Bron: De Reformatie, 1997. 2 bladsye.

Offer uit die Hart

Ons is daaraan gewoond om ons liefde of respek vir hulle aan wie ons verbonde voel spontaan met geskenke of blomme (soms ʼn oorvloed!) te betoon.

Eeue gelede het God reeds sy huis vir die uiting van sulke gevoelens oopgestel – vir sulke blyke van oorgawe en noue verbondenheid.

Offer🔗

Die offergawes van die volk aan die HERE moes ook spontaan wees. Daar was wel voorgeskrewe offers, ʼn lammetjie in die oggend en ʼn lammetjie saans, maar daarmee kon jy nie ʼn altaar van vier vierkante meter vul nie. Daar was ook verpligte offers in geval van oortredings, maar dit het nie by die instelling van die altaardiens voorop gestaan nie.

Allereers het dit gegaan oor hulle wat in hul hart gevoel het om aan die HERE iets moois te gee as blyk van hul liefde. So reg uit die hart. Die offeraar het sy hande op die kop van die offerdier gelê en op dié manier homself in die offerande gegee. Soos mense vandag hulle harte met ʼn bos blomme gee. Dan is woorde oorbodig, in ieder geval ontoereikend.

Liefde🔗

Is God dan inhalig, dat Hy sulke reëls uitdink? Nee, inteendeel. Dit is juis Hy wat Homself eerste gegee het, as God vir sy volk. Hy wil dáár wees, in die midde van die mense, met sy liefde en ontferming. Hy soek die verlorenes op, troos die ellendiges, rig die neergeboënes op, gee aan die hongeriges brood en aan gevangenes hulle vryheid. Die edelste vors kan maar net hoop om die geringste beeld van hierdie God te wees.

God se welbehae is sy spontaniteit. Hy doen dit alles omdat sy hart Hom dit ingee. Só steek Hy harte aan en bring mense in beweging; daar kom liefde waar dit vergete was. God vra: “Het jy My lief?” – soos ʼn jongman dit van sy meisie kan vra. Om saam deur die lewe te gaan.

Dan sien ons in ons gedagtes ʼn man wat na sy skuur loop om die mooiste dier wat hy het, uit te soek. ʼn Dier wat hy werklik sal mis. Hy wil dit aan hierdie God gee, omdat hy sy lewe aan Hom te danke het, omdat hy Hom liefhet en omdat sy bestaan sonder Hom volslae leeg sou wees.

Bewustelik🔗

Sulke offers bring jy dus bewustelik, dan nie? Sulke offers bring jy nie sonder dat jou hart daarin is nie. Dan sou dit skynoffers wees. Daaroor toorn die HERE, hy stuur dit terug, en as dit nie help nie laat Hy sy tempel verwoes. Ons ken die geskiedenis; hoe offers pligsgetrou gebring is, maar sonder persoonlike oorgawe. Die lewe het sy gang gegaan, ook op paaie wat God verbied het.

Betekenis🔗

Ons ken nie net die geskiedenis nie, maar ook onsself. Die vraag na die bedrag van die kerklike bydraes sal menigeen met ʼn geruste hart antwoord, hoewel, helaas, nie almal nie. ʼn Ander vraag is egter meer belangrik: ‘Het dit vir u betekenis om aan die HERE te gee? Is u hart daarin? Nie volmaak nie – dit kan nie – maar bedoel u dit so?’

Dit is ʼn vraag oor ʼn kwesbare plek in ons kerklike lewe. Die kerklike bydraes kom dikwels per aftrekorder. Dit is vir die boekhouer gemaklik, maar ons sien self meesal nie eers ons bydrae nie. Ons kyk met emosie na ʼn bos blomme wat ons ontvang of gee, maar hoe doen ons dit vir Hom wat in liefde ver bo ons uitgaan?

Hoogte en Diepte🔗

Die kollekte op Sondae noem ons offergawe. Dit is dus van belang om te vra of jy gee wat jou hart aan jou sê. Die antwoord sal die bedrag beïnvloed; maar nie net dit nie – dit gaan veral ook oor die manier waarop jy gee.

Ek het eenkeer, toe die kollektesakkies op die tafel leeggemaak word, ʼn diaken hoor sê: ‘dit lyk soos die inhoud van ʼn parkeermeter’. Dit was treffend, nie om afbreuk te doen aan die totaalbedrag nie, dit kan nie sommer vasgestel word nie en daar is meer maniere van geld gee, maar omdat dit dieselfde muntstukkies was, week na week – net soos ʼn parkeermeter wat altyd dieselfde tarief vra.

Is daar dan nooit hoogtes en dieptes in die lewe nie? Is die hand van God nie soms opvallend herkenbaar nie? Is daar dan nie in die hart ʼn begeerte om soms iets spesiaal, iets ekstra, uit te soek nie?

Jy kan ook in klein bedraggies jou liefde gee. Dit gaan vir God juis hieroor.

Wedersyds🔗

Dit is opvallend hoe die HERE ʼn offer aanvaar. Hy maak dit wederkerig, Hy gee meer terug; Hy maak dieselfde dier die uitdrukking van sy liefde!

As iemand sy hart in sy offer gee, sy hele lewe, dan mag hy ook sy sonde bysit, en sy mislukkings; alles wat verkeerd is. So ontvang hy in die offer versoening uit God se hand. Merkwaardig dat met één dier twee dinge gebeur. Die offeraar gee, maar ontvang soveel meer. Hoe is dit moontlik!

Die offer word terselfdertyd, en veral, ʼn gawe van God, ʼn beeld van Gólgota, die prediking van Jesus Christus. Die Israeliet moet die dier self doodmaak, die priester het dit nie vir hom gedoen nie, as ʼn diepe belydenis: hierdie dier sterf in my plek, ék mag lèèf.

Hemelse Heiligdom🔗

Hierdie vervlegting van twee betekenisse bestaan steeds. Die aardse offerdiens was die voorafskaduwing van die hemelse werklikheid van nou. Die bloed van versoening is gestort, en Christus bring dit daagliks voor God, om vir ons te pleit, versoening te doen.

Hoe deel mens daarin? Nie deur vanuit die hoogte te vra dat God Homself bewys nie. Ook nie deur eers van ʼn afstand die kat uit die boom te kyk nie. Maar steeds langs die weg van oorgawe, deur jou lewe op sy altaar te lê: volledig vir Hom, om Christus ontwil. Dit is ons woorde en dade, belydenisse, liedere en gawes.

God aanvaar steeds so ʼn offer om vas en seker daarmee iets te doen – Hy maak die lewe nuut, na sy beeld, en gee dit só terug. Jy ontvang baie keer meer as wat jy geoffer het!

Die betekenis van die tempel het in Christus gebly.

Offers kom uit die hart. Wedersyds.