Bron: Kerk en Woord. 3 bladsye.

NGB Artikel 18 - Verwerp vandag se valse profete

Behalwe al die profetiese verkondigings wat Christus oor Homself deur die profete laat spreek en skryf het, toon die Ou Testament deurgaans Christus se skadu soos wat Hy daarin aanwesig was. Daar kan geen skadu van iemand gesien word as die persoon self nie daar aanwesig is nie.

So is die koperslang 'n skadu van genesing van Christus, want net soos wat die slang in die woestyn verhoog is tot genesing van die volk, so is Christus by Golgota aan die kruis verhoog tot genesing van die nasies.

Die manna was die teken van die Here Jesus wat as die ware brood van God uit die hemel neerdaal.

Die rotssteen in die woestyn was Christus waaruit die water van die lewe gekom het.

Die Paaslam het vooruit gesien na die Ware Lam van God wat geslag sou word om ons sondes te versoen.

Die hele tempeldiens is 'n simboliek wat heenwys na Christus en wat alleen in Christus eintlik betekenis kry.

Maar behalwe die simboliek van allerhande dinge waarin ons die skaduwee van Christus sien, was daar ook die velerlei van tipes en antitipes, persone in wie se lewens ons die skaduwee van Christus aanwesig sien. Dit is nie die tipes wat ons self maak nie, maar die wat God self gee. Soos dat Abraham 'n tipe van Christus geword het toe hy vir die behoud van Sodom voorbidding gedoen het.

Voorbeelde hiervan is Melgisedek wat 'n priester-koning-tipe van Christus was. Moses wat in sy rol om Israel uit Egipte uit te lei as 'n tipe van Christus opgetree het. Dawid is tipe van Christus as koning in die staat van vernedering en Salomo is tipe van Christus as koning in die staat van verhoging. Jona word deur Christus self as teken en tipe van Homself aangewys omdat Hy drie dae en drie nagte in die hart van die aarde sal wees.

En in al hierdie skaduverkondigings, en die profetiese aankondigings, is die weg van die moederbelofte stukkie vir stukkie uitgelê. God het die heilige linie in stand gehou. Ook al was daar verskeie aanslae van die bose om God se plan te keer, nogtans het dit plaasgevind.

Heb 2:17 vertel ons die agtergrond en die rede waarom Christus die menslike natuur geheel en al deelagtig moes word. Daar staan:

"Daarom moes Hy in alle opsigte aan sy broe­ders gelyk word, sodat Hy 'n barmhartige en getroue hoëpriester kon wees in die dinge wat in betrekking tot God staan, om die sondes van die volk te versoen."

Gevolglik lees ons dan in Gal 4:4: "Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit 'n vrou…"

En in Fil 2: 6, 7 lees ons: "Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, maar het Homself ontledig deur die gestalte van 'n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword…"

Hierdie hele heilsgeskiedenis word vir ons treffend geteken in die visioen wat Johannes op Patmos gesien het van die vrou en die draak…

Openb 12:1-5: "En 'n groot teken het in die hemel verskyn: 'n vrou wat met die son bekleed was, en die maan was onder haar voete, en op haar hoof 'n kroon van twaalf sterre; en sy was swanger en het uitgeroep in haar weë en barensnood. En 'n ander teken het in die hemel verskyn, en daar was 'n groot vuurrooi draak met sewe koppe en tien horings, en op sy koppe sewe krone; en sy stert het die derde van die sterre van die hemel meegesleep en hulle op die aarde gegooi. En die draak het gestaan voor die vrou wat op die punt was om te baar, sodat hy haar kind sou verslind sodra sy gebaar het. En sy het 'n manlike kind gebaar, wat al die nasies met 'n ystersepter sou regeer."

Die vleeswording van die woord is 'n groot misterie wat ons nie kan begryp nie. Ons moet dit gewoon aanvaar omdat die Here dit so in sy Woord openbaar.

Ons kan nie verstaan hoe dit moontlik is dat die Goddelike natuur en die menslike natuur in die een persoon van die Here Jesus verenig kan wees nie. Ons kan nie verstaan dat die twee nature ongemeng, ongedeel, ongeskeie, en onveranderd met mekaar verenig bly nie.

Tog glo ons dit soos die Skrifte ons leer. En dit is juis hierdie geloof wat in ons tye weer fel aangeval word. Die menswording van Jesus word as mite of sage, epos of legende afgemaak. "Slim" navorsers beweer ewe ligsin­nig dat die keisers van destyds hulself ook so beskryf en benoem het as dat hulle godeseuns is wat uit maagde gebore is, en dat hierdie jesus-legende soos hulle dit bestempel, maar net nog een van daardie was wat destyds in omgang was.

Wat ons egter moet weet, is dat die mens­wording van Jesus deur die gnostieke sekta­riese groepe van die vroeë Christelike kerk ontken is. Daarom is dit ook nie so moeilik om dieselfde leer by die wederdopers op te spoor soos die Artikel 18 dit weerlê nie.

Dit is veral hieroor dat Johannes in sy eerste sendbrief (waarskynlik eerste aan Efese) geskryf het. Die Apostel neem die opdrag van Jesus oor en benadruk dit vir sy lesers. Jesus het immers dikwels gewaarsku teen die wolwe wat met skaapsklere sal inkom en die kudde verskeur (Matt 7), gewaarsku teen die valse profete wat die een hier en die ander daar sal poog om hulleself as die Christus bekend te stel (Matt 24).

