Bron: Terdege. 2 bladsye.

Net Een Kind

Daar is enersyds bekommernisse as egpare nie kinders het nie, maar ook as egpare baie kinders het. Net so is daar sorge as ʼn egpaar net een kind het. Die vrou aan wie ek dink, sou baie graag meer kinders wou gehad het. Sy het selfs ʼn spesifieke aantal in gedagte gehad, sonder om aan beplanning te dink.

Sy het reeds voordat sy getroud was, geweet dat om kinders te kry nie ʼn vanselfsprekendheid is nie. Haar siklus was baie ongereeld. Sy en haar man het dikwels gebid en gevra vir kinders, en na ʼn redelike kort tyd het hulle ʼn eerste kind gekry. Hulle was baie dankbaar teenoor die Here, en het gehoop om nog te ontvang. Maar dit het anders verloop. Ondanks baie doktersbesoeke, het daar nie nog kinders gekom nie.

En dan kom die ‘waaroms’. Hoekom ander egpare wel, en hoekom ons nie?

Die vrou het my vertel dat sy dikwels kwaad was vir God, veral vanweë die feit dat ander mense geen kinders wil hê nie, of selfs van kinders ontslae raak. So het sy tydens ʼn rommelmark gesien hoe ʼn egpaar, sonder enige huiwering, opgewonde hulle hele baba-toerusting te koop aanbied. Die egpaar het twee kinders gehad, en dit was vir hulle mooi genoeg. Hoe is dit moontlik?

Tog het sy nooit doopdienste gemis nie. Ek het geweet hoe swaar dit vir haar was, veral om te sien hoe egpare vir die soveelste keer ʼn babatjie na die doopvont toe bring.

In ʼn gesprek met haar het sy openlik erken wat haar probleem was. Sy het daarmee geworstel, en haar rus by God gesoek, maar tog ook gesmag na ʼn vervulling van haar wense.

Daar het ʼn soort krisis in haar lewe gekom. Sy het gedink sy was swanger met ʼn tweede kind . Maar hoe groot was die skok toe geblyk het dat daardie swangerskap buite die baarmoeder was. Mediese ondersoeke het uitgewys dat ʼn tweede kind net nie moontlik was nie. Sy vertel toe dat sy ʼn soort rouproses deurgemaak het. Hoe nou verder? ʼn Mens beweeg aan na ʼn nuwe fase.

Sy het geleer om in te sien wat die Here vir haar in haar enigste kind gegee het, terwyl ander nie eens kinders het, of nie eens getroud is nie. Die Here het vir hulle gegee, maar ook weer teruggehou soos Hy dit vir hulle goedgedink het. En dis nou presies waaroor dit gaan: om ons te leer om ons oor te gee aan sy Goddelike leiding.

Die egpaar het tot insig gekom. Hulle het begin insien dat dit pure genade was wat God hulle gegee het. Op ʼn wonderlike wyse mog hulle lewensvulling vind, omdat God die sorg van ander op hulle lewenspad geplaas het.

Daar is ʼn gesegde wat lui: Elke huis het sy kruis. Tydens ʼn kerklike huweliksluiting hoor ons dat ook die getroudes, vanweë die sonde, baie kruise en moeites nie gespaar sal bly nie. Dis maar goed dat die Here ons lewenspad vir ons verborge hou.

Ons word van dag tot dag gelei. Hoe heerlik is dit as ons in ons lewe God leer ken. Dan is daar wel moeites en kruise, maar dan is daar ook Christus se kruis. “Voor U is my sugte en sorge nie verborge, daar U alles sien en weet.” So mog sy tog steeds die Nagmaal vier.

Partykeer kan mense se opmerkings ons so seermaak. Dalk onbedoeld, of uit onbegrip, maar tog maak dit seer. Met die beëindiging van haar swangerskap, het iemand vir hierdie moeder gesê: “Troos jouself, dit was darem nog nie ʼn kind nie, maar net ʼn klompie selle”. Hoeveel fyngevoeligheid is daar nodig in ons omgang met mense! “Die liefde handel nie onwelvoeglik nie”. (1 Korintiërs 13)

Partykeer hoor jy mense sê dis ʼn straf as jy geen kinders of dalk net een kind het. Dit is onbybels. Dink aan die blindgebore man (Johannes 9). Die dissipels het gedink dat sy blindheid ʼn straf was. Maar Jesus sê dit het gebeur, want “die werke van God moet in hom openbaar word”. Ons kan wel praat van ʼn kruis, maar as ons deur God gelei word, kan so ʼn kruis vir ons ʼn seën wees.

Ouderlinge doen huisbesoek by mense van wie hulle dikwels baie min weet. Ja, die huisbesoek handel oor die geestelike dinge, verseker, maar so ’n gesprek kan deur soveel sorge en moeites verhinder word. Soms, as daar werklik ʼn vertroulike sfeer is, kan daar vrae soos hierdie na vore kom. Laat die ouderlinge daarvoor oopstaan. Hoekom wil ons graag kinders hê?

Hanna het daarvoor gesmeek. Toe sy Samuel gekry het, het sy hom aan die Here afgestaan. Daarin lê die uiteindelike doel.

Toe Abraham sy seun Isak wou offer, het hy gehoor: ”Nou weet Ek dat jy God vrees, en jou seun, jou enigste, van My nie teruggehou het nie”.