Bron: Wegwijs. 3 bladsye. Vertaal deur Neels Kornelius.

Offers – is dit nog relevant vir my?

By die huis, met jou gereelde stiltetyd, lees jy nou in Levitikus. Jy lees van die een offer na die ander. Dit kry net nie end nie. Wat beteken dit nou nog vir ons? Bowendien: al hierdie offers is immers reeds deur Christus vervul? Daarom is dit mos nou totaal onnodig om nog vandag erns daarmee te maak.

‘n Skokkende woord🔗

En nogtans… Die Bybel is vol van offers. Die eerste broedermoord geskied na aanleiding van ‘n offer. Kain het sy broer oorweldig en hom doodgemaak. Hy was baie kwaad omdat die Here nie sy offer wou aansien nie, maar wel Abel s’n (Genesis 4). Kain het selfs eerste die inisiatief geneem met die bring van offers (vs.3). Nogtans wou die Here nie sy offer aanneem nie. Sekere Joodse skrifuitleggers verklaar dit so: Kain het maar net ‘n paar goed bymekaar geskraap vir sy offer. Sy hart was nie daarin nie. Dis moontlik, as mens oplet hoe daar by Abel uitgebrei word oor hoe hy van die eerstelinge van sy kudde, van hulle vet geoffer het (vs.4). In Hebreërs 11:4 lees ons dat Abel se offer meer werd was vanweë sy geloof. Dit was die resultaat van hoe hy oor God gedink het. Hy wou gee uit verwondering; uit dankbaarheid. Uit besef van sy eie situasie teenoor God.  Kain het ook wel in God geglo, maar hy het op ‘n afstand gebly… Abel het God liefgehad; wou uit genade leef. Hy het vasgehou aan God se reddingsplan (Genesis 3:15).

Ook Abram bring offers. Wanneer hy vanaf Ur en Haran, na ‘n reis van ongeveer 2000 kilometer, in die beloofde land aankom, bou hy ‘n altaar. Eers in Sigem, later in Bet-El (Genesis 12:7 en 8). Om ‘n altaar te bou: dis vir Abram ‘n saak van geloof. Van reageer op God en op Sy beloftes. God het daardie land aan hom beloof en Abram reageer daarop. Hy roep God se naam aan. Hy erken: my God se wil geld ook hier. Hy het nie meegedoen met die inwoners van die land, om hulle gode te vereer nie (as hy daar so sou wou integreer, sou hy verseker welkom gewees het). Maar Abram het bely dat sy God daar in beheer is. Om te offer het vir Abram beteken dat hy, te midde van hierdie wêreld, bely dat dit aan sy God behoort – dié God wat sy groot beloftes gestand doen. Ons hoef nie self die wêreld te verower nie. Die wêreld sal ons eendag toekom. Daarom bid ons ook:  Laat u koninkryk kom…

Hierdie eie godsdiens van Abram is nie goedsmoeds deur die Kanaäniete aanvaar nie. Waarskynlik was sy vertrek uit die beloofde land (Genesis 12:8) ‘n gedwonge vertrek. Hy is die land uitgesit, die woestyn (Negev) in.

Indeling van die offers🔗

Offers nodig vir versoening🔗

  • Sonde- of reinigingsoffers
  • Skuld- of hersteloffers

Offers as uiting van dankbaarheid of bewys van gemeenskap🔗

  • Brandoffers
  • Vredeoffers (dank-, gelofte-, en vrywillige offers)
  • Maaltydoffers
  • Pleng- of wynoffers
  • Reukoffers of wierook

Reinigingsoffers🔗

Jy het sonder opset gesondig; of iemand anders wys jou daarop; of jy het dit self opgelet. Jy is besig om die stryd teen die sonde te verloor. Wat dan?

Sonde sonder opset staan teenoor opsettelike sonde. By laasgenoemde spot jy met die Here (Numeri 15:30ev). Dan wil jy niks van genade weet nie. Jy wil dan in elk geval nie uit God se genade leef nie. Jy beskou dit as goedkoop. Dis goddelose gedrag. Selfs as jy onwetend sondig, is jy nie onskuldig nie. Sterker nog: soms kan jy nie verhelp nie, maar moet jy tog besef dat jy eintlik nie kan oorleef in die nabyheid van die Heilige nie. ‘n Reinigingsoffer was byvoorbeeld ook nodig na ‘n geboorte (Levitikus 12:6) of na melaatsheid.

Probeer jou voorstel hoe deurdringend en konfronterend hierdie rituele werklik is. Jy het by die altaar gestaan met jou offerdier, jou hande op die kop van die dier gesit en in die deurdringende rook gestaan terwyl dit brand, terwyl God se brandende toorn die dier tref. Maar jy ondervind dan ook die wonder van die verhouding wat herstel is en dat jy weer rein is voor God!

Naas die reinigingsoffer was daar ook die hersteloffer wat van toepassing was as jy jou naaste of God benadeel het. Die verhouding moes dan weer herstel word. Jy moes die benadeelde skadeloos stel en ook ‘n offer bring, maar dit was dan ‘n privaatseremonie.

Bloed🔗

Sonde beteken dat jou lewe op die spel is en, as jy dit verloor, is dit verby. Dan is jy die dood se prooi. Maar, en dis nou die wonder, God is tevrede met die dood van iets anders. Deur die bloedige offers wil hy jou laat besef hoe ernstig Hy die sonde beskou. Elke dier wat doodbloei vestig jou aandag daarop: So moes ek gesterf het. Maar God sy dank: Hy neem genoeë met die bloed van ‘n ander persoon. Dié Andere.