Jesus het ook in Joh 14, 15 en 16 aangedui hoedat die Heilige Gees Hom as die Messias sal verkondig in alle opsigte soos wat Hy Homself vir ons aanbied en Paulus het ver­kondig dat niemand Christus die Here kan noem sonder die Heilige Gees nie (1 Kor 12:3 ev). Die Heilige Gees is vir ons gegee om aan ons die volheid van Christus bekend te maak.

Joh 14:26: "… maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het."

Joh 15:26: "Maar as die Trooster gekom het wat Ek vir julle van die Vader sal stuur, die Gees van die waarheid wat van die Vader uit­gaan, sal Hy van My getuig."

Joh 16:13: "Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle ver­kondig."

Joh 16:14: "Hy sal My verheerlik, omdat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig."

In 1 Joh 4 neem die apostel die lering van Jesus net so oor as hy die algemene lering laat geld dat iemand wat Christus nie wil aanvaar en erken soos wat Hy Homself deur die Gees aangebied het en steeds aanbied nie, die is nie uit God nie, en so-een mag ons nie glo nie.

En nou was daar vir besondere toespitsing onder die eerste hoorders van Johannes 'n groep mense wat wel dus 'n sekere belangrike aspek van Christus se persoon en werk ontken het, naamlik sy ware mensheid. Die gnostieke sou dan te kenne wou gee dat Jesus maar net in 'n skynliggaam aanwesig sou wees. Hy sou dus nie as ware mens, met vlees en bloed die volle lyding en smarte in ons plek deurgaan nie.

Die verloëning van Christus se menswording is so goed soos 'n verloëning van sy hele taak en werk op aarde. Dan is ons nog in ons sonde en ewig verlore.

Wat 1 Joh dan doen is om aan te toon hoedat die profete van die antichris, wanneer hulle selfs net die één aspek van die vleeswording van die Christusverkondiging ontken, hulle daarom nie uit God is nie. Gesien vanuit die ander Skrifgedeeltes word enige ander aspekte van die Christusverkondiging dus ook misken.

Die Gees van God lei ons in die volle waar­heid. En as ons nie die volle waarheid bely soos die Gees dit gegee het nie, dan verloën ons Hom. Dit geld vir die somtotaal van alles wat die Skrif ons van Jesus leer, maar daarom ook vir die unieke voorbeeld daarvan in 1 Joh 4 – waar mense ontken dat Christus dieselfde gebroke en vervloekte menslike natuur van ons ten volle aangeneem het. Vir ons Here Jesus self was dit 'n enorme vernedering, die begin van sy neerdaling in die smarte van die hel, naamlik dat Hy sy Goddelike gestalte geen berowing geag het nie, maar dit in die hemele verlaat het en ons vernederde menslike gestalte aangeneem het en soos een van ons geword het, uitgesonderd die sonde.

Die manier waarop sekere moderne navorsers te werk gaan, is om te aanvaar dat die Bybelteks binne in 'n kultuurhistoriese of sosio­historiese lewenskonteks tot stand gekom het. Hulle gaan daarvan uit dat ons die Bybel wat ons kan lees, nie sal kan verstaan as ons nie ook kennis van daardie kultuuragtergrond het nie.

En aangesien die gewone Bybelleser nie die kultuuragtergrond ken nie, beteken dit dat die gewone Bybelleser die Bybel nie kan verstaan nie.

Dit rus dan alles op wat die navorsers ons kan vertel en verklaar aan die hand van die brokkies kennis uit die antieke kultuurwêreld wat hulle versamel en gekeur het.

Hulle gaan selfs nog verder. Hulle beweer dat aangesien die Bybelteks nie van sy kul­tuurkonteks geskei kan word nie, daarom is daar so 'n eenheid tussen teks en konteks dat selfs die kultuurwêreld deel word en deel vorm van die Bybelteks.

As dit dus waar is dat daar allerhande Iegendes en mitologiese verhale in die antieke wêreld in omloop was van heldefigure wat soos godeseuns uit maagde gebore word en mens word, dan kan dit net so ook van die Here Jesus gesê word.

Dit is dan op hierdie manier dat die moderne navorsers gaan soek na die sogenaamde histo­riese Jesus. Met al hul kennis kom hulle by die punt waar hulle die Bybelse heilsfeit van Jesus se menswording ontken. Hulle laat die kultuurwêreld agter die Bybelteks heers bo-oor die Bybel. En die kerkvolk kan hulle nie teen­spreek nie, so sê hulle, omdat die kerkvolk nie die agtergrond ken nie.

Nou is die opdrag van die Heilige Gees in 1 Joh 4 heel eenvoudig. Moenie hulle glo nie!

Glo hulle nie wat met hulle slimmighede oor die Bybelteks wil heers nie.

Glo hulle nie wat die Here Jesus wil erken soos wat Hy Homself vir ons aandien nie. Glo veral hulle nie wat ontken dat die Here Jesus nie waarlik mens geword het en onder ons gewoon het nie.

Dat Jesus hierdie natuurlik-onmoontlike werk verrig het om as Seun van God ons menslike natuur aan te neem, is vir ons 'n onuitspreeklike heerlike troos soos die nag­maal ons dit laat belewe.

Hy het so die geregtigheid van God kom volbring dat die mensheid wat gesondig het en die doodstraf skuldig is, dit nie self hoef te betaal nie, maar dat die Seun van God in en deur Jesus juis vir ons hierdie mensheid geword het wat sonder sonde was, maar in ons plek die dood van die sondige mensheid, die begenadigde mensheid kom sterf het.