Bron: Kompas, 2004. 2 bladsye.

Nog Kommentaar oor "The Passion"

In die vorige uitgawe van Kompas was daar ʼn artikel van ds. TG van Raalte oor die rolprent ‘The Passion of the Christ’ van Mel Gibson. Nadat ons die stem uit Kanada gehoor het, is dit die moeite werd om ook na ʼn paar kommentare uit die Nederlandse kerke te luister.

In ʼn manifes wat in verskillende koerante verskyn het, het ʼn groep predikante wat hulleself ‘Media-Wijzer’ noem, hul besware teen die rolprent bekend gemaak. Hulle noem vyf besware.

1. Niemand kan God Naspeel nie.🔗

“Jesus Christus is God en mens tegelyk. Dit beteken dat dit baie moeilik is, liewer gesê onmoontlik en uitgeslote, om God se wese op die silwerdoek vas te lê. Wie is in staat om die rol van God te speel? Selfs die volkome menswees van die Seun van God kan nie nagespeel en in ʼn rolprent weergegee word nie. Wie is in staat om sy sondeloosheid uit te beeld?”

2. Niemand kan Weergee wat Christus Gely het nie.🔗

“Reeds vanaf sy geboorte het sy lyding begin. In Getsemane het Hy die beker van God se toorn gedrink en op Golgota is Hy deur sy Vader verlaat. God se toorn oor die sonde van die hele menslike geslag moes Hy dra en wegdra. Reeds Moses het dit uitgeroep: Wie ken die krag van U toorn?”

3. Om Emosioneel te raak oor Christus se Lyding is nie Dieselfde as om in Hom te Glo nie.🔗

“Tydens sy laaste gang deur Jerusalem het vroue so ontroerd en emosioneel geraak, dat hulle in trane uitgebars het. Maar dan sê Jesus: Moenie oor My ween nie, ween oor uself.”

4. Slegs die Woord van God gee die Regte sig op Christus se lyding.🔗

“Die gevaar is groot dat die beelde wat ʼn mens in die rolprent gesien het, ʼn struikelblok kan word om Christus se betekenis, soos wat die Woord van God daaroor spreek, reg te verstaan. Nie elke middel is geskik om sondaars by Christus te bring nie. Dit moet getoets kan word aan die Woord van God.”

5. God het Self tekens gegee wat ons sal help om in Christus te glo, naamlik die Doop en die Nagmaal.🔗

“By die heilige doop word die bloed van Christus, wat ons sondes afwas, uitgebeeld. By die bediening van die nagmaal sien ons deur die geloof die gebroke liggaam en die vergote bloed van Christus. Dit is die tekens wat God aan ons gegee het om Christus aan ons te wys in sy versoenende lyding en sterwe.”

Geweld🔗

Die tweede beswaar wat hierbo genoem is, naamlik dat die rolprent nie regtig Christus se lyding kan weergee nie, word ook in ander kommentare genoem. P.A. Bergwerff, hoofredakteur van Nederlands Dagblad, skryf in ʼn kommentaar dd. 27 Maart die volgende:

In die hewige diskussies oor Mel Gibson se rolprent The Passion of the Christ is dit ʼn belangrike vraag of die rolprent ʼn korrekte beeld van lyding van Jesus Christus gee. Ons meen dat hierdie vraag negatief beantwoord moet word. Wat Gibson doen, is uiteindelik slegs ʼn uitbeelding van die lyding van die mens Jesus. Daardie lyding was gruwelik maar nie uniek nie. Die eenmalige en unieke kenmerk van die offer van Jesus Christus was juis dat Hy – wat tegelyk God en mens was – die onpeilbaar sware skuldelas van ʼn ontelbare skare van mense op Hom geneem het. En dat God Hom in daardie stryd heeltemal alleen gelaat het.

Bergwerff kritiseer ook die gewelddadige manier waarop Christus se lyding in die rolprent weergegee word:

Die evangelies self is baie meer sober in die beskrywing van Christus se lyding. Gibson wil blykbaar die gruwelikheid van Christus se lyding aan die publiek oordra. Ons hoef nie die integriteit van sy bedoelings te betwyfel nie, maar dit is die vraag of hy nie juis die teenoorgestelde effek bereik nie. Soos iemand gesê het: ʼn Mens raak afgestomp deur al die geweldtonele. Na die eerste uur het ʼn mens al so baie geweld gesien dat die tweede uur nie meer ʼn effek op jou het nie.

Bergwerff wys daarop dat geweld in ons kultuur blykbaar ʼn vorm van ‘entertainment’ is. Rolprente soos Schindler’s List en Saving Private Ryan beeld die geweld van die Tweede Wêreldoorlog meer realisties uit as ooit tevore. Mel Gibson was reeds voorheen betrokke was by die vervaardiging van gewelddadige films. Dit was vanselfsprekend dat hy die lyding van Christus ekstreem realisties sou uitbeeld, anders sou die rolprent nie ‘verkoop’ nie. Bergwerff se konklusie is dat Gibson hom te veel aan die wense van die publiek gesteur het. “En daarmee het hy die verbreiding van die boodskap van die Hoofpersoon van sy film ʼn slegte diens bewys.”