op hoogte is van elke besonderheid van die gebied waardeur hulle wil stap. Dat jy ʼn gids volg bewys jou vertroue in hom. Ons kan nie vir Jesus volg sonder om Hom te vertrou nie – ons vertrou dat Hy ons ook vandag in ons omstandighede op die regte pad sal laat gaan.

  • Die derde element in die woord ‘navolging’ is die van gehoorsaamheid. Mense wat ʼn gids volg moet ook let op sy aanwysings. As hulle dit nie doen nie het die navolging geen sin nie. Mense wat hulle nie steur aan die aanwysings van die gids nie, gaan hom sommer gou verloor. Ook by die navolging van Jesus is dit belangrik dat ons let op sy aanwysings. Om Jesus te volg is niks anders nie as om na sy stem te luister.

As mens so daarna kyk is die navolging van Jesus nie juis ʼn maklike opdrag nie. Dit is nie verniet dat Jesus in die evangelies juis in verband met die navolging van Hom, ook praat oor die opneem van ons kruis nie. Die belewing van die afhanklikheid van Jesus, die vertroue in Hom en die gehoorsaamheid aan Hom, kan nie plaasvind sonder dat ons die kruis van selfverloëning opneem nie.

Ons moet telkens besluite neem. Ons staan telkens voor die keuse van watter pad ons sal inslaan. En elke keer sê Jesus weer vir ons: ‘Volg My!’