Die Bybel verduidelik: God is nie ‘n wrede God wat bloed moet sien nie. Hy is die God wat bloed géé. Die hele offerdiens het by Hom sy oorsprong. Christus is die lam van God (Johannes 1:29). In sy groot liefde vir die wêreld het God sy Seun gegee (Johannes 3:16).

Omdat die léwe van ‘n dier in sy bloed is, het Ek die bloed vir julle gegee om op die altaar versoening te doen vir julle lewens.

Levitikus 17:11

Hier vind mens die groot onderskeid met die kultus van heidene. Hulle het bloed gedrink en gedink dat die lewenskrag van die dier na hulle oorgaan. Dis selfhandhawing, en dit terwyl jy kwaad en sonde ignoreer. Dit is wonderlik hoe God juis die bloed reserveer vir ‘n ander doel: versoening.

Brandoffers🔗

Wat is mooier as dat iemand hom/haarself aan die Here wil wy? En as iemand dit wil doen, mag hy dan self besluit hoe hy dit wil doen?

‘n Mens sou kon sê: Die brandoffer was ‘n manier om jou brandende ywer, jou laaiende geesdrif vir God te laat sien. En nogtans: God self het die vorm wat dit mag aanneem aangedui, net soos hy die hele offerdiens gereël het, spesiaal in die boek Levitikus. In Hebreeus is hierdie boek se naam ‘en Hy het geroep’. ‘n Persoonlike verhouding met God begin nie by ons nie. Nee: God het geroep. Jy moet eers luister. God roep, en dan kom jy eers met jou offer in God se huis. Wanneer jy by hom kom, ontdek jy dat jou verhouding met God met bloed afgebeeld word. Die bloed van die dier wat jy offer word teen die altaar gesprinkel: Jy mag nie sommer net voor God verskyn nie. Terselfdertyd: Jy moet ook nie skrik en wegbly nie. Jy mag nader kom, maar op God se voorwaardes. Die bloed vloei. Dit moet vir jou duidelik word dat God duur vir jou betaal het.

Dit wat jy offer hang van jou vermoë af. Die ryk man offer ‘n bees, die minder vermoënde ‘n skaap of bok, die arme ‘n duif. God verwag nie van ons wat ons nie kan bybring nie. Maar wat jy ook offer, dit moet iets wees wat aan jou behoort (Levitikus 1:2). Iets van jou eie. Miskien ‘n dier wat jou kinders lief voor was. Dit moet ‘n mannelike dier wees – sterk en stewig – ‘n egte opoffering. En dit mag geen gebrek hê nie, geen afskeep nie. Die Here Jesus was ook ‘n lam sonder gebrek (1 Petrus 1:19).

Die bloed van die offerdier is opgevang en teen die sykante van die altaar uitgegiet (Levitikus 1:5). God sluit nie sy oë vir jou sonde nie, maar versoen dit wel. Die dier se vel was afgeslag: die vel gaan na die priesters (Levitikus 7:8, vir hulle ‘n inkomste). Die offer was vervolgens ‘n geurige gawe voor die Here (Levitikus 1:9, 13, 17). Jou offer was vir hom welgevallig.

Van heidense gode was bekend dat hulle offers wou hê om hulle honger te stil. Hulle was afhanklik van dit wat die mense aan hulle gegee het. Hulle is beheers deur hulle begeertes en kon gemanipuleer word.

Heidense gebed🔗

Die gode het die geur geruik, die soete geur

En soos vlieë op die offer afgekom, soos vlieë op stroop

Maar die Here het hierdie offers nie nodig nie. Nogtans: Wanneer jy jou lewe aan hom wy, word julle verhouding iets spesiaals. Dis vir die Here kosbaar, ‘n geurige gawe soos kosbare parfuum. Dis hoe God is; Hy bly nie op ‘n afstand nie. Hy kan vir jou sê: Welgedaan! Uitstekend! Jy is ‘n goeie en getroue dienaar. Welkom by die feesmaal van jou Here (Matteus 25:21, 23; vgl. ook 34). In jou verhouding met jou Here gaan dit nie daaroor dat jy maar altyd weer tekort skiet en dan weer om vergifnis moet vra nie. Daar is ook ‘n ander kant: Die Here geniet ook jou geurige offer, jou hartlike dienswerk. Hy neem jou pogings sorgvuldig in ag. Dit behoort jou te bemoedig wanneer jy jou lewe aan Hom wil toewy. Jou verhouding met God word nie oorheers deur jou swakhede nie. Dit kan nou floreer, want Christus het sy bloed gestort en gee ook sy Gees. Hierdie Gees laat jou insien hoe God se heiligheid op jou inwerk. Jy ontdek hoe die wil van God jou raak. Jy leer om te bid: Heer, verlos my daarvan om te moet aansukkel in navolging van hierdie wêreld. Help my om te leef uit die geheimenis wat bestaan tussen U en my: die geheimenis van die bloed van Christus. U het alles vir my opgeoffer en ek is steeds vir u baie kosbaar. U het deur die brandoffer die vuur van my geloof aangewakker. Laat ook nou my hart vir U brand.