6 bladsye.

Neergedaal na die Hel

Ons belydenisse praat vyf keer van die hel en een keer van die byvoeglike naamwoord ‘helse’. Die artikel is nie ’n direkte aanhaling uit die Skrif nie. Die huidige tendens onder beide die Rooms- Katolieke en Protestante is om dit as ’n heengaan na die doderyk weer te gee. Alhoewel die frase eers aan die einde van die vierde eeu tot die Apostolicum gevoeg is, het dit tog duidelike eksegeties dogmatiese sake deur die eeue bly aanspreek.

Die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika se onlangse poging is dus nie uniek nie. Dit is eerder ’n versugting om ekumenies stroombelyn te wees. Histories was daar drie soorte reaksies op enige verandering van enige belydenisbewoording:

Geweldige afkeur.🔗

Entoesiastiese verdediging daarvan as noodsaaklike opdatering veral in die lig van ketterye.

Stilswye.🔗

Die reaksie binne die Gereformeerde Kerke sal seker nie ’n nuwe historiese presedent met ’n heel nuwe reaksie skep nie.

Die descendit ad inferna-artikel is later as die ander artikels in die Apostolicum opgeneem. Die feit dat die belydenis eers as doopkategese-vrae ontstaan het, en later by ketterye ’n rol gespeel het in die vasstelling van regsinnigheid moet by die ontstaansgeskiedenis van hierdie frase in gedagte gehou word. Verder is dit belangrik wat die streeksinvloede van bepaalde frases was – soos wat inderdaad hier die geval was.

Die eerste variant op die antieke Romeinse doopsbelydenis is die Aquilea-belydenis waarop Rufinus kommentaar lewer. Van die begin af was daar probleme met die betekenis. Aanvanklik het dit bloot gedui op die siel se toestand na die dood én die verlossing van die Ou Testamentiese gelowiges. Die verskillende, soms verwarrende, soms teenstrydige interpretasies wissel mekaar deur die eeue met reëlmaat af. Dit sluit in:

’n Noue identifikasie met sepultus, die begrafnis, dat descendit ’n kleurvolle beskrywing is van dood en begrawe – niks meer nie.

Die afwisselende klem van die vernedering en verhoging van Christus, wat telkens op verskillende momente geplaas word en soms prosesmatig en soms in fases geneem word.

Die dood as mag.

Die ryk van die dooies.

Christus se prediking en bediening van die doop in die doderyk.

Sy verlossing van die Ou Testamentiese gelowiges.

Die afwagplek vir verlossing.

Die afbetalingsplek vir nog-nie-geredde dooies.

Die permanente strafplek van die verdoemdes.

Klem op die demone waarvoor gepreek word (hierdie is ’n dogmaties eensame siening en sterk deur die gnostiek beïnvloed).

Dit alles het binne die breë raamwerk van die homoiousios-stryd plaasgevind. Daaruit mag egter nie afgelei word dat alleen anti-appolinariaanse, anti-docetiese en pro-vagevuur motiewe die frase in die belydenis gekry het nie.

Die dogmageskiedenis is hier maar troebel waters. Telkens moet eers gevra word wat die teologiese umwelt is waar die descendit óf instemmend verswyg óf ywerig teen ketterye aangehaal en uitgebrei is. Tog moet ’n mens met Calvyn instem dat die belydenisdeel vir ons verlossing só waardevol is dat, as dit agterweë sou bly, baie van die vrug van Christus se sterwe vir ons verlore sou gaan.

Die vraag is dus primêr of die nuwe bewoording aan die belydenis getrou bly, aangesien die Heidelbergse Kategismus ’n verklaring van die Apostolicum bied. Indien die bewoording van die twaalf artikels wesentlik verander word, dan moet die verklaring van die geloofsbelydenis in die Heidelberger ook verander. Die kerk moet sy belydenis nie net respekvol nie, maar ook eerlik as outentieke teks hanteer. Dit sluit die dogma-historiese, dogmatiese, eksegetiese en kerkverbandelike aspekte in. Die huidige ooreengekome teks bly die gemeen akkoord.

