Om Amen te Sê
Om Amen te Sê
Teen die einde van verlede jaar het ons dogter, wat toe nog vyf jaar oud was, na haar aandgebedjie gevra: “Pappa, wat beteken ‘amen’ eintlik?”
Op so ʼn oomblik bied geleerde antwoorde nie ʼn uitkoms nie, maar moet ʼn mens maar probeer om op ʼn eenvoudige manier die inhoud van daardie mooi woordjie te verduidelik.
Onnadenkend⤒🔗
Wie nadink oor wat die Bybelse inhoud van die woord “amen” is, moet tot die gevolgtrekking kom dat ons daardie woord nie onnadenkend mag gebruik nie. Die werklikheid is egter dat die woord “amen” eintlik dikwels op ʼn onnadenkende wyse deur ons gebruik word.
ʼn Uitspraak wat ʼn mens soms vroeër op skool gehoor het, was: “Amen is nie ʼn ‘begin-sein’ nie.” In die praktyk funksioneer dit baie keer as ‘begin-sein’. Die woord “amen” word verkeerdelik as ʼn aanduiding gebruik dat die gebed nou afgesluit of afgehandel is, waarna ons weer aan die gang mag kom. Dan mag ons van die tafel af opstaan of weer iets ‘begin’ doen.
Hoe dikwels gebeur dit dat ons by ʼn gesamentlike gebed ophou luister nog voordat die voorganger “amen” gesê het? In alle eerlikheid kan dit ook van die voorganger afhang. Dit alleen al is genoeg rede vir die voorganger, sowel as vir dié wat saam met hom bid, om ernstig te besin oor die woord “amen” en oor die inhoud van die gebed wat hardop uitgespreek word.
Kategismus←⤒🔗
Die vraag wat aan die begin van hierdie artikel genoem is, is enkele weke voordat ek ʼn preek oor Sondag 52 van die Kategismus moes maak, aan my gestel. Die nadenke oor en formulering van ʼn antwoord op dié spontane vraag was ʼn goeie aanloop vir die bespreking van antwoord 129 van die Heidelbergse Kategismus. Daar word die betekenis van dié woordjie immers heel duidelik uitgelê. “Amen wil sê: dit is waar en seker. Want my gebed is baie sekerder deur God verhoor as wat ek in my hart voel dat ek dit van Hom begeer.” Met ander woorde: met die woordjie “amen” sê ons dat die Here God veel beter as onsself weet wat ons nodig het. En dit is sekerder dat Hy hoor, as dat ons die gevoel het dat ons dit nodig het.
Die Kategismus het dus ʼn heel verhewe opvatting van die woord waarmee ons ons gebede afsluit. Met die woordjie “amen” sê ons aan die einde van ons gebed: “Here God, ons weet verseker dat U geluister het.” Dit is eintlik mooi as ʼn kind vra wat die betekenis van die woordjie “amen” is. So het ouers ook ʼn belangrike taak om hulle kinders te leer om “amen” te sê. ʼn Taak waarvoor ons onsself meesal ontoereikend beskou. Dit is ʼn taak wat ten diepste alleen die Heilige Gees kan volbring, maar daarvoor gebruik Hy ook ons as mense. Wie werklik geleer het om “amen” te sê, het ook geleer om te vertrou en om te glo.
Vertroue←⤒🔗
Die grondbetekenis van die woordjie “amen” is geloof of vertroue. In die boek Openbaring word die Here Jesus self die Amen genoem. “Dit sê die Amen, die getroue en waaragtige getuie, die begin van die skepping van God” (Openbaring 3:14). Dit benadruk dan die sekerheid van die heil in Christus. Die Heiland het dié woord ook self gebruik. Amen, Amen sê Ek vir u. Dit benadruk dan die sekerheid van die betoog wat nou gaan volg.
Dieselfde woord gebruik ons aan die einde van ons gebede. Dan benadruk dit die sekerheid van die feit dat al die gebede in God se hand lê. So besef ons ook dat die woord nie sommer onnadenkend kan uitspreek nie. Hoe ons die laaste woord uitspreek, sê ook iets oor die manier waarop ons gebid het.
“Amen” pas natuurlik nie aan die einde van ʼn gebed wat eerder ʼn hoopvolle sprong in die diepte is as wat dit ʼn vertrouensvolle gebed is nie. Laat ons eerlik wees, daar is soms sulke gebede. Dan word die woorde wel uitgespreek, maar ons dink agterna: “Ag, wat help dit alles, ek kan net sowel nie bid nie.” Na só ʼn gebed is die woord “amen” eintlik nie gepas nie. Hierdie slotwoord is immers ʼn woord van geloof en vertroue.
Kan ons enigsins ná ons gebede “amen” sê? Sommige van ons gebede begin in twyfel en onsekerheid. Ons kan twyfel aan God se sorg vir ons of vir diegene wat ons liefhet. Ons kan twyfel aan God se vergifnis. Daar kan baie gevoelens deur ons gaan tydens ons gebede. Dit is daarom goed om altyd in gedagte te hou dat u aan die einde van die gebed “amen” gaan sê. Dit kan ʼn gebed word met lang stiltes en diep sugte. Maar dit bring ʼn enorme rustigheid as ons aan die einde van die gebed tog wel “amen” kan sê. Daar sal gebede wees waar ons dit heel saggies sê, maar dan sal daar ook gebede wees waarin die laaste woord soos ʼn klok klink. Nie omdat ons so seker is van óns saak nie, maar omdat ons seker is van God se saak. Sý Naam, sý Koninkryk, sý wil, sý sorg en sý vergifnis. En dan ook seker te mag weet dat die getroue God na u geluister het. So gesien, mag die einde van ons gebed met die woordjie “amen”, nooit onnadenkend wees nie.
Dit kan dalk moeilik wees om “amen” te sê — mag ons dit sê? Tog is daar soveel moois in: want ons laat dan inderdaad alles met ʼn geruste hart in die hand van die Here. Na die laaste woord van die gebed staan daar nie ʼn vraagteken nie, maar ʼn uitroepteken!