Dit gaan spesifiek oor die volgende woorde in die Kategismus: tum maximè in cruce (maar veral aan die kruis). Daardeur bely die kerk dat die descendit ad inferna direk verbind word aan in cruce. Christus se neerdaal na die hel het veral aan die kruis plaasgevind. Dit is die punt in geding. Inderdaad is dit die hele hart van die soteriologie (verlossingsleer).

Die hele kontrovers oor die nuwe alternatiewe beskrywing van ‘wat angste van die hel tot in die dood toe ondergaan het’, het weer onder die aandag gebring dat daar ’n populêre verwarring bestaan om duidelik te onderskei tussen ‘hel’ en ‘doderyk’. Wanneer dit aswisselterme gesien word, ontstaan ’n kronologiese probleem wat histories met die kerk saamkom oor die plasing van die neerdaling van ons Here na die hel ná die begrafnis.

Vrae volg mekaar met reëlmaat op:🔗

Was Christus in die hel of het Hy net angste van die hel ondergaan – die verband tussen Getsémane en Golgota?

Kom die kontras neerdaal-opvaar genoegsaam na vore in die nuwe bewoording?

Is die sentrum van die versoeningsleer hier op die spel of is dit maar net ’n kwessie van vertaling?

Dit is nodig om weer hierna te kyk om agter te kom dat hierdie verwarring dogma-histories vroeg reeds voorkom.

Die vroeë Nuwe Testamentiese kerk🔗

Die vroeë kerk het dit eenvoudig verstaan as ’n doderyk – dus as ’n naderverklaring van sepultus. Twee sentrale gedagtes kom in verskeie variasies stelselmatig na vore: dat Christus die aartsvaders red, met of sonder gepaardgaande prediking; dat Christus hades, hel toe gegaan het en dat die gelowiges nie daarheen hoef te gaan nie.

Deur die samevoeging van hierdie twee lyne ontstaan die gedagte dat die doderyk (in Hebreeus sjeool) dieselfde is as die hel (wat later gehenna genoem word, of hades in Grieks). Die punt van belang is dat sjeool as die finale strafplek vir verdoemdes geïdentifiseer word.

Dit is hier waar die dogma-historiese kraaines ontstaan. Uit die Skrif is dit duidelik dat sjeool, die doderyk, nie met gehenna, die finale strafplek, geïdentifiseer kan word nie. In Afrikaans beteken dit dat ’n mens duidelik tussen ‘hel’ en ‘doderyk’ moet onderskei. ‘Hel’ kan soms meer as een betekenis hê.

Die Middeleeue het gewerk met die gedagte dat Christus in die doderyk preek en word die descensus verklaar as deel van die verhoging van Christus.

Oosterse kerk🔗

Die oosters-ortodokse christendom sien die neerdaal in hulle kerklike kuns veral as deel van die finale oordeel en fokus daarom op die opstanding. Die descensus word as deel daarvan opgeneem.

Heidense Hades🔗

By die Grieke was Hades die seun van Kronos en Rhea en die broer van Zeus. Hy is ook later Pluto genoem. Hy het oor die onderwêreld regeer. Dit het daartoe gelei dat die plek en die afgod na mekaar vernoem is. Daar word dikwels beweer dat sjeool maar net die Hebreeuse ekwivalent is van die Griekse (en later Romeinse) hades. Die begrip het ook in ander antieke kulture voorgekom. Sonder om eers in te gaan op die Skrifkritiese vertrekpunte van sodanige stelling, kan slegs genoem word dat daar wel groot verskille is, naamlik dat die Skrif God ken as die Heerser ook in en oor sjeool. Verder vertoon al die mitologieë in al hulle variasies tog die volgende ooreenkomste:

Die mites wil na vore bring dat die menslike siel nie uitgewis kan of mag word nie.

Die optrede in die lewe bepaal die bestaan in die dood.

Ten diepste bly dit die heidense versugting van die mens om soos sy denkbeeldige gode te wees.

Augustinus🔗

Behalwe vir ’n enkele verwysing dat Christus onder die dooies was, bespreek Augustinus nie ’n descencus in sy Enchiridion nie. Hy beskou dit dus nie as deel van die doopsformule by die belydenis nie. Alhoewel hy die term ken is daar ’n versigtigheid by hom te bespeur. Sy klem is  gevestig op die twee nature van Christus, terwyl hy wel bely dat Christus tussen sy sterwe en opstanding in die doderyk was – iets wat elke christen as geloofswaarheid moet omhels. Hy sien die hel eskatologies as oord van die ewige verdoemdes.

Thomas van Aquino🔗

Dit is goed bekend dat Thomas ’n lang stuk in sy Summa afstaan aan die artikel. Kortliks kom sy standpunt op vier sake neer. Thomas stel dat wat die sakramente vir die lewendes beteken, is wat die neerdaling vir die dooies beteken. Die krag van Christus is in albei handelinge werksaam. Volgens Thomas het Christus die gelowiges van die Ou Testament met sy neerdaling na die hel uit die verdoemenis bevry. Verder red Hy diegene uit die vagevuur vir wie verlossing nog moontlik is. Ook word ongedoopte kinders en mense wat nog die nodige geloof kortgekom het vrygelaat. Die duiwel en die siele wat vir die ewige straf bestem is word uitgelos, aangesien Christus nie neergedaal het in die hel as strafplek vir die verdoemdes nie. Aan die verdoemdes word geen verlossing gebring nie.

Rooms-Katolieke siening🔗

Dit gaan hier veral oor die begrippe limbus patrum en limbus infantum wat sedert Thomas algemeen in die Roomse teologie voorkom.

Die Roomse teologie leer dat Christus neergedaal het na die hel om die heilige Ou Testamentiese aartsvaders te verlos.

Vanaf die Konsilie van Florence (1439) en die kontra-reformasie Konsilie van Trent (1545-1563) word die onderskeid tussen die poena damni (ewige straf van veroordeeldes wat God se teenwoordigheid ontbeer) en die poena sensus (die fisieke pyn) weer bevestig asook die hele gedagte van die vagevuur.

Reformasie🔗

Die leerstuk oor die hel is in die reformasie breedweg vanuit drie teologiese motiewe benader, naamlik die geregtigheid van God, die totale verlorenheid van die mens en die uitverkiesing. Daar is algemeen aanvaar dat die vroeë kerk nie die neerdaling as deel van die simbole geken of uitgelê het nie. Daar is nie sekerheid oor wanneer dit presies in die Apostolicum opgeneem is nie, maar tog is dit belangrik om daarop te wys dat juis die reformasie, waar letterlik alles oop was vir aanpassing, bewustelik kies om die desencus te behou.

Die uitleg daarvan geskied aan die hand van regula fidei. Luther en Calvyn verskil basies nie oor hulle verklaring hiervan nie, alhoewel die latere Lutherane eintlik nie die egte Lutherse siening weerspieël nie.

Bultmann🔗

Dit is algemeen bekend dat Bultmann se teologie op Heidegger se filosofie berus. Die Ou Testamentiese drieverdieping wêreldbeeld (hemel, aarde, onderwêreld) en die Nuwe Testamentiese beeld (met sy Griekse wortels van die aarde, waar die spasie bo die maan aan die gode behoort en dié onder die maan aan die menslike geeste en demoniese kragte wat sake moet uitspook) moet volgens Bultmann alle eksistensiële betekenis vir komtemporêre denke verloor.

Draagwydte van die belydenis🔗

Uit die dogmageskiedenis is dit duidelik dat die vroeë kerk iets anders onder die descendit-artikel verstaan het as die reformatore by wie dit in die Kategismus neerslag gevind het. Dit bring die vraag na die waarde van die belydenis na vore – nie net die Apostolicum nie, maar ook die Kategismus. Die punt van belang is die kerk se eenheidsbelewing met die kerk van al die eeue. Die belydenis het meer draagwydte gehad as wat die oorspronklike opstellers besef het. Die vraag is: Hoe moet ’n latere geslag, wat op ’n sekere punt anders of iets meer as die vorige geslag bely, dit in ’n belydenisskrif neerslag laat vind? Met die nuwe bewoording het ons nie met ’n herformulering te doen nie, maar met ’n dogmatiese verandering. Dit blyk duidelik uit die volgende sake:

Die neergedaal (de-scendit) is vervang met ondergaan. Dit is dogmaties nie dieselfde nie. Neerdaal, of dan afgaan is nie heeltemal dieselfde as ondergaan nie. Ondergaan kan ongelukkig ook passief verstaan word, terwyl neerdaal juis die klem vestig op die aktiewe handeling van Christus – ook en veral ten opsigte van sy vleeswording en sy lyde.

‘Angste van die hel’ wil die aandag vestig op wat Christus in sy siel beleef het, veral dan om die Godverlatenheid daarin te bely. Die gevaar van hierdie woorde is egter dat vir ‘n kerk (tyd) wat gewend geraak het om kontekstueel te dink – en te bely – die woorde ook (verkeerd) verstaan kan word; eerder in die sin van Getsémane as Golgota. ’n Bevreesde Jesus eerder as ’n betalende Jesus. Dit is nie ’n denkbeeldige gevaar as ’n mens in ag neem dat die filosofie van Heidegger reeds soveel skade in die teologie gebring het nie. Die kerk bely nie maar net dat Christus bang was vir die hel nie – dit was Hy die aand voor sy dood juis, met die bloedsweet. Die kerk bely ook, en veral, dat Hy in die hel was, toe Hy gesê het: ‘My God, my God, waarom het U my verlaat?’ Vrees om deur God verlaat te word, is nie dieselfde as om te beleef dat die vrees werklikheid word, en dat die Godverlatenheid werklik plaasvind nie. ‘Angste van die hel ondergaan’ is wawyd oop vir misverstand. ’n Psigologies beangste Jesus is iets anders as ’n hel-betalende Christus. Die woordkeuse vertroebel eerder as wat dit opheldering bied.

Ondergaan, teenoor neerdaal, verbreek die dogmatiese teenhanger ‘opvaar’. Die vleeswording van Christus, sy neerdaling in die hel as betaling, is intiem verbind aan sy oorwinnende hemelvaart. Sonder die diepte van die hellevaart is die hoogtes van die hemelvaart nie duidelik sigbaar nie. Ons moet daaraan vashou om nie die hel op sigself te beskou nie. Dit loop op niks uit nie. Wat God saamgevoeg het, mag geen mens skei nie. God het hemel en hel só aan mekaar gebind. Verkondiging van die hel in die Skrif is nooit geskei van die prediking van die versoening nie. ‘Neergedaal het na die hel’ moet deel van die kerk se belydenis-woordeskat bly. Daarsonder is die opgevaar na die hemel bleker. Dit gaan oor Goddelike geskiedenis – wat God se Seun aan en vir sy kerk doen.

‘Angste van die hel tot die dood toe ondergaan’ wil miskien die onderskeid hel as Godverlatenheid en dood as ryk van die dooies na vore bring, maar daar vind ’n uiters belangrike verskuiwing in die belydenis plaas ten opsigte van die diep(s)te punt van Christus se lyde. Dit bring twee sake na vore: die kerk bely dat Christus lewendig in die hel, aan die kruis, was – lewe hier verstaan as asemhalend en nie as lewe in verbondenheid met God nie. Die dieptepunt verskuif nou van die kruis na die graf.

Dit was nog altyd ’n dogmatiese vraag waar die vernedering in verhoging draai. Hier is veral Handelinge 2:24 van toepassing. Dit is nie die bedoeling om te pleit vir ’n verhoging reeds in die graf nie, alhoewel daar ruimte voor is. Die punt is dit: die kerk moet nie sy belydenis verander terwyl hy dit juis nie wil doen nie. ‘Herformulering’ mag nie ‘anders bely’ word nie.

As die kerk dit so wil bely dat die dieptepunt – maar veral aan die kruis – verander na die tyd in die doderyk, moet dit nie ondeurdag onder die dekmantel van vertaling inglip nie.

Die kategismus-opstellers was deeglik bewus van die kronologiese probleem in die Apostolicum, én dat die vroeë kerk anders daaroor gedink het. Die Kategismus is ’n poging om die band met die vroeë kerk vas te hou – deur die woorde in die Apostolicum op hulle historiese plek te hou en om die reformatoriese Skriftuurlike lig daarop te laat val. In die sin is die Kategismus-verklaring ’n tussenstaning. Dit is egter veel beter as om in ’n posisie te kom waar die ‘veral aan die kruis’ nie meer deur die kerke bely word nie.

Aanbeveling🔗

By al die dogmatiese stroomversnellings wat in die verlede voorgekom het, moet een saak as waarskuwing vir die huidige geslag gelowiges dien. Die descendit kan nie losgemaak word oor die belydenis van die twee nature van Christus nie, veral oor die vraag na Jesus Christus se menslike gees en die vraag na Hom as ewige logos en ook sy verbondsverband met die Vader en die Gees. Dit word deur die historiese hantering van Handelinge 2:24 en volgende, skerp na vore gebring. Ons moet versigtig wees om nie weer die Apollinaris perdebynes oop te krap nie.

’n Nuwe vertalingsopdatering mag nooit, bewustelik of ondeurdag, die deur ooplaat dat die belydenisinhoud verander nie. Hier is die gevaar van die Heideggeriaanse filosofie, wat reeds (onbewus deur die breë kerkvolk) deur die taalfilosofie soveel vatplek in die gereformeerde teologie gekry het. Dit kos net ’n ondeurdagte swak oomblik om die angs as gevolg van die dreigende doodstraf te vervang met die Heideggeriaanse angs as essensie van die mens. Die gevolge sal vir die kerk katastrofies wees aangesien ’n ontmitologiseerde mede-beangste Jesus nie meer red nie, maar slegs medemenslik optree. Die hele soteriologie, die satisfactio, is hier in gevaar. Dit alleen behoort die kerke te noop om weer na die konsep-bewoording te kyk. Belydenis is regula fidei en nie anihilate fidei nie.

Vertaling gaan nie die probleem oplos nie. Vier moontlikhede bly oor:

Handhaaf die huidige verklaring van die Heidelbergse Kategismus op die voetspoor van Calvyn.

Dit behels die erkenning dat dit onhistories is (met betrekking tot die dogmageskiedenis – nie die heilsfeite nie) maar nie on-Skriftuurlik nie.

Tweedens kan die woord ‘dus’ in die Afrikaanse teks ingevoeg word, sodat die teks lui: ‘Hy het dus neergedaal na die hel’. Dit staan in die dogmageskiedenis as die nakefalaiosis-opsie bekend, om die neerdaling te sien as ’n kort opsomming van die gehele staat van vernedering tot die uiterste trap toe. Dit behels dan dat die hel voor die dood gesien word, die neerdaling ter hel voor die afdaling tot die dood toe.

Skrap die descendit in die Apostolicum en voeg ’n vraag by Sondag 15 HK, soos Faber (1979) voorstel. Dit behels dat die neerdaling Skriftuurlik bely word as die helse angs aan die kruis.

Verander die belydenis van die Heidelberger oor die kruis om die ontmitologiserende teologie plek te gee. Dit is nie versoenbaar met die gereformeerde teologie nie. Die kerk moet nie iets op papier bely wat hy nie in die hart glo nie. Die belydenis moet ook nie vir elke geslag se allergieë aangepas word, of dat nuwe bewoording die slot van die hek afknip dat die nuwe en ou wolwe kan inkom nie.

Die kerke behoort biddend – oor wat die meeste vrede stig – enige van opsies 1-3 te oorweeg. Opsie 2 verdien voorkeur, aangesien dit die probleem sonder die meeste steuring aanspreek.

* Die artikel is ’n verkorte weergawe van ’n lesing wat op 15 Augustus 2006 te Potchefstroom voor die studentekorps Veritas Vincet gelewer is. Die lesing met voetnote en bronverwysings kan op die webblad van die VGL bekom word.